was sy nes.
Die tjips het in die olie gesis; teen die venster het ’n afgeleefde brommer geneul. Die meisie het die tjips uit die olie gelig en drooggeskud terwyl Joe en Christof hulle verwonder het aan haar goedbedeelde agterwêreld wat ritmies saamwikkel. Daar was iets verleideliks daaraan. Toe het sy sout oor die tjips gestrooi en dit omgeroer. Joe en Christof het haar fenomenale hamme stewig in hulle agterkoppe bewaar.
– Een tjips met mayonnaise en satésous vir meneer Christof, sê sy.
– Sy naam is Johnny, sê Joe. Kan ek dalk nog ’n bietjie mayonnaise kry?
Hoofstuk 5
Omdat ek as gevolg van die ongeluk ’n jaar agtergeraak het, sit ek nou in ’n klas by leerders wat ek skaars ken. Ek is nou wel die oudste, maar as jy my regop sou staanmaak, ook die kleinste.
Op die eerste skooldag vra Verhoeven, ons Nederlands-onderwyser, wat ons in die somervakansie gedoen het.
– En jy, Joe, vra hy halfpad op sy rondte, wat het jy die afgelope weke gedoen?
– Gewag, meneer.
– Waarvoor het jy gewag?
– Dat die skool weer moet begin, meneer.
Eindelik kry ek kans om die heeltyd naby hom te wees. Maar een oggend vra Joe vir meneer Beintema of hy gou toilet toe mag gaan. Ná ’n rukkie hoor ons ’n moerse slag êrens in die gebou.
– Dis Joe, sê Christof saggies.
Die aap het op die toilet ’n bom sit en prakseer. Sy hand omtrent morsaf, ’n bloedspoor wat van die toilette buitentoe loop, die skoolhoof agterna. Joe probeer hom uit die voete maak soos ’n gewonde rot, maar die skoolhoof haal hom halfpad oor die vierkant in en begin hom uitskel, nie in die suiwerste van tale nie. Joe luister nie eintlik nie, want hy kap om asof iemand ’n mat onder sy voete uitgepluk het. Dan daag die ambulans op, dis ’n hele konsternasie en vir Joe sien ons ’n tyd lank glad nie. Hy het groot skade aangerig met sy misbaksel van ’n bom.
Die klas raak mettertyd aan my teenwoordigheid gewoond. Ek hoef nie aan die mondeling deel te neem nie, want elke antwoord neem minstens ’n uur en selfs dan kan hulle nie uitmaak wat ek sê nie. Alles baie uitputtend.
Dis ’n pyn dat ek nog nie alleen kan pie nie, en op een of ander manier het dit so gekom dat Engel Eleveld my daarmee help. Engel is ’n wonderlike mens. Hy’s die soort ou wat jy jare lank nie opmerk nie, amper asof hy onsigbaar is, tot jy hom skielik raaksien en ’n gevoel van vriendskap jou geheel en al oorrompel.
Engel het self aangebied om my te help; ek weet nie hoe hy aan die inligting oor my spesifieke dilemma gekom het nie, maar enige hulp is welkom. Ons gaan saam toilet toe, hy stroop my broek af en hang my voël in die urinaal wat ek altyd in my rolstoel se sysak hou. Die eerste paar keer wou ek byna doodgaan, nie eintlik soseer wanneer hy my slurp in die houer sit nie, maar wanneer hy die urinaal moet skoonspoel by die wasbak. Eienaardig genoeg is niemand snaaks met Engel omdat hy my pismaat is nie, of anders het dit net nooit my ore bereik nie.
Jy wonder seker hoe die skytery afloop, en of Engel my daarmee ook help. Natuurlik nie! Dit doen ek by die huis. Ma help my daarmee. Ek verdra niemand anders by my hol nie.
Die toiletdeur by die skool is ná die ontploffing weer terug aan sy skarniere, en die opsigter vertel vir almal wat wil luister (eintlik niemand nie, maar hy babbel voort) dat hy so iets nog nooit beleef het nie. Wat my interesseer, is wát Joe eintlik wou opblaas. Of vir wie.
Wanneer Joe terugkom – hand in ’n verband en steke in die kop – vra niemand hom eintlik daaroor uit nie. Dis asof dit doodgeswyg word. Nogal snaaks, asof hulle liewer nie wil weet dat Joe ’n simpel ding aangevang het nie. Dit pas net nie by hom nie. Maar wat my betref, kom ek agter hoe graag ek wil hê dat hy die wêreld op sy moer moet gee, want as daar iemand is wat dit kan doen, is dit hy.
Joe is aan die begin ’n bietjie stil en Christof hou ’n oog oor hom. Wanneer Joe voor almal in die klas die verband afhaal, hou Christof die nuuskieriges nog ’n bietjie weg.
– Joe, vra hy besorg, is dit nie gevaarlik nie?
– Gevaar is waar jy dit nie verwag nie, mompel Joe, en wikkel die verband verder af.
Hy kom na my toe en hou sy hand voor my oë.
– Kyk, Fransie, dis hoe onnoselheid lyk.
My maag draai. Sy regterhand is ’n soort vleispastei van geel, groen en pienk repe, lossies bymekaargehou deur omtrent driehonderd steke. Sy pinkie en ringvinger is weg.
– Gottatjie, sê Engel Eleveld gedemp.
Heleen van Paridon wil opgooi, maar sy hou darem haar middagete binne.
– ’n Bietjie vars lug en die saak is reg, sê Joe.
– Het jy die ander bomme ook geplant? vra Quincy Hansen, die piskol langs wie ek nou wéér in die klas sit omdat hy vir die tweede keer gedruip het. Ek sou my geheime eerder vir ’n slang vertel as vir Quincy Hansen.
– Bly jy uit my pad uit, sê Joe.
– Jy het! skree Heleen van Paridon.
Sy is nogal driftig, ek moet sê.
– Dis nie waar nie, sê Christof met ’n soort heilige onskuld.
Dis reg; mens gee nie sommer toe nie. Daar wil-wil net ’n rusie uitbreek, maar Joe raak gou verveeld met die spulletjie. Hy staan op en gee pad.
– Wie het dit dan gedoen?! gil Heleen agterna. Fransie, miskien?
Joe draai om en kyk na my, dan na Heleen.
– Fransie kan meer doen as wat jy dink, sê hy.
Dan is hy weg, met Christof agterna. Hulle kyk almal na my. Ek blaas spoegborrels; hulle lag. Lag maar, lag is gesond.
Hoofstuk 6
Ek neem aan niks deel nie. Onmoontlik. Maar ek sorg dat ek altyd in beweging bly, ek bly soek en loer: ’n eenarm-bandiet met bioniese oë. Hy mis niks, hy gee sy oë goed kos. Hy verslind die wêreld soos ’n luislang wat ’n bokkie afsluk. If you can’t join them, eat them, of hoe? Heuwel op, heuwel af, in wind en weer met skuim om die mond. Op sy pos in sy strydwa, in ’n reënponcho as dit storm, met ’n oliejas wanneer die wind aan julle rame ruk, of met ’n Hawaise hemp in die skroeiende son. Moenie vrees nie, Die Oë hou wag.
Ek het vir Joe en Christof rivier toe sien gaan en ek kruip soos ’n slak agterna. Dit knars as die trekstang krag op die wiel oordra. Nie dat ek my aan Joe en Christof opdring nie; dis anders. Meer aktief. Ek kan nie anderkant die grense van die teerpad beweeg nie en is maar te dankbaar vir Betlehem Asfalt. Joe het sy vissak agterop sy fiets en vir Christof voor op die stang. Hulle gaan sit dikwels daar op die oewer.
Die distels maak pluise, die boere skud hooi en die meeue vier fees. Die somer is nou oorryp. Ek kan twee kante toe; links met die sanduitgrawing langs en tussen die mielielande deur rivier toe, of reguit aan, oor die Lange Nek tussen die populiere tot by die pont. Ek vat ’n kans en gaan links, met die hobbelpaadjie agter die Gat van Betlehem verby. Die fabriek kry al sy sand van dié uitgrawing. Niemand weet hoe diep dit al is nie, maar die water is selfs in die warmste somer yskoud, en dit sê nogal baie.
Dinge gebeur daar agter die Gat; teen skemeraand kom hulle op bromfietse uit die dorp hiernatoe om te soen en sulke goed. Jy sien die bewyse oral rondlê: daggasakkies, sigaretstompies, leë aanstekers, kondome.
In die winter staan alles hier onder water, daarom dat die pad so vol gate is. In die lente, as die water weg is, vul hulle die gate op met klip en gemaalde baksteen, maar hulle kry dit nooit regtig gelyk nie.
Mossies styg in swerms uit die mielielande op as ek verbykom. Ek kreun van die pyn in my arm en skouer, want dis asof jy met een arm ’n dooie perd huis toe probeer stoot. Ek wil nie pateties klink nie, maar dis nou eenmaal soos dit is. Dirk pes dit om my rolstoel te olie, hoe Ma ook al by hom neul. Hy gaan liewer na sy handjie vol vriende saam met wie hy allerhande goor goed doen. Goeters martel en so aan. Hy’s ’n nikswerd,