dink Hans, so het hy John leer ken. Ernstig en saaklik wanneer hy op die baan is. Soos Erika.
Graham wen die lootjie.
John gryp die kietie en plaas dit in Jenny se hand. “Vyf en twintig,” sê hy.
Terwyl Jenny gereed maak, beweeg die skips en hul afrigters, Derek Barnes en Phillip Abrahams, na die oorkant om agter die kop stelling in te neem.
Die kietie rol kort.
“Dit kom van rondstaan en ginnegaap,” spreek John haar skerp aan.
Hans beskou dit as ’n onnodige afjak. En omdat Jenny die afjak so stil aanhoor, ontstig dit hom meer.
Aangesien Jenny die kietie verloor het, behoort dit nou aan die opponente om op ’n afstand van hulle keuse te rol.
“Vyf en twintig,” sê Erika.
Hans rol doelbewus hard. ’n Afstand van twee en dertig.
“Hans!” roep Erika.
Hy kyk by haar verby.
Soos met die kietie bowl Jenny ook kort met haar eerste rolbal.
John blaas ’n sug oor sy lippe. “Sien wat gebeur as jy die jack verloor? Konsentreer, Jenny!”
Hans het ’n goeie begin, terwyl Jenny sukkel om ritme te kry.
Aan die oorkant jubel Melvin en roep elke keer: “Kwaai, Hans. Lekkertjies. Smart. What ’n bowl!”
Met sy eerste bal skuif Graham die kietie saam met sy bal agtersloot toe.
Phillip jubel en raas asof die wedstryd reeds gewen is.
Dit werk negatief op Melvin in. Sy bal rol wyd, ’n voorloper vir die res van sy balle. Hulle rol versprei oor die baan, terwyl Graham die kop oorheers met uitstekende skote.
So verloop die wedstryd deurgaans, tot na aan die einde. Toe ontstaan ’n dispuut oor wie skoot lê: Melvin en Hans of Graham en Jenny? Die telling 33/0 in laasgenoemdes se guns.
Erika en Derek is oortuig daarvan dat dit hulle skoot is, hul blik uit verskillende hoeke op die kop gerig. Net soos dié van Phillip en John.
Die spelers, soos die reël is, staan eenkant en wag.
“Close, maar ja . . . Shot is hulle s’n,” gee John toe.
Phillip skud sy kop en loop soos ’n skeidsregter in die kop rond, voete behendig tussen die balle deur sonder om een te raak.
“Huh-uh,” sê hy ná ’n rukkie, “ek dink nie so nie. Hoe kyk jy, John? Kyk weer. Close, maar nie in hulle favour nie. Ons lê.”
Graham beweeg nader, swaksiende oë wyd gerek.
“Phillip is reg,” sê hy beslis. “Measure, John.”
John sak op sy knieë neer terwyl Melvin naderstaan om vir homself te sien. In die proses skop hy teen Hans se bal, wat in werklikheid die skoot is.
John staan vinnig op. “Spelers uit die kop uit!” sê hy skerp. “Jy weet dit, Melvin. Ons vat die shot. Game over.”
Hans kyk verstom na die opponente wat so jubelend tekere gaan, veral Phillip en Graham. So ’n groot telling in hul guns, maar hulle is nie bereid om ’n skoot af te staan nie? Uiters fanaties, as jy hom sou vra. Maar hy hou daarvan. Om aan die wenkant te wees is seker goed, maar hoe vér jy wen is blykbaar baie belangriker.
Hy het nooit besef daar is soveel aan sport nie. Aanvanklik het hy gedink dit verg niks om rolbal te speel nie. ’n Geval van rol die bal en klaar. Soos sokker: jy skop die bal na ’n spanmaat of in die doelhok in.
Boonop het hy gedink dis nie nodig om fiks te wees vir rolbal soos vir ander sportsoorte nie. Hy het gou sy fout agtergekom. Om drie ure lank – die duur van ’n wedstryd – heen en weer in die bloedige son te loop, met ’n geboë liggaam te bowl, te balanseer en jou deurswaai reg te hou, tap jou energie.
Dan is daar ook nog die wedstryddruk wat jou tam in die lyf maak, al is dit eintlik ’n kopding.
Toe sorg hy dat hy fiks raak. Hardloop op die plek, rek en strek sy arms en lyf na alle kante toe. Oefen, oefen, oefen.
Toe besef hy ’n fikse liggaam beteken niks as jou kop nie reg is nie. Jy moet op jou voete dink en ten volle op die wedstryd ingestel wees. ’n Soort wedstrydpsige ontwikkel.
Nou hierdie aspek: die wil om te wen. En goed te wen, sonder om skiet te gee. Soos om iemand te wurg en aan te hou wurg tot alles verby is.
Maar selfs meer: die wedstryd in jou guns te manipuleer, soos Phillip en Graham doen. Aanvanklik met los praatjies om jou konsentrasie te breek. Later met allerlei foefies, soos om drie skote te roep wanneer dit net een of twee is. John het dit elke keer reggestel.
En soos met die laaste kop. Dit was nie hulle skoot nie; hulle het dit goed geweet. Melvin het dit op ’n skinkbord vir hulle gegee.
Hans dink nie hy sal ’n wedstryd op so ’n slinkse manier in sy guns beklink nie, maar dis goed om te weet dat dit ’n opsie is. Hy sal dit dalk teen Melvin of Graham kan toepas as dit daarop neerkom.
“Drinks all round?” bied Graham aan toe hulle die baan verlaat, maar Melvin maak hom klaar uit die voete.
“Thanks, Graham, maar ek moet waai,” sê Phillip. “Game in die Strand. Mooi gespeel. Jy’t vir Melvin pap gespeel.”
John beaam dit. “En Jenny was omtrent net so vrot soos Melvin. Sy’t op jou rug gery.”
Graham vat die komplimente met ’n breë glimlag, terwyl Derek en Erika ook verskoning maak, hulle het iets om te bespreek.
“Ek kry jou in die kroeg, Hans,” sê Erika. “John, sal jy ’n ogie hou?”
“Sure.”
Hans sou verkies het om soos Melvin stilletjies weg te glip, maar hy wil nie laat blyk dat hy ’n swak verloorder is nie.
Hy ís nie, 34/0 is net ’n bitter pil om te sluk. ’n Helse pak slae.
Hy kyk onderlangs na John terwyl dié Jenny sorgsaam van die baan af help. Dieselfde man wat tydens die wedstryd so ongenaakbaar met haar was?
“Trappie,” sê John by die houttrap. En by die stoeptrappies voor die klubhuis tel hy: “Een, nog een, daar’s hy.”
In die sitkamer maak hy seker dat elkeen gemaklik sit voor hy hulle drankies by die kroegtoonbank gaan haal en uitdeel.
Aangevuur deur Graham, wat nie uitgepraat kan raak oor sy pragspel nie, gesels John hartlik saam. Jenny, wat skaars ’n woord tydens die wedstryd gepraat het, kruip uit haar dop en skaterlag. Hans vererg hom sommer vir die twee mans wat hulleself so gruwelik op die skouer klop terwyl hulle op haar en Melvin se swak vertoning pik.
Dan maak John en Jenny verskoning en laat Hans en Graham alleen. Graham bied nog ’n ronde drankies aan. In plaas van lemoensap kies Hans hierdie keer coke.
Graham vat die wedstryd van voor af terwyl Hans stilswyend luister. Elders in die sitkamer en voor die kroegtoonbank sowat twee meter van hulle af gesels en rumoer dit oorverdowend hard.
Graham onderbreek homself plotseling en vra: “Hoe’s jy so stil, pel?”
“Sit sommer, Graham.”
“Is dit oor die game?”
“E . . . ja.”
“Ja, ’n man voel laf as jy so sleg verloor. Maar dis niks om oor te worrie nie, jy’t teen ’n champ verloor. Twee van ons. Dis nie ’n skande nie. Tussen ons gesê: dis jou skip. As jý skip gespeel het, was dit ’n ander game. Julle sou iets op die bord gehad het.”
Hans swyg, nie lus om sy gedagtes met iemand te deel nie.
Graham sluk aan sy bier en begin praat oor ander wedstryde waarin hy geseëvier het.
Hans luister met ’n halwe oor en dink: Ja, hy is stil