onverwags vol vir haar klein lyf, val teen die sagte materiaal van haar hemp.
Sonder waarskuwing voel hy die vuur in sy lendene oplaai. Hy verset hom onmiddellik daarteen, kyk doelbewus anderpad. Deur die raam waar hy die eerste aand die Kersboom gesien het en waar eenmaal oompie Willy se bed gestaan het en syne. Die vlam begin langs sy bobene en knieë loop. Toe hy die koppie wat sy so pas by hom neergesit het na sy mond bring, hoor hy tot sy ontsetting sy tande teen die porselein kletter.
“Roedie? Kom, Roedietjie, djy’s mossie bang nie.”
“Toer,” roep hy saggies. “Toer, wees versigtig met my.”
“Ruud, in godsnaam, jy is vyf en dertig!” Maar sy stem is vertederd.
“Nogtans.”
Sy kyk op. “Ek was vroeër by ’n staatsk … ool.” Iets moet in sy oë gewys het, want sy val meteens oor haar woorde.
Haar hande fladder oor haar bord soos opgeskrikte voëls. “Ek het vergeet daar’s nog vars tamaties in die yskas. Uit die tuin,” sê sy gejaag en leun agteroor om die yskasdeur oop te maak.
Toe gly die hoë eetbankie onder haar uit, hy hoor die pote oor die vloer kras, en sy val. Hy is by haar voordat sy self kan regop kom. Agter hulle tjank die hond paniekerig.
Hy weet seker dat hy haar daar en dan kan neem, want sy het bitter min klere aan en hy is bo-oor haar. En haar oë skitter met dieselfde begeerte wat in hom woed. Haar mond is sag en half oop sodat hy haar soen. Sy hou styf aan sy hemp vas en hy voel tussen hulle saamgedrukte liggame na sy geslag. Dit is hard in sy hand.
’n Paar oomblikke kyk hulle verleë na mekaar. Toe sê sy sonder veel oortuiging: “Miskien moet ons mekaar net eers beter leer ken …”
Hulle kom saam regop, stryk stigtelik verleë hulle klere reg. Toe laat sy meteens haar kop teen sy skouer sak en sy sê vinnig, angstig: “Moenie weggaan nie.”
Hy slaan sy arms styf om haar. “Nee.”
Oor haar kop kyk hy na sy ou kamer en sien hoe die kleurryke rûe van baie boeke en tydskrifte en die geel krisante die lig van die oggendson vang. Somers het Oumie die huis altyd dig gehou teen die hitte. Donker koelte, het sy gesê. Nou is alles lig.
“Ruud?” Sy raak teen sy gesig.
Hy kyk af in haar smal gesig met die wilde hare daaromheen.
“Ek sou daardie eerste aand wat jy gekom het al met jou kon liefde maak as dit net op die liggaamlike af gegaan het …”
Sy mond versag. “Sou jy?”
Sy knik. “Miskien moet ons wag tot daar méér tussen ons is …”
Sy oë ontwyk hare en hy trek versigtig lang slierte uit haar hare en draai hulle om sy voorvinger.
“Wat is meer?” vra hy later.
“Miskien sal ons weet.”
Hy soen haar baie keer. “Ek hoop so,” sê hy tussendeur.
Toe hy teen vyfuur by haar kom, lê die laaste mildheid van die Aprildag nog net-net in die sonkolle op die patio. Sy rek haarself behaaglik en stoot die stapel skoolboeke met haar voet uit die pad, haal haar leesbril af. Hy trek haar op en hulle omhels mekaar lank en intiem. In die maand wat verbygegaan het, het daar inderdaad “meer” tussen hulle gekom, maar van die liefdesdaad het hy bly wegskram, al het hulle dikwels dubbelsinnig daarna verwys.
“Kos is al in die prutpot aan die gang,” sê sy. “Sal ons solank ’n wyntjie drink?”
“Lekker.”
“Ek dink ons moet binnetoe, Ruud, sodra die son begin skuinstrek, raak dit yskoud hier.”
“Ek sit nog so ’n rukkie.”
“Oukei, dan gaan haal ek die wyn.”
Hy neem haar hand toe sy by hom verbyloop en trek haar weer na hom toe. “Dis rustig hier by jou.”
“Dink jy maar,” sê sy en soen hom op sy voorkop.
“Mammie, ek vat vir Roedie met my same, nè. Ek gat smokes koep.”
“Ma dis al donke al, Willy …” Sy sit met stopwerk onder die flou elektriese peertjie wat uit die blou emaljeskerm van die dak af hang. Die lig weerkaats in haar staalraambrilletjie se vaal glasies toe sy opkyk.
“Wat maak dit nou yt, Mammie? Hy loep mos met my same.”
“Die kind lykie die donkete nie, boetie Willy,” sê Janey bedeesd sonder om van haar skoolwerk af op te kyk.
“Lossit vi my, Djaney!”
“Djy moet kyk agte die kind, Willy, ek willie moeilikgeite met sy pa same hettie, vistaan djy vi my?”
“Watse moeilikgeite? Hy’s mos syf by my.”
Roedie sit doodstil langs Cilla op die houtbankie. Rex lê met sy kop op sy voorpote en kyk reguit na hom met sy geelbruin Labrador-oë. Hy wil langs die hond gaan lê en sy kop onder sy sagte maag indruk.
“Kom, djy,” sê oompie Willy vir hom en vat aan sy skouer.
“Kan Rex saamloop?” Hy druk sy hande styf onder sy boude in op die bankie en kyk nie op na sy oom nie.
“Vir wat?” vra oompie Willy. “Los hom hiesô, hy fight net mettie anne honne saam.”
Oumie sê niks, maar Roedie sien hoe haar mond plooi. Sy trek die sokkie styf oor die kalbassie en hou dit teen die lig op.
Roedie gaan traag van Cilla se warmte weg en trek sy vingers in die verbygaan oor Rex se kop. Dié gaan regop sit en sy stert tok afwagtend op die vloer.
“Lê, Rex!” sê Cilla gedemp.
Toe hulle buite kom, ruik hy nog die reën wat heelmiddag sag geval het. Dit damp uit die nat dennenaalde waaroor hulle loop. Oompie Willy hou sy hand so styf vas dat sy vingers doodgaan, maar hy praat nie. Sy oom fluit sag tussen sy tande soos hy stap en Roedie kry weer die siek soet reuk wat hy altyd saambring kamer toe as hy saans inkom.
In die winkeltjie is dit bedompig. Die lug hang swaar van die gebrande visolie en ou knoffel. Oompie Willy koop vir hom ’n toffie, maar dis nie van die soort waarvan hy hou nie. Hy kou dit onwillig terwyl hulle terugloop.
“Ons staan eers ’n tydjie hier lat ek kin rook,” sê sy oom toe hulle in die parkie onder die kissing pines deurloop. Hy rook nie in ouma Dais se huis nie.
Sy oom trek hom meteens aan sy trui se kraag nader en Roedie voel hoe skrik teen sy ruggraat afjaag in sy lam bene in. Hy ken die man nie regtig nie. Hy is nooit bedags by die huis nie en saans slaap Roedie al as hy inkom. Dan word hy net half wakker. Maar selfs in sy halfwakkerte voel hy hoe oompie Willy lank na hom staan en kyk. Dan klou hy Beer verskriklik styf teen hom vas. Party aande sit sy oom vir hom ’n lekker voor sy bed neer. Maar hy gee dit altyd vir Janey.
Nou kyk hy versigtig op in die gesig wat verlig word elke keer as oompie Willy aan sy sigaret trek. Dit lyk asof die oë diep in die kop weggesak het. Die neus gooi ’n skaduwee oor die mond, of daar net ’n holte is. Hy dink aan die bobbejaankopbeen wat Janey vir hom in haar skoolboek gewys het.
Skielik kry hy verskriklik koud. Hy wil na Oumie toe hardloop en op haar warm skoot gaan klim. Hy voel die trane in sy oë brand. Miskien kom sy ma hierdie keer nie weer terug nie.
Hy skrik hewig toe hy oompie Willy se hand op sy rug voel. “Roedie?” sê hy. “Ou Roedietjie.” Sy hand loop langs Roedie se ruggraat af en vat oor sy boude. Roedie se lyf tril.
Aan die hemel bokant die dennebome hang ’n groot wit maan. Hy sit daar soos Misses Punt se Persian in die Kissing Pines se takke. Anderkant die bome kan hy die flou liggies van Avonstraat se huisies herken. Skielik skiet oompie Willy sy sigaretstompie met ’n boog deur die lug en kom hurk voor hom. Roedie hou op asemhaal. In die maanlig kan hy die man se oë sien skitter. Hy kan nie wegkyk nie.
Oompie