vir Jeremia. Daardie droewe ou profeet van God. Toe die Here hom roep, vra Hy: “Wat sien jy, Jeremia?” En die wenende antwoord: “Ek sien ’n amandeltak.” Waarop die Here reageer: “Jy’t reg gesien. Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het.”
Ek skrik toe ek dié woorde onthou. Ek gaan terug die huis in. Na my bidplek toe. “Wat staan U gereed om te doen?” vra ek, ontstellende oorlogstonele lewend voor my. Eers hoor ek niks. Sodat ek myself tot bedaring maan. “Wág op die Here!” het Dawid gesê. Toe eers begin sy geliefde stem tot my deurdring.
Eers verstaan ek dit nie, want wat ek hoor is die Sh’ma, die gebed waarmee gelowige Jode die dag begroet wanneer hulle wakker word. “Luister Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here . . .”
“Waarom sê U dít vir my?” vra ek bewerig.
“Oor die amandeltak en die sneeuklokkies,” hoor ek Hom in my hart sê. “Ek verander nooit. Ek is die begin én die einde.” Ek loop weer buitentoe. Nou sien ek ook die son wat in die wintergroen juig. Die tortelduifies wat knikkend in die gras pik. Die eekhorings se pluimsterte wat teen die wind dans. My twee honde kom na my toe en ek vryf hul sagte ore tussen my vingers. Shlomo, die Siamees, rek hom behaaglik in die son en kyk na my met sy blou-blou oë op skrefies.
En al die tyd bly die Woord by my. “Ek is die begin én die einde. Niks sal handuit ruk nie. Laat die oorlogsgedruis maar woed, Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het.”
Skielik is dit nie meer vir my nodig om te weet wat dit is wat Hy in hierdie situasie gaan doen nie. Want ek wéét Wie Hy is – die Begin en die Einde.
Die enigste Here.
Die boekrol
Ná jare se spaar en lang soektogte op die internet kon Beit Ariel, ons Messiaans-Joodse gemeente hier in die Kaap, uiteindelik ’n goeie, respektabele en bekostigbare Tora-rol koop.
Dis ’n hele 150 jaar oud en uit Oos-Europa afkomstig – ’n kopie van die eerste vyf boeke van die Ou Testament in die oorspronklike Hebreeus of Aramees, noukeurig met die hand op vergeelde perkament geskryf.
Dié kosbare boekrol word soos ’n bruid in die gemeente verwelkom. Die voorganger – seremonieel in blou, wit en silwer tallit – blaas die shofar en vier vroue in feestelike silwer en blou dans sierlik tussen die gemeente deur op die fyn klanke van ’n viool. In albei hande dra hulle ’n brandende lig. “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad . . .”
Dan kom die “bruid” uiteindelik aan. ’n Ouderling bring die Tora-rol binne, byna so groot soos hyself en swáár. Hy dra dit na die béma. Aan die kop-ente van die rol pryk pragtige silwer kokers waaraan klokkies dans. Die rinkel van die silwer instrumentjies versmelt met die silwer note van die viool.
Terwyl die gemeente Bar’chu et Adonai sing, word die Tora-rol in die houtkas agter die béma geplaas. Ontroer herhaal ons die eeue oue Hebreeuse gebede ter ere van die Allerhoogste en sing. Dan haal die ouderling weer die boekrol uit en plaas dit op die béma. Daar rol die voorganger dit by die week se parashah oop en lees ’n gedeelte in Hebreeus voor. Hy gebruik die jad as leeswyser, versigtig om nie die 150 jaar oue boekrol met sy hande te beskadig of vuil te maak nie.
As die Tora-rol by ons verby teruggedra word, steek mense hul hande uit, raak dit aan en soen dan hul vingers. Die silwer klokkies rinkel sag.
Trane verblind my. Ek draai na my vriendin langs my. Ons oë ontmoet. Ons onthou die dag in Jerusalem met Simchat Torah. Hoe ons by die Kotel tussen honderde ander gedans het. Here, hoe lief het ons u woord!
Dis om van te juig saam met die psalmdigter in Psalm 119. “Oor u woord is ek so bly soos iemand wat ’n groot skat in die hande gekry het. In u wet vind ek my vreugde. U woord is baie suiwer, ek het dit lief. U wet is vir my kosbaarder as ’n oorvloed van goud en silwer. Selfs in die middel van die nag staan ek op om U te loof vir u regverdige bepalings. Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond. In u wet vind ek my vreugde. U woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel. Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie. Op u woord kan ’n mens hom geheel en al verlaat. As ek my nie in u wet verlustig het nie, het ek omgekom van ellende. U voorskrifte is vir my ’n lied in my lewe hier op aarde. Hoe lief het ek u wet.” Dit is maar ’n paar van sy ekstatiese uitinge.
“Maar julle aanbid dan ’n Skrifrol pleks van God self!” sê iemand verontwaardig toe ek van die toewyding van die Tora-rol vertel.
Nee, nee, honderdmaal nee! Dis alleen maar heilige respek vir die Woord, vreugde by die aanskoue van die fisieke simbool. Maar dis in Hom, die Lewende Woord, waar ons groter vreugde lê.
As die psalmdigter Hom maar kon ken, hoe groot sou sy ekstase dan gewees het!
Here, hoe lief het ek dié Woord.
Een van ons
In die al te nabye voel ek reeds weer ’n jaarlikse histerie rondom die Advent opbou. Aanvanklik verwys die glansblad-advertensie in my posbus net na die “ongelooflike” prysverlagings. Die “fantastiese” winskopies.
Maar al gou daarna sluip “Kersvader” – wie sou tog ooit só ’n karakter uitgedink het? – se potsierlike postuurtjie oral in. En dan is die vet in die vuur.
Advertensieblaadjies het nou boekies geword met verleidelike prente van Kersbome in alle patrone en vermommings; onweerstaanbaar getooide geskenkpakkies en meer joviale Kersvaders, wit krulbaarde en al, seil weerlose huishoudings binne, werk betowerde kinders tot raserny op, sal ten slotte begrotings en kredietkaarte genadeloos opvreet.
Winkels bult skielik van Kersversierings, goue balle, silwer sterre, glansende stringe. Kerskaartjie-verkope floreer. Enigiets van verspotte Kersvaders tot vrome herders, engele en ’n vleklose Josef en Maria by ’n baba in ’n voerbak. Drankverkope styg dramaties, misdaad neem toe, mense sterf op die paaie.
Vrede op aarde in die mense ’n welbehae.
Jare gelede het ons die wondermooie boek Hij was een van ons met Rien Poortvliet se ontroerende tekeninge en Hanse Вouma se pragtige teks uit Nederland teruggebring.
Dit bly steeds een van my kosbaarste besittings. Miskien was dit die klein begin van my ophou glo dat die Here op 25 Desember gebore is, maar eerder in September of Oktober.
Hoe ook al, dié boek het my vir altyd losgemaak van die beeld van ’n blakende Kerskindjie met blonde krulhare, rustig in sy beeldskone mamma se arms langs ’n stoere pappa en ’n koei wat nadenkend oor hulle staan en herkou.
Poortvliet laat jou ’n hoogswanger, doodmoeë Maria sien wat ongemaklik aan die rug van ’n eseltjie vashou.
Оnder ’n tekening van haar op die harde grond teen Josef aangeleun, die armoedige skaapwagters in ’n skugter hopie voor hulle opgedam, staan hierdie woorde: Een man een vrоиw een kind. Zo menselijkerwijs, zo onontkombaar. Hier hоudt God op en hof. Hoe laat Hij zich kennen.
Twee bladsye verder is ’n volle 30 x 28 cm bladsy met pentekeninge gewy aan ’n peutertjie se eerste twee jaar. Huilend, laggend, gapend, kruipend, eerste treetjies, handjies-klap. Tipies van die eerste foto’s wat elke mamma in haar hart bewaar.
Die volgende twee bladsye bevat ontroerende sepia-agtige bruin en room sketse van Yeshua, ’n tipiese Joodse seuntjie, se vormingsjare: Вaba aan Maria/Miryam se bors, op Josef se skoot die Tora bestudeer, agter sy hondjie aan die hardloop, vyf jaar oud, kippah op die koppie, uit ’n kommetjie melk aan die drink. Оp sy maag met ’n maatjie in die sand aan die lê en teken. In die timmermanswinkel by Pappa gereedskap aan die leer hanteer.
Altyd met die donker krulhare, keppeltjie op sy kop. ’n Gewone kind in ’n alledaagse, eenvoudige huishouding . . .
Al was Hy God, het Hy nie gedink dat sy Goddelike status iets was waaraan Hy ten alle koste moes vasklou nie . . . (Filippense 2:6).
Ek sit soos baie male met dié boek oop op my skoot en kyk uit oor die tuin. By my voete het ’n tortelduifie aarselend in die gras kom pik. Ek kyk na die son op sy veertjies, op sy swart boordjie. So sierlik is die fynste besonderhede.