Tommy Wieringa

Joe Speedboot


Скачать книгу

hy nóg erger, maar agterbaks. Hou daai skarminkel dop.

      Die son brand in my nek. Rondom die sandgat staan orals borde met: “Gevaarlike terrein. Uitkalwing moontlik”. Op een van die pale sit ’n yslike kraai, ’n nare monster met ’n keelgat wat soos ’n ou skuurdeur klink. Dit was so ’n uitkalwing wat twee jaar gelede gebeur het, een herfsnag toe die pad na die pont skielik skoonveld was. Net eenvoudig verdwyn het. Blykbaar het die sandsuiers van Betlehem Asfalt heeltemal te lank op een plek sand gesuig, sodat die gat weer vanself volgeloop het. Dit gebeur mos as jy so ’n diep gat grawe; die sand begin as ’t ware omrol na die diepste punt toe. Sandvreet, noem hulle dit. Maar die Gat van Betlehem was so diep dat daar rondom te min sand was vir die gat om homself op te vul, sodat alles in die omtrek begin skuif het – die sand moes iewers vandaan kom. ’n Hele stuk van die wal en die Lange Nek het dus in die water ingegly, met ’n klomp bome agterna. Mens kyk nogal skeef op as jy die volgende oggend daar verbykom en die pad het verdwyn. Die gaspype en kragdrade het los gelê; lamppale het skeef gestaan. Maar nou is dit veilig, sê hulle, hulle suig nie meer so lank op een plek nie. Vir dié wat dit wil glo.

      Die mielies links en regs van die grondpad staan hoog, die koppe bars omtrent uit hul skutblare. Al die pale is skeef, want wat jy in die somer regop trek, staan in die winter weer krom. Die pad is anderhalf meter breed; die mielieblare fluister komaan Fransie! en ek sleep myself in ’n dwaal voort. Hierdie arm werk veels te hard; as hy een van die dae ingee, kom ek nêrens nie. Die mielies strek hulle vingers na my toe om my aan te moedig. Fransie wat die waters skei om van sy vyande weg te kom – ’n see van groen vou agter hom toe . . . go, Fransie, go! Mielievingers druk hom vorentoe – jy’s amper daar!

      Die somerdyk is ’n platterige, breë helling. As Joe en Christof nie agter die dyk is nie, het ek die hele ent verniet gekom. Ek maak dit tot bo-op die somerdyk; my arm wil afval. Ver onder lê ’n strandjie, geel soos die verkalkte nael op Pa se groottoon. Swane dryf in die oksel van die stuwal waar die water skaars roer. Op die punt van die wal sit twee rûe. Met lang antennas vang hulle seine uit die water op: Joe en Christof.

      Ek was lank nie hier nie, by die water, die dyk en die velde wat glim van welige gras. Waar hulle dit onlangs gesny het, is dit bleek soos ’n pasgeskeerde kopvel. Op die volgende wal sit honderde kiewiete. Joe het iets aan die lyn. Hy trek ’n glinsterende vissie uit die water en Christof spring opgewonde rond.

      Eintlik moes ek Joe se vriend gewees het. Christof is nie die regte maat vir hom nie, hy’s te versigtig. Hy hou vir Joe terug, so voel dit vir my. Hy rem Joe se spoed, en dis ’n fout. Joe moet homself kan laat gaan tot hy vlieg. My ongeluk het te vroeg gebeur; dit het die verloop van sake deurmekaargekrap. Dis ek wat daar langs hom moes gesit het, nie Christof nie.

      Die wind kom nou van agter; dit waai my lekker koel en ek kom effens orent in my rolstoel. Christof sien my, want hy staan skielik stil, stamp aan Joe en wys na my kant toe. Hulle het gedink hulle is alleen en lyk nou amper skuldig, so asof hulle betrap is. Die kiewiete styg almal gelyk op en vlieg met slonsige vlerkslae oor die rivier. Ek het gehoor van die Engelse wat met hul bomwerpers oor die rivier gevlieg het op pad Duitsland toe om alles te gaan platskiet. Daar was lugafweerwapens op die oewers, maar teen daai sonsverduistering het dit niks beteken nie.

      Hier het toe allerhande dinge gebeur. Soos die rampe wat die Eleveld-familie getref het. Dit was een van die grootste families van Lomark. In September 1944 het hulle die eerste teenslag beleef. Hulle het almal in ’n soort skuilkelder onder die okkerneutbome by die pont gesit toe ’n bom van die geallieerdes, wat eintlik vir die lugafweerwapens aan die oorkant bedoel was, op hulle geval het. Een bom, en twee-en-twintig Elevelds op slag dood. Die res van die familie is weg Lomark toe in die hoop dat hulle daar veilig sou wees. Nie ’n goeie skuif nie, want ’n week later het die bomme op Lomark gereën en hulle ’n tweede keer getref, reg op hulle dak. Die kinders het met hul ingewande in hul arms by die trap af gekom: “Pappa, kyk!” Hulle is op die plek dood. Toe was daar nog net drie Elevelds oor. Hulle is stad toe, waar hulle in die laaste maand van die oorlog onder Duitse mortiervuur deurgeloop het. Twee het daar om die lewe gekom, sodat net Hendrik Eleveld aan die einde van die oorlog oor was. Hulle het hom Henk die Hoed genoem. Henk die Hoed het ’n seun, Willem, gehad, wat weer Engel Eleveld se pa is.

      Dit bly vir my ’n vreemde storie hoe die noodlot die Elevelds getref het, met ’n telling van 27-0 of so iets. Nou ja, as jy vir Engel sien, dink maar aan hierdie onsigbare stoet agter hom wat elke jaar by die monument herdenk word.

      Joe en Christof kom na my toe aangeloop en ek trek die rem stewig vas.

      – Hy agtervolg ons, hoor ek vir Christof sê.

      – Haai, Fransie, sê Joe toe hulle voor my staan. Het jy heeltemal alleen gekom?

      – Kyk net, sê Christof, nes ’n perd met al daai skuim om sy mond.

      Hy lag. Joe kom nader en vat aan my arm. Met sy linkerhand, want die regterhand is nog steeds te aaklig om te aanskou, en dit oor daai bom.

      – Wat kom maak jy hier, Fransie?

      Dan rek sy oë.

      – Liewe donner, voel net hier.

      Christof voel aan my arm.

      – Het hy beton of iets daar ingepomp? vra hy.

      Christof trek sy wenkbroue hoog op, wat hom soos ’n uil laat lyk. Die ophef wat hulle maak, is vir my ’n bietjie oordadig. So besonders is dit mos nie. Ek bloos.

      – Kyk hoe bloos hy, sê Christof.

      – Mag ek? vra Joe.

      Hy rol my mou op tot bokant my biseps en fluit saggies deur sy tande.

      – Wat ’n monster.

      Christof kyk hom snaaks aan; hy weet niks van sulke goed nie. Ek het self nog nie juis agtergekom hoe groot hierdie arm geword het nie.

      – Veral as jy na daai lyfie kyk, sê Christof.

      Hy’s reg, want dit lyk of al my groei die laaste paar maande in hierdie arm gegaan het; dit lyk soos die arm van ’n volwasse man, met knoppe en are wat oral bult. ’n Moerse arm, al moet ek dit self sê. Joe begin lag en hy roep soos ’n sirkusbaas: “Dames en here, hierrr isss . . . Frans die Arrem!”

      Frans die Arm! Ja! Christof trek sy skouers op; vir hom lê die nederlaag van sy naamsverandering nog vars in die geheue. Sonlig flits op die raam van sy brilletjie en hy knyp sy oë effens toe. Soos wie lyk hy tog? Ek kan net nie dink nie. Miskien iemand uit ’n geskiedenisboek, maar ek het die laaste tyd so baie gelees dat ek nie meer weet wie dit kan wees nie. Ek moet dit gaan naslaan.

      – Ek dink tog hy agtervolg ons, sê Christof.

      Asof ek nie mag gaan waar ek wil nie.

      – Hy kan gaan waar hy wil, sê Joe.

      – Agtervolg jy ons, Fransie? vra Christof.

      Ek skud my kop heftig.

      – Sien, sê Joe, niks fout nie. Baai, Fransie.

      Hulle gaan terug na hulle visstokke en kyk nie weer om nie. Hulle gooi hul lyne uit en sit dan weer doodstil op die klip. Ek brand van nuuskierigheid om te weet waaroor hulle praat. Of sit en tuur hulle sommer oor die water sonder om ’n woord te sê? Dis wat ek wil weet, dié soort goed. Dis eensaam hier.

      Hoofstuk 7

      ’n Dier laat jou minder eensaam voel. Maar nie alle diere nie. Konyne, byvoorbeeld, beteken niks, hulle is heeltemal te dof. Honde kan my ook vreeslik irriteer. ’n Voëltjie is wat ek wil hê; so ’n klein kerkkraaitjie met ’n silwer nekkie en melkblou oë. Kerkkraaitjies is oulik, en anders as ’n gewone kraai of ’n raaf, klink hulle soos ’n mens wat praat. Veral saans wanneer daar ’n hele kolonie neerstryk in die kastaiings langs die Bleiburg, waar hulle met mekaar gesels tot dit donker word en jy soms ’n harde “ka” hoor as een van sy tak afval. Daarby is hulle baie skoon voëltjies. Partykeer sien jy hoe hulle by ’n vlak poel in die weiland kort-kort vooroor buig om die water oor hulle rug en vlerke te spoel tot hulle skoon is.

      Ek het geweet waar hulle hou. Elke lente maak hulle nes