het vaag en ontwykend geantwoord.
Toe sê sy hy moet daaraan dink, sy sal hom help.
“Matriek is die sleutel tot sukses, Hans,” sê sy oplaas.
Hy het stil na haar gekyk. Gehoop sy laat dit daar.
Sy het.
Toe praat sy oor sport, iets waarvan hy niks weet nie. Rolbal. Vra of hy belangstel.
Hy het gehuiwer, hom ’n balspel vir blindes probeer indink. Kon dit nie regkry nie. Kon hom ook nie skeel nie. Sy aandag was by haar: die vrou. Haar manier van praat. Sag, innemend. Die klokhelder stem. Die gesig wat so mooi vertoon en die hare wat in die ligte bries waai.
Mooi vir hom. Wit is mos mooi. Swart ook. Swart het sy eie mooi. Sy lewe bestaan immers uit wit en swart. Dis óf die een óf die ander.
So het hy gedink terwyl hy na haar staan en kyk.
“Jy sal dit geniet,” sê sy toe. Slaan sommer oor na Kaaps: “Trust me, broer. Check dit uit en see for yourself. Verstaan jy, broertjie?”
Die uitspraak net reg: broe’tjie. Hy kon nie help om te glimlag nie.
“Dink daaroor,” het sy weer met haar normale aksent gepraat. “Jy lyk onseker. Jou oë rol omtrent.”
Wat hom besiel het, weet hy nie. Seker die ding dat hy ’n swakheid het vir ’n vrou wat haar met hom bemoei, boonop wit ook. Want sonder dat hy behoorlik daaroor gedink het, antwoord hy: “Nee, dis okay, ek sal dit probeer.”
Hans steek voor die deur van hulle bywonershut vas. Rex, sy ma se waghond, lê oudergewoonte voor die huis, merk hy. Hy kyk na sy ma wat by haar werktafel besig is. Die vertrek is helder verlig met die son wat by die oorkantste venster inskyn. Voldoende lig vir sy oë wat nie sonder lig sien nie.
Hy groet en stap binne. Skuur in die nou ruimte agter sy ma se groot lyf verby.
Dis ’n tweevertrekpondok: kombuis en slaapkamer. Elke vertrek drie by een en ’n half meter. Binne is die mure uitgeplak met karton en koerantpapier. Waterverf bo-oor. Stukkies koerantpapier hang oral los soos die wind dit losgeruk het. En oral, weet hy, is daar rookmerke wat deur die primusstoof, kers en sigaretrook veroorsaak is.
Daar is net die voordeur en twee vensters, een in elke vertrek. Werktafel in die hoek van die kombuis, links van die deur. Kombuiskas langsaan. Dan die eettafel dwars onder die venster. Oorkant die kombuiskas, teen die middelafskorting, is ’n houtbank. In die beknopte slaapkamer is daar drie enkelbeddens en ’n groot hangkas met ’n vollengtespieël.
Hans val met die deur in die huis. Vertel van sy ontmoeting met Erika Basson en hulle rolbalafspraak. Erika is ’n maatskaplike werker en wil met sy ma kom praat oor sy oë en hulle familiegeskiedenis in dié verband. Oor haar voorstel dat hy sy skoolopleiding hervat en matriek voltooi, swyg hy.
Ná soveel jare, en alles waardeur hy is? En dit sal seker ’n fortuin kos. Klasgeld. Boeke. Eksamengeld.
Geld het hulle nie.
Sy ma kry ’n oorval as sy dit hoor. Dan is dit weer dokter toe.
Oor leer sal sy ma niks sê nie. Miskien haar kop skud en wonder wat nou weer in sy kop aangaan. Dis die geld waaroor sy sal kla, en sal sy verkeerd wees? Sy oë is ook nie meer wat dit was toe hy op skool was nie. Toe was die sienery alreeds ’n probleem. Helse probleem.
Terwyl Maria Meintjies luister, gaan sy voort met haar werk. Pomp die primusstoof sodat die vlam sterker moet brand en die teewater gou kook.
Sy blaas effens van die inspanning en dink: My kragte is nie wat dit was nie.
Sý is nie meer wat sy was nie. Haar kop is glad nie lekker nie. Meer aan die slaap as iets anders. Sy het die hond teen die deur hoor krap soos sy gewoonte is wanneer iemand by die hek inkom, maar sy’t nie opgelet nie. Hy is mos nie een wat blaf nie. Rover en Bruno, die ander jaarthonde, blaf sommer vir nonsens elke keer. Toe hy jonger was, ja, toe was hy grootbek nes die ander twee.
“Sê jy jy gaan veld toe?” vra sy Hans.
“Ja, Ma.”
Maria frons. Hans het laas so gesmile toe Magrieta Cornelius hom verlei het, dink sy.
Veld toe? Hy wat net af en toe sport oor die radio luister? Skaars met die kinders in die strate gespeel toe hy ’n kind was. Altyd in die huis rond, onder haar voete.
“Familiebesigheid?”
“Ja, Ma.”
“Vir wat?”
“Navorsing vir ’n databasis of iets. Of daar iets in Ma of Pa se familie is, mense wat met hulle oë sukkel.”
“Sê sy hoef nie te kom nie. Daar’s niks. Jy en Willem is al familie wat ek het. Sal ’n waste of time wees as sy all the way verniet kom. Ek praat in any case nie oor familie nie. Dit krap dinge oop wat aan my vat. Dan is dit weer dokter toe en . . . Jy ken die storie.”
“Ma, hoe sal dit lyk as ek sê sy kan nie meer kom nie? Dis ’n wit vrou.”
“Wit vrou?”
“Ja, Ma.”
“Is sy mal om hier in te kom met die volkies wat so ondeund is?”
“Social workers werk mos oral, Ma. Dis die nuwe Suid-Afrika. Mense kom en gaan waar hulle wil – wit, swart en bruin deurmekaar. Ek sal die plek moet regtrek. Toeplak en paint aansit. Ons kan nie dat die vrou hier inkom met die plek wat só lyk nie.”
Maria is skoon stomgeslaan.
Dié kind van haar is elke dag dieselfde. Werk toe en huis toe. Dan sit hy met sy boeke, of met sy oor teen die radio. Niks las of worries wat hy gee nie. Maar dan, wanneer jy dit die minste verwag, slaan hy jou bingo en laat jou wonder what is next.
Hans wil dadelik met die mure begin, maar hy kort materiaal: gompoeier, koerantpapier en verfgoed. Hoe gouer hy begin, hoe gouer kry hy klaar, hy wat alles teen ’n slakkepas doen. Môre in sy etenstyd sal hy na die hardewarewinkel gaan. Intussen sy broer opkommandeer om ou koerante by die bure te soek.
Toe Willem by die huis inloer vir iets te ete, vra Hans hom.
“No problem,” sê dié gewillig, “maar dit gaan jou kos. Twenty bucks.”
Hans betaal die afpersloon. Sy broer weet hy sal nie self koerante by die bure gaan soek nie, en hulle ma ook nie. Te veel van ’n lady. Te lief vir haar huis. Maak nie ’n oorlas van haarself by die bure nie.
Met sy aandag by die radio verwyl Hans die aand. Good Hope se polsende musiek, toe die radiodrama op RSG.
Hoe oud is Erika? wonder hy. Hy skat haar na sý ouderdom: drie en twintig? Dalk ouer? Sy klink baie volwasse.
Teen die tyd dat Willem met leë hande by die huis aankom, is Hans lankal aan die slaap. Eers die volgende middag toe hy die gom en verfgoed gereed het, ontdek hy dit.
Dit krap hom om.
“Toe, Willem, maak ’n plan. Ek het nie verniet betaal nie.”
“Relax, broer, ek gooi straight away. Check jou nou-nou.”
Terwyl hy op Willem wag, skuif hy die meubels weg en berei die plakmengsel voor. Gompoeier wat in water geroer word soos sy pa hom geleer het.
Sy ma kom sit hand by. Vat die besemstok by hom en begin roer. Werk stadig om te keer dat sy na asem moet soek.
“Los, Ma,” keer Hans. “Die paste word styf, dan roer hy swaar.”
“Ek’s okay, my kind. Jy kan nie als doen nie.”
“Solank Ma dit easy vat.”
Maria steek ’n sigaret op, blaas rook uit.
“Pasop vir as in die paste, Ma,” maan Hans.
“Ja, Hans, ek’s nie stupid nie. Los my nou in peace.”
Hans laat dit daar. Sy ma is kort