Tommy Wieringa

Joe Speedboot


Скачать книгу

vir my. Vandat ek by Joe kom hulp vra het om Sam uit die boom te kry, was dit asof sy op ’n manier vir my begin jammer voel het. As ek dan op so ’n ledige middag met die Achterom langs gery het en hulle fietse sien staan het, het ek met die plathand op die voordeur geslaan tot sy oopmaak. Dan het sy my met ’n kordate hulpvaardigheid tot in die motorhuis gestoot en my tussen Joe, Christof en Engel neergesit. Dit was taamlik beknop. Daar was net een stoel, wat aan Engel behoort het. Ten minste, ek het nooit iemand anders daarop sien sit nie; hy wou seker sy goeie klere skoon hou. Hy is die enigste ou waarvan ek weet wat op sestien al snyerspakke gedra het. Joe het op die werkbank gesit en Christof op die enjinblok. Daardie motorhuis was die smeltery waar al hulle planne vorm aangeneem het. In daardie rookbruin hok met die reuk van sweiswerk en olie sou hulle die wêreld uitmekaarhaal en weer inmekaarsit soos hulle goeddink.

      – Maar rubberbande help nie veel as die paaie hopeloos is nie, het Joe gesê. Mens moet ordentlike paaie hê: teerpaaie, nie die sandpaaie en gruispaaie wat jy toe gekry het nie. Dit was sleg vir die motor, en almal by wie jy verbygery het, het verstik in jou stof. Dit bring ons by Rimini en Girardeau.

      Joe se oog het op Christof geval, wat ingedagte met sy vingers gesit en speel het.

      – Dis ook die storie agter Betlehem Asfalt, Christof, julle het alles aan hulle te danke. Die ingenieurs, o ja!

      Hy het sy tong geklik. Engel het gewys hy moes voortgaan.

      – Alles baie eenvoudig, het Joe gesê. Rimini en Girardeau het met die idee gekom om al die klippe uit die paaie te haal en die gate op te vul. Nadat ’n padroller die spulletjie gelyk gemaak het, sou mans met groot gieters kokende teer agternakom en dit oor die padoppervlak sprinkel. Dit is dan met ’n lagie sand bedek en so gelos om ’n paar dae lank droog te word, en daar was jou eerste snelweg.

      – Jy vergeet van die binnebrandenjin, het Christof gesê, vir my lyk dit belangriker as rubber en paaie.

      – Oe-gg, sê Joe toe asof iemand hom ’n hou in die maag gegee het. Heeltemal ’n ander storie. Wa en perde, stoommasjien, binnebrandenjin. Ek sien dit so: Jy het vier elemente, reg? Die mens moes dit tem: een vuur, twee water, drie aarde, vier lug . . .

      Dit het my mateloos geboei, want dit was ook die eerste vier hoofstukke van Musashi se boek: “Aarde”, “Water”, “Vuur” en “Wind”. (Die laaste hoofstuk bestaan uit net een bladsy: “Leegte”.)

      – Vuur is die eerste element, het Joe gesê. Vuur het lig gebring in die donker van die prehistoriese tyd.

      Hy het met sy hand agter sy rug gewapper asof die prehistoriese tyd agter die hardebordmuur lê waarop die vorms van die gereedskap wat eintlik daar moes hang met ’n viltpen geteken was, soos wat die slagoffers van motorongelukke en moord met kryt omlyn word. Die gereedskap self het nooit daar gehang nie; elke stuk het sy eie lewe gelei in die skuur agter Joe-hulle se huis.

      – Daarmee het die beskawing dan begin, met vuur. En toe water, baie belangrik vir die boere, water. Besproeiing beteken verhoogde produksie en voorspoed vir vele. Dan die aarde: grond vir die boere, paaie vir die handelaar. Uit die paaie volg die wiel. Die handelaar en die soldaat vind die meeste baat by die wiel. Elke wiel is ’n klein ratjie op die oppervlak van die groot ratkas wat die aarde eintlik is. Figuurlik gesproke, nè. Dié twee vorm ’n meganisme. Uit die wiel volg die binnebrandenjin, wat by die wiel hoort. Die enjin bring die wiel in beweging, en deur middel van wiele begin dinge op die aarde rol. Dis dan drie.

      Ek het gedink aan my eie voortbeweging, wat ook te danke is aan wiele, rubber en asfalt. Ek, half mens, half rolstoel, het myself gesien as ’n klein skakeltjie in Joe se uitkyk op die wêreldgeskiedenis; my wiele draai oor die aardoppervlak en dra by tot die beweging van die aardwiel.

      – Oukei, sê Joe toe verder. Die lug was die laaste element wat oorwin moes word. Die vliegtuig was die breekyster. Die eerste mens wat regtig gevlieg het, was weereens ’n ingenieur, Otto Lilienthal, teen die einde van die negentiende eeu. Ná baie val en opstaan sou hy uiteindelik vlieg met ’n paar vlerke op sy rug, wat hy by die voëls afgekyk het. Elkeen wat wou vlieg, het die fout gemaak om voëls na te aap, wat natuurlik dom is. Die vliegspiere van voëls is so enorm groot in verhouding tot hul liggame dat jy dit nooit met jou arms kan nadoen nie, hoe sterk jy ook al is. Hierdie denkfout het die mens baie langer op die grond gehou as wat nodig was. Maar Otto het vyftien meter gevlieg, ongelooflik! ’n Paar jaar later het die eerste zeppelin deur die lug gesweef; stil en pragtig, maar ’n vlieënde bom. Vir ’n huwelik tussen die binnebrandenjin en ’n stel vlerke was daar meer hoop. In Amerika het dié twee die eerste keer gekys geraak toe een van die Wright-broers ses-en-dertig meter ver gevlieg het, meer as dubbeld so ver soos Lilienthal – ’n revolusie van een-en-twintig meter! Dinge was goed op dreef. Daar was ’n vlieënier om elke hoek en draai, en die een rekord ná die ander is oortref. ’n Vlug van een kilometer bokant Parys – wêreldnuus! Oor die kanaal in ’n eendekkervliegtuig – Engeland het mal geraak. Anthony Fokker bokant Haarlem – die einde van die wêreld!

      As Joe so opgewonde raak, het hy my al hoe meer aan ’n verspotte towenaarsleerling laat dink.

      – Nogal vreemd, het hy gesê, dat die vliegtuigies nog nie watwonders gelyk het nie; ’n paar stukkies bamboes, essenhout en seildoek, terwyl die atoommodel in dieselfde tyd uitgevind is.

      – Dis nie snaaks nie, het Engel gesê terwyl hy een van daai sigarette met ’n goue ringetjie aansteek, die brein is die ontdekking altyd een voor. ’n Idee is gewigloos, dit sweef voor die materie uit. Ons kan allerhande goed uitdink, maar om dit uit te voer, daar lê die neukery.

      – Ingenieurs het baie geduld, hoor, het Joe plegtig gesê.

      – Het julle geweet dat PJ se ma kaal rondloop? het Christof die onderwerp verander.

      – Pie-djy? het Joe gevra.

      – Picolien Jane, het Engel gesê. Nuwe meisie, blond, kurktrekkerkrulle, van Suid-Afrika.

      Joe het sy skouers opgetrek. Christof het van die enjinblok opgespring.

      – Het jy haar nog nie gesien nie? Onmoontlik!

      – Miskien het ek, het Joe gesê om Christof tot bedaring te bring.

      Hoe ons geweet het dat PJ se ma, Kathleen Eilander, ’n nudis is? Wel, die posbode lewer elke drie maande die Athena-tydskrif van die naturistevereniging daar af, geadresseer aan “Mev. K. Eilander-Swarth”, en boonop sê Lomark se binnevaartskipper hy het haar al kaal gesien op een van die strandjies tussen die keerwalle in die rivier. Miskien was dit net praatjies, skinderstories wat so aangedik het dat Kathleen Eilander eendag die onbedwingbare en nuutontdekte behoefte sou hê om rivier toe te gaan, haar klere uit te trek en kaal te swem. Maak nie saak hoe en wat nie, ons het geweet. Ons het nog nooit ’n nudis gesien nie. Dit het na propperse naaktheid geklink, iets waarvan ons net kon droom.

      Engel het na my gekyk. Sy oë was dieselfde kleur as my gunsteling-vulpenink. Hy het geweet hoe ek dit geniet as Joe smiddae in die motorhuis sit en teorieë verkondig wat met hul voete in die werklikheid staan en met die kop in die wolke.

      Volgens Christof het mevrou Eilander soggens vroeg rivier toe gedraf om te gaan lyf natmaak. En het sy in die tuin agter die Wit Huis ook kaal rondgeloop. Verder het Christof gesê sy het sulke snaakse lang bene, maar dit was nie haar bene wat die oorheersende rol gespeel het in my fantasieë oor die sogenaamde nudis nie. In my verbeelding het ek ander dinge gesien. Dinge wat my keel laat toetrek het. Sy was ’n ma en dus ’n ou vrou, maar ek het agtergekom dat sy ná die nuus van die kaallopery omgetoor is tot ’n seksuele wese, met ’n geheim wat ons toevallig deel; iets wat ons koppe met dringende vrae en ons binnegoed met suikerstroop gevul het.

      Joe het teësinnig die onderwerp van mevrou Eilander se bene aangeroer.

      – Kan mens haar sien? het hy gevra, maar Christof het sy kop geskud.

      – Daar’s ’n muur om die tuin, het hy gesê, en dis nog donker as sy gaan swem.

      Joe het ingedagte die skroewedraaier soos ’n trompoppie se stok tussen die vingers van sy gesonde hand gedraai. Woensdag, my handmak kraaitjie, het op my skouer ingedommel. Die rimpelrige vliesies het oor sy kraalogies