“Check julle,” sê hy.
“Waar gaan jy?” keer Maria. “Hier’s werk om te doen.”
“Ek’s nou terug, Ma. Relax.”
“Jy bedoel seker ounag!” roep Maria by die oop deur uit. “Jy steek lekker lyf weg. Soek altyd iets in die hand voor jy ’n ding doen.”
Maar Willem lag net voor Hans sy voetstappe hoor wegraak hek se kant toe.
Hy is net mooi aan die gang met die plakwerk toe sy ma kla dat sy olik voel.
“My bors trek toe en dit voel of my kop wil bars. Moet die paste wees, die skerp reuk en so. Ek gaan ’n bietjie skuinslê.”
“Ek dink ek los als tot môre ná werk.”
“Nee, Hans, maak klaar.”
“Dis okay, Ma. Ma se siekte kom eerste. Daar’s nog tyd. Môre plak ek, dan is daar twee dae oor om te paint voor Erika Saterdag kom.”
“Hoe’t jy gesê, hoe laat kom sy?”
“Ná die game. Sy kom my mos aflaai.”
“O ja, jy’t gesê.”
Hans skuif alles terug op hulle plek. Dan maak hy die paraffienblik met die gommengsel dig toe sodat die skerp reuk nie sy ma verder pla nie.
Ná ’n beker koffie en ’n hand vol klapperbeskuit is hy reg om te gaan slaap.
Met die geur van koffie in sy neus en die primusstoof wat raas, word Hans wakker. Sy ma is oudergewoonte op haar pos vir hulle waswater, ontbyt en sy werksbrood maak.
“Is Ma okay?” vra hy.
“Fris en gesond. Soos ’n klip geslaap. Voor jy huis toe kom, skuif ek als reg en roer die paste lekker deur.”
“En as Ma weer siek word?”
“Nee wat, miskien was dit nie die paste nie. Jy weet hoe is my siekte. Op en af. Dan sus, dan so.”
“Ja, Ma. As Ma kans sien, is dit reg.”
Hans swaai sy bene van die bed af en drink sy koffie tydsaam.
So ken hy sy ma se siekte: suiker en hoëbloed. Een oomblik is sy perdfris soos sy sê. Dan, skielik, vat die siekte haar.
Die plakkery vorder vinniger as wat Hans verwag het. Sy ma sprei die papier oor die eettafel oop. Dan smeer en plak hy. ’n Aangename taak wat hom goed laat voel. Net die stof pla hom, want plek-plek moet hy stukke los papier afruk. Stof in sy hare. Stof oor sy gesig. Stof by sy mond en neus in. Stof by sy hempskraag in. Hy haat dit. Jig!
Sy ma kla openlik daaroor. Hol telkens uit om lug te skep.
“Jou pa’t so gewerk en stof maak,” merk sy eenkeer op. “My elke keer uitgedryf buitetoe. Stof werk op my bors.”
Hans knik net, sy oë op die oop deur en die stikdonkerte buite. ’n Koel windjie waai by die deur en venster in. Binne, ten spyte van die kerslig, is dit vir hom omtrent ewe donker. ’n Soort ligter donkerte.
Die kers is omtrent halfpad ondertoe gebrand, skat hy. Teen die tyd wat die plakwerk klaar is, sal hy seker driekwart gebrand wees. Miskien laer. Dalk plat teen die blakergat, besig om die laaste kersvet op te slurp tot die vlam sy asem uitblaas. Dan sal die binnedonkerte so donker soos daar buite wees.
Toe hy begin het, kort ná hy by die huis gekom het, was dit helder lig buite sowel as binne waar hy werk. Toe word die lig flou en later skemerig. Bekruip hom half. Hy het nie die oorgang gevolg nie. Net agtergekom die lig het onder sy oë uit verdwyn. En toe hy weer kyk, hy wat so ingedagte werk, is dit donker.
Eers kon hy sien wat hy doen – op sy manier sien. Nou voel en werk hy. Voel waar die muur nat is, dan weet hy daar is reeds geplak. Hoe die plakwerk daar uitsien, kom nie daarop aan nie, solank dit geplak is.
Met die verfwerk is dit anders. Dan kom hy voor die groot uitdaging te staan: om ná sonsak by kerslig te verf. ’n Kwas is ’n ding wat traan, en dit wys wanneer die verf droog is. Wys dat die verwer onbekwaam is. Useless.
Hy kan die verfwerk aan Willem oorlaat, maar sy broer werk nie verniet nie.
Geld het Hans nie. Net taxigeld werk toe en terug huis toe. Sy sakgeld opgebruik om Willem om te koop, vir verfgoed en gompoeier. Vasco en Bishop Lavis sit wyd uitmekaar; hy sal sy voete stomp loop as dit daarop neerkom. Hy wat so stadig loop. Mik-mik en koes-koes.
Sy ma is ook platsak. Koop kos op die winkelboek, en die boekskuld moet aan die einde van die maand betaal word volgens haar ooreenkoms met die winkelbaas.
Skuins ná elfuur is die plakwerk afgehandel. Huis skoon en alles terug op hulle plek.
Hans sit uitgeput by die eettafel, tee en klapperbeskuit voor hom. Sy ma sit op die bank, dompel beskuit in haar tee en slurp dit smaaklik op.
So tref Willem hulle aan.
“Biscuits en tea? Hoe lyk dit, Ma, iets vir my? Ek is uit die maag uit.”
Maria verstik aan haar beskuit, gluur haar jongste aan.
“Jy’t ’n fine cheek! Nou wat als klaar is, kom jy hier aangesit en soek eetgoed. Loop heeldag rond en niks doen nie. Doen jy iets, moet ek of Hans betaal. Hans het hom amper doodgewerk en môre moet hy weer vroeg op workshop toe.”
Willem steur hom nie, bekyk die koerantplaksels teen die mure, begin lag.
“Hans, hoe werk jy dan?”
“Hoe bedoel jy?”
“Die articles . . . Een skuins. Een dwars. Een onderstebo. ’n Man se nek sal styftrek as jy als klaar gelees het.”
Hans glimlag skeef om te wys dat hy vir homself kan lag. “Dis die hele idéé: om so kruis en dwars en onderstebo te lees. Dis nie enige ou wat dit kan doen nie.”
“Ék kan.”
Met een oog op sy ma begin Willem sy lyf na alle kante toe draai, met sy kop wat elke keer na die ander kant toe saamdraai. Diékant toe, daai kant toe, onderstebo. Lees hardop, komieklike Kaaps en hoogdrawende Engels.
Tot Maria se kwaai gesig versag en sy begin lag.
“Willem, weet jy, jy’s nie goed nie. As jy só perform, is jy dik gerook. Steek die primus op en maak vir jou tee. Daar’s biscuits in die blik. Was jou hande voor jy aan iets vat.”
Soos met die plakwerk traak dit Hans nie hoe die eerste laag verf daar uitsien nie. Wat saak maak, is dat dit gedoen word.
Die tweede laag wend hy met groot omsigtigheid aan. Kers in die een hand, verfkwas in die ander. Sy oë naby die muur, kop byna teen die verfplek.
Hy verf stelselmatig. In vierkantblokke. Tydsaam. Oor en oor op dieselfde plek, in dieselfde blok.
En hy dink skielik: Al dié suffering vir ’n wit mens?
“Hans, pasop vir jou gesig, pasop vir jou hare,” waarsku sy ma. “Die kers is amper in jou gesig. En pasop vir jou kop teen die muur. Paint kom nie maklik uit jou hare nie.”
“Ja, Ma.”
Skuins voor twaalfuur die nag is hy klaar, pootuit weens die inspanning en intense konsentrasie.
“Mooi,” prys sy ma, “nou’s dit sommer skoon vir Krismis en Nuwejaar. Jy’t jou pa se hande. Hy sou ’n ander mens gewees het as hy jou verstand gehad het. Willem kan baie by jou leer as hy die dag wil kopgee.”
Twee
Erika lyk heeltemal anders as die vrou wat hy Maandag ontmoet het, merk Hans toe hy langs haar in die motor klim. Breërandhoed op die kop. Vlegsel in plaas van die los hare. Wit rok aan die groot lyf.
Sy gesels vriendelik met hom, oor die heerlike somerweer hier aan die begin van die jaar. Oor sy skoene, dat hy onthou het om platsoolskoene aan te trek. Sê iets oor toeval. Sy wat daar verbyry op pad na ’n kliënt