nie. My matriargale moeder sal dit as ’n belediging beskou om hom Albie te noem.”
“As Ernst hom nie sy oupa se familiename gegee het nie, sou julle hom steeds wou hê?”
“Ja.” Dieter bêre sy pyp, staan op en stap deur toe. “Ek het die naweek vry en bly tot Sondagaand op Upington. Ek sal graag beter kennis wil maak met my naamgenoot.” Met sy hand op die deurknop draai hy na Rothea. “Sal dit geleë wees as ek hom môremiddag om drie-uur kom haal om die aand en nag by my deur te bring?”
Rothea se oë is groot en donker en haar handpalms skielik klam. “Die nag by jou deurbring? Tot wanneer?”
“Sondagaand, wanneer ek teruggaan plaas toe.”
“Alleen?”
Dieter begryp wat sy bedoel. “Ek is nie onmenslik nie, Rothea,” sê hy sag. “Ek sal Albie nie onmiddellik van jou wegneem nie.”
“Wanneer dan? Oor ’n week? ’n Maand?”
“Moet jou nie vooruit daaroor bekommer nie. Drie-uur dan?”
“E ... Albie slaap gewoonlik tot drie-uur,” probeer Rothea uitvlugkans soek.
“Vieruur?” stel hy voor.
“Dis die tyd wanneer ek gewoonlik met hom in die park gaan loop,” skerm sy.
“Ek sal hom neem en jou ’n ruskans gee. Is vieruur geskik?”
Rothea druk die agterkant van ’n moeë hand teen haar oë, waar die trane baie vlak sit. Dis die begin van die einde, soos tant Betta altyd sê: jy kan nie ’n rivier se water met ’n sif keer nie.
“Miskien ...” Sy sluk pynlik en begin weer. “Miskien kwart oor vier. Hy slaap soms langer.”
“Kwart oor vier is in die haak. Ek sal met Hanna reël. Auf wiedersehen. Schlafen sie wohl. Tot siens. Lekker slaap.”
Rothea het op skool Duits geneem. Sy verstaan wat hy sê, maar antwoord Dieter nie in sy eie taal nie.
“Goeienag.”
Toe hy weg is, tel Rothea Albie op en hou die klein lyfie styf teen hare vasgedruk terwyl sy vrye teuels aan die trane gee. Môreaand dié tyd is Albie weg ... Die eerste nag dat hulle geskei is. Hoeveel nagte sal hulle nog bymekaar wees?
Dieter was reg toe hy gesê het dit sal selfsugtig wees om Albie tot elke prys by haar te hou, besef sy. Sal hy eendag vir haar dankie sê wanneer hy van die eende en skaaplammers, honde, katte en volop speelplek hoor? Van sy eie ponie wat hy kon gehad het? Van sy erfenis waarvan sy hom ontneem het?
Op agtien sal Albie waarskynlik al uit die skool wees. Sal hy nie dan dalk uit eie keuse na haar toe terugkom nie? Dis ’n strooihalmpie om aan vas te hou. Maar dis eers oor sestien jaar ...
“Melle, ’seblief?” vra Albie.
“Ja, my liefie, jy kan melk kry,” belowe Rothea boetvaardig, jammer omdat sy hom wakker gemaak het en wetende hy moet dors wees ná al die soetigheid en naarword. Sy sit hom nie terug in die bed terwyl sy die stoof aanskakel om die melk te verhit nie. Met Albie op haar arm, loop sy na die venster. Sy lig ’n hand om die kantgordyn weg te skuif en na die straat onder die venster af te kyk.
Dieter Richter is besig om in sy groot Duitse motor te klim. Terwyl sy kyk, lig hy ’n hand om te wuif en haar teenwoordigheid by die venster te erken. Rothea laat die gordyn haastig sak en stap weg, kwaad vir haarself omdat sy Dieter Richter nie in sy peetjie kon laat wegry het en meer selfbeheersing aan die dag gelê het nie. Sy weet mos hy bly by die duur en weelderige Hotel König. Hoekom wou sy kyk wanneer hy wegry? Wat maak dit aan haar saak watter kant toe hy ry?
2
Ernst het nie die waarde van geld geken nie. Ses maande voor die tyd al het hy vir Barbara die duurste en spoggerigste stootkarretjie gekoop wat hy kon kry: rooi en witgestreep met fraiings om die sonskerm. Die karretjie maak Rothea hartseer, tog geniet sy dit om Albie in die straat af te stoot. Dis asof sy ryk is ...
En Albie geniet die Saterdagoggend-uitstappies om kruideniersware te koop. Soos gewoonlik kry hy ’n suigstokkie by Herr Mentz van die supermark en ’n appel by tant Betta van die groentewinkel.
“Waarom lyk jy so bedruk, hartjie?” wil sy weet, terwyl sy ’n groot rooiwang uitsoek. “Het Ernst se mense weer gelol?”
Rothea knik en tant Betta sug gelate. “Jy kan nie die Grootrivier met ’n sif keer nie, meisie.” Sy hurk voor die stootkarretjie. “Dus gaan jy ’n regte Richter word, Albie, en ook eendag met ’n lang, slap kar rondry?”
“Dis nog glad nie ’n uitgemaakte saak dat ek gaan instem nie,” keer Rothea.
“Wat die ryk Richters wil hê, kry hulle.”
“Ek gaan Albie se goed inpak en padgee. Vlug ... Johannesburg toe. Ek kan altyd by ’n ander hotel werk kry.”
Tant Betta bedien ’n klant en kom dan terug na Rothea. “Ek hoop nie jy het regtig aan so ’n onsinnige plan gedink nie?”
Rothea is ernstig. “Ek het. Laas nag toe ek nie kon slaap nie, het ek aan alle moontlike uitweë gedink. Ek kan selfs tikster word, of sekretariële werk doen. Of in Pretoria gaan woon.”
“Hulle sal jou opspoor en so ’n dom ding sal water op die Richters se meul wees. Hulle sal sê jy is onverantwoordelik en nie bevoeg om ’n kind te versorg nie. Hoekom hom wegneem? As Albie kon kies, sou hy waarskynlik sê hy verkies Hoffnung se kasteel bo tant Betta se groentewinkel.”
“Aan wie se kant is tante?” verwyt Rothea.
“Albie s’n. Én jou kant. As jy weet hy het alles wat sy hart begeer, kan jy weer ’n normale jongmeisie wees, sorgvry en met geld om ’n slag weer vir jou ’n nuwe rok te koop. Onthou, hy ís immers ’n Richter, of dit wil of nie. Hy is geregtig om soos een te leef. Barbara sou nie wou hê haar kind moet swaarkry en gebrek ly nie. Sy het van mooi dinge gehou. En Albie aard na haar ...”
Rothea se gesig is somber terwyl sy die volgelaaide karretjie terugstoot woonstel toe. Albie se oë blink en sy wange lyk soos die appel wat hy present gekry het. Rothea kyk met teerheid na hom. Die gedagte om hom te verloor, is pynlik. Tog bly tant Betta se woorde by haar.
Sy pak die kruideniersware weg en maak Albie se gunstelingkos vir middagete. Slap skyfies en springmielies, en koeldrank met ’n lepelvol roomys daarin. Die kleuterskool se dieetkundige sou oor die voedsaamheid van die ete gefrons het, maar Rothea is lus om Albie te bederf. Dalk die laaste keer?
Sy raak al hoe meer gespanne hoe nader dit aan kwart oor vier raak. Sy het Albie se tas gepak, haar eie hare gewas en haar vleiendste rok aangetrek: ’n liggroen sonrok wat die groen in haar oë uitbring en haar hare ’n donkerder rooi maak. Die ry sproete oor haar neus is nou minder opvallend en haar vel sagter. Sy sit selfs grimering aan en trek hoëhaksandale aan.
Waarvoor? vra sy vir die spieël. Om Dieter te beïndruk? Hy stel in Albie belang, nie in haar nie. Sy kan gister se langbroek en verslete T-hemp aanhê, vir al wat hy sal omgee. Rothea weet al dié dinge en dat sy vir hom ’n struikelblok na sy einddoel is, ’n irritasie en ’n meulsteen waarvan hy ontslae wil raak. Tog, om vieruur borsel sy weer haar hare sodat hulle los oor haar skouers val en soek die parfuum wat Theo vir haar gegee het.
Albie het ook sy beste kerkklere aan en sy probeer hom skoon hou met ’n prenteboek en stories van die drie bere en Rooikappie.
“En toe vra sy vir Wolf: ‘Hoekom is Ouma se ore so groot?’” vertel Rothea met groot oë vol dramatisering. In die stil straat hoor sy ’n motordeur toeklap en haar stem weifel: “En toe ...”
“Wattoe?” por Albie haar aan.
“Anderdag vertel ek wattoe. Oom Dieter is hier om jou te kom haal en julle gaan lekker in die park speel.”
Vandag het Dieter nie weer ’n pak aan nie, maar ’n wit seilbroek en ’n hemp wat sy oë blou laat lyk. Rothea herken hom skaars agter die reuse-teddiebeer en bus wat