Daar was skynbaar ’n misverstand. Die bedoeling is nie dat jy saamkom nie. Dis beter dat Albie geleidelik gewoond raak dat jy nie altyd by is nie.”
Rothea se wange word rooi. “Ek het my nie ... nie reggemaak nie,” stamel sy verleë. “Ek gaan uit. Ek het ’n ... ’n afspraak vanaand.”
Selfs in haar eie ore klink dit onoortuigend.
“Hoe laat bring jy Albie môre terug?” wil sy weet.
“Nie later as vieruur nie.”
Albie is ongeduldig toe Rothea hom te lank groet en te styf vashou. Hy wriemel los en draf vooruit die gang af.
“Geniet jou afspraak,” sê Dieter.
Toe hulle weg is, bel Rothea een van die meisies wat saam met haar ontvangsdame by die Augrabies-hotel is. Voor sy te terneergedruk raak en weer begin huil, moet sy liewer geselskap soek en gaan kuier.
“Haai,” groet sy. “Het jy iets aan die gang, Wanda?”
“Ja, duisende dinge! Of ... eintlik net één, maar die ding is so beeldskoon dat ek hom nie deur my vingers wil laat glip nie. En ek moet wraggies vanaand werk! Op ’n volmaan-Saterdagaand ... Kan jy dit glo? Ék kon nie, toe ou Hessler my bel en sê Marie is siek en ek moet inkom.”
“Wat makeer Marie?”
“Niks nie, raai ek. Sy het seker ook meer lus vir haar kêrel as vir werk. Ons sou gaan partytjie hou en gaan dans het. Ek het hare laat doen en alles. Ek is sommer lus en bedank!”
Rothea kyk deur die woonstel, waar Albie se doeke voor die venster hang en van sy speelgoed op die bank lê. Enigiets is beter as om die hele middag en aand alleen hier te sit. Sy moet besig bly, om haar gedagtes af te lei.
“Ek sal in jou plek gaan werk,” bied sy aan.
Wanda gee haar nie kans om van plan te verander nie. “Jy is ’n skatlam! As Gerhard dink wat ek hoop hy dink, kan jy my strooimeisie wees.”
Die naaste wat sý aan die kansel sal kom, dink Rothea. Op pad hotel toe maal die woorde van ’n ou volkspeleliedjie deur haar kop. Almal het maats, net ekke nie ... Of sal Theo haar weer kom opsoek wanneer Albie nie meer by haar is nie?
Rothea sorteer die hotelgaste se pos in die verskillende vakkies agter die ontvangtoonbank. Haar vingers klem om ’n kamersleutel wat sy aan die rak wou hang. Hoekom het sy netnou gedink “wanneer” Albie weg is? Hoekom nie “as” nie? Berus sy dan reeds in die wete dat sy hom gaan afgee? En, ás sy die stryd verloor, wíl sy Theo terughê? Barbara was nie erg oor hom nie, onthou sy. Haar suster het haar destyds al gewaarsku Theo het nie genoeg ruggraat nie en syne is ’n mooiweerliefde. Ernst was te gaaf om te kritiseer, tog het hy ook gepraat van ’n ander ou aan wie hy haar wil voorstel. Hulle het Theo van Wyk beter opgesom as sy.
Rothea vul die hotelregister in vir twee oorsese toeriste wat die valle kom besigtig. Terwyl sy skryf, skuif ’n gesig tussen haar en die pen en die bladsye in. Donker hare wat soos ’n skoolseun s’n vooroor oor sy voorkop val. Blougrys oë en ’n vierkantige ken met ’n effense kuiltjie in wanneer hy glimlag. Soos toe hy gesê het: “Nie ’n tipiese voorbeeld van ’n gevestigde oujongnooi nie ...”
“Nee, ek wil nie!”
“Pardon?” vra die een Amerikaner. “My address?”
Rothea skud haar kop selfbewus en gaan aan met skryf. Is dit wat eensaamheid aan ’n mens doen – dat jy naderhand hardop met jouself begin praat? In teenstelling met Dieter Richter is Theo so opwindend soos gister se weervoorspelling, dink sy; sy wil hom nie terughê nie. Sy kan nie glo dat sy dit eens op ’n tyd oorweeg het om met om te trou nie. Maar wat help dit om te bespiegel of sy Dieter of Theo verkies? Nie een van die twee wil háár hê nie.
En wat help dit om “nogal aantreklik” te wees?
Rothea is moeg en tam toe sy laat die aand terugstap huis toe. Sy is nie lus om haar te haas nie, toe sy in die gang kom en haar telefoon hoor lui.
“Hardloop!” roep tant Malie, die buurvrou, uit toe sy verbykom. “Jou foon het van sesuur af aanmekaar gelui. Dit moet dringend wees.”
Albie! dink Rothea dadelik. Sy kan nie haar sleutel raakvat om die voordeur oop te sluit nie. Iets het met Albie gebeur. Hy het weggeraak. Of hy is siek.
“Hotel König hier,” sê ’n manstem. “Bly asseblief aan vir meneer Richter.”
Dit ís Albie, besef Rothea paniekbevange.
“Goeienaand, Rothea?”
Ondanks haar bekommernis gaan ’n tintelende gevoel deur Rothea by die aanhoor van die warm, diep stem.
“Wat is verkeerd?” wil sy weet.
“Luister self ...” Dieter se stem vervaag toe hy die gehoorbuis wegdraai. In die plek daarvan klink agtergrondgeluide wat aanvanklik vir Rothea onbekend is. Tot sy die geluide as gille en skreeue herken. Onmiskenbaar dié van Albie.
“Wat makeer hom?” vra sy ontsteld.
Dieter hoor haar vraag vaagweg, tussen die lawaai deur. “Makeer hom? ’n Akute aanval van bedorwenheid, dis al. Ek het nog nooit tevore ’n kind met so ’n humeur teëgekom nie. Hoekom het jy hom nie van kleins af geleer om sy humeur te beteuel nie?”
“Albie is nie humeurig of bederf nie,” verdedig Rothea hom. “Hy is nog ’n baba. Hy is in ’n vreemde omgewing met vreemde mense en hy is bang.”
“Ek kan niks hoor wat jy sê nie,” sê Dieter ergerlik. “As ek jou kom haal, sal jy oorkom?”
“Natuurlik.”
Rothea se hart wil breek toe sy haar indink hoe die arme kleintjie voel. Sy moes geweet het hy is nog te jonk om ’n nag uit te slaap en moes Dieter gewaarsku het. Maar hy sou nie na haar geluister het nie. Sy pak haastig ’n tas met die noodsaaklikste, sluit haar woonstel en draf die trap af om by die ingang te wag. ’n Minuut later hou die Mercedes stil.
“Jy was slim, Rothea Beukes,” sê Dieter grimmig. “Jy het die kind baie afhanklik van jou grootgemaak. Of het jy hom voorgesê om so ’n kabaal op te skop sodat ek sal skrik en hom terugbring?” Hy laai Rothea se tas in en trek weg.
“Ek het gehoop Albie slaap teen dié tyd lankal.”
“Slaap ...?” Dieter laat sy sin onvoltooid en kyk wrewelrig na haar. “Ek het verskeie kere gebel. Jy was tot baie laat uit gewees. Het iets gebeur?”
Maak dit aan hom saak? wonder Rothea. Of is die enigste rede hoekom hy omgee, omdat sy nie beskikbaar was toe hy haar nodig gehad het nie? Rothea wil sê sy is haar eie baas en kan uitbly so laat sy wil, sonder dat dit iets met om te doene het. Maar sy waag dit nie. Dieter Richter se gesig lyk soos ’n donderwolk en sy is bang vir die hael en blitse.
“Ek het gewerk,” antwoord sy.
Dieter se wenkbroue lig ongelowig.
“Werk? Ek dag jy het gesê jy het ’n afspraak.”
“Ek was by die hotel. Een van die ontvangdames was siek en ’n ander een het reeds reëlings getref om uit te gaan, toe bied ek aan om haar plek in te neem.”
“Jy hoef nie soveel moeite met ingewikkelde verduideliking te doen nie,” antwoord Dieter koelweg. “Jy skuld my niks nie.”
Rothea trek haar skouers agteroor en haar ken lig uitdagend. “Goed, my kêrel se motor het op ’n verlate pad sonder brandstof gaan staan. Is jy nou tevrede?”
Dieter brom iets in Duits wat Rothea nie verstaan nie. Hy ignoreer haar en konsentreer op die pad.
Sy suite is op die derde verdieping van die hotel. Toe die hyser se deure oopskuif, hoor Rothea Albie se histeriese gehuil.
Die kinderkamer loop uit die sitkamer. Albie staan regop op sy deurmekaar beddegoed, sy twee vuisies desperaat om die tralies van sy bababed geklem en sy gesig opgehewe van al die gehuil. Langs hom lê die nuwe teddiebeer en bus, ’n karretjie