met gemengde gevoelens agterna toe hulle die huis verlaat. Sy byt hard op haar onderlip. Wat gaan gebeur as hulle werklik van die Kasteel af kom? Sê nou monsieur le comte sit regtig in die Donker Gat en wag op die leersak?
Jeanne kom by haar staan.
“Wat gaan ons nou doen? Waarom is almal agter daardie ellendige leersak aan?”
“Ek moet vannag uitgaan, Jeanne,” sê Celèste. “Ek gaan Kaap toe.”
Jeanne slaan haar hande saam. “Jy gaan wát doen?”
“Vra tog asseblief vir Garcon om vir my ’n perd op te saal. Ek gaan net gou verklee.”
Sy draf weg voordat die verbaasde Jeanne enige verdere vrae kan vra.
Jeanne drafstap ’n rukkie later saam met haar stal toe. “Jy’s gek, hoor jy my? Jy is heeltemal van lotjie getik! Hoe kan jy alleen die amper twintig myl na die Kaap aflê, en dit in die nag?”
“Ek het een van monsieur se gelaaide pistole by my.”
“Wat nog! Het jy dan nou al jou varkies verloor, meisiekind! Het jy vergeet van die struikrowers langs die paaie? Wat dink jy kan een koeël aan hulle doen?”
“Ag, hou tog op met sanik, Jeanne!” roep Celèste ongeduldig uit. “Ek móét net eenvoudig gaan! Jy het tog self gehoor wat daardie twee mans oor monsieur le comte gesê het. Hy word gevange gehou en hy soek die leersak!”
Jeanne snork vies.
“Daar is dit al weer die ewige leersak! En wat kan jý altemit aan monsieur se saligheid doen? Sê my dit?”
Celèste klim op die perd en neem die teuels by Garcon.
“Vertrou net op my, Jeanne.”
“Ek moet liewer saamgaan,” brom Garcon. “As jy iets moet oorkom, gaan monsieur my afskil.”
“Ek gaan alleen,” sê Celèste beslis, kap haar hakke in die perd se lieste en binne sekondes verdwyn sy in die maanlose nag.
Celèste is glad nie so dapper as wat sy daar by die stal gelyk het nie. Hoe verder sy van La Montagne af wegry, hoe jammerder is sy dat sy Garcon nie maar saamgebring het nie. Maar sy kon Jeanne ook nie alleen op die landgoed agterlaat nie. Die vrou is al in haar vyftigerjare en sal haarself teen niemand kan verdedig nie.
Haar hart bons wild in haar keel terwyl sy vooroorgebuk teen die perd se nek teen ’n dolle vaart voortjaag. Dis nog ongeveer twee myl van die volgende herberg af. Daar sal sy perde kan ruil.
Haar blik talm op elke skaduwee, elke beweging in die maanlose landskap. Sy moet voorbedag wees op enigiets, maar sy weet dat selfs dít haar nie veel gaan help as sy werklik gekonfronteer word nie.
Celèste bereik die herberg sonder voorval en sy begin moed skep. Die herbergier frons kwaai oor die meisie se nagtelike avontuur. Eers weier hy om vir haar ’n perd te gee, maar sy klink só ontsteld dat hy uiteindelik maar toegee.
Sy sluk ’n beker sterk, swart koffie af voordat sy buitentoe gaan. ’n Oomblik lank staar sy na die donker, maanlose landskap om haar en wonder wat daar nog vir haar voorlê op haar pad na die Kasteel. Vasbeslote klim sy op die perd. Dis met dankbaarheid jeens die herbergier dat sy merk dat die dier ’n jong, vurige hings is. Dis nie ’n ou knol soos wat sy gevrees het nie.
Sy het amper twee myl gevorder toe sy onraad merk. Haar hart bons teen haar ribbes terwyl sy met vernoude oë probeer om in die donker te sien. Sy dink aan die twee mans wat vroeër die aand op die landgoed was en sy begin wonder of dit nie dalk domastrant van haar was om die hele ent pad na die Kasteel te ry nie. Dis nou egter te laat om daaroor te wonder.
Sy kap haar hakke in die hings se lieste en hy beur vinniger vorentoe. Wie ook al op haar spoor is, dink sy, sal moet uithaal om hierdie gewillige dier in te haal.
’n Ligte bries het begin waai en Celèste voel hoe die koue deur haar tabberd dring. Dis nog maar April, maar die tekens van die winter is reeds daar. Haar mantel bied nie veel beskerming nie, omdat dit deur die wind uitgebol word na agter.
Daar klink plotseling nog hoefslae op, hoewel dit redelik dof is. Dit is moontlik net nog ’n reisiger, dink Celèste, maar sy weet dat sy haarself net probeer gerusstel. Niemand reis elfuur die aand op hierdie paaie nie en die Kaap lê nog sowat agt myl vorentoe.
Die hoefslae klink harder op. Sy word dus ingehaal, dink sy half paniekerig. Haar perd kan hierdie moordende pas onmoontlik veel langer volhou. Die volgende herberg behoort nou enige oomblik voor haar in die donker te wees.
Maar dit voel asof sy myl na myl jaag voordat sy die dowwe lanterns tussen die bome gewaar.
Dis al naby middernag toe sy haar perd eindelik voor die herberg tot stilstand bring en uit die saal gly. Terwyl sy aan die voordeur hamer, kom nog twee ruiters na die herberg. Hulle klim ook van hulle perde af. Die herbergier maak egter die deur oop voordat Celèste kan uitmaak wie die twee is.
“Dis geen tyd vir ’n meisie alleen op die pad nie!” raas die gesette herbergier toe hy haar na die kaggel toe boender. “Loop sit daar sodat ek iets warms in jou liggaam kan kry!”
“Merci, monsieur …”
“Merci !” ontplof hy. “Merci! Dink jy ’n dankie sal so ’n onbesonnenheid regmaak? Waar is jou ma, meisiekind! Wat soek ’n meisie dié tyd van die nag op die pad? Moeilikheid!”
Hy skink vir haar ’n beker stomende koffie en bring dit na haar.
“Ek het dringende sake in die Kaap, monsieur.”
“Dringende sake se voet!”
Hy draai om om die twee here wat intussen ook ingekom het, te help. Hulle wil net vars perde hê en dit neem hom nie lank om hulle weg te help nie. Dan keer hy terug na Celèste wat intussen haar koffie gedrink het en gereed is om te vertrek.
“Jy kan jou reis môre voortsit,” brom hy koppig.
“Ek kan nie. Ek móét dan al in die Kaap wees. My baas, monsieur De Bordeaux, word onskuldig in die Kasteel gevange gehou en ek móét met die kommandeur gaan praat.”
Daar is ’n flikkering in die man se oë.
“Le comte De Bordeaux?” wil hy met vernoude oë weet.
“Dis korrek, monsieur.”
Hy haal diep asem. “Wel, as dít die geval is, mag ek u seker nie keer nie. Ek sal u ’n perd gee, mademoiselle. Dis nou wel ’n merrie, maar sy kan ry soos die wind, dit verseker ek u.”
“Merci, monsieur … dis baie gaaf van u.”
“Sorg jy maar net dat jy in een stuk by die Kasteel uitkom.”
Die herbergier doen sy woord gestand. Die merrie wat hy aan Celèste gee, is ’n vinnige, gewillige dier met min nukke. Van die ander twee besoekers aan die herberg is daar geen spoor nie. Die nag het hulle ingesluk.
Terwyl sy nou ietwat meer gerus voortry, dink Celèste aan monsieur Armand de Bordeaux om wie se ontwil sy hierdie gewaagde avontuur aangepak het.
Die graaf van Bordeaux is nie sommerso ’n man nie. Hy is ’n spesiale soort man en vir haar natuurlik baie spesiaal. Hy is ryk, aantreklik, gewild en bemind. Hy is die droom van elke jongmeisie wat nog nie getroud is nie. Hy is alles wat ’n meisie se hart kan begeer, maar hy behoort aan mademoiselle Madeleine Tredoux … een van die mooiste meisies in die Kaap.
Celèste trek ’n gesig. Dis vermetel van haar om te dagdroom oor haar werkgewer. Die man het haar nog nooit eens raakgesien nie, behalwe toe hy haar ’n paar dae gelede gevra het om die leersak te bewaar. Dit was die eerste keer dat hy direk met haar gepraat het. Dit was die eerste keer dat hy iets anders gesê het as om bloot te groet.
Armand de Bordeaux is salig onbewus daarvan dat die kamermeisie in sy diens hom byna verafgood. As hy haar gevoelens kon raai, sou sy dalk haar werk kwyt gewees het – veral as hy moes weet dat sy nie ’n meisie is wat maklik ’n droom laat vaar nie. Sy sal haar daarby berus