Annelize Morgan

Annelize Morgan Omnibus 2


Скачать книгу

daag Ernest, Madeleine se koetsier, op La Montagne op. Sy werkgeefster het hom in die pad gesteek en hy is baie ongelukkig daaroor.

      Armand is verlig om die man te sien en neem hom dadelik in diens. Sy eie koetsier het twee weke gelede spoorloos verdwyn en dis lastig om sonder een oor die weg te kom.

      Ernest is meer spraaksaam teenoor Celèste as teenoor De Bordeaux oor die rede waarom hy ontslaan is.

      “Die adel is vrekkig,” is sy mening, “en monsieur Tredoux is nie eens van die adel nie. Hulle verbeel hulle maar net hulle is.”

      Celèste kyk hom skuinsweg aan. “Dis sommer suur druiwe, Ernest.”

      “Suur druiwe se voet! Hulle het geld om op allerhande onnodige dinge te spandeer, maar wanneer ek ’n riksdaalder wil leen om my siek ma te help, is daar mos nie geld nie.” Hy frons ongelukkig.

      “Ek het gehoor hulle is in ’n finansiële verknorsing,” sê Celèste versigtig.

      Ernest lag onverwags. “Dis ’n grap! Wie dit ook al gesê het, praat deur sy nek!”

      Celèste swyg. Wie en wat moet sy glo? Kan Ernest soveel van die Tredouxs se geldsake af weet? Maar hoekom sal Madeleine dan vir monsieur le comte lieg?

      “En hoe sal jý miskien weet?” konfronteer sy Ernest.

      “Net gister nog het monsieur Tredoux vier pragperde gekoop!”

      “Op Sondag?” wil Celèste ongelowig weet.

      “Dink jy monsieur Tredoux steur hom aan sulke dinge! Hy het vrede met wat predikante en die kerk te sê het.”

      Celèste is nog nie oortuig nie. “Monsieur Tredoux kon die perde mos op skuld gekoop het.”

      “O nee! Ek het hom persoonlik die geld sien aftel. Hy het hulle met harde kontant gekoop, soos wat hy die nuwe koets vier weke gelede gekoop het. Hy is nie ’n man wat skuld maak nie … nie Jacques Tredoux nie.”

      Celèste lek oor haar bolip, dink ’n oomblik diep na en vra dan: “Sê my, Ernest, hoekom is jy eintlik daar weg? Was dit oor een riksdaalder?”

      “O, dit was nie die enigste riksdaalder nie. Monsieur het geen gewete nie. Hy sal sy eie ma verkul as dit vir hom kan voordeel inhou. Nee, hy het my twee maande se salaris geskuld, asook ekstra geld wat hy my belowe het vir iets wat ek vir hom moes doen. Toe ek om die geld vra, het hy my dit gegee en my toe afgedank.”

      Celèste haal haar skouers op.

      “ ’n Mens sal ook nooit weet hoe ryk mense se koppe werk nie. Dit lyk vir my hoe meer geld ’n mens het, hoe meer probleme het jy.”

      Ernest lag. “Dis nie altemit nie! Ek bly maar liewer ’n arm man sonder al die probleme.”

      Die enigste verklaring vir die feit dat Madeleine vir Armand gelieg het, is dat sy dalk nie die waarheid weet nie, besluit Celèste. Sy weet nie dat haar pa glad nie sukkel om kop bo water te hou nie. Dan skud sy haar kop stadig. Dis net so onaanvaarbaar. Madeleine móét mos weet hoe dit met haar ouers se geldsake gaan. Sy is ’n slim mens. Sy sal haar nie baie maklik om die bos laat lei nie.

      Jeanne het ’n bekommernis van heeltemal ’n ander aard. Meer as twee weke gelede al is die uitnodigings vir Vrydagaand se ete en dans op La Montagne uitgestuur en amper al die gaste het al geantwoord. Nou lyk dit asof monsieur De Bordeaux nie meer in die minste in die geselligheid belangstel nie. Jeanne stuur Celèste om by hom te gaan uitvind of daar nog met die verrigtinge voortgegaan moet word of nie.

      Celèste vind hom in die tuin waar hy deur ’n dokument sit en lees met ’n diep frons tussen sy blou oë.

      “Je vous demande pardon, monsieur …” Sy maak ’n buiging.

      Hy kyk op en klink effens ongeduldig toe hy vra: “Wat is dit?”

      “Moet daar met Vrydagaand se geselligheid voortgegaan word of moet ons die gaste laat weet dat dit afgestel is?”

      “Aarde! Ek het skoon vergeet van Vrydagaand! Natuurlik moet daar voortgegaan word … ek kan nie nou al boedel oorgee nie.”

      Celèste maak weer ’n kniebuiging. “Ek sal dit vir Jeanne sê, monsieur.”

      Sy wil omdraai en wegstap, maar hy keer haar.

      “Wie behalwe jy en Jeanne weet van monsieur De la Roque se besoek?”

      Sy blik rus dringend op haar, asof hy ’n antwoord uit haar wil dwing; ’n erkenning dat sy iemand anders vertel het, maar sy lyk geensins skuldig nie.

      “Sover ek weet, is daar niemand anders nie, monsieur le comte, maar ek kan ook nie met sekerheid sê nie. Garcon was in die stal en wie weet wie anders het monsieur De la Roque hierheen sien kom? Hy het immers openlik gekom.”

      Hy swyg ’n oomblik lank en vra dan sag: “As alles skeefloop, sal jy nog bereid wees om my te help?”

      Daar is amper iets pleitends in sy oë en dit laat haar haar blik vinnig neerslaan.

      “Mais oui, monsieur, u weet tog dat ek sal …”

      “Selfs al lyk dit asof ek skuldig is aan die verskriklike dade waarvan mense sal praat?”

      Hierdie keer kyk sy vinnig, onseker, op na hom. “Niemand kan u tog van iets beskuldig nie, monsieur … U is ’n goeie werkgewer en niemand van ons kan kla nie.”

      Hy vee met sy hand deur sy raafswart hare. “Dis nie só eenvoudig nie.” Hy kyk skielik op na haar waar sy nog steeds voor hom staan en die uitdrukking in sy blou oë laat haar hart ’n slag mis.

      “Jy kan jou nie eintlik meer losmaak nie, Celèste. Jy is nou wat die wet noem ’n medepligtige.”

      ’n Verskriklike voorgevoel kruip in haar op. Sy het nog nooit in haar hele lewe selfs ’n klein wetsoortreding begaan nie. Waarvan praat die graaf dan?

      “Ek … verstaan nie …”

      “Ek weet alles is my skuld … ek moes die leersak nooit aan jou gegee het nie, maar dis nou te laat vir berou. Nou is dit net belangrik dat jy weet dat selfs jý nou in gevaar verkeer. Moenie onverskillig raak nie en moenie dat enigiemand van die sak uitvind nie. Dit sal die einde van my … en vir jou beteken.”

      Sy sluk hard. “Monsieur … kan u die sak nie maar liewer aan iemand anders gee nie? Dis nou nie dat ek u in die steek wil laat nie … dit sal ek nooit kan doen nie … maar ek weet nie of ek die sak sal kan beskerm nie.”

      ’n Lang ruk kyk hy na haar pleitende gesiggie en bekommerde groen oë en uiteindelik sug hy diep.

      “As jy aan iemand kan dink wat ek kan vertrou en wat die moed sal hê wat jý aan die dag gelê het, sal ek die sak met graagte van jou wegneem.”

      “Wat van Garcon?” wil sy dadelik weet.

      Hy skud sy kop stadig. “Garcon het muisneste. Hy dink aan niks anders as aan jou nie. ’n Mens kan nie ’n verliefde man met belangrike sake vertrou nie. Hulle word soos kinders as die koors hulle beetpak.”

      Sy lag ten spyte van die ernstige situasie.

      “Dit mag so wees, maar wat dan van mademoiselle Madeleine? U is vir haar die heel belangrikste persoon op die ganse aarde.”

      Hy kyk vinnig, ondersoekend, na haar deur half-vernoude oë, maar ontspan toe hy nie daar vind wat hy verwag het nie. Sy beantwoord sy blik met groot, onskuldige, helder oë.

      “Ek kan haar nie vra nie. Die redes kan ek nie aan jou verduidelik nie. Jeanne is te veel van ’n kletskous en Ernest het nog maar pas hier begin werk. My ander vriende … wel, ’n mens weet per slot van rekening nooit regtig of jy ’n vriend kan vertrou nie.”

      Sy aarsel ’n oomblik en vra dan: “Hoekom het u dan vir mý gekies? Voorheen het u nooit eens met my gepraat nie en toe moet ek skielik die verantwoordelikheid van die leersak op my neem. Ek kan dit nie begryp nie.”

      Hy staan op, steek