Helana Olivier

Ware verhale van geloof


Скачать книгу

van Pretoria was ’n wonderlike en vervullende tyd. My droom was om eendag met vroue te werk – om hulle innerlik en uiterlik te bedien. Ek het ook nog altyd in die skoonheidsbedryf belanggestel. Ons familie-onderneming bestaan onder meer uit Willa Krause-velsorgprodukte. Toe ek klaar gestudeer het, het Finesse, die glansleefstyltydskrif vir Christenvroue, my genader om die redakteur van hierdie gewilde tydskrif te word. Só het ek die vrouebediening van my drome ontvang.

      Ek skryf tans steeds ’n geestelike rubriek vir Finesse, maar is nou hoofsaaklik by ons familie-onderneming betrokke en deeltyds predikant by die NG Gemeente Kameeldrif. Verder is ek betrokke by geestelike radio- en TV-programme, ’n dinamiese bediening wat oor gemeentegrense heen strek. Dit is ’n groot voorreg en ek loof God daarvoor.

      Wat sou gebeur het as God my nie gehelp kies het nie?

      Ja, dit was my keuse daar in die hospitaalbed om nie alle moed te verloor toe ek maar sestien jaar oud was en ’n motorongeluk my lewe totaal omgekeer het nie. Maar ek weet ook ek was nie sterk genoeg om daardie besluit alleen te neem nie. God was daar vir my. Hy het my gehelp om die lewe te kies.

      Dit is nie altyd maklik om ná ’n krisis op te staan nie. Vra daarom vir God om jou te help. Met sy hulp kan jy kies om voort te beur. Sy genade is vir jou genoeg.

      Wat is God se wil vir my?

      As predikant vra mense dikwels vir my:

      “Wat is God se wil vir my in hierdie situasie? Wat wil Hy hê moet ek doen of kies?”

      “Moet ek my werk bedank?”

      “Moet ek met hierdie man (vrou) trou?”

      Dit is eeue oue vrae hierdie. Ek self worstel dikwels met sulke vrae. Wanneer hulle antwoorde soek, laat sommige mense graag die Bybel op enige plak oopval en maak dan daardie gedeelte op hulle lewe van toepassing. Ons almal was al in die versoeking om dit te doen. Maar dink net: Wanneer jy siek is, sal jy by ’n apteek instap, jou oë toemaak, al in die rondte draai en sommer die eerste medisyne waarop jy jou vinger druk, begin drink? Ek dink nie so nie. Sê nou die Bybel val oop by dié gedeelte wat vir ons vertel van Judas wat homself opgehang het? Gaan jy hierdie boodskap vir jou toe-eien?

      Dit is beslis nie onmoontlik dat God op hierdie manier met iemand kan praat nie, maar ek dink ’n langtermynverhouding met God en ’n noukeurige bestudering van sy Woord, waardeur Hy sy wil bekendmaak, is ’n meer gepaste roete om te volg wanneer jy sy wil vir jou lewe soek. Wanneer jy vir jou aardse pa gaan raad vra, weet jy dikwels reeds wat hy vir jou gaan sê omdat jy ’n verhouding met hom het. Wanneer jy al jare lank ’n verhouding met God het en sy Woord ken en bestudeer, weet jy eintlik reeds wat sy wil vir jou in ’n spesifieke situasie is.

      Ja, ons kies heel dikwels verkeerd, maar die wonder van die almagtige God vir wie ons aanbid, is dít: Al kies ons verkeerd, is God steeds daar vir ons. Hy kan selfs ons verkeerde besluite in sy diens gebruik.

      Ek glo ook dat God vir ons ’n gesonde verstand as gawe gegee het. Daarom moet ons dit in afhanklikheid van God gebruik. Ons gesonde verstand, en daarmee saam ons kennis en ervaring van die lewe en die insette van ons geestelike raadgewers of mentors, is maniere waarop God sy wil aan ons bekendmaak. Natuurlik sal daar tye wees wanneer jy ongelooflike vrede ervaar wanneer jy ’n sekere besluit geneem het, maar tog vind dat jou logiese denke en verstand daarteen skop. Moenie die misterie van God en sy vrede wat alle verstand te bowe gaan, geringskat nie.

      Wat ’n voorreg om nie op jouself aangewese te wees wanneer jy groot besluite in die lewe moet neem nie. Wat ’n voorreg om te weet daar is ’n Hoër Hand wat jou sal vang wanneer jy verkeerd kies.

      Ek sluit my ervaring af met ’n verhaal wat illustreer watter geweldige invloed jou keuses op jou lewe het. Dit is ’n verhaal wat gaan oor tweelingbroers wat in haglike omstandighede grootgeword het. Hulle pa was ’n alkoholis wat hulle liggaamlik en emosioneel mishandel het. Hulle het arm grootgeword en geen geleenthede gehad nie. Die een broer se lewe het op min of meer dieselfde as sy pa s’n uitgeloop – op een groot mislukking. Die ander broer was uiters suksesvol. Byna alles wat hy aangepak het, was voorspoedig.

      Toe ’n joernalis eendag vir die een broer vra waaraan hy sy mislukte lewe toeskryf, het hy geantwoord: “My pa was ’n alkoholis en ek het in haglike omstandighede grootgeword. Dit is waarom ek vandag is waar ek is.” Daarna het die joernalis vir die ander broer gevra waaraan hy sy sukses sou toeskryf. Sy antwoord was verstommend. “Ek skryf my sukses toe aan die feit dat my pa ’n alkoholis was en ek in haglike omstandighede grootgeword het. Ek het besluit ek gaan nie dieselfde foute as my pa maak nie. Ek gaan uitstyg bo my omstandighede en kies om voluit te leef.”

      Hierdie verhaal leer vir ons ’n waardevolle les. Jy kan kies om bo jou omstandighede uit te styg, om na ander uit te reik en om die lewe aan te gryp. Die keuse is joune. As jy jou omstandighede wil verander, moet jy self in die eerste plek verander.

      Jy kan kies om wraak te neem nadat iemand jou seergemaak het, of jy kan kies om in God jou rus te vind, ander mense te vergewe en só te keer dat bitterheid jou lewe vernietig. Jy kan kies om iemand met jou woorde te vernietig, of jy kan kies om die mooiste in iemand na vore te bring deur jou liefdevolle woorde en jou optrede. Só sal jy die verhouding tussen jou en ander mense laat blom.

      Jy kan vír God of téén God kies.

      Ek kan nog baie ander voorbeelde noem, maar …

      Die keuse is altyd joune.

      2

      Selfbeheptheid sal handuit ruk

      Debbie (Bingham) Nicholson

      Vir elke aksie is daar ’n reaksie. Kitsbevrediging bring net tydelike verligting of plesier. En selfsugtige keuses hou enorme gevolge vir jou in en leer jou harde en blywende lesse.

      Ek onthou bevoorregte kinderjare met ongelooflike geleenthede en ’n toegewyde en ondersteunende familie wat hulleself afgeskeep het ter wille van my loopbaan. Ek dink met dankbaarheid terug aan ’n LO-opvoeder wat reeds in die laerskool my talent vir gimnastiek raakgesien het. Ek is so dankbaar vir my ma wat sy raad gevolg het. Drie maal per week het sy haar drie kinders in die motor gelaai en die 30 kilometer na die gimnastiekskool gery. Daar het sy twee uur geduldig saam met die res van haar kroos gewag terwyl ek oefen. Daarna het sy ons drie weer in die kar geboender vir die terugtog.

      Ek het ’n natuurlike aanleg vir gimnastiek gehad. Wanneer ek nie by die gimnasium was nie, het ek by die huis geoefen – elke keer wanneer ek die kans gekry het. Dit was vir my lekker om aan kompetisies deel te neem. Wanneer die toeskouers se aandag op my was, het die adrenalien deur my liggaam gepomp. Binne ’n jaar was ek die nasionale kampioen in my ouderdomsgroep. Aan dié titel het ek deur al my laerskooljare heen vasgeklou.

      Teen daardie tyd was ek vyf keer per week in die gimnasium. My lewe het gedraai om oefen. Ek het geen tyd vir ander buitemuurse aktiwiteite gehad nie. Buiten in die klaskamer, het ek ook nie juis interaksie met ander kinders van my ouderdom gehad nie. Ek het al die partytjies, oorslaapaande en naweekpret misgeloop. My lewe was van vroeg af reeds eendimensioneel. Maar ek het gefloreer op die opwinding van wen; op die adrenalien; op die gevoel om op die podium te klim en die skare se applous te ontvang. Op veertien het Suid-Afrika se nasionale gimnastiekafrigter my raakgesien en in haar oefengroep opgeneem. Wat ’n voorreg en eer! Dit het meegebring dat ek ons huis moes verlaat en in Johannesburg gaan bly. My afrigter het ’n pleegfamilie gevind wat bereid was om my by hulle in die huis te neem. Voordat ek tot verhaal kon kom, was ek ingeskryf by ’n nuwe skool, ver van my ouerhuis af – ’n vreemdeling op ’n vreemde plek, in ’n gimnasium waar ek saam met die bestes in Suid-Afrika afgerig is.

      Dit was groot spronge vir ’n skaam, onseker en beskermde jong meisie. Ek kon dit regkry om die indruk te skep dat ek in beheer van my lewe was, maar eintlik het ek leeg gevoel. Ek was bang, eensaam en siek van verlange. Die gimnasium was my skuilplek. Terwyl ek geoefen het, is my gedagtes ten volle in beslag geneem deur die motivering om die beste te wees. Ek kon sewe dae per week, vier uur per dag daarheen ontsnap.

      In die volgende drie jaar het ek die voorreg gehad om as ’n lid van die Springbokspan deel te neem. Ons is afgerig deur