wat ywerig huisbesoek doen.
Hy was veral bly dat Leona met sy ma kan gesels asof hulle al jare lank sakke sout saam opeet. In ’n sekere sin het hulle seker. Vandat sy ma met die tweede Desember-kuier besluit het om prof Leona te vergas op haar private smart oor haar seun se dinge, het die twee net gekliek. Nou nie dat Tom sy ma kwalik neem nie. Alles was net te veel vir haar, en sy het ’n onpartydige oor nodig gehad. En prof Leona was meer as gewillig om te luister.
Sy het hom een aand eenkant toe getrek en luiters gesê: “Nou begryp ek waarom jy soms midde-in ’n lesing wegraak … en ook waarom jy jou nie juis aan vroumense steur nie.”
Hy het soos ’n skoolseun rooi geword. “Ag, Prof … Dis nie dat ek nou teen vroumense gekant is nie, dis net …”
“Dat jy versigtig geraak het,” het sy kopknikkend sy sin voltooi. “En dis goed so.”
Tom haal onwillekeurig dieper asem, kyk uit oor die skoongeveegde werf waar ’n paar hoenders luierig in die laatson loop en pik.
Sara Muller gooi die afgeskilde perske waarmee sy besig was in die emmer. “Waarom, dink jy, het sy nie gekom nie?”
Voor hy kan antwoord, kom Fien buitentoe met ’n klap van die sifdeur agter haar. Sy dra twee bekers koffie. “Dankie, Fien,” glimlag Tom.
“Jy moet môre vir ons preek,” sê Fien. “Die koffie is nie verniet nie.”
“Waaroor moet ek preek? Julle is dan sulke goeie mense!” skoor Tom laggend met die ou vrou.
“Tjk! Nie almal van ons nie. Daai Gappie maak sy vrou baie kwaad en –”
“Toemaar, Fien, ek sal teen die sonde kom preek. Môre so teen tienuur?”
“Is reg.”
Sara skud haar kop. “Hulle is maar te bly as jy hier is. Dan hoef hulle nie in te piekel dorp toe nie.”
Tom dink ’n rukkie, proe-proe aan sy koffie. “Miskien moet ons die diens hier op die stoep hou, dis baie koeler as in die stoor. Dan gee ons tee na die tyd. Mense se gesels kom eers uit as die kerk uit is.”
“Goeie plan. Ek sal so met Fien reël. Maar jy het my nog nie van Leona vertel nie?”
“Ja, ek moet sê, ek het ook gehoop sy kom saam, want sy sou my baie kon gehelp het met die Grieks. Maar nou is daar glo familiesake in die Noorde wat sy moet gaan oplos.”
“Watse familiesake? Ek dag sy’s alleen op die aarde.”
“Ek het ook so gedink. Ek sal maar later hoor.”
“Hm … Foei tog, ek hoop nie dis groot moeilikheid nie.”
Tom glimlag wrang. Moeilikheid val vir Sara Muller net in twee kategorieë: groot en klein. Klein moeilikheidjies is soos sout of suiker wat opraak. Groot moeilikheid kom, soos sy sê, ’n uur te perd aan. Iets soos ’n vrou wat opdaag en aankondig dat sy jou enigste seun liefhet en met hom gaan trou …
’n Onverhoedse vlaag van muwwe berou en innige liefde vir sy ma oorrompel Tom, en hy moet sluk aan die branderigheid in sy keel. Hy sien hoedat sy ligweg frons omdat die perske glibberig is en sy fyn moet vat.
“Ma …”
“Ja, my kind?”
Ses en dertig jaar oud en steeds nog haar “kind”, dink hy met deernis. “Ek wonder wat dink Ma.”
“Ek dink my gewone Desember-gedagtes, my kind. Of ek goed was hierdie jaar, of sleg.” Haar vingers beweeg behendig om die perske se boonste puntjie af te skil. Dan laat sy dit in die enemmel-emmer langs haar val.
“Wat sal dit help, Moedertjie?” terg hy. “Gedane sake het geen keer, sê hulle mos. Buitendien, die sondes is gedoen. Die vraag is of die berou daar was, en of die boete gedoen is.”
Sy reageer nes hy heimlik gehoop het sy sou. Haar kop met die silwer bolla ruk op en haar blinkbruin oë blits.
“Watse soort predikant sal jy maak as jy mense voorsê om boete te doen, Tomas?” Sy beduie driftig met die hand wat die skerp messie vashou. “Netnoumaar sê die mense jy’s Katoliek. Jy met jou boetedoenery – asof dít jou in die hemel sal bring!”
Tom besluit dis nou genoeg. Hy ken sy ma en weet sy raak bitter gou ontsteld as alles nie eg Calvinisties daaraan toegaan nie. “Toe nou maar, Ma, ek terg net ’n bietjie. Al doen ’n mens wát, gaan jy net uit geloof en genade hemel toe.”
Sara Muller betrag haar seun met daardie half bekommerde, half beteuterde kyk wat hy van kindsbeen af so goed ken. Sy is nog nie heeltemal gepaai nie, besef hy. Op sekere gebiede is sy steeds erg onseker. Sý skuld, miskien tog.
Hy sug diep en staan op. Kom buk by haar en soen haar op haar kroontjie, sit sy hand sag op haar mollige skouer. Besluit om tog maar weer die onderwerp aan te raak. “Ma moet nou regtig ophou om so liggeraak te wees. Mary-Anne is nie dood omdat ’n magtige Hand haar doodgeklap het omdat sy Katoliek was nie. Sy is dood omdat dit haar tyd was om te gaan. Ons glo tog dat God in beheer is?”
Sara gryp nog ’n perske uit die emmer regs van haar en begin skil dat die sap by haar polse afloop. “Hoe … hoe weet jy dit?” vra sy baie sag, haar blik stip op die gladde glip van die skerp messie.
“Ma weet goed hoe weet ek dit. God hou die sleutels van die doderyk en net Hy sluit oop en toe, soos dit in Openbaring staan. Maar wáárom Hy dit op ’n gegewe tydstip doen, is eenvoudig nie ons saak nie. Dis Sý saak.”
Sy skil aandagtig, maar haar mond het ophou beef, sien hy. “Dink … dink jy regtig nie dat sy dood is omdat sy so verkeerd geglo het nie?”
Hy gaan sit weer op sy stoel, stut sy ken in sy twee vuiste. “Moeder … asseblief. Sy was Katoliek, nie heidens nie. Mary-Anne se persoonlike geloof het getuig van haar liefde vir Christus. Haar dood is God se saak.”
“Al was sy besig om verkeerd te doen?”
Tom sug hoorbaar. “Ons weet nie wat sy gedoen het toe sy dood is nie, Ma. Hou asseblief op. Dis al jare …”
Sara skil sulke dik velle af dat die perske net mooi die helfte kleiner word, en sy gooi dit vererg in die linkerkantste emmer. Toe gryp sy die nat vadoek op die voutafel voor haar en vee haar taai hande af.
“Jy weet,” sê sy en kyk hom eindelik reguit aan, “ek dink ek kan dit nou maar vir jou sê … Ek het nooit van haar gehou nie.”
“Ma het dit nooit gewys nie,” troef hy sag.
“Sy … was jou vrou.”
Hy glimlag ’n bietjie wrang. Hy het immers hierdie gesprek sien kom – vyf jaar lank al. Dis vyf jaar wat hy weg is van die plaas en op Stellenbosch teologie studeer. Maar hierdie is die eerste Desember dat die gesprek dieper as Mary-Anne se Katolieke geloof dring. Dit stuit altyd stomp daar waar sy ma sê dat hy tog nie die mense moet laat dink dat sy vrou hom Katoliek beïnvloed het nie. Dis asof sy net nie verder of dieper wil kyk nie.
“Moeder …” begin hy ietwat onseker. Nie oor wat om te sê nie, maar oor hóé om dit te sê. Maar sy sit roerloos na hom en kyk; die stringetjies silwerwit hare beweeg lossies langs haar steeds gladde, appelrooi wange. “Ma …” begin hy weer, “Ma het nie van Mary-Anne gehou nie omdat sy so anders was as ons. Nie net omdat sy Rooms-Katoliek was nie.”
“Dis ook anders,” sê Sara en lig haar ken verdedigend.
“Ja en nee. Sy het werklik geglo soos wat ek en Ma glo. Dat Christus Jesus die Weg, die Waarheid en die Lewe is. Maar … sy het nie hier ingepas nie. Dit was mý fout; ek moes dit eerder ingesien het. Ma weet tog … ’n Heel andersdenkende vrou wat in Europa in ’n ambassade gebore en getoë is, pas so min op ’n dor Karooplaas soos ’n vuis op ’n oog.”
Uit haar keel kom ’n ligte snakgeluid. “Nou maar waarom het jy …”
“Ma, ons hét al daaroor gepraat. Om ’n fout te verklaar, is soms baie moeilik. Ek was verlief en … miskien ’n