François Bloemhof

Rillers 4: Ou Langklou


Скачать книгу

ion>

      

      François Bloemhof

      François Bloemhof is die skrywer van meer as

      50 boeke in Afrikaans. Hy is ook bekend vir sy verhoog-

      en radiowerk en skryf gereeld vir tydskrifte en koerante.

      Hy is mal oor rekenaars en programme en goed.

      Hy het vier katte, maar nie een van hulle is swart nie.

      Hy’s verslaaf aan sjokolade en hy droom in kleur.

      Kyk uit vir al die titels in die reeks:

      Die Speletjie

      The Gotcha Game

      Die Vrou met die Pers Oog

      The Lady with the Purple Eye

      Die Waterding

      The Water Creature

      Ou Langklou

      Old Aunty Claws

      Donkerwoud

      Kamer 13

      Hospitaaltyd

      Die Vampiere van Londen

      1

      Vyf van die bestes

      Die vakansie is amper nog net vyftien minute ver. Victor vroetel met die plastieksak onder sy bank. Hy laat dit aspris hard klink. Hy kan sien hoe meneer Jordaan eintlik sy ore spits om te hoor waar die geluid vandaan kom.

      Victor het lankal dié plan beraam. Hy wag al die hele kwartaal om die onderwyser terug te betaal vir die aanhoudende gepikkery op hom.

      Hy laat die plastieksak ekstra hard ritsel.

      Die onderwyser pyl op hom af. “Is dit jy wat so ’n lawaai maak?”

      Victor maak of hy skrik. “Ug, jammer, meneer.”

      “Laat ek sien wat jy daar onder die bank het!” beveel meneer Jordaan.

      Victor haal die plasieksak uit en maak dit oop. Binne-in is die toebroodjies wat hy die vorige aand skelm in die kinderhuis se kombuis gemaak het – en hy het die geheime bestanddeel bo-oor gesprinkel.

      “Dankie.” Meneer Jordaan gryp die toebroodjies by hom. “Dis nou myne.” Hy doen dit altyd wanneer hy iemand betrap wat in die klas eet. “Ek is bly om te sien jy’t nog nie daarvan geëet nie. Meer vir my!”

      Hy vat ’n groot hap van een van die toebroodjies, nes Victor geweet het hy sou.

      Victor kyk op sy horlosie. Dit behoort dertig sekondes te vat vir die goed om te begin werk . . .

      “Jy het ’n slag met ’n toebroodjie, Victor, of wat sê ek? As jy maar so goed was met wiskunde!” Meneer Jordaan het skaars die een helfte opgeëet, toe takel hy die ander. Victor is verbaas oor hoe vinnig hy die toebroodjies wegsluk, maar so ken hulle hom, die vraat. Lyk of hy nooit genoeg kos by die huis kry nie.

      Vyf-en-twintig sekondes is verby.

      “Jy mag maar die plastieksak hou.” Meneer Jordaan vee die krummels om sy mond weg.

      Toe vertrek sy gesig. Hy begin sweet en kyk na die deur. “E . . . e . . . klas, ek moet . . . gou uitgaan!”

      Hy klem albei hande oor sy mond en storm op die deur af. Hulle kan hom in die gang hoor hardloop. ’n Deur slaan toe. Almal lyk verstom.

      Victor het ’n week gelede op bessies in die veldjie agter die kinderhuis afgekom. Hy was nuuskierig en het die fout gemaak om daaraan te proe. Oomblikke later het hy die naarheid in hom voel opstoot en hy was op die plek siek. Na ’n rukkie het hy darem weer beter gevoel.

      Hy noem hulle toe opgooibessies.

      “Wat het jy nou weer aangevang?” wil Enslin Bekker weet terwyl Victor skud van die lag. “Wil jy ons almal in die moeilikheid bring?”

      Gespierde Maria, Enslin se tweelingsuster, staan op uit haar bank en gluur Victor aan. “Jy is weer net besig om aandag te trek!”

      “Ag, gaan vang ’n fit op ’n ander plek!” kap Victor terug.

      Op daardie oomblik gaan die klaskamerdeur oop. Daar is ’n stilte toe die hoof instap. Hy kan hoeka sommer net verskyn wanneer ’n mens hom die minste verwag.

      “Waar is meneer Jordaan?” Die stilte rek. Die hoof se oë soek deur die klas en vind vir Enslin, wat klaskaptein is. “Ek vra, waar is meneer Jordaan?”

      “Hy’s met ’n spoed hier uit, meneer. Hy het Victor se toebroodjie geëet, toe . . .”

      Die hoof loop na Victor se bank, maar gaan staan asof hy homself met moeite bedwing. “Al weer jy. Ek . . .” Dan swaai hy op sy hak om en klap die deur agter hom toe.

      Skaars ’n minuut later is hy terug. “Meneer Jordaan sal nie nou by julle kan wees nie. Julle gaan julle gedra tot ek die afkondigings gedoen en die skool verdaag het. Verstaan julle my?”

      “Ja, meneer,” sê almal in ’n koor.

      “Jy,” en die hoof wys na Victor, “kom saam met my.”

      Victor ignoreer Enslin en Gespierde Maria se gegrinnik. Hy kyk vinnig in Jenny se rigting – sy is die mooiste meisie in die klas en hy hou nogal van haar. Maar die uitdrukking op haar gesig laat hom net weer besef hy sal nooit ’n kans by haar hê nie.

      Toe hulle in die kantoor is, sê die hoof: “Jy kort ’n goeie pak slae.” Hy sug. “Maar dit word mos nie meer toegelaat nie. So ek gaan jou detensie gee. Volgende kwartaal.” Hy trek ’n boek nader. “Hoe lyk jou Vrydae?”

      “Nee, asseblief, meneer, slaan eerder.” Hulle speel elke keer dié speletjie. Victor kyk reguit na die hoof. Verbeel hy hom of is daar so iets van ’n glimlag om sy mondhoeke?

      Hy byt op sy tande toe hy buk. Hy weet baie goed dat dit soos die hel se voorkamer gaan brand. Hy weet ook die hoof sal diep in die moeilikheid wees as iemand van die slanery uitvind. En hy weet die hoof weet hy sal nooit praat nie.

      Ten minste kan hy darem nou weer ’n paar merkies aan die binnekant van sy das maak. Hy het reeds vyf-en-veertig “verdien” – een vir elke hou wat hy gekry het. En nou, so voor die vakansie, raak dit ’n ronde vyftig.

      Victor hoor die lat swaai. ’n Klapgeluid. Toe kom die brandpyn en hy voel of hy wil opstyg. Hy troos homself egter met die gedagte dat dit nie verniet is nie. Ou Jordaan gaan nog ’n rukkie lank suffer.

      ’n Minuut of wat later verlaat hy die kantoor. “Dis nou al die hoeveelste keer dié jaar,” sê die een sekretaresse vir die ander. Dan vra sy sagter: “Maar wat kan jy nou van sy soort verwag?”

      2

      Skokkend!

      Victor maak die veters van sy hardloopskoene vas. Hy deel sy kamer met ’n ander ou, maar Joe is weg vir die vakansie. Dit beteken hy het vir drie weke lank die kamer net vir homself.

      Maar om alleen agter te bly, bly maar goor.

      Tog is hy al gewoond daaraan. Dis nou net hy en die kinderhuis vir die vakansie . . . en Ruben, oftewel Fluitjie.

      Maar Fluitjie tel nie.

      Op pad uit gaan klop hy aan Fluitjie se deur. “Kom jy draf?”

      Fluitjie kyk hom aan asof hy van die maan af kom. “Draf?”

      “Ja, draf. Wat party mense doen om fiks te bly en gewig te verloor.”

      Fluitjie