Zain Eckleton

Die rolbalspeler


Скачать книгу

gesigsveld. Dan is daar nog een, en nog een wat wegraak. En almal gesels en gaan tekere. Allerlei krete wat opklink, kompleet asof hulle dit geniet. En dit onder hierdie warm son.

      Om met ’n bal voor jou voete of onder jou arm te hol, sal darem meer exciting wees. Dit sal nou iets wees om oor te gil en alles. Só sal hy nie tekere gaan nie, maar nou wil hy ’n slag aan die gang kom, al is hy nie werklik hier oor die game nie.

      Hy kyk terug na Erika. Die vlegsel val hom op, al swaaiende soos sy met haar lyf en kop gesels en verduidelik.

      Sy waai met haar hand voor haar gesig. Hy het agtergekom dat die son haar pla. En tog het sy nie einde nie. Gaan aan oor hierdie stupid game asof haar lewe daarvan afhang. Hoe lank loop hulle al rond? ’n Uur? Langer? Voel na ’n uur en ’n half.

      Sy oog vang nog ’n bal. Swart bal oor die wit baan, al weet hy die baan is nie werklik wit nie. Groen, natuurlik. En waarskynlik is die balle ook nie swart nie. Dalk bruin of groen, of ’n ander donker kleur.

      Vir hom is alles wit of swart.

      Uiteindelik hou Erika op met die verduidelikings. “Tyd vir tee,” sê sy. “My keel is droog gepraat en die son keil my op.”

      Binne die klubhuis is dit heerlik koel.

      Erika kies ’n tafel naby die groot vensters. Weens die sonlig in sy oë help dit Hans egter glad nie om iets te sien nie. Hulle sit swygend oorkant mekaar terwyl hy angstig wag dat sy oë aan die binnelig gewoond raak.

      Dit gebeur geleidelik. Soos dagbreek. Eers die ligdonkerte. Dan die ligskynsel. Dan lig.

      Die vrou wat die tafels bedien sit tee en eetgoed voor hulle neer.

      “Hoe drink jy jou tee?” vra Erika.

      “Melk en twee suiker, asseblief.”

      Erika skink uit die teepot, roer melk en suiker by, skuif ’n bordjie met ’n mosbolletjie op langs die koppie voor Hans.

      “Geniet dit,” sê sy.

      Hy knik sy kop, verlig dat hy sy sig terughet.

      Hy drink ’n mondjie tee en kry die koekie beet. Dit maak sy hande taai, jig!

      “Gebruik die lepel,” stel Erika voor.

      Hy doen dit, ongemaklik bewus van haar oë op hom. Donker oë in die wit gesig.

      Uit die kroeg aan die agterkant van die saal klink die geluid van glasskerwe op. Die kroegman wat ’n glas van die toonbank afgestamp het.

      Buite klink die uitbundige krete steeds op. Hulle sal binnekort inkom vir tee, sê Erika, waarna hulle hulle wedstryde sal hervat.

      Ná ’n rukkie, met die stilte tussen hulle wat voortduur, kyk Hans vlugtig op.

      Erika is klaar, sien hy, besig om haar hande met ’n servet af te vee. Sy koekie is halfpad.

      Hy probeer om vinniger te eet. Hy het die gewoonte om so te pik-pik. Dan staan Willem reg om klaar te maak wat hy in sy bord oorlos.

      “Ná tee bowl jy jou eerste bowl,” sê Erika. “Hoe klink dit?”

      Hy kyk op. “Goed,” wurg hy. Verstik byna. “Kan nie wag nie.”

      Sy oë rus op haar mond. Effens oop, wit tande. Glimlag sy?

      Ja, hy dink so.

      Dis mooi, besluit hy. Te mooi vir woorde.

      Hy voel hoe hy glimlag – ’n warm gloed om sy mond.

      Hy wil die oomblik laat draal. Die prentjie voor hom vir so lank moontlik vashou. Maar dit sal voorbarig wees. Onhoflik. Ongeskik.

      Hy slaan sy oë af en drink sy tee klaar, versigtig om nie te verstik nie.

      Hans staan gereed om sy eerste bal te rol, sy oë op Erika gerig. Sy staan vier meter van hom af, haar voet die teiken waarheen hy moet rol. Die kietie op dertig meter gesentreer. Hy moet die bal so na moontlik aan die kietie probeer bowl.

      Hy luister aandagtig na Erika se instruksies. Hoe hy moet staan. In die rigting van die gras. Hoe hy die bal moet vashou. Regop, met sy vingers stewig daarom gesluit. Absolute konsentrasie. Fokus net op die aflewering van die bal. En uiters belangrik: sy follow-through ná hy die bal met ’n reguit arm gebowl het.

      Hy bowl met ’n kragtige aksie, ’n gewig van dertig meter, dink hy.

      Hy ruk orent. Onthou dan van die follow-through en ruk sy lyf afwaarts. Tuimel amper op die mat neer. Dis ’n moeilike balanseeraksie om so krom-lyf-twee-voete staande te bly.

      Hy kom geleidelik orent soos die balanseeraksie vereis. Ingenome met homself dat hy die bal weggekry het, al kan hy dit nie sien rol nie.

      “Hoe was dit?” vra hy.

      “Baie kort. Twintig meter.”

      “Het hy net tien meter getrek?” vra hy ongelowig.

      “Ja.”

      “Ek het dan so hard gerol.”

      “Dit het miskien so gevoel. Jy moet baie meer gewig gee as jy by dertig wil uitkom. Jou delivery en follow-through moet reg wees om dit reg te kry.”

      Sy wys hom weer hoe dit gedoen moet word, waarna sy hom terug op die mat plaas.

      Dié keer kry hy gewig, maar die bal trek windskeef, tot in die speelbaan langsaan.

      Maria staan voor die deur toe Hans en Erika by die hek inkom. Rex soos ’n getroue waghond langs haar, terwyl die ander jaarthonde, Bruno en Rover, blaffend naderdraf.

      Sy verwilder hulle. “Voertsek! Terug met julle!”

      Die honde draf stert tussen die bene weg.

      Dis dan ’n kind waarmee Hans hier aankom! dink Maria verontwaardig. Die vroumens kan nie ’n dag ouer as hy wees nie, miskien jonger. Hier staan sy heeltyd en wonder of sy Missis of Madam moet sê, maar as dit ’n skone kind is . . .

      Miskien juffrou so-of-so, whatever haar naam is. Sy’s daa’m breed om die lyf, maar glad nie onaansienlik nie. Oulike gesiggie, en die mooiste hare.

      Sy groet hartlik. “Bly te kenne, en kom in. Kom in, julle.”

      En terwyl sy opsy staan sodat hulle kan verbykom: “Dis maar eenvoudig hier by ons. Hans het seker gesê?”

      Die meisie lag vriendelik. “Nee, hy’t niks gesê nie. Ek moet als uit hom trek.”

      “Dis hoe hy is. Van kleins af. Altyd met ’n mond vol tande.”

      Binne word die nodige voorstellings gedoen. Dié Erika lyk sonder fiemies, dink Maria. Besluit om haar op haar naam aan te spreek soos sy haarself voorstel.

      Hans wys sy stoel onder die venster aan Erika toe. Hyself sit voor die tafel. Só kry hy vir Erika sowel as sy ma wat by haar werktafel besig raak in die oog. En as sy ma op die bank kom sit, sal hy ook ’n goeie blik op haar hê.

      Sy oë juis nou op haar, wat tot sy verleentheid staaltjies uit sy kinderjare aan Erika begin opdis. Goed wat mens nie oorvertel nie. Beslis nie aan ’n wit vrou wat vir die eerste keer huisbesoek doen nie. Hoe is sy ma aanmekaargesit?

      “Nou’s hy groot en uitgegroei,” sê sy ma ongestoord, kyk by sy waarsku-oë verby. “Maar ek het nie las met hom nie. Willem bietjie. Dis mos hy en Willem. Hy is die oudste; Willem onder hom. Willem is ’n goeie kind, maar hy is ’n hand vol. Maar ek sit my voet neer. Nou nie meer so erg soos voorheen nie. Ek sit mos met die siekte wat my kragte opvreet. Maar as ek vir hom kyk, dan weet hy hy moet sy nonsens laat staan. Of ek skree: Willem! Dan lag die bliksemse kind en voor ek my kry, lag ek saam. Soos ek sê, ek het nie las nie. Ons is ’n happy family al is hulle pa nie hier nie. Familie is mos belangrik en as almal happy is, beteken dit daar’s niks om oor te worrie nie.”

      Hans voel ongemaklik omdat sy ma so onophoudelik praat soos haar gewoonte is. En die stem so half skril, soos netnou ook toe sy die honde verjaag het. Maar aan die ander kant, hoe sal hy wat nie een vir praat