Zain Eckleton

Die rolbalspeler


Скачать книгу

      Toe dit sy beurt is om te bowl, beweeg sy afgemete tot by die grasmerk. Nie ’n woord oor hoe hy moet staan, dat hy met ’n reguit arm moet bowl en moet let op sy follow-through nie.

      Hy ruk hom op en bowl halsoorkop. Die bal skoert soos ’n motor wat een wiel verloor het en bots teen ’n bal in die aangrensende speelbaan. Dit deel Erika hom klinies mee, sonder haar gewone drif wanneer hy swak speel.

      So asof sy nie meer raad met my het nie, dink hy.

      Hy skarrel eenkant toe weg toe hy haar op hom sien afpyl om sy hand te neem. Struikel in die proses oor nog balle. Hy besef dat hy oorreageer, maar kan dit nie help nie.

      Die wedstryd draai heeltemal teen hom. Hy kan dit nie hanteer nie. Die bliksemse bowls het ’n wil van hul eie! Dan neuk hulle verby. Dan steek hulle vas en verseg om verder te rol. Dan koers hulle duskant toe of soontoe.

      Is dit sy skuld? Al wat hy doen, is om die bliksems te bowl!

      Melvin se beker loop oor. Hy het die wedstryd pas met 21/5 in sy guns beklink.

      “Dís die klas bowler wat ek is,” spog hy teenoor Phillip, “maar hulle kyk my mis.”

      “Jy’s lucky jy’t my vir ’n coach gekry,” antwoord Phillip. “Mooi gespeel, pellie!”

      Erika deel in Melvin se vreugde. Gee selfs ’n pryswoordjie aan Phillip soos etiket vereis.

      Waar hy eenkant staan en luister, voel Hans bekaf. Vies vir Erika wat so opgewonde saampraat. Asof sy Melvin se coach is, terwyl sy vir hóm niks te sê het nie. Hoeveel keer het hy nie oor balle geneuk en die mat gesoek nie? Gewoonlik pas sy hom soos ’n baba op. Toe ruk sy haar op vir Phillip en . . .

      Sy gedagtes stol toe hy merk dat Erika na hom reik om hom van die baan af te lei.

      Hy ruk weg. Nie woes of ongeskik nie, net weg.

      “Ek sal regkom,” sê hy gesmoord.

      “Is jy seker, Hans?”

      “Ja. Dankie.”

      “Goed. As jy so sê.”

      Sy klink afgejak, dink hy. Dit was nie sy bedoeling nie.

      Of was dit?

      Okay, dit wás ’n afjak. Dis gedaan, so what?

      Toe, in ’n poging om die afjak ligter te maak, sê hy: “Dis lig. Son skyn helder.”

      Sy kyk net stilswyend na hom. Wat kan hy sê om haar beter te laat voel?

      Hy kan aan niks dink nie. Gevolglik, rolbalsak in die hand, maak hy gereed om te loop. Verken die pad met skrefiesoë terwyl hy die bril teen sy gesig vasdruk, asof dít sal help om hom beter te laat sien.

      ’n Blik na Erika wat voor hom uitloop, drif in haar stap, lyk dit vir hom.

      Ja-nee, hy het haar gevoelens gekrenk. En sy is reeds vies oor die game én die hel in vir Phillip.

      Nou ja, dit maak twee van hulle. Vir wat hou sy haar met die vyand op terwyl hy haar ondersteuning nodig het? Sy is sý coach. Hulle is saam in die ding. Het saam pak gekry. Hulle moet die pak saam vat.

      So, sy’s nie happy met hom nie en hy is vies omdat sy haar met die opponente ophou.

      Hulle is kiets. Fair en square kiets.

      Wat is daar in elk geval om oor happy te wees? Dit was ’n lelike pak. Hy kan dink wat die ander daaroor te sê gaan hê.

      Hulle is ook nie happy met hom nie. Hy kom net nou die dag hier aangesit en hy het ’n regular coach. Die meeste spelers kry elke week ’n ander afrigter. Net topspelers soos Graham Stevens, Jenny Wilson en Bongani Ngema het gereelde afrigters.

      Hans struikel oor ’n bal. Erika moes dit gehoor het, want kort voor hom steek sy vas en kyk om.

      Nie ’n woord van haar nie. Net daardie stil kyk wat hy nie kan peil nie, maar wel ’n interpretasie aan koppel: Val jou disnis! Jy wil mos nie gehelp wees nie!

      Sy loop verder, klim van die baan af en begin aanstryk klubhuis toe. Hy rek sy treë sodat hy nie te ver agterraak nie. Skop weer teen ’n bal. Gelukkig sien Erika dit nie, merk hy verlig.

      Op die bank tref nog ’n ramp hom: hy val oor die waterkan. Glase klingel teen mekaar.

      Demmit, dis oor hy dóér kyk en nie hier voor hom nie!

      Hy spring op, sit die kan terug op die staander. Voel na glase op die grasperk.

      Erika kom terug en vat hom aan die hand. Die kyk wat hy van haar kry, spreek boekdele: Één woord van jou, dan los ek jou dat jy jou rêrig disnis val!

      Hy kyk by haar gesig verby. Oor die hoed op haar kop die lug in op.

      Hy’s vas. Useless. Totally useless. So, hy moet sy woorde sluk.

      Hy loop gedwee saam.

      In die klubhuis los Erika sy hand en vat die rolbalsak by hom.

      Hans staan roerloos. Soos ’n robot wat deur iets, deur iemand beheer word, dink hy. Staan. Dan staan hy. Loop. Dan loop hy. Stilte. Dan swyg hy.

      Ná ’n oomblik draai hy rond om te kyk wat van Erika geword het. Sy het niks gesê nie, net die sak gevat en hom gelos. Sy konsentrasie is nie wat dit moet wees nie. Hy het nie geluister watter kant toe sy beweeg nie.

      Soontoe?

      Terug?

      Diékant toe?

      Waar hy kyk, is dit vaaldonker. Wasig.

      Sy kan nie weg wees nie? Hy het haar tog nie hoor wegbeweeg nie. Sy móét hier iewers wees . . .

      Hy draai in die rondte. Draai homself rigtingloos. Hy’s nie meer seker waar die ingang is en watter kant die kroeg nie. Alles wat wil-wil sigbaar word, is vaal, gryserig. Onherkenbaar.

      Iets vang sy oog. Iets wat soos ’n mens lyk.

      Erika?

      Hy kan natuurlik na haar roep, maar hy besluit daarteen. Soos dit is, het hy homself reeds in die verleentheid gestel. Wat as dit nie sy is nie? Met sy oë kan hy van niks seker wees nie.

      Dan waag hy dit tog. “Erika?” Baie sag.

      “Wat’s dit, Hans?” antwoord sy vlak by hom. “Soek jy my?”

      “Nee, nee.”

      “Ek bêre gou jou bowls, dan gaan ek kleedkamer toe. Jy weet ons ry later? Die komiteevergadering?”

      “Ja, jy’t gesê. Ek gaan kroeg toe vir drinks. Ek sal in die sitkamer wees as jy my soek.” Hy begin loop.

      “Hans, wag.”

      Sy kom tot by hom, vat sy hand en begin met hom aanstap in die teenoorgestelde rigting.

      “Dankie,” prewel hy verleë toe sy hom voor die kroegtoonbank los.

      Vyf

      Hans lees by die eettafel, maar sy aandag is verdeeld. Deels by die roman voor hom, deels by sy broer wat rusteloos rondbeweeg. Dan binne. Dan buite. Dan krap hy hier. Vroetel daar.

      Hy weet waarmee sy broer besig is: emosionele afpersing.

      ’n Paar minute gelede het Willem hom op sy ma beroep.

      “Het Ma ’n paar odds om te spaar?”

      “Ai, my kind, sorry, laaste paar dae voor die end van die maand is dit mos maar droog. Vra vir Hans.”

      Hy het sy kop geskud. “Ek het net taxi fare werk toe, en ek moet ’n paar goed uitsort met die geld wat oorbly. Sorry.”

      Hy blaai terug en herlees die bladsy, sy oë met gereelde tussenposes op sy broer.

      Willem weet dat hy en sy ma twee softies is. Dat een van hulle hom gaan jammer kry en iets in die hand stop.

      Hans het ’n sagte plek vir