>
Lelie van die laagte
Helene de Kock
Mirre
1
“Asof dit nie erg genoeg is nie …” sê Karien Dijkstra en rol haar oë. Sy sit kruisbeen op die bed en loer oor die rand van ’n handboek.
“Wat?” vra Mia onrustig en draai nog ’n slag voor die spieël in die hoop om ’n glimp van haar kuite te kry. Maar die rok is te lank. Te groen ook – en beslis te outyds. Dis ’n moderamp.
Karien sit skielik regop. “Kyk, Mia, dis erg genoeg om ’n dominee vir ’n suster te hê, maar sowaar, as jy dan nog lyk asof jy op die wakis langs ’n man met verflenterde velklere hoort, is dit by uncool verby.”
“Só erg?” vra Mia op die oog af onverstoord. Sy ken haar kleinsus. Nie op haar mond geval nie, en op die oomblik ’n eerstejaar op Tukkies en onuitstaanbaar cool – wat presies dit ook al beteken. En sy sal haar weer die een of ander tyd moet reghelp: sy is nog nie ’n dominee nie. ’n Proponent wel. Maar dis ’n diskoers wat kan wag.
“Is dit regtig só erg?” vra sy weer teen haar beterwete.
“Erger,” sê Karien en hop van die bed af, loop kas toe. “Kyk, waarom trek jy nie dié ding aan nie? Dis ten minste in ’n skakering wat nie ’n mens se oë seermaak nie.”
“Dis te gewaagd vir die kansel. Ek gaan nie piekniek hou nie.”
“Wat dan van dié?”
Karien lig ’n songeel rok met ’n kort swart baadjie uit die kas en hou dit ’n armlengte ver asof sy dalk allergies daarvoor kan wees, haar gul mond op ’n knop.
Dis ’n plan, besluit Mia en gryp die rok haastig by haar. Dit lyk stemmig maar nogal cool, as dít nou die kwalifikasie moet wees.
Sy pluk die groen rok ergerlik van haar af en is effens verbaas toe Karien haar ewe gaaf help om die gele oor haar kop te kry. Haar lang blonde krulhare haak vas aan die ritssluiter en sy kan gil van frustrasie. Sy gaan nog laat wees vanaand, en ouderling Beukes is juis so moeilik. Hiperkrities verby.
Karien neem haar tyd om die syige hare string vir string uit die rits los te wikkel en sug teatraal. “Dit help nou nie jy maak asof jy te na gekom word nie, Mia. Dominees behoort ook darem soms cool te lyk.”
“Wat beskou jy as cool?” vra Mia bedaard, maar sy voel hoe haar pols aan die fladder gaan. Dis moeilik genoeg om ’n losieshuisdak oor hulle albei se kop te hou. Om op ses en twintig ma te moet speel vir ’n kontante eerstejaar is soms net te veel.
Karien staan die vraag hand in die sy en oordink. “Cool is … wel, dis koel. Nie uitdagend nie, stylvol en elegant … en beslis sexy. So ’n kombinasie van als wat oulik is, jy weet.”
Mia staar na haar sus. Daar het sowaar wysheid by haar mond uitgekom.
“Sê dit weer …?”
“Tjk! Jy weet wat ek bedoel. Jy moet mooi aantrek, Mia. Ek besef dat jy nie met ’n bikini op die kansel kan klim nie, maar sowaar, soos wat jy darem lyk, is ek aan die slaap nog voordat jy begin preek.”
Dis die laaste strooi. Mia snak na asem so kwaad is sy. En sy voel juis deesdae so ontsaglik broos.
“Karien, as jy ’n enkele gram ordentlikheid in jou het, sal jy nooit, óóit ’n predikant ontstel voor hy op die kansel moet klim nie!”
“Jy bedoel as sý op die kansel moet klim.”
“Wat ook al! Jy kan jou skaam!”
Karien lyk glad nie gepla nie. Haar stipte blou blik gaan speurend van Mia se gerf heuningblonde hare oor die geel en swart uitrusting en bly rus op die punte van haar blinkleer-hofskoene. “Hm, jy moet nog net hare kam en lipstiffie aansit. Maskara sal ook help. Wag, ek help jou gou.”
Mia sak op die voetenent van die bed neer, te moeg om te argumenteer. Sy weet darem Karien sal haar goed laat lyk. En sy hou immers daarvan om goed versorg te wees. Dis net, in die laaste tyd raak dit al hoe moeiliker … Sy probeer haar gedagtes liefs op hok hou terwyl Karien behendig maskara aan haar wimpers sit, blosser aan haar wange tik en eindelik haar mond met ’n kwassie bykom.
“Voilà!” roep Karien uit. Maar Mia kyk net skrams in die spieël en sug verlig.
“Goed genoeg,” sê sy hardop.
“Ek sou so dink. Jy lyk absoluut stunning! Ek het nie gesê jy’s nie mooi nie. Ek wil net hê jy moet beter klere dra.”
Mia strek haar tot haar volle lengte en kyk af op haar korter suster. Lengte is altyd ’n voordeel vir die oudste in die gesin as jy iets belangriks moet kwytraak.
“Luister, Karien …”
“O vrek, daar gaat ons! Kan jy nie wag tot ons van die kerk af –”
“Nee!” Haar stem is luid maar beheers. “Praat asseblief ordentlike Afrikaans. En tweedens: ek kan nie ander klere bekostig nie. Jy ook nie. Nie nou óf gou weer nie.”
Karien se mond sak oop soos ’n verbaasde baba s’n. “Waarvan praat jy? Ek moet na Olienhout se dinee toe gaan saam met John Joubert en …”
“Jy kan gaan. Maar nie met ’n nuwe rok nie.”
Karien verstil. Dié inligting het ingang gevind, dink Mia wrang.
“Waarvoor ís daar dan geld?”
Mia neem ’n besluit. Langer kan dit tog nie uitgestel word nie. Sy kyk Karien vas aan. “Daar is nie fondse nie. Punt.”
Karien se hand gaan uit om haar teen die kamermuur te stut.
“Jy bedoel … na … Pa se dood?”
“Ja. Ek kan nie vir jou jok nie. Soos wat dit is, het ons eintlik al klaar te min voorsiening vir die volgende twee maande … Maar daar is hoop.”
“Watse hoop?”
“Wag, nie nou nie. Ek moet eers gaan preek.”
Sy gryp haar handsak, Bybel en gesangboek en die lêer met haar preek in. “Kom, ons gaan laat wees.”
Karien loer verdwaas spieël se kant toe, en tot Mia se innige verbasing vat sy ook net haar handsak en Bybel en stap muisstil saam uit in die gang. Mevrou Geertse se poging om maaltye in die aand te verskaf het reeds gesorg dat die meeste loseerders vroegtydig uit die kool-en-uie-reuke padgegee het.
“Wanneer gaan die oumens leer niemand hou van haar Sondagbrousels nie?” mor Karien en diep ’n parfuumpie uit haar handsak op om ’n paar spuite in haar onmiddellike omgewing te gee.
“So nou!” roep Mia uit.
“Het jy parfuum aangespuit?” wil Karien weet.
“Die einste wat jy nou so kwistig vermors.”
“Wat? Dis mýne!”
“Dis óns s’n, of het jy vergeet?”
Karien wil haar nog wip, maar Mia het klaar die blou Citi Golf aan die gang gekry en trek soos blits agteruit. Sy benut ook die kans om ’n laaste vermaning in te kry: “Jy sal regtig mooi met ons goed moet werk, Karien. Anders gaan ek en jy vir ’n lang tyd sonder lekkerruikgoed moet sit. Om van ander luukses nie te praat nie.”
Mia wag gespanne vir die gewone geweeklaag by die aanhoor van sulke nuus, maar dit kom nie. Toe hulle by Loftus Versfeld se verkeerslig verbyry, kyk sy skuinsweg na haar sus. Karien sit met saamgeperste lippe en ’n ken wat dreig om te beef. Mia sug innerlik. Dit is werklik moeilik om groot te word, dit moet sy toegee.
Hulle ry in stilte tot by die kerk en parkeer waar hulle ’n gaatjie sien. Sy gee Karien se skouer eers ’n drukkie en toe klim hulle uit.
Sy mik agterom die groot kerk na die konsistorie en merk met verligting op dat ouderling Beukes nog nie gearriveer het nie. Maar daar is reeds ’n hele paar kerkraadslede.
“Naand, proponent,” groet oom Kallie, die hoofouderling, vriendelik en steek sy hand na haar uit. Sy groet hom en professor Beneke, en ’n paar ander steek ook