op die bebloede agterkop gelê. Heel versigtig het hy oor die hare gestreel en iets gesê wat Christof nie kon uitmaak nie; sy skouers het geruk. Hy het geloop na die gat waar die trok deur die buitemuur geploeg het, oor die brokstukke buitentoe geklim en uitgestap in die son. Toe het hy met Brugstraat af geloop tot by die winterdyk, daaroor geklim en in die rigting van die rivier koers gekry. In die oewerveld was daar ’n klompie springerige verskalwers, en aan die doringdraad het pluksels droë gras gehang wat ná die winteroorstromings agtergebly het, soos vlasagtige Viking-baarde. Joe het by die somerdyk en die veeroorgang gekom. Op die kabelpont het hy teen die reling gaan sit, sy bene laat afhang en nie op- of omgekyk toe Piet Honing uit die stuurkajuit kom om geld vir die oortog op te neem nie.
Dat Joe en Christof vriende sou raak, was so onvermydelik soos vis op ’n Vrydag. Dit het begin met Christof se blik toe hy die kalkbepoeierde seun uit die vervoerwa met sy oë verslind het. Agter Joe het sonlig deur die verkrummelde buitemuur tot in die sitkamer gestroom en die vertrek met ’n stralende lentedag gevul. So iets het Christof nog nooit aanskou nie. Die beeld van die seun in die vloed van lig het hom vervul met ’n begeerte om sy ou lewe af te skud.
Maar Christof was nie so nie, en hy sou ook nooit so word nie. Daarvoor was hy te senuweeagtig en te veel van ’n twyfelaar. In sy heimlike verlange om soos die seun uit die trok te wees, het daar ook ’n soort jaloesie geskuil wat jou oogtande laat water, daardie vampieragtige drang om die lewe uit iemand te suig.
Die ongeluk met die trok het hulle gevorm. Dit het die stoïsyn in Joe versterk en by Christof iets oumensagtigs na vore gebring, iets besorgds. As Joe ’n vliegtuig wou bou, sou Christof vra: “Moet jy nie eers jou fiets se bagasierak regmaak nie?” As Joe ’n apparaat aanmekaargeknutsel het waarmee hy Sondae se radio-uitsendings van die Evangeliese Gemeente – “Radio God”, soos almal dit genoem het – kon vervang met speedmetal wat agteruit speel, en die maandelikse alarm van die burgerwag toevallig op daardie oomblik op die bank se dak afgegaan het, was dit vir Christof ’n teken dat die bou van steursenders ’n onheilige besigheid was. Vir Joe het dit beteken dis twaalfuur, en hy is honger.
Joe het ons eerste ontmoeting met ’n meneer van ’n bom gevier, soos ek dit sien. Dieselfde nag nog, nadat ons mekaar op Hoving se plasie ontmoet het, jaag hy die hele Lomark uit die vere. Dis ’n gawe wat hy het. Honde blaf, in party huise gaan die ligte aan, mense bondel op straat saam. Joe se naam is op almal se lippe. In die bed lê en grinnik ek van oor tot oor.
’n Paar mans gaan kyk wat aangaan. Hy het ’n elektrisiteitshuisie opgeblaas. Nou is die kermis se flonkering weg, en ’n hele klomp huise s’n ook.
Die maan lek aan die relings van my bed. Ek oefen my arm.
Hoofstuk 3
Ek beweeg weer. Dis moeilik om te glo, maar ek kan vorentoe ry en die rolstoel draai. Ek beweeg hom deur die hefboom te trek en weer weg te druk. DSV: Deur Spierkrag Vorentoe. Verder is ek so spasties soos nog iets; soms trek goed deur die lug as ek hulle probeer raak vat, maar tussen spasmas kry ek tog iets reg. Ek moet baie oefen. Die afgelope maand gaan ek weer skool toe, want my kop makeer niks, al kan ek nog steeds nie praat nie. Ek moes inval waar ek opgehou het, in my derde jaar op middelbare skool, sodat ek nou saam met Joe en Christof in die klas is.
Om te rem is die moeilikste, veral as ek van die dyk ondertoe beweeg, deur die oewerveld en oor die Lange Nek – dit gaan hopeloos te vinnig. Die Alles-Word-Slegter-manne op die dyk hou my dop. Hulle sit omtrent pal op daardie bank, met hulle fietse in die staander langsaan. Hulle sien alles, daardie verstokte ou kleinboertjies van wie die meeste nog die Tweede Wêreldoorlog beleef het. Ek kyk nie na hulle kant toe nie; ek hou niks van hulle nie.
Die brandweer tap bluswater uit die Gat van Betlehem, die asfaltfabriek se sanduitgrawing. Die manne dra donker oorpakke met wit T-hemde waarby hulle dik arms uitsteek. Ek kan tot hier hoor hoe hulle vir hulle brandweergrappe lag, want water dra ver. Een van die brandweermanne sien my en waai. Onnosele goed.
Bokant my kop ruis die populiere en in die weiland regs van die Lange Nek het ’n stuk of tien dwergperdjies in die lang gras verdwaal. Hulle drink groen water uit ’n trog by die doringdraad. Seker Rowwe Rinus s’n. Hy is al vantevore vir diereverwaarlosing beboet.
Dan Betlehem Asfalt, Egon Maandag se fabriek. Laaigrawe hap diep in die klipheuwels op die perseel. Saans lyk die fabriek uit die verte soos ’n oranje lugbal. As daar groot onderhoudswerk aan die paaie gedoen word, gaan die werk vier-en-twintig uur per dag voort. Betlehem Asfalt is die kurk waarop Lomark dryf, sê hulle, en elke familie staan hul oudste seun daaraan af.
Ek is sopnat gesweet en my arm pyn, maar ek is nou amper by die rivier. Ek kan al die twee groot wilgers aan die oorkant sien, en die pont halfpad soontoe. Piet Honing sê altyd: “Die pont is ’n voortsetting van die pad met ander middele,” en hy bedoel dit as ’n grap. Vandat ek nie meer kan loop nie, ry ek saam sonder om te betaal. Dis omdat ek sowel die dood as die lewe ken, het Piet eenkeer gesê, maar wat dit presies beteken, het hy nie verduidelik nie. Ook vir Joe het hy ná die eerste rit nooit weer ’n sent gevra nie.
Piet kom by die oorkant aan en die agterklep skraap oor die beton van die veerstoep. In die middel van die rivier dryf ’n feesboot stroomaf; jy kan die musiek en die geklingel van glase tot hier hoor. Die gaste leun elegant teen die reling. Kan mens jaloers wees op hoe lig ’n rivierboot dryf? By die boeg reis twee skuimende golfies saam, asof hulle daarop geverf is. Stroomop lê Duitsland, waar lugballonne oor die heuwels sweef. Lugballonne is cool, almal dink so. En het jy geweet daardie snaakse goetertjies wat binne en buite jou gesigsveld dryf as jy na iets staar, is proteïene op jou oogballe?
Honing laat die slagboom sak, trek die agterklep op en druk die gashefboom oop. Hy dryf weg van die kant en die hele armsalige lotjie skommel weer aan hierdie kant op. Die rafelrige Total-vlaggies rimpel in die bries.
Agter die heuwels en die lugballonne word dit aand. Die feesboot het om die draai verdwyn, die hemel weet waarnatoe. Dit voel asof sulke skepe altyd stroomaf dryf, en vragskepe altyd in die ander rigting, na Duitsland – swaar op diesel, want dis teen die stroom in.
Piet meer vas en kom aan land. “So ja, mannetjie . . .” sê hy. Hy kry my rolstoel se handvatsels beet en stoot my tot op die pont. Ek hou nie daarvan om gestoot te word nie, maar toemaar. Hy parkeer my in ’n hoekie waar hy sy strooisout en besems bêre.
Die aand rol die dag op soos ’n koerant. Ek ruik olie en water. Ons stoot aan na die oorkant waar ’n motor sy ligte flits. Duisternis val uit die wilgertakke oor die koeie wat daaronder lê. Koeie is dom; hulle staan altyd en droom oor niks. Nee, gee my maar liewer perde; as hulle stilstaan, lyk dit ten minste of hulle oor iets dink, regtig diep nadink oor een of ander perdeprobleem, terwyl koeie kyk soos die hemel na ons kyk: groot en swart en leeg.
Party mense is vrek bang op hierdie ou pontjie wat so slinger en stamp. Soms spoel daar water oor die dek, maar daaroor hoef mens jou nie te bekommer nie. Dis omdat hy al van 1928 af vaar en eintlik gebou is vir ’n rustige kanaal, nie vir ’n rivier met allerhande nukke nie. Pa sê mos: “Daardie ding is ’n openbare gevaar. Hy moes lankal by Hermans en Seun gewees het.” Asof openbare gevaar hom kan skeel, tensy hy ’n paar pitte daaruit verdien. Maar Piet hou sy pont aan die gang al kos dit wat, en al is dit skaars meer as ’n stuurkajuit met ’n metaalplaat waarop ses motors net-net pas.
As jy hom uitvra, vertel Piet dat dit ’n kabelpont was wat gemotoriseer is toe die binnevaartskepe al hoe vinniger geword het. Dit het te gevaarlik geword om net saam met die stroom oor te steek. Want dis wat ’n kabelpont eintlik doen. Hy is vas aan drie ou sloepe wat stroomop lê en as boeie dien. ’n Enorme anker hou die laaste een aan die bodem vas. Aan die verste ent van die slinger is die pont. Hy maak ’n heen-en-weerbeweging oor die water soos die slinger van ’n staanhorlosie met ’n metaal-dennebol aan die punt. As jy een kabelintrek en die ander laat los, neem die systroom die pont tot aan die oorkant, maar deesdae gebruik Piet ook die enjin om uit die bullebakke van die binnevaart se pad te bly. Soms ly Piet skade as skepe teen die kabels tussen die ankerbote beland. Dan kan hy ’n dag lank nie vaar nie omdat hy eers herstelwerk moet doen.
Piet kom uit sy stuurkajuit.
– Mooi aand, nè, mannetjie.
Die