François Bloemhof

Rillers 4: Ou Langklou


Скачать книгу

om al die pad soontoe te hardloop. “Sersant moet gou kom!”

      Sersant Smit kyk gesteurd op van agter sy lessenaar. “O, dis al weer jy.”

      Victor sien Jenny en haar ouers is by hom en hulle is besig om iets te bespreek. Wat maak hulle hier?

      “Sersant, juffrou De Goede het haarself doodgeskok! In haar huis!”

      “Juffrou Ia?” vra Jenny.

      “Ja! Ek was nou net daar. Sy was nat van die reën, toe gaan die ligte af, toe wil sy die trip-switch aanskakel, toe skok dit haar. Sy lê daar in haar kombuis, sy’s dood!” probeer Victor vinnig verduidelik.

      “Ons moet dadelik gaan kyk!” sê Jenny se pa.

      Hy is Mooidraai se burgemeester.

      “Wag net eers, meneer,” sê sersant Smit. “Dié mannetjie is vol streke. Altyd besig met die een of ander grap.” Hy kyk Victor skerp aan. “Hy’s die een wat verlede maand met ’n groot lawaai hier ingestorm het en vir my assistent gesê het die veldjie agter die skool brand en daar is kinders wat daar speel wat lelik kan verbrand. En toe is daar g’n so iets nie.”

      “Ek maak nie nóú ’n grap nie!” skree Victor verontwaardig. “Dis waar!”

      “Ek dink jy moet liewer loop. Ek het nie nou tyd vir jou nonsens nie. Ek en meneer Marais is in die middel van reëlings vir die Jong Mejuffrou Mooidraai-kompetisie.” Sersant Smit draai na meneer Marais en dit lyk vir Victor asof hy hom gaan ignoreer.

      Victor gryp Jenny se arm. “Sê vir jou pa ek lieg nie. Asseblief!”

      Sersant Smit swaai verwoed om. “Jy lieg altyd. Het ek nie gesê jy moet jou loop kry nie? Ons is besig.”

      Maar Jenny tree tussenbeide: “Pappa, Victor het al oor goed gejok en grappe gemaak, dis waar, maar dié keer dink ek praat hy die waarheid.”

      4

      “Wat ’n verrassing!”

      Victor is eerste by die tuinhekkie in toe hulle by juffrou Ia de Goede se huis kom.

      “Sersant, dalk is dit beter dat Jenny en haar ma eerder hier buite bly.”

      “Hy’s reg. Mevrou Marais, as u en u dogter vir eers hier kan bly – hier onder die afdak, dan bly julle immers droog. Dinge lyk dalk nie mooi daar binne nie.”

      Sersant Smit klink darem nou asof hy vir Victor glo. Hy loer nogtans kwaai na hom onder sy dik wenkbroue deur.

      Victor se hart klop woes toe hy by die voordeur kom. Die deur is effens oop, soos hy dit gelos het toe hy polisiekantoor toe gehardloop het.

      Hy stoot dit wyer oop en die honde begin blaf agter in die huis.

      Hy lei sersant Smit en Jenny se pa in die gang af.

      “Wat ’n verrassing!” sê juffrou Ia toe hulle in die kombuis kom. “Drie gaste! En julle is net betyds!”

      In haar lang hande hou sy ’n perfekte melktert vas.

      “Maar, maar . . .” stotter Victor.

      “Jy het weer vir my gelieg, jou klein nikswerd!” bulder sersant Smit.

      Die honde gaan histeries aan die kef.

      “Sersant,” sê juffrou Ia, “sulke taal . . .”

      Victor voel hy gaan flou word van afgryse. Hy druk sy hande oor sy ore. Hy kan die honde se gekef nie langer vat nie. Hy wil ook nie hoor wat sersant Smit nou gaan sê nie, maar dit help nie. Kef-kef-kef, dreun dit in sy ore en hy hoor sersant Smit se stem.

      “Juffrou de Goede, ek is siek en sat vir hierdie mannetjie se stories. Dis tyd dat hy ’n les geleer word.” Die sersant mik met sy hand na Victor se kop om hom te klap.

      Victor retireer. “Ek het nie gelieg nie! Sê vir hulle, Juffrou. Van hoe Juffrou geskok is. Ek was seker Juffrou is dood!”

      Juffrou Ia kyk hom ongelowig aan. Dan sit sy haar lang hand teen sy voorkop. “Voel jy sleg, Victor? Of dalk is jy koorsig en hallusineer jy.”

      “Nee, dis Juffrou wat sleg voel. Of sleg gevoel hét! Juffrou het nét daar gelê en gelyk of Juffrou dood is!”

      Victor wys na die plek op die vloer, maar waar daar ’n poeletjie was, is dit nou kurkdroog.

      Hy staar verslae na haar. Sy het nou ’n donkerblou rok met geel blommetjies en ’n groen voorskoot aan. Haar wangetjies is rond en pienk, en haar hare is weer netjies in ’n stywe bolla vasgemaak.

      “Toe maar, Victor,” sê sy besorg. “Sit jy net daar, dan gee ek vir jou ’n stukkie melktert. Dit sal jou sommer beter laat voel. Moet ek dit vir jou opwarm?” Sy beduie na die mikrogolfoond.

      “Ek kan nie glo ek het wéér vir die mannetjie se slenters geval nie,” mompel sersant Smit.

      “Ek wil nie jou simpel melktert hê nie!” skree Victor vir juffrou Ia. “Jy wéét dit het gebeur! Ek het dit gesien!”

      “En wat presies het gebeur?” Sy lag verdraagsaam. “Die een oomblik het jy nog hier gesit, toe spring jy op en hardloop weg asof Satan self agter jou aan is. Ek het aangeneem jy het iets iewers vergeet. Sersant, en meneer Marais, sit gerus, dan kry julle elkeen ’n lekker stukkie melktert.”

      Sersant Smit trek ’n stoel uit. “Dankie, Juffrou. Dit sal my gemoed goed doen. U melktert is immers deur die hele Mooidraai bekend en geliefd.”

      Juffrou Ia laat haar kop sak. “Jinne, sersant . . .”

      Meneer Marais sê: “Victor, moenie net so rondstaan nie. Gaan sê vir my vrou en Jenny hulle kan maar inkom.”

      “Gaan sê jy self vir hulle. Ek is nie jou bediende nie!” Victor storm by die kombuis uit. Hy voel vernederd én bang. By die voordeur loop hy Jenny en haar ma amper onderstebo. Hy hoor Jenny roep, maar hy hou aan met hardloop, kinderhuis toe.

      5

      Liefde en malheid

      ’n Paar middae later stamp hy Jenny amper weer uit die aarde uit, voor die supermark. Hy het tandepasta kom koop en sy het uit die winkel langsaan gekom toe hulle in mekaar vasloop.

      “Haai, vir wat is jy so haastig?” Jenny probeer hom aan die arm gryp, maar hy ruk los en stap aan. “Victor, ek praat met jou.” Sy loop agter hom aan.

      Victor stop vir ’n oomblik en mompel iets wat soos “yes” klink.

      “Geniet jy jou vakansie tot dusver?” vra sy vrolik, want sy kan sien hy is in ’n goor bui.

      “Dit kan gaan.”

      “Het iemand jou vies gemaak?” Sy val langs hom in.

      “Nee.”

      “Waarheen gaan jy?”

      “Sommer net iewers heen.”

      Sy vererg haar. “As jy nie met my wil praat nie, sê net so, ou grompot!”

      “Jy dink seker ook ek’s mal. Oor die ander dag. Of jy dink ek het maar weer gelieg.”

      “Victor . . .”

      Hy gaan staan en draai na haar. “Jy glo my nie, nè?”

      Jenny raak ongemaklik. “Ek moet erken, dit klink nie . . . Ek meen, ek kon mos sien juffrou Ia makeer niks nie.”

      “Wel, sy hét iets makeer. Sy was dood. Ek het met my eie oë gesien hoe sy geskok word. Sy het net daar gelê en sy was . . . dóód.”

      “Dalk was sy net vir ’n rukkie bewusteloos. En toe sy bykom, onthou sy niks daarvan nie. Die skok was letterlik en figuurlik te groot.”

      “Nee.