het jou gunstelingeetgoed gemaak. Ons kan alles bespreek terwyl ons eet,” sê Rafaella met valse vrolikheid. Heeltyd dink sy dat swaarmoedigheid van haar kant haar arme ma net somberder sal laat voel, en sy probeer hard om almal op te beur. Tot dusver tevergeefs.
Sy en haar pa skink drankies terwyl haar ma Aldo na sy slaapkamer vergesel. Hulle hoor hoe hy gemaak-vrolik hard praat en sê dat hy vinnig gaan opvars, dat hy verlang het en dat hulle baie het om oor te praat. Rachel se moeë voetstappe klink in die gang en gaan na die kombuis. Rafaella vermoed sy gaan trane afvee waar hulle dit nie kan sien nie.
“Ag, árme Mamma,” sug sy.
Haar pa knik, sy gesig stroef. Hulle wag in stilte en luister na die opera-CD wat Jacopo onlangs gekoop het. Luigi di Mareneschi sing saam met ’n sopraan. Die pragtige klanke van die lied uit La Bohème laat Rafaella net nog treuriger voel. Natuurlik moet sy ook al weer aan Giulio dink, met hopelose, sentimentele verlange. En vies vir haarself dat sy selfs in hierdie tyd so aan hom bly dink. Wanneer sal sy hom ooit weer sien? Nou kan sy ook nie Italië toe gaan nie. Sy wens sy kon hul leed deel met dié man wat self ’n ouer aan kanker verloor het. ’n Man wat ook ’n geneesheer is en wat sal weet hoe hulpeloos jy ten spyte van jou kennis voel.
Aldo kom in en lyk verfris. “Wie sing daar?” vra hy. “Dis een van die mooiste tenoorstemme wat ek nog gehoor het.”
“Dis Luigi di Mareneschi, wie se mense ons onlangs ontmoet het toe hulle na die gedenkdiens by Zonderwater gekom het,” vertel Jacopo. “Die seun van die groot bariton Francesco di Mareneschi.”
Aldo gaan sit swaar in ’n leunstoel. “Ek ken die bariton, ja. Ek moet sê, die seun is net so talentvol soos die pa. Sing Francesco nog? Hy kan nie meer so jonk wees nie.”
“Nee, hy is onlangs dood. Aan keelkanker,” sê Jacopo stroef.
Die woord maak hulle almal ’n rukkie heeltemal stil. Aldo vra verder uit oor die Di Mareneschi’s. Rafaella vertel met smaak.
“Giulio wil ’n rusoord op hul landgoed begin. Hy is seker al besig om sy planne uit te voer, hy was vasbeslote.”
Sy sien Aldo kyk haar ondersoekend, agterdogtig, aan, en sy bloos warm. Wat hoor hy tog in haar stemtoon? Kan sy dan níks wegsteek nie?
“Dié Giulio klink na ’n agtermekaar kêrel,” merk Aldo droog op.
“Dít is hy gewis,” sê Jacopo. “Kom ek skink vir ons wyn. Dit sal ons goed doen.”
Aan tafel heers die intimiteit van ’n hegte gesin in ’n verdrukking wat hulle saam moet deurleef. Aldo smul aan sy ma se heerlike kos, maar dit lyk tog vir Rafaella asof hy dit ’n bietjie oordryf om Rachel te troos.
“Ek het reeds alles met Justus Havenga gereël,” sê hy toe hulle by die tiramisu-nagereg trek. “Môreoggend om tienuur het ek en Mamma ’n afspraak by hom. Hy het sy spreekkamer by die kliniek en die biopsie word sommer daar gedoen. Hy’t vir ons ’n chirurg gekry, een van die bestes, Erik Taljaard.”
“Ek kom saam,” sê Jacopo. “Dis vakansie, die eksamens is verby. Ek is heeltyd tot jou ma se beskikking.”
“As Papà wil.”
Rafaella sou ook graag wou gaan, maar al vier van hulle is darem te veel. Sy sal eerder gaan werk.
Rafaella kom by die huis en tref haar mense met koffie in die sitkamer aan. Sy staal haar om die uitslag van die toetse te hoor. Haar ma lyk heeltemal verwese, haar pa probeer verbete dapper wees en Aldo het ’n sombere saaklikheid.
“Kom sit, sus,” sê Aldo.
Haar ma vra sag of sy wil koffie hê en skink vir haar. Sy neem die koppie en sluk dit so vinnig af dat dit haar keel brand. Sy sit die koppie en piering rinkelend neer, en kyk gespanne na Aldo.
“Mamma het ’n fillodetumor in haar linkerbors,” sê Aldo in sy dokterstem. Rafaella haat dit! “Dit is ’n snelgroeiende massa wat in die periduktale stromale selle van die bors vorm en minder as een persent van bors-neoplasma uitmaak. Dit kán niekwaadaardig wees, maar in dié geval is dit grensgeval-kwaadaardig. Alle vorme van fillodetumors word as kanker beskou, want selfs die niekwaadaardige soort het kwaadaardige potensiaal. Dit groei baie vinnig en moet dadelik verwyder word.”
“En die beste behandeling daarná is …?” vra Rafaella deur lippe wat styf geword het van skrik.
“Chemoterapie en bestraling word nie as effektief beskou nie, dus is chirurgie die enigste behandeling,” sê Aldo. Hy kyk na sy hande, en weer op na Rafaella. “Justus en ek is dit eens dat ’n volledige mastektomie meer effektief sal wees as gedeeltelike verwydering.”
Rafaella kyk vlugtig na haar ma, wat styf teen haar pa sit en net een keer saggies snuif. Hulle lyk albei asof hulle trane inhou.
“Volledig?” vra sy. Hoe moet haar arme ma, enige vrou, voel by die vooruitsig dat haar hele bors afgesit moet word?
Aldo se oë blink verdag en sy sien hy sluk. Klinies korrek kan hy nie wees as sy ma die een is wat met die gevreesde siekte moet worstel nie.
“Wye chirurgiese eksisie verseker nie dat daar vrye rande sal oorbly nie. Mastektomie is veiliger.” Aldo druk-druk aan een oog.
Rafaella staan op en gaan druk haar ma, voel hoe sy ingehou bewe. Sy voel self heeltemal wankelrig toe sy weer gaan sit.
“Dan moet ek maar die bors verloor,” sê Rachel dapper. “Al lyk dit hoe sleg.”
“Dit gaan geen verskil maak nie,” sê Jacopo vurig. ” Jy sal nog net so mooi wees soos altyd, cara.”
“Net ’n bietjie windskeef,” spot Rachel, maar haar stem breek.
Rafaella wissel ’n blik met haar broer en vee haar oë en neus met ’n snesie af. “Mamma kan die bors mos laat heropbou,” troos sy. “Die mediese wetenskap skrik nie meer hiervoor nie.”
“Jy sal kry net wat jy wil hê, cara, net wat jy dink is nodig en die heel beste,” troos Jacopo en soen Rachel se wang.
“Hoe werk so ’n heropbou dan?” vra Rachel, en Rafaella sien hoop ná die vrees in haar oë flikker. Haar ma was nog altyd ’n optimis, dink sy deernisvol, en voel beter as sopas.
Aldo verduidelik. “Dit word deur ’n plastiese chirurg gedoen. Die bors kan opgebou word om dieselfde vorm en grootte van die … e … verwyderde bors te hê. Dis met ’n inplanting, ’n silikoondop gevul met soutwater of ’n spesiale jel. Dit kan selfs saam met die mastektomie gedoen word, Mamma, oftewel, direk daarna. Ons kan dit alles met Justus en Erik Taljaard bespreek. Moenie wanhoop nie, Mamma. Alles gaan regkom.”
“En ek is in die beste en liefdevolste hande,” sug Rachel. Sy glimlag bewerig.
Aldo staan op. “Ek en Jwana het aandete gemaak. Julle kan kom aansit. Sy het tafel gedek voordat sy ge-tjaila het.”
“En jy kán so lekker kook,” grap Rafaella. “Ek gaan maak my net weer fris, vars en mooi, dan kom kyk ek of jy nog my komplimente verdien.”
Sy glimlag vir haar ouers wat styf teen mekaar op die rusbank sit, en haas uit, sodat hulle nie haar trane moet sien nie.
Hopelik kry sy ook eendag ’n man so liefdevol en ondersteunend soos haar pa. So slim en betroubaar soos hy en haar broer.
Rafaella neem die dag van haar ma se operasie af. Sy weet sy sal nie op haar werk kan konsentreer as sy so bekommerd is nie, al is Aldo daar. Hulle gaan almal saam na die kliniek. In die motor is hulle tjoepstil. Aldo het vooraf die prosedures verduidelik, maar Rafaella weet dat haar ma haar vrees wegsteek. Sy is nie vertroud met hospitale nie, want in haar lewe is ’n kleintydse mangel-operasie al wat sy ervaar het. Sy het ook maklik haar babas gekry. Rafaella kan haar egter die hele verloop in al sy fases voorstel, van die narkose tot by die bykom met die operasie agter die rug en die gevolge duidelik aan die lyf te voel. Haar ma gaan pyn hê, maar daarvoor is daar medisyne. Dis die geestelike aanpassing by haar vroulike liggaam wat vermink moet word, wat vir Rachel die ergste sal wees. Die littekens