Tommy Wieringa

Joe Speedboot


Скачать книгу

president die African National Congress ontban. Daarby het hy die vrylating van Nelson Mandela aangekondig, die leier en simbool van die stryd teen apartheid. “He’s a man with a vision as wide as God’s eye,” sê aanhangers van Mandela, en hulle plaas hom op dieselfde vlak as die groot gees van Indië. In 1990 stap Mandela uit die gevangenis, en ’n paar uur later hou hy sy eerste toespraak ná sewe-en-twintig jaar. Die grap is dat hy sy leesbril in die tronk vergeet het, sodat hy teen wil en dank die toespraak met sy vrou se bril op sy neus moes voorlees. Drie jaar later ontvang Mandela en De Klerk die Nobelprys vir vrede, en in 1994 volg Mandela De Klerk op as president van Suid-Afrika.

      Die omwentelinge in die land het groot sosiale spanninge en wedywering om mag en middele meegebring. Julius Jakob Eilander, ’n tandarts, en sy vrou, Kathleen Swarth-Eilander, is Afrikaners van die vierde geslag. Hulle sien hoe die bure steeds hoër mure om hul huise laat bou en alarmstelsels laat installeer wat so sensitief is dat ’n vallende blaar of ’n ritselende akkedis die sirenes laat loei. Die Eilander-gesin wag nie tot die land transformeer nie. Hulle vertrek na Europa, “terug na die ou Holland”, wat hul voorouers in die negentiende eeu verlaat het.

      In Januarie 1993 kom hulle op Schiphol aan. Ná ’n paar weke by verlangse familie en ’n paar maande in ’n vakansiehuisie tussen dennebome en karavane, neem Julius Eilander die praktyk oor van Lomark se tandarts, wat so lank die inwoners kan onthou ons gebitte van stopsels, krone en brûe voorsien het. Die praktyk is op die eerste verdieping van die huis wat deur die plaaslike inwoners die Wit Huis genoem word, maar volgens die bordjie op die gewel die naam Quatre Bras dra.

      Julius en Kathleen Eilander het ’n dogter, Picolien Jane, afgekort tot PJ, en uitgespreek as pie-djy. Ná Joe en India is sy die derde aankomeling uit die buitewêreld by ons skool.

      Ons kan ons oë nie glo nie. Sy het ’n kroon van onstuimige krulhare wat soos ’n waterval om haar skouers val. Ek dink aan see en skuimbranders; my dagboeke is vol van haar. Haar vel is bleek, en ek het nog nooit sulke blou oë gesien nie; hulle sit so effens skuins in haar mooi, oop gesig. In die pouse verdring die meisies mekaar om met die kurktrekkerkrulle te speel, wat soos ’n rekkie terugspring as jy daaraan trek. Die meisies wil almal PJ se vriendin wees. Haar manier van praat het almal in vervoering. Die halfbekende en tog geheimsinnige Afrikaans laat ons om die beurt giggel en ril van die tipe genot wat ’n mooi taal in jou wakker maak.

      Ons hoor dat hulle van Durban kom. Dié naam het dieselfde toorkrag as Nineve of Isfahan. In Durban is die lug bedompig en die sout op jou vel smaak na ammoniak. Ek dink aan PJ en verbeel my hoe sy in Durban rondloop. In my dagboek fluit die papegaai en bevroetel die apie homself. Die hemel moet daar ongetwyfeld anders wees. PJ se oë spieël wyer horisonne as ons s’n, en geheime wat regtig iets beteken, nie die niksseggende swye waarmee ons mekaar verveel nie. Ware geheime, wat meer met lig as met donker te make het; die donkerte waarin ons broei oor etterende sondes waarvoor geen vergifnis bestaan nie omdat die pastoor doof is en nie ons fluisterstem hoor as ons bieg nie. PJ is gebore uit ’n samespel van lig, haar vel is so bleek soos die aartappeluitloopsels in die kelder. Sy is amper deurskynend, maar haar hare is vlammende koring . . .

      Daar word al hoe meer mondeling oor Suid-Afrika gedoen.

      Sy sê: “Wat kyk julle so vir my?”, maar sy móés tog iets besonders wees, anders het ons nie so voor haar gesmelt nie.

      Terwyl ons ouers inmekaarkrimp van pyn en vrees onder haar vader se tandartslamp terwyl hy in hulle monde wikkel, karring en boor, sit ons sprakeloos in PJ se stralende nabyheid. Kom nou, sê nog iets, PJ, laat ons die rillings kry, moenie skaam wees nie.

      In dié tyd laat Joe die eerste keer sy hare poenskop skeer. Hy sit vooroor op ’n enjinblok in die motorhuis agter hulle huis terwyl Christof met ’n haarknipper paadjies oor sy kop trek. Die dik hare val grond toe tot daar net ’n skaduwee op sy kopvel oorbly, met ’n paar bleek littekens wat deurskyn. Nou lyk hy presies soos ’n nomadiese stepperuiter, ’n Uyghur of ’n Hun, met daardie oë wat so half skuins sit. Joe die Hun, op ’n onblusbare steppeperd met ’n stuk rou vleis onder sy saal. Mense vra hom partykeer of daar ’n swart Afrikaan in sy familie is, of miskien ’n Oosterling, want in Joe se gesig sien jy ’n mengsel van verskillende raskenmerke. Joe was vir elkeen iets anders, maar met sy vreemde gelaatstrekke was hy vir my die ewebeeld van ’n perderuiter uit die steppe.

      Hoofstuk 10

      Joe en Christof het hul tweemanskap uitgebrei en vir Engel Eleveld, my getroue pismaat, in hul geledere opgeneem. Dit het begin toe Joe en Engel weer in ’n spoeldam gaan visvang het. Daar is heelwat varswatersnoek in daardie poele, en Joe het een uitgetrek. Engel het by sy pa gehoor dat mens in so ’n snoekkop iets van Christus se lydensweg kon sien. Die vars-watersnoek se kopbeentjies sou glo die vorm van ’n hamer, spykers en ’n kruis hê. Hulle het die kop oopgebreek, maar niks van die aard gekry nie.

      Van toe af was Joe en Engel vriende.

      Ek het al vertel dat mens Engel jare lank miskyk, tot jy op ’n dag agterkom dat hy een of ander soort lig uitstraal. So het dit ook met Engel en die liefde gegaan. Hy het nooit soenspeletjies gespeel of liefdesbriefies uitgeruil nie. Maar hy het die wonderlikste aërodinamiese toestelle in sy hardeband-notaboek geteken en toevallige ontdekkings gemaak wat die wêreld sou verander, as hy hulle net onthou het. Heleen van Paridon en Janna Griffioen het oornag op hom verlief geraak. Waarom sal mens nie weet nie. In dieselfde week het Harriët Galama (tiete) en Ineke de Boer (nog groter tiete) ook voor hom geswig. Toe het dinge vinnig gebeur. Die eertydse helde het hul bekoring en die stryd om aandag verloor, en nog twee of drie meisies het vir Engel begin ogies maak. Uit die bloute, en sonder dat hy ’n vinger gelig het, was hy die kampioenram van die skoolgrond. Sy sakke het oorgeloop van briefies met rooi hartjies wat met bewende hande uitgeknip is. Op een van hulle het “I love joe” gestaan. Engel het dit vir Joe gegee. “Verkeerde adres,” het hy gesê.

      Vir my was Engel so helder en beweeglik soos water. Musashi sê iets daaroor in die leerstuk “Water” in Go Rin No Sho: “Met water as basis word die gees ook soos water. Water se vorm hang af van waar dit voorkom; soms vloei dit sag, soms is dit ’n woeste see.”

      Dit help nie om te stry nie: Engel het sy nuwe rol as casanova meesterlik vertolk. Hy het met ’n ligte hand blykies van aandag uitgedeel en verleë laggies op vele gesigte uitgelok, maar dit het hom nie genoeg geïnteresseer om regtig daarvan werk te maak nie.

      Net soos Joe het Engel van jongs af belanggestel in natuurwetenskaplike verskynsels. Toe hy eenkeer hulle badkamer se medisynekassie ’n bietjie hardhandig oopgemaak het, het daar ’n bottel mondspoelmiddel, ’n strook vitamienpille en ’n ou tandeborsel uitgeval. Hy het tot by sy knieë in ’n ontploffing van glas en Listerine gestaan, maar het besef dat die bottel, die pilstrokie en die tandeborsel ondanks hul verskil in gewig die badkamerteëls gelyktydig getref het.

      – Newton, het Joe gesê toe Engel hom van sy ontdekking vertel.

      – O, het Engel gesê, jammer. Ek het regtig gedink . . .

      – Vergeet van Newton. Hy’t ’n pruik gedra. Goodyear is die man wat ons nodig het.

      Niemand kon uitmaak wat hy bedoel nie.

      – Charles Goodyear, het Joe gesê, was die eerste mens wat rubber gevulkaniseer het. ’n Revolusie. Copernicus het die aarde rond gemaak, Goodyear het dit rybaar gemaak. Rubber was daai tyd nog ’n hengse probleem; dit het te sag geword in die hitte en kliphard in die koue. Hulle kon nog nie veel daarmee doen nie, maar Goodyear was mal daaroor, oor die hele idee van rubber. Hy het jare lank geëksperimenteer, sonder sukses. Maar toe hy eendag swawel met rubber meng, laat hy per ongeluk ’n bietjie daarvan op ’n warm stoof val. En toe gebeur dit: Dit word hard, dit vulkaniseer. Dis waarvoor almal gewag het, dit was die begin, en daarna sou rubber die wêreld op sy kop draai. Op rubberbande! Maar vir Goodyear self het dit nie veel in die sak gebring nie; hy kon nie eers sy eie patent verdedig nie en hy is arm dood. Martelaars, daai ouens wat hul lewe vir ’n saak aflê.

      Ons was aangedaan en ’n rukkie lank doodstil, met dieselfde gevoel wat jy kry as jy hoor van jazzmusikante wat die sterre aan die brand speel, maar nooit ’n sent van die inkomste ruik nie. Mens het amper gewens dat dit hul eie simpele skuld moes wees, net om ons nie so sleg