sy. Maar eintlik oor haar, korrigeer sy haarself. Phillip Abrahams, voorste afrigter en die een wat deur die komitee aangewys is om nuwe spelers touwys te maak, is ongelukkig omdat sy gesê het sy wil Hans Meintjies onder haar vlerk neem. Die voorsitter, John Wright, asook Derek Barnes wat die klub agter die skerms bestuur, ondersteun haar daarin.
Elkeen weens sy eie redes, skinder sy ’n bietjie. John omdat hy en Phillip gedurig haaks is oor wie die beste afrigter is. Derek omdat hy ’n politieke agenda het, en omdat hy haar goedgesind is aangesien hy ook haar baas is.
Daar is ’n geskarrel na nuwe talent. Swart spelers wat vir die nasionale span ontwikkel moet word. Transformasie. Hy weet mos van die politiek belaaide debat rondom sport? En terloops, swart verwys na swartes sowel as bruines. Almal wat nie wit is nie.
’n Onsinnige kwessie, want sedert 27 April 1994 is almal mos Suid-Afrikaners, dan nie? In elk geval, dis haar siening. Mense soos Phillip Abrahams en Derek Barnes sien dit anders, en sy kan dit verstaan. Die rassekwessie kom ’n ver pad; dis naïef om te dink dat dit sommerso sal verdwyn.
Hy haal diep asem, kry sy vraag in.
Of sy ’n goeie afrigter is? Sy dink so, maar voorste afrigters soos Phillip en John dink nie so nie. Sy wil hulle verkeerd bewys deur van Hans ’n kampioen te maak. Of die volgende nuwe speler wat oor haar pad kom. Tot dusver het sy haar toegespits op die swakker spelers wat deur afrigters soos John en Phillip geïgnoreer word. Maar ’n afrigter word gemeet aan die prestasies van die speler wat hy afrig, dit het sy eers onlangs besef.
Dan, terwyl hulle rustig saam met die verkeer in Voortrekkerweg vloei op pad na die rolbalbane in Mowbray, vra sy: “Het jy lank gewag?”
“Nie te lank nie.”
“Ek het gewonder of jy hier gaan wees.”
“Hoekom?”
“Ná Maandag.”
“O, dit?” Hy gee ’n kort laggie.
“ ’n Mens weet nooit . . .”
Hy is nie seker wat om daarop te sê nie, bly liewer stil.
“Die spelers is sweet. Jy kan met hulle toor, die meeste van hulle. Maar daar is ’n paar wat geneig is om dwars te trek. Ek steur my nie aan hulle nie. Sit my voet neer. Maar genoeg oor my, ek praat ook sonder ophou.”
“Dis okay, ek is nie een vir praat nie. My ma sê ek is van dink aanmekaargesit.”
“En waaraan dink jy nou?”
“Maandag,” jok hy.
“Toe ek jou oor die pad ontvoer het?”
Hy lag verleë.
“Was dom van my,” lag sy ook. “Maar jy’t my lekker afgejak, jy.”
Hy glimlag by die venster aan sy kant uit. Nie net vir die waarheid uit Erika se mond nie, maar ook vir haar wat so gemaklik met hom is. So asof sy nie wit is nie maar bruin soos hy.
Sy skakel die radio aan. KFM, ’n mooi ballade.
Hulle luister in stilte tot hulle by die rolbalklub aankom.
Met sy hand in hare, terwyl Erika hom van die parkeerterrein oor die plaveipaadjie na die klubhuis lei, kyk Hans rond.
Motors waarom hulle moet vleg. Verder weg bome rondom die baan, of donker goed wat soos bome lyk. Nog verder, hoër op, kompleet of hulle bo-op die boomtoppe rus, huise met blink vensters soos die son daarop glim. Alles vaag en dof, maar darem sigbaar danksy die helder sonlig.
Trappies.
Hy skop teen die grondtrap en lig sy voet.
Een. Twee. Drie.
Hulle is op die stoep. Dit besef hy nie tot Erika vir hom sê.
Dis ’n groot saal waarheen sy hom lei. Rye tafels waar klublede sit en gesels en koffie en beskuit geniet. Groot vensters wat op die hoofbaan uitkyk. Met die eerste oogopslag alles feitlik onsigbaar vir Hans. Sy oë rol wild om iets uit te maak. Hy kan hulle net sowel toeknyp, dink hy. Dan sal dit nagdonker wees, ja, maar dit en hierdie wasigheid voor sy oë is omtrent dieselfde.
Nagblindheid, waarmee hy al sy lewe lank te make het: om so uit die helder lig na binne of in skadu’s in te kyk. ’n Nagmerrie-ervaring.
Soos tonnelvisie: om net een ding op ’n slag te kan waarneem weens sy beperkte sentrale visie. Hou hy iemand in die oog wat in sy rigting by ’n paal verbyloop, loop hy in die paal vas, of omgekeerd.
Ten spyte van die wasigheid voor hom is hy egter van een ding seker: hier is baie mense. Blindes. Hulle gesels soos blindes – luidrugtig.
Erika stuur hom na ’n tafel, stel hom aan ’n paar mense voor, onder andere Melvin Petersen en Graham Stevens. Hans drink stil sy koffie, luister geamuseerd na almal se stories.
Melvin beweer dat daar teen hom gediskrimineer word omdat hy bruin is.
“Ek’s van die begin af hier. Part van die furniture, maar ek weet nie hoe dit voel om in ’n Springbokbaadjie te klim nie. Is dit fair, Hans? Is dit?”
Graham kan nie uitgepraat raak oor sy rolbalprestasies nie. Klubkampioen. SA kampioen. Wêreldkampioen.
“Jy het dit of jy het dit nie. Hulle noem dit die X-faktor. Jy word daarmee gebore. Maar ek’s bly jy kom ons join, Hans. Ek soek ’n challenge. Hier is nie ’n challenge vir my nie.”
Van die afkondigings maak Hans g’n kop of stert uit nie. Tog luister hy aandagtig. Hy hou van die formele aanslag. Waardeer die noem van sy naam aan die einde om hom te verwelkom.
“Good bowling,” sluit die voorsitter af, waarna almal na die rolbalbaan verskuif.
Met sy hand in hare stel Erika Hans aan die baan bekend.
’n Breedvoerige uitleg oor alles: die baan is in ses speelbane verdeel sodat ses wedstryde op dieselfde tyd kan plaasvind. Die middeltou oor die lengte van elke speelbaan as hulpmiddel vir die spelers om hulleself te oriënteer wanneer hulle gereed maak om ’n bal te rol. Dit help ook die afrigters om die kietie, die kleiner bal waarna jy rol, te sentreer, en om die gras, die rigting wat die bal moet rol, te bepaal.
Sy praat oor die ditch, ’n vlak slootjie aan die kant van die baan, en die bank, die grasperkwal rondom die baan, sowat ’n halwe meter hoër as die speeloppervlak. Dan verduidelik sy die spel.
“Jy bowl van die mat af. Reguit arm. Voete in die rigting van die gras. En follow through.” Sy demonstreer dit deur ’n bal te rol.
Die groot lyf buig sierlik, sien Hans. Sweef as ’t ware vorentoe, een voet van die mat af. Dan skiet die bowlhand uit en stuur die bal met ’n reguit arm weg soos dit vir hom lyk. Met sy oë wyd oop sien hy hoe die arm geleidelik terugswaai terwyl die geboë lyf effens orent kom en nog ’n raps vorentoe mik asof dit spoed optel om die bal te volg.
So grasieus soos sy begin het, kom Erika orent, haar oë op die bal tot dit naby die kietie tot stilstand kom. Dan kyk sy na Hans.
“Het jy mooi gekyk?”
“Ja.”
“Mooi. Dis hoe dit gedoen word.”
Voorts praat sy oor rondes en koppe.
Aan die einde van ’n ronde, wanneer elke speler sy kwota balle gerol het, word die kop, die balle rondom die kietie, bekyk om te bepaal aan wie die skoot of skote behoort. Dan word die volgende ronde van die oorkant af teruggespeel.
Hans probeer alles inneem. Alles waarneem. Bevoel alles. Die kietie. Die rolbal wat so swaar in sy hand lê. Sy hand is steeds in Erika s’n soos sy hom oor die baan rondlei. Net wanneer hy moet tas en iets vat, laat los sy. Dan het sy hom weer beet.
Hy begin al meer ongemaklik raak daaroor noudat hy weet hoe dinge werk. Boonop is dit helder lig met die son wat op hulle neerbak. En die onophoudelike gepraat oor dit wat so eenvoudig voorkom – om ’n bal te rol soos hy om hom sien – begin hom irriteer. Maar hy is steeds gefassineer