proe skaars die kos. Ná vanaand sien sy hom nooit weer nie.
“Is daar dan nie ’n vrou in jou lewe nie?” glip dit uit. Sy kan haarself skop. Dis haar groot swak plek, om dinge te sê wat sy juis nié wou sê nie.
Hy kyk na haar. Nie spottend nie, maar ernstig. “Daar wás ’n belangrike meisie in my lewe, maar sy het verlief geraak op my broer. Toe los sy my. Hy wou haar nie eens gehad het nie.”
“Sy moet mal gewees het …” Sy byt haar lip. Daar doen sy dit weer.
“Nee wat, hy is net veel meer flambojant as ek. Veel interessanter. Ek moes haar nie kwalik geneem het nie, maar ek kon haar daarna tog nie terugvat nie. Sy het my te seergemaak. Nie lank daarna nie is sy dood.”
Rafaella kyk geskok na hom. Die kelner kom neem die voorgeregborde weg en sy moet wag voordat sy kan praat.
“Wat het gebeur?”
“Sy het by Positano met haar motor by ’n afgrond af gery. Tragies. Arme Vanessa. Sy was maar in haar vroeë twintigs. Dis so jammer dat sy met my en Luigi deurmekaar moes raak.”
Rafaella weet nie wat om te sê nie. Was dit ’n ongeluk, of selfmoord? Sy wil weet, maar durf nie vra nie.
Giulio verander die onderwerp. “Luigi gaan nog een van die grootste tenore van alle tye word as hy net hard sou werk. Sy beste rol, dink ek, is Rodolfo in La Bohème, wat hy nou gaan sing, maar hy is ook besonder goed as Tonio in Donizetti se La fille du régiment en as die Duca di Mantova in Rigoletto.”
As hy maar eerder oor homself sou praat! Wanneer sy probeer vis, draai hy die gesprek netjies weg na sy broer. Skerm hy vir iets? Of is hy bloot werklik onegoïsties?
Toe die hoofgereg kom, is hy weer in sy skik. “Baie lekker. Jy het goeie smaak, nes ek vermoed het.”
Daarna praat hy oor wat hy by haar hospitaal gesien het, wat hy by die fakulteit geneeskunde gedoen het … Die gesprek kom nie weer op ’n persoonlike vlak nie.
Rafaella geniet dit intens om net naby hom te wees, na sy mooi stem met die singende aksent te luister, na sy gesig te mag kyk. Die aand gaan gans te gou om. Hy neem haar huis toe, bedank haar plegtig en neem nogal formeel afskeid. Hy tel darem by die deur haar hand op en soen dit sag. Maar hy wil nie inkom vir koffie nie.
Sy staan op die stoep en kyk hoe hy wegry, na die hek wat oopskuif, die verdwynende agterligte van sy motor.
Sy druk haar mond teen die plek waar hy haar hand gesoen het, en sug.
Vier dae later, toe Rafaella in die aand terugkeer van die hospitaal, staan die silwer Mercedes op hul inrit. Sy het in dié tyd niks van Giulio gehoor nie, al het haar ma en Louisa ’n paar keer saam rondgeloop en vriendinne geword. Rafaella se hart gaan aan die galop. Sy wens sy het eers kans gehad om uit haar hospitaalklere te kom en te stort, sy’s seker sy lyk betreklik gehawend.
Almal gesels in die sitkamer toe sy inkom. Giulio staan op en glimlag vir haar.
“Hallo, Rafaella. Ons kom totsiens sê. Môre vertrek ons terug Italië toe.”
“Ons hoop julle sal vir ons kom kuier,” sê Louisa. “As julle belangstel in Renaissance-argitektuur en -kuns en die Etruskiese geskiedenis, sal julle dit in die streek rondom ons landgoed in oorvloed kry.”
“Ons hét al daar gereis,” vertel Jacopo. “Maar ek wil mos in Italië gaan navorsing doen vir my boek, en dis tyd dat ons weer familie opsoek.”
“Julle is enige tyd welkom om by La Renza te kom bly,” sê Louisa. “Ons villa is groot genoeg vir hope gaste.”
“Bly nou vir aandete,” por Rachel. “Julle moet tog iéwers eet vanaand en ons maak gewoonlik in elk geval te veel kos. Daar sal genoeg wees vir julle ook, as ons slaai en broodjies bysit.”
Louisa kyk na Giulio. “Ja, ons kan seker, nè, caro? Ons sal net nie lank kan vertoef nie, ek moet nog gaan inpak. My tas gaan so vol wees met al my aandenking-kopery!”
“Ons hoop om jul gasvryheid eendag te kan terugbetaal,” glimlag Giulio.
Rafaella verskoon haarself en gaan gou stort en iets mooiers aantrek, binne die rekordtyd van vyftien minute.
“Ek bewonder ’n vrou wat so gou ’n gedaanteverwisseling kan ondergaan,” terg Giulio toe sy weer in die sitkamer kom. Hy het ’n glas rooiwyn in die hand, ontspanne en o so begeerlik.
“Ek het al baie oefening gehad,” lag Rafaella. “In my lewe is daar nie veel kans vir tyd verspil nie.”
Haar pa bied vir haar wyn aan, wat sy dankbaar neem. Sy gaan sit naby Giulio. “Jou lesings het goed verloop, skat ek?”
“Ja. Dit was interessant om te sien hoe dit in dié fakulteit gaan. Ek dink altyd dit doen ’n mens goed om te sien hoe geneeskunde in ander lande werk. Ek het ses maande by Guy’s-hospitaal in Londen gaan werk, vir die ondervinding en om my Engels te verbeter. Dit was my ma se idee en haar familie het mooi na my gekyk. Ek het in Venesië ook gaan werk, maar toe is ek terug Cortona toe om my praktyk te begin.”
“Ek sou ook graag oorsee wou gaan werk,” sê Rafaella. “Nadat ek vanjaar voltooi het.”
“Jy kan dit gerus doen. Dis baie goeie ondervinding.”
Giulio draai na haar pa en begin hom uitvra oor sy werk.
“As historikus gaan besoek ek graag die Ou Wêreld waar meesterlike kuns so volop is,” sê Jacopo. “Vir Italië kan mens eenvoudig nooit moeg raak nie. Daar was ’n tyd dat ek gewonder het of ek daar as ’n besoekende professor moet gaan klas gee, maar ek het nooit sover gekom nie. Miskien sal ek ná aftrede iewers ’n module kan gaan aanbied. My vrou verplaas nie so maklik nie, maar ek kan haar dalk ompraat tot ’n uitgerekte vakansie.”
“Louisa hét my in die versoeking gebring om weer Italië toe te gaan,” sê Rachel en staan op. “Ek gaan net gou kombuis toe. Nee, sit jy, Rafaella. Hou vir Giulio geselskap.”
Rafaella sak dankbaar terug in haar stoel. Haar laaste tydjie saam met Giulio is binne enkele ure verby. Maar dalk sien sy hom nié nou vir die laaste keer nie. Sy gaan beslis die een of ander tyd in Cortona kuier, met of sonder haar ouers. Dis ál genade.
Die geselskap gaan oor ditjies en datjies; die ete is gou verby. Toe Rafaella weer sien, staan hulle op die stoep en wuif die Di Mareneschi’s totsiens. Dit is asof ’n lig afgeskakel word. Giulio het weer haar hand gesoen en dit voel asof haar vel daar liggies geskroei het.
Haar ma sit ’n arm om Rafaella se middel. “Hy ís iets besonders. Ek kan sien jy hou van hom. Toemaar, jy sal hom weer sien.”
“Al moet jou ma by Louisa gaan kuier om dit te bewerkstellig, en ek gaan navorsing doen,” terg haar pa.
Rafaella sug teatraal. “Spot maar, julle ou getroudes. Julle weet nie hoe swaar dit is om ’n enkeling te wees by wie die liefde verbygaan nie.”
Haar ouers lag. “Ag, jy’s mos mooi en jonk,” sê Rachel. “Mooi én slim. Een van die dae raap iemand soos Giulio jou op.”
“Dis nou ’n ma wat daar praat. Nes Louisa. Sy dink haar seuns is wonderlik, maar hulle ís seker ook.”
“Wat moet gebeur, sal gebeur,” sê Jacopo glimlaggend. “Kom ons gaan in.”
* * *
Kort ná die Di Mareneschi’s se laaste besoek ontvang Rachel ’n kort briefie van Louisa, wat weer dankie sê en die kuier-uitnodiging herhaal. Sy stuur groete van Giulio. Van hom self kom daar egter niks.
Die einde van die jaar kom nader en Rafaella se gemeenskapsjaar is byna verby. Sy kan Giulio nie vergeet nie. Sy gesig vervaag in haar geheue, maar nie die herinnering aan hoe hy haar laat voel het nie. Geen ander man het haar al ooit so laat voel nie. So … kwesbaar. Uitgelewer. Vol begeerte. En so verydel.
Sy moet besluit wat sy hierna gaan doen en begin na ’n pos soek. By die Masondo-hospitaal wil sy nie