sal Emily vra om my vanmiddag op te laai as ons dan nog nie ’n motor kon huur nie.”
Hy draai by die parkeerterrein in en ry tot by die hoofingang. “Bel my as jy nie regkom nie.”
“Ek sal eerder ’n taxi bel voordat ek jou daarvan weerhou om ’n moordenaar vas te trek.”
“Ek kan ’n tydjie afknyp om jou op te laai, Barbara.”
Sy huiwer voor sy uitklim. “Dink jy hulle het genoeg bewyse gekry om te weet wie die bom geplant het?”
“Ek hoop so. Ek sal op hoogte bly van wat daar aangaan, meisie. Ek sal jou ook op hoogte hou. Laat weet my onmiddellik as enigiets verder gebeur.”
Sy soen hom liggies en hy kyk haar agterna tot sy binne is. Hoewel hy onderbreek is in die middel van sy moordsaak, laat dit hom goed voel dat mense vir wie hy lief is, hom nodig het. Hulle is nog nie sy gesin nie, maar dit voel vir hom asof hulle is.
Hy verskuif op die sitplek en voel in sy sak na die ring. Dis nog daar. Wanneer moet hy haar vra? Die middel van ’n raaiselagtige moordsaak is nie die regte tyd nie. En die bom het verdere komplikasies meegebring. Nee, hy wil haar vra op ’n manier wat hulle sal onthou, wanneer daar niks sal wees om haar vreugde te bederf nie.
Terwyl hy terugry na die moordtoneel, bid hy woordeloos dat Emily se ervaring vanoggend nie die begin van ’n nuwe dwelmverslawing aandui nie. As sy geswig het en weer dwelms gebruik, sal die gevolge baie meer verreikend wees as wat sy kan besef.
Barbara verdien dit nie. Sy het reeds meer deurgemaak as wat enige ma behoort te verduur.
Hoofstuk 12
Hoofstuk 12
Lance haat dit om laat te kom vir geskiedenis, veral wanneer daar ’n spul voetbalspelers is wat daarin behae skep om hom te verkleineer.
Die deur is toe, dus klop hy voor hy ingaan. Mnr. Herman bly in die middel van ’n sin stil en steek sy hand uit vir Lance se toelatingstrokie. Lance oorhandig dit. “Jammer dat ek laat is,” mompel hy.
“Wil jy verduidelik waarom?” vra mnr. Herman.
Lance wil nee sê, en dat hy nie voor die hele simpel klas daaroor wil praat nie, maar dit sal net die marteling uitrek. Hy besluit om alles net uit te blaker. “My suster se motor het aan die brand geraak. Groot gesinsdrama. Brandweer en alles.”
So ja. Dit is nie die hele storie nie, maar genoeg om as ’n verskoning te dien.
“Dit klink na ’n geldige verskoning,” sê Herman.
Daar klink giggelgeluide deur die klas op. “Lance het baie drama in sy gesin,” sê Randal, die tweedespan-quarterback. “Hy is ’n superheld, julle weet.”
Lance voel hoe sy wange warm word toe hy in sy sitplek neersak.
“Ja, mnr. Herman, hy is ’n CIA-agent en in sy vrye tyd beveg hy misdaad en red meisies wat in gevaar verkeer.”
Die klas lag en Lance kners sy tande, maar sê niks. April Pullen, sy vriendin wat agter hom sit, tik saggies op sy skouer.
“Hy is net ’n paar maande gelede in die hart geskiet,” sê een van die ander voetbalmanne.
“Met ’n silwerkoeël,” las Randall by.
Lance het lankal geleer om nie te reageer wanneer hulle hiermee begin nie. Maar April laat hoor van haar. “Nie in die hart nie, in die longe.”
“Dis reg,” sê die quarterback. “Die longe. Hy was vier dae lank dood en toe het hy wonderbaarlik bygekom sodat hy kon voortgaan met sy lewensroeping om die wêreld van misdaad te bevry.”
“En toe het die Marsmanne in sy agterplaas geland en hom saamgeneem ruimte toe.”
Die klas geniet dit. Lance grinnik om te maak asof hy dit ook geniet. “Randall weet dit omdat hy saam met my ruimte toe is. Net jammer van die brein-eksperimente wat hulle op hom uitgevoer het.”
Nou lag die klas saam met hom.
“Dis nou genoeg, mense,” sê Herman. “Lance, ons is bly jy het betyds opgedaag. Ek was net besig om vir die klas te sê dat ons môre ’n toetsie gaan skryf.”
Wonderlik. Lance haal sy boek uit sy rugsak en maak dit oop. Hy weet nie eens met watter hoofstuk hulle besig is nie. Hoe kan hy ooit ’n toets deurkom?
Ná die klas pak hy tydsaam sy lêer en boek in sy rugsak in die hoop dat sy teisteraars sal weg wees voor hy uitgaan.
“Is jy oukei?” vra April.
Lance haal sy skouers op. “Ja. Dit was net ’n slegte oggend.”
“Moenie jou aan hulle steur nie. Hulle is skobbejakke.”
Hy het dit meer as een keer oorweeg om hulle die litteken op sy bors te wys, of sy mediese verslae of die nuusberigte oor sy ontvoering en die poging om hom dood te maak. Maar dis nie die moeite werd nie. Hulle kan dit sien as hulle sy Facebook-inskrywing lees, maar hy wou die meeste van hulle nie nooi as vriende nie. ’n Paar het probeer. Niemand het genoeg belanggestel om ’n Google-soektog oor hom te doen nie. Dit sou sy storie bevestig het. Maar al het hulle uitgevind dis waar, sou hulle net iets anders gekry het om hom mee te treiter.
Hy het sleg weggespring toe dit rugbaar geraak het dat hy die berugte Emily Covington se broer is. Haar reputasie is olie op die skindervure.
Toe Lance voor die klas aan ’n onderwyser genoem het dat hy die vorige jaar in die long geskiet is, het die gerug dat hy belaglike stories versin omdat hy jaloers is op sy suster se berugtheid, soos ’n veldbrand versprei. Die klas het hom as ’n grap beskou. Al sy pogings om te bewys dat dit waar is, het hom net meer ongeloofwaardig laat lyk. Later het hy opgehou om homself te verdedig.
Net April, wat haar eie, aweregse koers volg, het tyd vir hom. Dit is egter nie so sleg nie, want April is ’n oulike buitestander. Hy lê snags wakker om planne te maak oor hoe hy die grens tussen vriendskap en romanse met haar kan oorsteek. As hy genoeg moed bymekaar kan skraap, wil hy haar nooi as sy maat vir die oudstudentedans.
Sy vat sy hand en trek hom op. “Toe nou, mnr. Spock, vertel my van die brand.”
Dit laat hom beter voel en hy tel sy rugsak op om haar na buite te volg.
Hoofstuk 13
Hoofstuk 13
Emily kry ’n stil plekkie in die biblioteek en haal haar skootrekenaar uit om te werk. Voor sy haar aantekeninge oproep, teken sy op Facebook aan. Na wat vandag met haar gebeur het, wil sy met haar vriende praat. Haar bladsy is privaat en haar vriende is die mense wat sy werklik ken, nie die vreemdelinge wat elke dag vriende wil word nie. Die meeste van die mense wat toegang tot haar bladsy het, is ook verslaafdes wat besig is om te herstel, party het sy tydens haar behandeling leer ken, party deur die AA en party het die program by Haven House, die plek waar sy werk, gevolg. Die bom sal hulle ontstel, maar hulle sal begrip hê vir haar ma se paranoia oor haar moontlike terugval. Die mense in hulle lewens hou hulle gedurig dop en blameer hulle vir enige slegte goed wat gebeur.
Op Facebook sien sy dat ’n hele paar van haar vriende ook aanlyn is. Sy klik op haar vriendin Sara, wat sy by Haven House ontmoet het, en stuur vir haar ’n kitsboodskap.
Jy sal nie glo wat vanoggend met my gebeur het nie.
In plaas van daarop te reageer, kom daar ’n kitsboodskap van Sara. Het jy gehoor van Bo se vrou?
Emily frons. Sy ken net een Bo. Hy was ook ’n inwoner van Haven House toe Sara daar was, maar albei is al ’n paar maande gelede ontslaan.
Nee, wat van haar?
Sara se antwoord kom vinnig. Sy is vanoggend in haar bed vermoor!
Emily snak na haar asem en skuif weg van die rekenaar terwyl sy na die boodskap staar. Vermoor? Bo se vrou is dood?
Sy dink aan die twee klein kindertjies wat Devon saamgebring het na Haven House om hom Saterdae te besoek. Een was net ’n baba en die ander