Terri Blackstock

Ondergang


Скачать книгу

die polisiemotors en brandweer saam met ’n ambulans daar sien staan, net soos by die moordtoneel. Hy verlustig hom in die gevoel van mag. Hy alleen het al hierdie oproer veroorsaak sodat polisiespanne op dieselfde oggend na twee verskillende plekke uitgestuur is.

      En hulle weet nog nie eens die helfte daarvan nie. Terwyl hy bestuur, stel hy hom die pyn voor wat Emily moet verduur. Dalk brandwonde op haar pragtige, ligte vel. Dalk die skending van haar mooi gesig. Die vrees dat hy weer sal toeslaan …

      Hy ervaar ’n vlaag van opwinding toe hy by die straat indraai en twee polisiemotors en ’n brandweerwa voor die huis sien staan. Hy lag en stel die musiek sagter om nie die aandag op hom te vestig nie. Hy sit ’n donkerbril op sodat niemand hom moet herken nie en ry teen normale snelheid verby.

      Emily staan in die voortuin met skuim wat soos vars sneeu oral om haar lê. Sy het toe glad nie seergekry nie. Hulle het klaarblyklik die brand geblus voor enigiemand seergekry het.

      Nou ja, dis ook oukei. Die bom het in elk geval gewerk.

      Hy probeer dink wat nou sal gebeur. Hulle sal nie die bom met hom kan verbind nie. Hy het seker gemaak dat daar geen vingerafdrukke is nie. Dit was net ’n bottel, petrol, kleefband en ’n elektriese draad. Niks wat hulle na hom kan lei nie.

      Emily sal nou angsbevange wees en gedurig oor haar skouer loer uit vrees vir die persoon wat haar wil doodmaak. Dit is wat hy wil hê. Sy en haar oulike gesinnetjie sal in vrees leef.

      Hy sal dit geniet om ’n ruk lank met hulle te speel voordat hy dit finaal beëindig.

      Hy lag hardloop terwyl hy weer die musiek harder stel, ry toe ’n paar kilometer verder en gaan hou in ’n stegie stil om ’n streep kokaïen op te snuif. Hy is bomenslik, in beheer, heerser oor sy onderdane. Onaantasbaar en onkeerbaar. Hy het die afgelope twee dae ‒ sedert hy sy vryheid verklaar het ‒ niks geslaap nie, en hy kan nie onthou wanneer hy laas geëet het nie. Hy het geen behoefte aan die dinge wat gewone mense vir oorlewing nodig het nie.

      Die lewe was nog nooit lekkerder as nou nie.

      Hoofstuk 9

      Hoofstuk 9

      Kent het die vibrasie van die telefoon in sy sak geïgnoreer terwyl hy Bo Lawrence omtrent sy vrou se agtergrond uitgevra het. Die persoon sal maar moet wag tot hy klaar is.

      Maar toe steek Rick, die sersant by ontvangs, sy kop by die deur in. “Kent, Barbara is op die foon. Sy sê dis ’n noodgeval.”

      Dit het nog nooit tevore gebeur nie. Barbara weet as hy nie haar oproepe beantwoord nie, is dit omdat hy in ’n situasie is waar dit vir hom onmoontlik is. As sy die polisiekantoor bel en vir Rick sê dis ’n noodgeval, moet iets ernstig verkeerd wees.

      Hy vra verskoning, gaan uit en vra Rick om vir Bo ’n bottel water of koffie te bring. Dit man het heelwat trane gestort nadat die werklikheid tot hom deurgedring het en hy is waarskynlik gedehidreer en dors. As hulle hom gemaklik maak, sal hy dalk meer gewillig wees om te praat.

      Hy kry ’n stil plek op die trap buite die deur en gaan sit terwyl hy sy foon uithaal en Barbara se nommer skakel.

      Sy antwoord dadelik. “Kent?”

      “Hallo, meisie. Jammer ek het nie geantwoord nie. Ek was besig met ’n onderhoud …”

      Sy val hom in die rede. “Iemand het ’n tuisgemaakte bom onder Emily se motor geplant …”

      Hy spring regop. “Wat?”

      Sy blaker die storie uit met ’n stem wat hees van die trane is. Hy kan dit nie verdra dat sy so ontredderd moet wees nie. “Kent, ek weet nie wat aan die gang is nie. Sy het die afgelope tyd so laat huis toe gekom en saam met AA-vriende uitgegaan …”

      “Dit beteken nie sy gebruik weer dwelms nie, Barbara. Sy is ’n student. Hulle is gewoond aan laat nagte.”

      “Maar dis kranksinnig. Dis een van daardie dwelmslaaf-dinge, jy weet? Belaglike, onverklaarbare dinge wat met haar gebeur. Ek weet nie wat om te doen nie.”

      Kent kyk terug na die ondervragingskamer. Hy kan seker die man laat gaan en later die dag verder met hom praat. Hy behoort seker na sy kinders te gaan kyk, sy vrou se familie te laat weet …

      “Nou kyk, ek kom dadelik. Sê vir die mense wat daar is om vir my te wag. Ek wil die toneel sien en praat met die mense wat dit ondersoek het.”

      “Goed. Ons moet uitvind wie dit gedoen het voordat hulle haar regtig seermaak.”

      “Ons sal.” Hy stoot die deur na die aanklagkantoor oop. “Sy het toe ongedeerd daarvan afgekom?”

      “Ja. Sy is net geskok.”

      “Dis ’n wonderwerk,” sê hy. “God bewaar die kind. Hou daaraan vas. Ek sal binne ’n paar minute daar wees.”

      Hy beëindig die oproep en gaan terug na die ondervragingskamer.

      Bo het sy water al opgedrink en sit met sy gesig in sy hande. “Bo, ek laat gaan jou nou, maar bly in die nabyheid ingeval ek weer met jou moet praat. As jy dink aan enigiets anders wat ons moet weet, of hoor van iets wat ’n leidraad in die saak kan wees, bel my by hierdie nommer.” Hy gee Bo ’n kaartjie met sy selfoonnommer.

      Bo staan stadig op en beweeg asof hy deur water loop. Asof hy nie weet waarheen hy moet gaan, met wie hy moet praat of wat hy moet doen nie.

      “Jy sal seker jou vrou se familie moet laat weet,” sê Kent.

      Bo knik. “Ja, ek sal.” Hy bly staan net en staar in die niet.

      “Is jy oukei?”

      “Ja. Ek … het net nie my motor hier nie, so …”

      “Ek sal een van ons mense kry om jou terug te neem na die winkel waar jou motor is. Maar jy kan nog nie by die huis ingaan nie. Hulle ondersoek nog die toneel.”

      Hy vryf oor sy gesig en sy mond bewe. “Kan ek haar sien?”

      Hulle het nog nie die liggaam weggeneem nie. “Nog nie nou nie, maar iemand sal jou bel sodra jy kan.”

      Bo knik met leë oë asof hy in sy gedagtes soek na ’n beginpunt om hierdie nagmerrie te verwerk. Kent tref reëlings dat iemand hom moet neem waar hy ook al wil gaan, en draf toe na sy eie motor om na Barbara se huis te ry.

      Hoofstuk 10

      Hoofstuk 10

      Toe Emily uiteindelik by die universiteit opdaag, is die toets al ’n uur gelede verby. Sy moes verder as gewoonlik stilhou omdat die parkeerterrein vroeg reeds vol was en moes toe oor die kampus na die administrasiegebou loop waar haar geskiedenisdosent se kantoor is. Hy het ’n streng beleid dat studente net op grond van ’n mediese sertifikaat van ’n toets verskoon kan word, maar sy klem die polisieverslag in haar hand vas in die hoop dat hy hierdie keer ’n uitsondering sal maak. Kan ’n poging tot moord nie beskou word as net so geldig soos griep nie?

      Sy kry dr. Ingles in sy kantoor waar hy met ’n oop deur sit en werk aan ’n stapel antwoordstelle. Hy is ’n groot man met ’n kaal kop en ’n boepmaag en het altyd ’n frons op sy gesig. Sy het nog nooit buite die klas met hom gepraat nie, en nou voel haar mond droog. Sy kug en klop teen die deurkosyn.

      Hy kyk op na haar en leun toe ver agteroor. “Wel, wel, juffrou Covington. Ek is bly jy het uiteindelik opgedaag.”

      Sy haal diep asem en dink daaraan dat die mense van Georgia hou van formele aanspreekvorms. Sy moet net onthou om dit gebruik. “Doktor, mag ek met u praat?”

      “Jy het nie opgedaag vir jou toets nie, juffrou Covington. Dis ’n jammerte.”

      Sy kan nie sommer net sê iemand het haar probeer doodmaak nie. Sy wil nie hê dit moet weer ’n skinderstorie word wat soos ’n veldbrand versprei nie. “Ek was vanoggend betyds gereed om by die huis te vertrek, maar my motor het aan die brand geraak. My broer het my beduie om te stop en ek kon uitkom sonder dat ek beseer is, maar ek moes vir die brandweer en die polisie wag …”

      Hy