huis in Birmingham probeer kry. Sy skryf dit op haar hand en pak toe al haar goed op. Sy kan hierdie oproep nie in die biblioteek maak nie. Almal om haar sal dit kan hoor.
Buite loop sy om na die kant van die gebou, sit haar rugsak neer en skakel die nommer met bewende hande.
’n Polisiebeampte antwoord.
Emily maak keel skoon. “Um … ek wil ’n misdaad aanmeld. Of dalk ’n moontlike misdaad.” Sy vryf oor haar voorkop. “Is daar ’n speurder met wie ek kan praat?”
“Mevrou, as jy ’n misdaad wil aanmeld, kan ons iemand uitstuur om jou verklaring af te neem.”
Sy bly stil toe iemand verbyloop en toe persoon buite hoorafstand is, sê sy: “Nee, ek bel van ’n ander plek af, maar ek moet vir iemand vertel wat ek weet.”
Sy wag terwyl sy deurgeskakel word na die speurafdeling. Dis ’n vrou wat antwoord. “Speurder Stone.”
Skielik verstar Emily. Sy dwing die woorde uit. “Um … ek het die persoon wat die telefoon geantwoord het gevra om my deur te skakel na ’n speurder omdat ek ’n misdaad wil aanmeld.”
“Wat is u naam, asseblief?”
Sy weet hulle sal dit nie ernstig opneem as sy naamloos probeer bly nie. “Emily Covington. Ek bly in Atlanta.” Sy hoop die speurder herken nie haar naam nie. “Ek sal dit waardeer as my naam stilgehou kan word. Iemand het vanoggend ’n bom onder my motor geplant en ek dink dit kan hiermee verband hou.”
“’n Bom? Het jy dit by die polisie aangemeld?”
“Ja, ek het.” Sy sug. “Maar dis nie die misdaad wat ek wil aanmeld nie. Sien, ek werk Saterdae by ’n rehabilitasiesentrum vir dwelmverslaafdes …”
“Ja,” sê die vrou met duidelike ongeduld in haar stem.
Emily maak haar oë toe. Sy pak dit agterstevoor aan. “Nee, wag bietjie. Eers moet ek vertel dat hier vanoggend ’n moord in Atlanta was. ’n Man wat ek ken wat in die rehabilitasiesentrum was … dit was sy vrou.”
“Dis buite ons jurisdiksie. Bel die …”
“Nee, luister net eers. Ek dink iemand in Birmingham gaan volgende vermoor word.”
Daar is ’n rukkie stilte en toe sê die stem: “Gaan voort. Ek luister.”
“’n Paar maande gelede was ek by die werk toe ’n klompie van die inwoners na die fliek Strangers on a Train gekyk het. Het jy dit al gesien?”
Speurder Stone sug. “Dame, kan jy ter sake kom? Watse misdaad is gepleeg?”
Emily loop op en af terwyl sy praat. “Die fliek is deel hiervan. Dit gaan oor twee mans wat daaroor praat om moorde uit te ruil, sien? Een stel voor dat hy die ander een se vrou sal doodmaak as die ander persoon sy pa doodmaak. Ná die fliek het hierdie twee mans ’n belaglike plan uitgedink om mekaar se vrouens dood te maak. Ek het gedink hulle maak ’n grap, maar vandag het ek gehoor een van die vrouens is dood.”
Daar is ’n stilte. “Wat is die naam van die vrou wat dood is?”
“Devon Lawrence. Maar soos ek gesê het, sy was hier in Atlanta. Die ander vrou bly in Birmingham. Ek is bang sy kan volgende wees. Haar naam is Cassandra Price en haar man is Carter Price. Ek dink hy gaan sy vrou doodmaak! Of … nie hy nie, maar die ander man. Die een wie se vrou reeds dood is. Bo Lawrence van Atlanta.”
Die vrou is weer stil. Emily hoop sy maak aantekeninge. “Goed, jy dink dus hulle gaan mekaar se vrouens vermoor. Ons het geen jurisdiksie oor misdade in Atlanta nie en hier het nog niks gebeur nie, as ek jou reg verstaan.”
“Wil jy regtig wag tot sy dood is? Sy is ’n gawe vrou, maar haar man het ’n agtergrond van dwelmmisbruik. Hy dink dalk nie logies nie. Is daar nie iets wat jy kan doen nie?”
Die vrou antwoord nie. “Dame, kan jy my sê hoe ons met jou in aanraking kan kom?”
Emily huiwer. “Ek het vir jou gesê wat my naam is, en my nommer is op jou lys van oproepe wat ontvang is. Gaan julle enigiets hieromtrent doen of nie?”
“Ek het ’n aantekening gemaak van die inligting wat jy verskaf het. Ek sal sorg dat iemand die omgewing patrolleer.”
“Ek het juis gevra om met ’n speurder te praat, omdat ek gedink het jy sal daarheen kan gaan en die vrou kan waarsku. Ek het gedink jy sal kan uitvind waar Carter was toe die vrou in Atlanta vermoor is.”
“Ja.” Daar is weer ’n lang stilte. Wat maak sy? Beduie sy vir ’n ander speurder om te luister na hierdie mal storie?
“Baie dankie vir die inligting, juffrou Covington. Ons sal dit opvolg.”
Sy ondervind ’n opwelling van hoop. “Sal julle regtig? En sal julle dit gou doen, want iets kan enige oomblik gebeur?”
“Gee my jou kontakbesonderhede.”
Wat wil hulle doen? Haar kom arresteer? Sy wil aflui, maar weet hulle het reeds alles wat nodig is om haar op te spoor. Sy gee haar adres en telefoonnommer en beëindig die oproep. Sê nou die vrou het haar nie ernstig opgeneem nie? Die storie klink te ongeloofwaardig, te vergesog. Sê nou hulle doen nie betyds iets nie? Sê nou Carter se vrou word ook doodgemaak terwyl Emily iets kon doen om dit te verhoed?
Maar sy het reeds iets gedoen. Tog kan sy nie staatmaak op die polisie in Birmingham nie. Hoe weet sy hulle gaan Carter en Bo keer?
En die bom …
Sou Bo die tyd afgestaan het om die bom te plant en toegelaat het dat sy eie kinders op sy vrou se liggaam afkom? Of was dit Carter? Dis net twee uur se ry van Carter se huis af.
Wat sal Carter doen as Emily bel om sy vrou te waarsku? Dalk sal hy besef dis te laat en sy planne laat vaar as hy weet enige aanslag op sy vrou se lewe kan voor sy deur gelê word? Dit kan dalk die vrou se lewe red. Maar dan kan hy en Bo hulle dalk met mening op Emily wreek.
Die hele besigheid is belaglik. Is dit enigsins moontlik dat hierdie mans wat blykbaar van haar gehou het, haar nou wil doodmaak? Hulle was verslaafdes, maar hulle het na goeie mense gelyk toe hulle nugter was.
Daar is egter geen waarborg dat hulle stééds nugter is nie. Trouens, hulle is waarskynlik nie.
Sy maak haar oë toe. Dis ’n toets, dink sy. ’n Nog groter toets as om nugter te bly. Hierdie toets vereis dat sy die regte ding moet doen.
Sy probeer weer om vir Kent te bel. Vir die tweede keer kry sy dadelik stempos. Haar oë skiet vol trane terwyl sy wag vir die sein. “Kent, dis Emily. Bel my asseblief. Ek weet dalk wie die bom geplant het.” Sy huiwer en sê dan: “Dis ’n man in Birmingham en sy naam is Carter Price. Ek het pas met die polisie daar gepraat. Bel my, dan vertel ek jou alles.”
Sy beëindig die oproep en oorweeg dit om haar ma te bel. Sy kyk op haar horlosie. Haar ma sal nou besig wees om gereed te maak vir die voorlegging en verwelkom waarskynlik reeds van die kerkmense. Sy wil haar ma se planne nie weer in die wiele ry nie, veral nie op so ’n belangrike dag nie. Haar ma het haar hele onderneming verloor weens al die noodgevalle wat sy moes hanteer toe Emily dwelms gebruik het. Nou het sy weer ’n kans gekry in ’n beroep waarvan sy baie hou en as hulle hierdie kontrak kry, sal sy jare lank verseker wees van werk.
Sy sal in elk geval daarop aandring dat Emily moet bly waar sy is en niks doen nie. En dan kan Carter se vrou haar lewe verloor.
Emily se hart klop wild waar sy op die trap langs die sydeur van die biblioteek sit. As sy vir Cassandra bel en haar waarsku en vertel wat gebeur het, kan dit dalk haar lewe red. Maar sê nou Carter antwoord die telefoon?
As dit gebeur, sal sy sê sy bel om hom van Bo se vrou te vertel. Dalk sal sy hom op ’n indirekte manier kan laat verstaan dat sy weet wat hy in die mou voer.
Voor sy verder daaroor dink, skakel sy die nommer.
Die telefoon lui een keer, twee keer … drie keer …vier keer …
Uiteindelik skakel die antwoordmasjien