Met ’n woes bonsende hart maak sy klaar en loop na die voorportaal, selfbewus in haar wit doktersjas. Hopelik lyk sy darem professioneel. Giulio staan en praat met dokter Ngwenya en Rafaella sien dat al die vroue in die portaal vir hom loer. Hy dra ’n blou hemp, ’n das en ’n donker broek, direk van sy lesing by die fakulteit af. Hy sien haar nie dadelik raak nie, maar staan en gesels, beduie met sy hande. Sy wil nie kortasem by hom aankom nie en loop stadiger, haal diep asem.
Dokter Ngwenya sien haar en wuif. Giulio draai om en glimlag vir Rafaella.
“Hallo, dokter Continari,” groet hy heel formeel. “Die superintendent vertel my van die geweldige vigsprobleme in dié land.”
“Hallo, dokter. Ja, dis ’n stryd, maar deesdae is daar darem meer antiretrovirale middels beskikbaar. Wat wil jy eerste sien?”
“Ek sal graag jul ongevalle-afdeling sien, die operasiesale, dan die sale waar pasiënte herstel. Enigiets en alles. Ek is in jou hande.”
“Goed dan. Verskoon ons asseblief, dokter Ngwenya. Of wou u saamgestap het?”
“Nee wat, dokter. Ek’s te besig. Gaan julle gerus voort.”
Oral waar sy en Giulio loop, kyk mense hulle agterna. Sy vertel en beduie, gee syfers, prognoses, stel hom aan ander personeel voor.
“Hier is te veel pasiënte vir dié fasiliteit,” merk hy fronsend op. “Dis oorvol. Julle lyk kwaai onder druk.”
“Ja, dit gaan dol. Ek het soms skofte van langer as vier en twintig uur.”
“Ek sou my personeel nooit so lank laat werk nie. Moeë mense maak foute. Veral as dit by operasies kom, is uitputting gevaarlik.”
“Dit kan nie anders nie. Daar is nie genoeg dokters of hospitale nie en ons regering besef skynbaar nie die tekortkominge nie.”
Hy kyk haar simpatiek aan. “As jy jou opleiding voltooi het en vir jouself werk, sal dit nie so dol gaan nie.”
“Nee, seker nie. Mediese studente moet baie hard werk. Ek was pas gekwalifiseer, toe doen ek tydens my hospitaaljaar by ’n plattelandse hospitaal operasies, soos ’n wafferse ervare chirurg, en vang babas asof ek in verloskunde gespesialiseer het.”
“Een voordeel het jy seker: Jy doen binne ’n kort tyd baie goeie ondervinding op.”
“Dit ís so. Ek leer vir seker om krisisse te hanteer.”
Giulio wil stadiger loop deur die kindersaal. Sy moet hom vertel wat elkeen makeer. Hy gesels hier en daar met die kleingoed, sy stem deernisvol. Hy’s lief vir kinders, sien Rafaella. Haar hart verteder as sy sien hoe hulle op sy aandag reageer.
Toe die besoek klaar is, stap sy saam met hom na sy huurmotor en sien dis nie sommer ’n goedkoop, basiese motor nie, maar ’n splinternuwe, silwer C-klas Mercedes. ’n Man vir vertoon? Is sy hele familie dalk so? Sy let altyd op na polshorlosies, dit sê nogal iets van die draer. Giulio s’n lyk soos ’n duikhorlosie – ’n groot, praktiese ding. Waarskynlik baie duur.
“Kan ek jou môreaand vir ete uitneem, of is jy te besig?” vra hy skielik.
Rafaella se hart tol al in die rondte. “Ek kan ’n plan maak. Vandeesweek is ek nie op nagskof nie, al werk ek baie oortyd. Dankie, dit sal lekker wees.”
“Ek sal jou om agtuur by die huis kom haal, dan gaan ons na enige lekker restaurant wat jy kan voorstel.”
“Ek sien uit daarna.” En hoe!
* * *
Rafaella neem Giulio na die Plaaskombuis, want sy wil hom wys hoe lekker eg Suid-Afrikaanse kos is.
Daar is heelwat mense in die restaurant op ’n kleinhoewe aan die oostekant van Pretoria. Dit het ’n plaasatmosfeer en sy hoop Giulio hou daarvan. Hulle sit by ’n houttafel op ’n terras omring deur ’n rietmuur. Lanterns hang aan die bome.
“Dit voel amper soos ’n boma in die Krugerwildtuin,” sê sy. “Was jy al daar?”
“Nee, Pretoria is die eerste plek wat ek in Suid-Afrika besoek. Miskien sal ek later weer kom en meer van die land sien. Eintlik het ek my ma net die guns gedoen om haar te bring. Sý is die een wat die graagste wou kom. Ek sou leeus en olifante van naby wou sien, maar ek het nie nou tyd nie. My praktyk wag.”
Die kelner bring spyskaarte en Giulio laat haar die wyn kies, ’n shiraz van ’n bekende Stellenbosse wynlandgoed wat al vele goue medaljes gewen het. Sy hou Giulio dop terwyl hy die spyskaart bestudeer. Hy het so ’n mooi vel, bruingebrand en glad. Sy dik hare krul effens. Sy neus is lank en reguit en sy mond goed gevorm. Hy is eenvoudig die aantreklikste man wat sy nog gesien het.
Dit bekommer haar eintlik. Mans so mooi soos hy is gewoonlik ydel, en dit sit haar altyd af. Giulio skep nou wel nie die indruk dat hy ydel is nie, maar sy wonder tog.
Hy kyk op en betrap haar dat sy na hom tuur. Net soos die dag by Zonderwater. Sy kyk vinnig verleë af na die spyskaart.
“Hierdie wildevark wat hulle het … is dit lekker?” vra hy.
“O ja, baie lekker. Dis een van my gunstelinggeregte.” Sy kan nie opkyk in sy geamuseerde gesig nie. Seker lankal gewoond daaraan dat vroumense hom aangaap asof hulle nie kan glo wat hul oë sien nie.
Sy bestel vir hulle snoekpatee as voorgereg, dan wildevark met soetpatats en malvapoeding vir nagereg. Hy sal eet wat sy eet, sê Giulio voordat hulle bestel. “Ek vertrou jou smaak.”
Terwyl hulle vir die snoekpatee wag en die shiraz beproef, probeer Rafaella om nie weer soos ’n skaap na hom te staar nie en liewer meer omtrent hom uit te vind.
“So, waar was jy op skool?”
“In Cortona, maar ek is mos toe Florence toe om geneeskunde te gaan studeer.”
Hy wei nie uit nie, maar vra haar oor haar eie lewe uit, luister aandagtig na haar beskrywings van haar skole, haar universiteit, haar werk as dokter.
“Jy is so mooi, jou pasiënte sal op jou verlief raak,” terg hy.
Rafaella is uit die veld geslaan. Dink hy regtig sy’s so mooi, of vlei hy nou net soos ’n tipiese Italianer?
“Raak jóú pasiënte nie op jou verlief nie?” terg sy terug.
Hy grinnik. “Ag, ek is nie soos my broer die opera-ster nie. Die vroumense raak dolverlief op hóm. Val vir sy sjarme en voorkoms. Hy het natuurlik ook ’n oog vir vroue, maar daar is ’n spesiale een, die sopraan Maria Vallerta. Ek dink hulle trou dalk eendag, hoewel hy beweer dat een operaster nie met ’n ander behoort te trou nie.”
“En … lyk julle twee na mekaar?”
“Mens kan sien ons is familie, maar hy het blonde hare en blou oë, wat hy van die Hammond-kant van die familie kry. Ek is donker soos my pa se mense.”
“Waar het jou ouers dan ontmoet?”
“In Londen, toe my pa by Covent Garden opgetree het. Hy het my ma vir ete genooi, blomme aangedra, en kort daarna is hulle getroud. Hy het altyd gesê dat die liefde hom soos ’n bliksemslag getref het toe hy dié Engelse roos ontmoet en hy wou nie op hom laat wag nie.”
“Dis romanties,” sug Rafaella.
“Ja, ons Italianers is mos bekend daarvoor.” Hy lag.
“Is álmal van julle so romanties?” spot-vra sy.
“Omtrent deur die bank. Amore, amore bo alles.”
Sy sterf om te weet of hy baie meisies het, maar dit is tog nie iets wat ’n mens durf vra nie.
“Ek is natuurlik die uitsondering op die reël,” gaan hy voort. “By my kom werk eerste. Ek wil ’n geneser wees, nie ’n minnaar nie.”
Rafaella voel soos ’n ballon wat opgeblaas was, skielik geprik word, en bars. Al haar wind weg. Waarom het hy haar uitgevra as hy haar nou so waarsku? Dink hy sy kry reeds idees?