Zain Eckleton

Die rolbalspeler


Скачать книгу

gee hy net wanneer Willem dit verdien, soos met ’n los werkie. Dit pla hom dat sy broer werkloos by die huis sit en soos sy ma so ongeërg is daaroor.

      Hy weet sy ma dink hy is glad nie kaal soos hy sê nie, net vrek suinig oor hy niks vir Willem wil gee nie. Eintlik spaarsamig, maar volgens haar is hy vrekkerig.

      Hy blaai dieselfde bladsy terug, sug innerlik. Hy kon seker maar ten bucks afgeknyp het. Willem is altyd daar vir hom. Altyd beskermend.

      Maar hy kan tog nie nou op sy besluit teruggaan en skielik geld uithaal nie. Dalk die Saterdagmiddag op ’n ander manier vir sy broer opkikker?

      Hy maak sy boek toe en volg Willem na buite.

      “Lus vir kerm?” vra hy.

      “Kerm? Boring! Dis Saterdag, ’n man is droogbek. Maybe as daar iets in is, ja. Fifty bucks as jy die eerste round sponsor. Vier, vyf games, dan is ek to do.”

      “Wie sê jy gaan wen?”

      “Watch my.”

      “Twenty bucks. Fifty is ’n bietjie kwaai. Ek het ’n paar odds wat ek kan afknyp, maar ek kan nie overboard gaan nie. Mens moet in jou budget bly, anders draai jy vas.”

      “Okay, twenty bucks. Kry die kermbord, ek sal die drom organise.”

      Hans glimlag onderlangs vir sy broer wat skielik vol lewe is. Entoesiasties oor die geld wat hy dink hy gaan inpalm.

      Sommer gou is hulle reg vir die geveg. Willem staan op sy gewone plek, so dat hy die verbygangers in die straat kan sien, Hans met sy rug na die pad. Die kermbord rus op ’n oliedrom wat voor die huis staangemaak is. Hans se draagbare radio staan op ’n tamatiekis langs die drom, ingeskakel op RSG vir die Stormers se rugbywedstryd.

      Willem wen die loot, gevolglik is dit sy voorreg om die skywe – die kinders, soos hulle dit noem – te pak en eerste te skiet.

      Vanuit die huis loer Maria oor die onderdeur wat buite aangaan. Sy sien hoe Willem die skywe wat reeds gepak is tydsaam verstel.

      Try hy iets? wonder sy.

      Sy weet dat Willem altyd aan die kortste ent trek wanneer hy en Hans skiet. Sy verstaan dit nie, want Hans sit mos met die oë van hom en Willem makeer eintlik niks.

      Hans weet goed waarmee Willem besig is: hy plaas die skywe wat aan hom behoort só dat hulle regoor die oorkantste hoekgate is. Dis wat jy doen as jy die loot wen.

      Willem breek die pak skywe met ’n harde slag toe hy die ghoen daarteen vasskiet. Die gemerkte skywe val met ’n geklingel in die blikke. Hy lag uit sy keelgat, skuif terselfdertyd van sy skywe in gunstige posisies.

      Nou speel die kind mos skelm! dink Maria.

      Maar as dit al manier vir hom is om te wen, is dit seker okay? Sy glimlag by haarself. Hy hét mos nou die geldjie nodig om hom op te beur.

      Buite spog Willem blatant.

      “Jy kan nie só breek nie. Twee kinders in een? Niks maak aan my vere nie.”

      “Ja, okay. Maar onthou, jy het nog baie kinders om in te skiet, én die kiempie voor jy wen.”

      “Easy, broer, watch my.”

      Onbewus van sy broer se skelmstreek luister Hans na die skywe wat inval. Twee ná mekaar.

      Tingeling. Ting-ting.

      Dit verbaas hom. Gewoonlik sukkel Willem om ’n skyf in te skiet. Dis óf oor die rand óf die kind hol op die bord rond.

      Met die kermstok oor sy skouer, ’n halwe oor na die rugbykommentaar en sy oë op die bord, roer Hans die saak aan wat hy eintlik op die hart het.

      “Dis nie lekker om platsak te wees nie, of hoe?”

      “Maak ’n man van plak af. Spoil jou hele dag.”

      “Miskien moet jy try om ’n job te kry. Fabriekwerk of iets.”

      “Factories retrench die mense. Daar’s nie werk nie. Hulle betaal in any case niks. Peanuts. En die voormanne is lekker windgat. Skree jou rond. Nie vir my nie. No, thanks. Ek het iets anders in gedagte.”

      “Wat?”

      “Besigheid.”

      “Watse besigheid?”

      “Ek is besig om iets uit te werk. Skiet, ek het mis geskiet.”

      Willem kyk pad se kant toe, roep: “Hallo, sweetness, waar gaan jy? Wag vir my, ek’s amper klaar, dan’s ek daar.”

      “Ken jy die meisiekind?” vra Maria, haar oë op die tiener in die kort rokkie.

      “Nee, Ma.”

      “Wat smile sy dan soos een wat jou ken?”

      Willem lag met sy kop omhoog, kermstok lugwaarts.

      Maria se gesig trek ontevrede. “Lyk my jy aard na jou pa. Lief vir vroumense.”

      “ ’n Man is gewire om te fire,” kry Willem lekker.

      Hans buk laag oor die bord om die posisie van die skywe te bepaal. Die groen en wit skywe, geel kiempie en swart ghoen is net-net onderskeibaar in die helder sonlig.

      ’n Oog vir skyfskiet het hy nie, maar sy aanvoeling is uitstekend. Sy broer is presies anders: goeie oë, maar sy aanvoeling laat veel te wense oor. Daarby is hy aggressief en oorhaastig. Skiet voor hy mooi gekorrel of sy opsies oorweeg het.

      Willem sal nie ’n goeie rolbalspeler wees nie, dink hy. In rolbal gee jou aanvoeling, kopwerk en temperament die deurslag.

      Hy korrel en skiet.

      “Mis!” roep Willem soos een wat daarop gehoop het. “Nou pot ek hulle. Watch my.”

      Terwyl hy praat, beweeg hy om die bord om die skywe kamma vanuit verskillende hoeke te bekyk, maar inderwaarheid skuif hy sy skywe rond.

      Maria wil nie glimlag nie, maar die glimlag bly om haar mond. Van kerm weet sy nie veel nie, maar dit sal ’n miracle wees as Hans vandag wen.

      Met die kiempie uiteindelik in die blikgat beklink Willem die spel in sy guns. Hy hou die kermstok omhoog en voer ’n paar danspassies uit. Dan steek hy sy hand uit vir die wengeld.

      “Kan ek . . .?”

      “Pak,” sê Hans.

      “Forty bucks?”

      “Twenty.”

      “Lekker bang, nè?”

      “Sê maar so. Lyk my jy’t ’n pro geword.”

      Willem proes van die lag en klap die skywe soos domino’s op die kermbord neer.

      Terwyl Hans wag, kermstok agter teen sy nek met albei hande wat dit weerskante vashou, en hy hom vervies vir die Stormers wat so vrot speel, probeer hy uitwerk hoe sy broer die wedstryd so maklik gewen het.

      Dan skiet iets hom te binne.

      “Willem, ek soek iemand om my te help oefen.”

      “Bowls?”

      “Ja.”

      “Wanneer?”

      “Sondae.”

      “Hoeveel kry ek?”

      “Fifty bucks.”

      “Maak dit honderd. Sondag is double time.”

      “Eighty.”

      “Okay, deal.”

      Willem breek met ’n harde slag.

      Tieng! hoor Hans, terwyl sy broer triomfantelik lag.

      Die spelers vir die parespel staan rond en gesels terwyl afrigter John Wright die telbord regkry.

      “Het julle getoss?” vra hy toe hy omdraai, oë op Graham en Melvin, die skips vir Jenny en Hans onderskeidelik.

      “Nee,”