langs Giulio plaasneem. Dit sou sekerlik die soort skoonseun wees wat Rachel sou kies, maar Giulio is bloot ’n skip wat in die nag verbyvaar. Haar ma het nie van André gehou nie en het beweer dat sy van die begin af regdeur hom gesien het.
Tussen die heerlike ete deur gesels Rafaella se ouers en Louisa oor opera. Giulio is stil en luister sonder kommentaar na die gesprek. Rafaella luister ook maar en hou hom diskreet, so hoop sy, dop.
Louisa se kennis van opera is verstommend. “Luigi het onder meer al in operahuise in Wene, Londen, New York, Parys en Boedapest gesing,” vertel sy trots. “Die operahuise waartoe almal aspireer, is natuurlik die Weense Opera en La Scala. Luigi voel hy het nou regtig gearriveer omdat hy in La Scala gaan sing. Julle moet net hoor hoe sing hy “Nessun dorma”. Net so mooi, indien nie mooier nie, as Pavarotti.”
“Mamma, jy spog vreeslik!” Giulio glimlag vir haar, halfberispend, maar liefdevol.
“Wel, ek is trots op my twee seuns. Julle weet, my man, Francesco, kom uit ’n vooraanstaande maar verarmde familie. Hulle het ’n groot naam, maar sy ma het gesukkel ná sy pa se dood en Francesco was nog klein, toe moet sy die landgoed waarop hulle gewoon het, La Renza, buite Cortona, verkoop. Gelukkig het Francesco genoeg geld verdien met sy sang dat hy dit kon terugkoop, en ons woon steeds daar. Hy kon ook vir ons ’n dakwoonstel in Milaan koop. Luigi het weer vir hom woonstelle in New York en Parys gekry. As ’n mens by operahuise in verskeie stede sing, is dit gerieflik om jou eie plek daar te hê. Soms gaan ons saam en bly by hom. Nie dat Giulio dít dikwels kan doen nie. Hy is te besig met sy praktyk.”
Rafaella wonder oor dié singende broer. Giulio lyk nie afgunstig op die skynbare reusesukses van sy broer nie. Sou Luigi so aantreklik wees soos hy?
Hulle sluit die ete af met tiramisu, Rachel se spesialiteit, en Rafaella let op dat Giulio daaraan smul.
“Kan jý hierdie ook so lekker maak?” vra hy haar, sy ernstige oë skielik vonkelend.
“Ek weet nie. My ma is die beste kok in die wêreld. Ek het nog heelwat om by haar te leer.” Waarom bloos sy tog nou? Sy’s sommer vies vir haarself. Enige aandag van sy kant af laat haar regop spring soos ’n meerkat!
“Ek en die familie het van my vrou ’n goeie Italiaanse mamma gemaak,” lag Jacopo. “Sy kook net so goed soos my oorlede moeder en sy praat vlot Italiaans, soos julle hoor.”
Almal lag, maar Rafaella kyk na Giulio se egalige, spierwit tande en sug innerlik. Waar gaan sy ooit weer ’n man teëkom wat so uitsonderlik is? Binnekort gaan hy weg wees en slegs ’n herinnering word.
2
Al is sy die volgende dag baie besig en stroom die pasiënte by die hospitaal in, kan Rafaella nie ophou om oor Giulio te tob nie. Hy en sy ma is die vorige aand ná ’n baie gesellige kuier by die Continari’s se huis weg sonder dat hy enigsins aangedui het dat hy haar weer sal wil sien.
Die skip het in die nag weggevaar, dink sy spyt.
Sy kom dié aand besonder laat by die huis. Lank ná etenstyd, voetseer van ’n ure lange gestaan by die een operasie ná die ander, en baie moeg. Haar ma het soos gewoonlik vir haar kos gebêre.
Rafaella wou al na ’n eie woonstel trek, maar haar ouers wil niks hoor nie. “Jy kan vir jou een koop as jy genoeg verdien het,” is haar pa se beswaar. “Waarom geld mors op huur as ons hier alleen bly in dié grote huis en jy met liefde verniet kan inwoon?”
“Jy sal nie ordentlik eet as jy alleen bly nie, en jy’s reeds te skraal,” is weer haar ma se beswaar.
Rafaella eet sommer by die kombuistafel. Jwana is lankal huis toe en haar ouers kyk TV. Gisteraand dié tyd het sy in die heerlikheid van Giulio di Mareneschi se diep, donker blik gesit, dink sy, en sug. Nee, hulle het eintlik toe al vertrek. Hulle wou nie te laat kuier nie. Sy het die vorige nag van hom gedroom, hoe hy haar ontwyk …
Sy hoor die huistelefoon lui, maar eet verder. Haar vriende soek haar gewoonlik op haar selfoon. Die oproep sal vir haar ouers wees.
Verbaas kyk sy op toe haar pa met ’n breë, ondeunde glimlag by die kombuis inkom. “Onse Italiaanse dokter wil graag met jou praat.”
“Wat? Wie?”
“Jy weet wie. Giulio di Mareneschi. Ek het mos vir hulle ons telefoonnommer gegee.”
Rafaella vlieg op, probeer nie eens máák of dit haar nie traak nie. “Ek kom, Papà!”
Sy draf behoorlik na die telefoon in die voorportaal, haal eers diep asem voordat sy antwoord sodat sy nie opgewonde moet klink nie.
“Hallo … e … Giulio.”
“Hallo, Rafaella.” Sy stem stuur rillings deur haar. “Ek hoop dit gaan goed?”
“Lekker dankie, ek het net ’n harde dag agter die rug. Dis ’n toeloop van pasiënte en ons fasiliteite laat veel te wense oor.” Haar hart klop kliphard in haar ore.
“Ek hoor dit gaan maar rof in sommige van die hospitale hier, ja, maar gelukkig is daar mense soos jy wat nie daardeur afgesit word nie. Ons het gisteraand heerlik by julle gekuier. Sulke gasvryheid het ons nie verwag nie. Ek wou net dankie sê.”
“Dit was ’n plesier om julle te onthaal.” Waarom wil hy vir háár dankie sê en nie vir haar ma nie?
“Professor Scribante van chirurgie by jul universiteit se mediese skool het my gevra of ek bereid sou wees om ’n paar lesings te gee. Ons bly dus ’n week langer. Ek het gedink dit sou lekker wees om mekaar weer te sien.”
Sy kan bollemakiesie slaan van blydskap. “O ja, dit sal beslis lekker wees.”
“Ons bly aan in die gastehuis. Ek het gewonder of jy vir my jou hospitaal sou wys. Môre of oormôre miskien, as dit nie te gou is nie? Ek wil graag sien hoe gaan dit in ’n buitestedelike Suid-Afrikaanse hospitaal met ’n groot pasiëntelading.”
“Maar natuurlik! Laat my net weet wanneer jy kan kom, dan reël ons dit.” Genade, haar stem is skoon skril van opgewondenheid. Die skip het anker gegooi!
“Dankie, dis baie gaaf van jou. Ek het ook gewonder of jou ma sou omgee om myne ’n bietjie rond te wys. Ek wil haar nie heeltyd alleen laat nie, hoewel sy maklik self uitgaan. Sy is vir niks bang nie en doen graag inkopies.”
“Ek is seker my ma sal dit geniet. Wanneer jy saam met my kom, kan hulle gaan rondloop.”
“Wonderlik. Ek bel jou dan weer?”
“Enige tyd.”
Hy lui af en sy voel asof daar borrels in haar bloedstroom is. Sy gaan na die sitkamer. Haar ouers kyk met afwagting na haar.
“Jou oë skitter, my liefling,” terg Rachel.
“Wel? Gaan hy vir jou kom kuier?” vra Jacopo met ’n breë glimlag.
“Ek vertel julle wat hy gesê het …”
* * *
Rafaella is skoon oorstuur toe sy wag dat Giulio by die hospitaal opdaag. Hy wou self ry en sy moes aanwysings gee. Sy het haar kollegas gewaarsku dat die Italiaanse dokter wil kom kyk hoe werk die hospitaal en dat dit haar aandag gaan vereis.
“Is die man nou iets van jou, jou boyfriend of so iets?” wou dokter Ngwenya, die superintendent, met ’n glimlag weet.
“O nee, ek ken hom skaars. Hy’s bloot ’n besoeker. Ek het hom ontmoet by die diens vir die krygsgevangenes by Zonderwater.”
“Jy bloos dan, dokter Continari.”
Sy het gelag, maar haar wange hét gebrand.
Sy maak pas ’n saalronde in die mansaal klaar toe ’n student in haar hospitaaljaar haar kom roep. “Rafaella, daar is ’n man by ontvangs, ’n dokter met ’n Italiaanse naam, en hy sê julle het ’n afspraak. Sjoe, dis die sexyste man wat ek nóg gesien het. Is hy jou vriend?”
Rafaella lag. “Ja, hy is ’n