François Bloemhof

Rillers 4: Ou Langklou


Скачать книгу

sal volgende kwartaal maer word,” sê Fluitjie en vat ’n yslike hap uit ’n doughnut – een van vele wat in ’n papiersak voor hom op die bed lê.

      “Ja, sure.” Victor loop vies in die gang af.

      Dis Fluitjie se eie skuld dat hy geen pelle het nie. Die ander ouens speel rugby of krieket of neem aan die een of ander iets deel, maar Fluitjie doen niks behalwe eet nie. Hy is altyd op sy eie, net hy en sy eetgoed.

      “Mevrou Roos?” roep Victor buite die kinderhuistannie se toe kamerdeur.

      Sy maak oop. “Ja, Victor?”

      Hy glimlag. Mevrou Roos is een van die min mense wat nie met hom praat asof hy ’n stuk rubbish is nie.

      “Ek gaan gou draf, mevrou.”

      “Reg so, my kind. Ek is maar hier rond, jy hoef nie die voordeur te sluit nie. Sit dit net op knip as jy inkom.”

      Breker, mevrou Roos se Rottweiler, kyk op toe Victor uitgaan. Victor vryf oor sy kop. Breker is ’n kwaai hond, maar hulle kom goed klaar.

      Hy begin draf. Hy het sy skool al baie bekers met atletiek besorg. Dán wil hulle van hom weet. Dan is hy goed genoeg vir die res van hulle, dink hy bitter.

      Hy besluit om liewer op sy hardloop te konsentreer. Hy verbeel hom elke keer as hy sy linkervoet neersit, dryf hy ’n duiwel uit.

      “Victor is vol duiwels,” het hy eenkeer ’n onderwyser hoor sê. Hulle sal ook vol duiwels wees as hulle pa elke aand dronk by die huis lê. As hulle ma skielik net doodgegaan het . . .

      Hy voel hoe sy oë brand van die trane wat hy probeer keer. As hy kwaad word, wil hy tjank. Hy skud sy kop. Hý gaan nie tjank soos ’n pateet nie. Die ander dag het hy Fluitjie sien huil toe hy met die fiksheidtoets nie teen die tou kon opklim nie. Nou is hy en daardie einste loser die enigste oorblywendes in die kinderhuis, terwyl die ander almal vir die vakansie na gesinne of hulle ouers toe is.

      Hy kón na sy pa toe gegaan het as hy wou. Maar om weer te moet toekyk hoe sy pa saans die een glas whiskey na die ander drink – nee dankie!

      Skielik val daar ’n druppel op Victor se wang. Dit ook nog!

      Die druppels begin harder val. Dis wat hy van die wintervakansie haat – jy het al die tyd om dinge te doen, maar jy kan nie buite wees sonder om nat te reën nie.

      Na ’n paar minute is sy frokkie deurnat, maar hy is warm gedraf en voel nie die koue nie. Laat die ryk ouens in sy klas maar gym toe gaan, hy het niks anders as draf nodig nie. As hy met ’n ou op die skoolgrond fight, is dit altyd sy teenstander wat met ’n bloedneus of sonder ’n voortand daar wegsluip.

      Skielik is daar ’n skel geluid naby Victor en hy trap amper skeef.

      Dis Noesjka.

      Of is dit Felicity?

      Wat ook al haar naam is, hy het amper oor een van juffrou Ia de Goede se hondjies geval. Die twee wit poedels lyk so eenders, hulle eie ma sal hulle nie eens uitmekaar ken nie.

      Die poedel sit reg in die middel van die pad en kef histeries. Dit klink asof sy enige oomblik ’n hartaanval kan kry. Haar pootjies is nat en vol modder en haar lyfie wip op en af van opgewondenheid. Sy het op die een of ander manier uit die erf gekom.

      Dan hoor Victor die ander een ook. Sy is aan die ander kant van die heining in juffrou Ia se voortuin. Ook sy klink histeries.

      Die twee hondjies is alewig by wanneer juffrou Ia iewers koek of pasteitjies in die dorp aflewer. As een van hulle iets moet oorkom, sal dit haar hart breek. En ’n motor kan enige tyd om die draai kom en die keffertjie doodry.

      Victor loop stadig nader. As hy die hondjie net bo-oor die hekkie kan lig en haar in die tuin neersit, kan hy in vrede verder draf.

      Noesjka (of Felicity) grom en wys tande toe hy nader kom, maar hy gryp vinnig en kry haar agter die nek beet. Sy raak aan die spartel en probeer hom van alle kante af byt. Haar agterpote se naels kap in sy frokkie. Die materiaal skeur, en deur die lang skeur sien Victor die rooi haal op sy bors. Hy vloek gedemp. Dis so amper of hy los haar net daar in die pad dat sy maar vrekgery word.

      Maar hy lig haar oor die hekkie en sit haar veilig in die erf.

      “Jongman?”

      Juffrou Ia staan in die tuin. Sy moet al ’n hele rukkie daar gestaan het, want haar klere en hare is goed nat. “Wat maak jy?”

      “Die brak was in die pad, Juffrou.” Hy weet sy wil nie “tannie” genoem word nie. “Toe dag ek . . .”

      “A, ek sien. Ek het die blaffery gehoor.” Sy kom nader en tel die hondjie op. “Dankie dat jy my ou juweeltjie gered het. Felicity, hoe sê jy vir die gawe jongman?”

      Felicity blaf asof sy betaal word.

      “Sy sê dankie,” vertaal juffrou Ia. “Wat is jou naam?”

      “Victor, Juffrou.”

      “Dankie, Victor. Jy is nat en koud, kom in, dan gee ek jou ’n koppie lekker warm tee en ietsie te ete.”

      “Dis nie nodig nie, ek . . .”

      “Ek dring daarop aan,” lag juffrou Ia en beduie na haar huis.

      Dis hoekom party ouens haar ou Langklou noem, dink Victor: sy het die langste hande wat jy jou kan voorstel – lank en benerig en hulle beweeg vinnig. Dié dat sy so lekker kan bak. Dis raakvatter-hande daai.

      Die huis is donker en ruik muf toe hy juffrou Ia binnetoe volg, maar hy is bly om uit die reën te kom.

      Juffrou Ia skakel die kombuislig aan. “Sit jy nou net daar,” beduie sy na ’n stoel by die kombuistafel. Sy druk haar grys bolla reg en vee haar gesig en hande aan ’n handdoekie af wat oor die wasbak hang. “Dan maak ek vir jou tee en warm ’n stukkie melktert in die mikrogolfoond op.”

      Die twee modderbesmeerde poedels gaan lê onder die kombuistafel en hou hulle ounooi heeltyd dop. Af en toe loer hulle senuweeagtig in Victor se rigting.

      Juffrou Ia vat met haar lang linkerhand ’n bordjie vas en sny met haar lang regterhand ’n stuk melktert af. Sy sit dit in die mikrogolfoond en skakel dit aan.

      Die volgende oomblik is daar ’n helder flits gevolg deur ’n harde klapgeluid –wat die hele kombuis in duisternis laat.

      Victor spring verskrik op en die twee poedels begin weer histeries kef.

      Juffrou Ia klik haar tong en skud haar kop. “Felicity, Noesjka, stil julle twee. Moenie jou bekommer nie, Victor, dis net die krag wat afgegaan het.”

      “Hoe’t dit gebeur, Tannie, ek bedoel, Juffrou?”

      “Ag, ou huise het maar hulle nukke.” Juffrou Ia staan op haar tone om ’n paneel met skakelaars by te kom. “Die ou trip-switch lol maar altyd,” mompel sy.

      Net toe juffrou Ia aan die skakelaar wil vat, sien Victor haar nat klere en die poeletjie water waarin sy staan.

      “Juffrou Ia!” roep hy uit. “Moenie aan . . .”

      Dis te laat. Daar is ’n oorverdowende slag, dan ’n helder geel flits wat dwarsdeur die kombuis trek. Dit lyk asof juffrou Ia ’n moderne dans doen. Haar bolla het losgeruk en haar grys hare staan soos weerligstrale om haar kop. Haar hele lyf ruk. Dit lyk of sy vibreer soos ’n battery-aangedrewe speelding.

      “Ieeeeeeeee! Aaaaaaaaaa!” skree arme juffrou Ia soos die elektrisiteit deur haar lyf trek.

      Victor storm op haar af om haar te help, maar net betyds besef hy hy moenie aan haar raak nie, hy sal ook geskok word. Hy kyk hulpeloos toe, onseker wat om te doen.

      Dan is dit stil. Juffrou Ia lê inmekaargesak op die vloer. Noesjka en Felicity kom snuffel by haar. Dan begin hulle kef soos brandalarms wat afgegaan het.

      Maar juffrou Ia bly doodstil lê . . .

      3