skrik op uit haar gedagtes toe sy ’n beweging voor haar in die pad sien. Sy hou haar perd in, onseker oor wat sy moet doen. Dan voel-voel sy na die koue metaal van die rewolwer teen haar linkerheup. As iemand haar gaan voorlê, gaan sy nie sonder ’n geveg oorgee nie. Sy het nog ’n mes ook … een van die Oosterse krisse wat monsieur teen ’n muur in sy studeerkamer uitstal.
Die dowwe skaduwee neem vorm aan. Dis ’n man te perd en dis duidelik dat hy haar inwag.
Celèste sluk hard. Wie weet hoeveel mans daar nog in die bosse langs die pad skuil? Hoe moet sy by hom verbykom?
Dis onsinnig om die hele tyd net te sit en te wag om te kyk wat gebeur. Op ’n stadige stap gaan sy nader, haar hand spring gedurig op die kolf van die pistool. Haar perd proes onrustig en kopspeel in die bries. Celèste sit haar hand paaiend teen die perd se nek om die dier te kalmeer.
Die ruiter voor in die pad bly nog roerloos staan. Hy weet dat sy niks anders kan doen as om by hom verby te gaan Kaap toe nie. Deur die bosse sal sy nie jaag nie. Die perd mag ’n been in ’n slaggat breek. Stadigaan neem ’n plan vorm aan in Celèste se kop. Dis gewaag, maar dit mag dalk werk. Sy laat toe dat die perd op sy stadige stappie al nader aan die ruiter beweeg. Deurentyd hou sy ook die donker bosse dop. Sy wil nie onverhoeds betrap word nie.
Sowat twintig treë vanaf die ruiter in die pad, gee sy skielik haar perd spore. Die dier skiet vorentoe en pyl reg op die verbaasde man af. Celèste hou haar kop laag langs die nek van die perd en byt op haar tande. As daar nog baie mans in die bosse skuilhou, gaan hulle haar voorkeer.
Twee ander mans spring agter die bosse uit en probeer Celèste se perd in haar dolle vaart keer, maar hulle slaag nie daarin nie. Sy en die perd is by hulle verby nog voordat hulle behoorlik tot verhaal kon kom.
Van een ding is Celèste seker. Die res van die rit na die Kaap gaan nie sonder voorval wees nie. Daardie drie mans gaan nie sommer tou opgooi nie. Al wat sy nou kan doen, is om so vinnig moontlik tot by die volgende herberg te jaag, daar perde om te ruil en dan soos die wind na die Kasteel koers te kies.
Haar perd begin egter reeds moeg word. Sy beur nog gewillig vorentoe, maar die pas is nie meer so vinnig nie. Sy raak bekommerd. Dalk het sy die dier te veel gedryf. Sê nou die merrie laat haar sommer hier in die middel van die veld in die steek? Met die drie ruiters op haar hakke is dit nie ’n moontlikheid waaraan Celèste graag dink nie.
Die perd se pas verslap opmerklik. Celèste raak paniekerig. Telkens kyk sy terug na die flou verligte pad en dan verbeel sy haar dat sy die ruiters nog kan sien. Voor haar is daar net duisternis. Daar is geen teken van ’n lantern wat die teenwoordigheid van ’n herberg aandui nie.
“Asseblief, my perdjie …” soebat sy op ’n fluistertoon. “Jy kan nie nóú tou opgooi nie.”
Die perd kan nie meer nie. Sy draf nog net natgesweet voort, maar daar is geen krag meer in haar nie. Sy het reeds alles wat sy kon, gegee.
Celèste sluk hard. Dalk moet sy te voet probeer wegkom. Dan ruk sy om toe sy die geklap van perdepote hoor. Is dit vriend of vyand? Sy wil nie wag om uit te vind nie. Dit mag haar drie agtervolgers wees.
Vinnig glip sy uit die saal en hardloop na die beskutting van die naaste bosse. Net een man te perd kom nader. Hy ry vinnig asof hy baie haastig is. Sy swart mantel bol uit in die wind en die wit pluim in sy hoed glim in die duister.
Dan is hy net ’n paar treë van haar af en met ’n skok herken Celèste die ligte, vloeiende maanhare, die een wit voorpoot en die swiepende, bleek stert van die skimmel.
“Monsieur le comte!” gil sy terwyl sy agter die bos uitspring om hom te keer voordat hy te ver is. “Monsieur le comte!”
In die diep skaduwees ’n ent agtertoe, hou drie ruiters hulle perde in. Vannag is hulle plan in die wiele gery, maar môre is nog ’n dag.
2
Armand de Bordeaux hou sy perd in toe hy die meisie se gille hoor. Net ’n oomblik lank aarsel hy voordat hy omdraai en terugry na waar die meisie agter die bosse uitgekom het. Sy swaai met haar arms sodat hy haar moet raaksien.
Dan klim hy van sy perd af.
“Monsieur! Ek is só bly u is veilig! Wat het gebeur! Ek dag u is in die Kasteel! Hoekom het hulle u dan vrygelaat?”
Sy praat opgewonde en deurmekaar terwyl hy vol ongeloof na haar staar en nie werklik kan glo wat hy sien nie. Celèste du Toit was nog maar altyd ’n stil meisie wat altyd op haar plek is en haar te alle tye voorbeeldig gedra het. Hy het nie die vaagste benul wat kon gebeur het om haar só te laat optree nie.
“Stadig nou, mademoiselle! Ek wil eers weet wat u dié tyd van die nag op die pad na die Kaap maak.”
’n Ligte frons verskyn tussen haar oë.
“Maar u behoort tog te weet, monsieur! U het dan die twee mans na my gestuur om die leersak te kom haal! Ek moes net eenvoudig self uitvind wat gebeur het. Dis ondenkbaar dat u in die Kasteel opgesluit kon word! Dis onmenslik en –”
“Wag nou!” keer hy haar woordevloed. “Het jy gesê twee mans het jou om die sak kom vra?”
“Oui, monsieur.”
“Het jy dit aan hulle gegee?” vra hy dringend en kyk bekommerd na haar.
Sy skud haar kop vinnig. “Non, monsieur! U het dan uitdruklik gesê dat ek dit aan niémand mag gee nie!”
Hy slaak ’n sug van verligting. “Jy het my ’n oomblik lank bekommerd gehad! Daardie sak is verskriklik belangrik.”
“Dan was u glad nie in die Donker Gat nie?” wil sy verbaas weet.
Hy lag sag. “Natuurlik nie. Waarvoor sal ek in die tronk gegooi word?”
Sy glimlag en haar ernstige gesiggie helder op. “Ek is bly, monsieur. Ek kon dit net nie aanvaar nie. Die twee menere het my sowaar hulle storie laat glo. Ek kry sommer skaam daaroor.”
“Jy het niks om jou oor te skaam nie. Kom, klim op jou perd sodat ons huis toe kan gaan. Ons het genoeg opwinding vir een nag gehad.”
Hy help haar in die saal en oomblikke later is hulle op pad terug na die herberg waar Celèste laaste aangedoen het.
Die angs in haar het bedaar. Noudat die graaf De Bordeaux by haar is, het sy niks te vrees nie. Hy is ’n gedugte swaardvegter. Niemand kon hom nog ooit verslaan nie.
Terwyl hulle teen ’n veel stadiger pas na die herberg terugkeer, vertel Celèste aan die graaf wat daar op La Montagne gebeur het. Hy luister sonder om kommentaar te lewer. Net die diep frons tussen sy blou oë verraai dat haar verhaal hom bekommerd laat voel.
By die herberg word hulle gul deur ’n ietwat verbaasde herbergier ontvang. Die graaf stel voor dat hulle liewer in die herberg oornag aangesien Celèste reeds te moeg is om veel langer regop in die saal te kan bly. Sy sal onmoontlik nog meer as ’n uur en ’n half op ’n perd se rug kan wees.
Nadat Celèste bed toe is, bly die herbergier en die graaf nog ’n ruk aan die gesels. De Bordeaux vind by hom uit dat daar vroeër die aand drie mans by die herberg was, maar dat hy nie een van hulle geken het nie.
Dis reeds lank na middernag toe die graaf ook uiteindelik gaan slaap.
Vir Celèste breek die nuwe dag vol belofte aan. Sy sal nog ’n hele ruk lank alleen in die graaf se geselskap wees en dis meer as wat al ooit met haar gebeur het. Hy het haar nog nooit eens raakgesien nie en nou gesels hulle asof hulle ou vriende is … Darem nie heeltemal nie, moet sy erken. Hy ís nog haar werkgewer en sy een van die geringstes in sy diens.
Die bietjie aandag wat hy noodgedwonge aan haar moet gee omdat hulle saamreis, laat haar op wolke loop. Daar is sterre in haar oë en ’n blos op haar wange. Sy is totaal onbewus daarvan dat haar hart se geheim glad geen geheim meer is nie en dat dit die graaf elke dan en wan diep laat frons.
By die laaste herberg wag daar ’n onaangename verrassing op Celèste. Reeds van ver af herken sy die spoggerige koets en toe