laat groei om die skone mademoiselle Madeleine Tredoux te gaan verwittig nie.
En hier is die meisie in lewende lywe om haar kommer oor die graaf uit te kloek. Madeleine sien Celèste nie eens raak nie. Sy gesels opgewonde en vra hom aanhoudend uit oor wat gebeur het.
Celèste kom skoorvoetend agterna die herberg ingestap. Sy gaan eenkant sit en wag dat hulle verder moet ry, maar Madeleine is glad nie haastig nie. Sy wil graag ’n klein bietjie deel hê aan al die opgewondenheid.
Net een keer kyk die graaf na Celèste, glimlag half en bepaal dan weer sy aandag by die meisie by hom.
Celèste haal haar skouers skaars merkbaar op. Sy kan seker niks anders verwag nie. Sy ís maar net ’n kamermeisie en hy is niks aan haar verskuldig nie. Hy het die reg om haar te ignoreer as hy so voel. Tog maak dit haar ongelukkig. Het alles wat gebeur het, dan geen indruk op hom gemaak nie? Kan hy dan nie sien dat sy sy belange werklik op die hart dra nie?
Dit lyk nie asof Armand de Bordeaux en Madeleine Tredoux juis haastig is nie en uiteindelik raak Celèste moeg van die gewag. Sy staan op om buitetoe te gaan, maar toe sy by die tafeltjie verbyloop waar haar werkgewer en die meisie nog sit, keer Madeleine haar voor.
“Neem my bagasie na die koets. Ons sal binne ’n kwartier ry.”
Sy kyk terug na Armand asof sy reeds van Celèste vergeet het.
Celèste staan ’n oomblik lank besluiteloos. Sy is verskriklik moeg, maar sy weet dat sy Madeleine se bevel nie durf verontagsaam nie.
Madeleine kyk op en lyk ergerlik toe sy Celèste nog daar sien staan. “En toe? Waarvoor wag jy? Daar is vier reissakke wat uitgedra moet word.”
Celèste kyk net vlugtig na die graaf en dan weer na Madeleine. Sy maak ’n onderdanige kniebuiging.
“Oui, mademoiselle, ek gaan dadelik.”
Sonder om weer na een van hulle te kyk, draai sy om en gaan met die trap na bo. ’n Paar minute later kom sy steierend met twee van Madeleine se reissakke met die trap na onder.
Ernest, Madeleine se koetsier, snel haar te hulp.
“Dis nie nodig nie, Ernest, sy sal regkom,” klink Madeleine se stem op.
Ernest steek vas en Celèste kyk ongelowig na die ander meisie. Is dit nou nodig om só moedswillig te wees? Sy pers haar lippe opmekaar en verander haar greep op die handvatsels van die sakke.
Armand staan van die tafel af op en loop na Ernest. “Neem asseblief die reissakke by haar.”
Ernest kyk onseker na Madeleine, wat die graaf aangluur, en dan knik hy net vinnig.
“Oui, monsieur.” Hy draf teen die trap op en neem die sakke by Celèste.
Toe hy weer by Armand verbykom, sê hy vinnig: “Mademoiselle Tredoux gaan my hieroor ontslaan, monsieur.”
“Dan sal ek vir jou werk hê, Ernest.”
Die koetsier grinnik breed, kap sy hakke teen mekaar en stap by die voordeur uit.
Armand gaan weer by Madeleine sit.
“Hoekom het jy my bevel teëgegaan, Armand?” wil Madeleine weet.
“Omdat dit onredelik was.”
“Dis nie onredelik om van een van jou bediendes te verwag om my bagasie na die koets te neem nie,” kap sy teë.
Hy kyk fronsend na die silwersuikerpot voor hom op die tafel. “Celèste is een van mý werknemers, Madeleine, en jy weet net so goed soos ek dat sy te tengerig is om jou swaar reissakke te kan dra.”
Madeleine frons ergerlik. Sy hou nie daarvan om reggehelp te word of teëgegaan te word nie. Mense behoort haar te aanvaar soos sy is.
“Jy weet natuurlik dat ek Ernest nou sal moet ontslaan.”
Hy knik en ’n vae glimlag pluk-pluk aan sy mondhoeke. “Ek weet … en hy weet dit ook. Ek het hom reeds werk aangebied indien jy hom wel sou ontslaan.”
Madeleine kyk vinnig na hom en die woede lê vlak in haar grys oë.
“Jy het ’n onderduimse manier om my teë te gaan, Armand.”
Daar is ’n flikkering in sy oë. “Moet my nie onderskat nie, ma chérie. Ek is nie onderduims nie. Ek laat my net nie voorskryf nie.”
Madeleine besef dat sy besig is op dun ys te beweeg. Sy het haar hierdie ontmoeting soveel anders voorgestel en nou is sy al klaar weer besig om Armand die harnas in te jaag. Dis vir haar baie moeilik om te aanvaar dat Armand nie sal toelaat dat sy hom hiet en gebied nie. Niemand gaan haar ooit teë nie … net hy. En hy is vir haar so belangrik dat sy daardie nuk van hom maar sal moet probeer verduur.
Celèste het intussen met die trap afgestap en by die voordeur uit na buite gegaan. Daar staan sy lank op die stoep en kyk hoe Ernest die sakke in die koets laai. Daar is ’n fyn glimlaggie om die meisie se vol, mooi mond. Armand de Bordeaux was baie galant en dit teenoor háár, ’n onbelangrike kamermeisie. Dis een daad van hom wat sy nooit sal vergeet nie. Haar bewondering vir hom groei daagliks, maar sy besef terselfdertyd hoe sinneloos dit is. Dit sal net ’n soort heldeverering bly. Dalk sal sy nog baie jare in sy diens wees en sy sal hom elke dag sien. Wie weet hoe lank sy met haar onsinnige droom sal kan rondloop voordat dit iewers tot uitbarsting kom?
Teen middagete bereik die drie La Montagne. Celèste gaan dadelik na haar kamer om seker te maak dat die sak nog daar is. Sy slaak ’n sug van verligting toe sy die laaikas wegstoot en die leersak daar sien lê.
Sy tel dit op. Noudat die graaf terug is, is daar geen gevaar meer dat dit by haar afgeneem kan word nie. Sy staar na die verseëlde slot en kan dit nie verhelp om te wonder wat daarin is nie. Sou dit dalk ’n kaart van ’n verborge skat wees? Of die testament van ’n skatryk ou edelman? Of is dit dalk briewe wat iemand kan vernietig … of dalk iets waaraan sy nie eens kan dink nie? Dis jammer dat dit verseël is, dink sy spytig. Na al haar moeite voel sy dat sy darem behoort te weet wat daar in die sak is. Miskien sal die graaf haar vertel as sy hom vra.
Met die leersak in haar hand, gaan sy af na die studeerkamer om dit aan die graaf terug te besorg. Sy steek voor die deur vas toe sy haar werkgewer en mademoiselle Madeleine se stemme hoor.
“Maar wat het dan van die leersak geword, Armand? Dit kon tog nie so spoorloos verdwyn het nie. Die een in wie se besit dit is, sal mos dadelik die seël breek en jy weet wat dán sal gebeur.”
“Ek besef dit maar alte goed, Madeleine, maar ek het eerlik geen benul wie die leersak nou het nie. Ek het gehoop dat ek dit aan die regmatige eienaar sou kon besorg.”
“Hoe kan jy eens so iets oorweeg?” ontplof Madeleine. “Etienne le Blanc het baie meer as wat jy ooit kan gebruik! Hy sit buitendien in Parys en van watter nut kan die sak vir hom wees?”
“Dit behoort aan hom,” kom De Bordeaux se antwoord half stroef. “Ek is nie ’n dief nie.”
Daar is ’n paar sekondes stilte en dan sê Madeleine: “Daardie sak kan ’n hele paar mense op die been bring. Dit kan ’n man selfs ryk maak en jy versmaai dit sommer?”
Armand de Bordeaux sug diep. “Die geld kom Etienne le Blanc toe, Madeleine, en hy sal binne ’n maand in die Kaap arriveer.”
Sy snak na haar asem. “Hoekom kom hy dan hiérheen? Hy sal nie sonder ’n baie goeie rede daar weggaan nie.”
“Hy hét ’n baie goeie rede; ek verseker jou.”
Madeleine klink nie baie gelukkig nie, dink Celèste wat nog voor die deur vasgenael staan.
“Ek gaan nogtans probeer om die sak aan Le Blanc terug te besorg,” hoor Celèste De Bordeaux sê. “Ek is ’n man met ’n gewete.”
“Ek dag dan jy het nie die sak nie,” sê Madeleine vinnig.
“Dit sal nie lank duur om dit op te spoor nie. Jy hoef jou nie verder daaroor te bekommer nie, ma chérie. Die sak sal veilig wees.”