hoe sy oom se growwe baadjie teen sy gesig skuur en ruik die bedwelmende soet rook daarin. Verlam bly hy in die omknelling staan.
Oompie Willy se hand grawe in sy klere, dwing by sy broekie se rek in. Hy hyg soos Rex as hy in die lande met die perde gehardloop het. Roedie se hart klop so vinnig dat hy aan die versmoor raak. Bitter vog kom in sy keel op. Hy wil skree, maar die man se klere is oor sy gesig en in sy mond. Hy begin wanhopig spartel, maar dit laat die gehyg net erger word.
Die bloed dreun in sy ore, maar hy hoor tog die stemme wat tussen die bome deur kom. Hoë vrouestemme wat praat en lag. Voetstappe wat oor die dennenaalde kraak.
Oompie Willy word plotseling stokstyf stil. Sy hand voel na Roedie se mond, klem daaroor. Roedie spook en byt verwilderd sodat hy sy oom saggies hoor vloek. Maar die hand bly stewig oor sy mond. Toe hy dit uiteindelik wegneem, het Roedie haas nie meer asem oor nie. Dit het weer stil geword tussen die bome. Nog hewiger angs prik in Roedie se koue kopvel en in sy vingerpunte.
Maar dis verby. Sy oom trek eers sy eie klere reg en toe Roedie s’n. Daarna vat hy hom stewig onder die ken en lig sy gesig na hom op. Hy sê niks, maar Roedie sien weer sy oë in die wit lig skitter.
Toe hulle terugstap, begin Roedie huil. Eers probeer hy dit inhou, maar dit word steeds heftiger totdat sy hele lyf daarvan skok.
“Stil, djy!” sis sy oom net een keer en sy vingers knyp pynlik in Roedie se skouerknop sodat hy verskrik ophou. “Djy is nie ’n bybie nie.” Maar dan sit hy sy arm om sy skouer en hulle stap aan huis toe. Dit laat Roedie warmer voel. Hy hoor hom weer deur sy tande fluit.
Wanneer Roedie by sy bed kom, lê daar ’n blou Wilsontoffie op die kussing. Die régte toffie. Hy laat dit deur die venster buite in die malvas val. Toe kry hy trane in sy oë oor hy dit ook wou gehad het.
“Hier het altyd rooi malvas voor die venster gegroei,” sê hy vir Anne sodra sy weer op die patio uitkom.
“Is dit? Miskien moet ek dit ook probeer, dit behoort mooi te lyk, alles is so wit hier. Ek het al soveel dinge probeer, maar niks wil lekker groei nie.” Sy praat te veel omdat sy geskrik het vir die trek om sy mond.
Alexander wat vinnig onder Anne se voete uit padgegee het toe sy met die glase uitgekom het, kom langs Ruud se stoel staan, en lê sy kop op sy voorarm. Ruud draai sy arm om en vat die hond saggies onder sy keelvel vas. “Ek gaan nou in, Rex, dit word te koud hier,” sê hy.
Anne kyk verbaas na hom. “Hoekom noem jy hom Rex?”
Hy frons. “Wat?”
“Jy het vir Alexander ‘Rex’ gesê.”
“Het ek? Sorry.” Hy kyk na Anne. “Kan ons ingaan, ek kry koud hier.”
“Natuurlik. Ek het netnou al gedink dis te koud. Kom.”
In die voordeur skakel sy die verwarmer aan en hy gaan koulik diep in een van die groot stoele neersak. Sy bring sy wyn en kom digby hom op die rusbank sit.
Nadat hy ’n paar teugies gedrink het en weer kleur in sy gesig het, sê sy: “Jy het nog eintlik só min gepraat oor jou lewe in dié huis …”
“Ek onthou net dinge waaroor ek fotoartikels kan maak. Golden memories,” sê hy lughartig.
Sy laat haar nie mislei nie. “As jy so dikwels hier by jou grootouers gebly het as ’n klein seuntjie, moet jy tog ook sekere dinge kan onthou.”
“Daar is dinge wat ek kan onthou. Party is minder goed.”
“Ons het almal ons minder goeie herinneringe,” sê sy terwyl sy oorloop na die boekrak om die kerse aan te steek teen die toenemende skemerte.
“Jy ook?”
Sy kom op die armleuning van sy stoel sit. “Ek ook.”
Hy slaan sy arm om haar skouer. “My ouma en oupa was eintlik die enigste sekerheid wat ek toe gehad het. Miskien die enigste wat ek óóit gehad. Hulle was altyd dieselfde.”
“Dan moet dit vir jou goed wees om weer hier in die huis te kom ná al die jare, al is alles so anders.”
“Ja,” sê hy en hy sug. “Ja …”
Toe hy nie voortgaan nie, vra sy: “Weet jy dalk wat mens hierdie hoë dennebome van Dieprivier noem?”
“Kissing pines.”
Sy kyk verbaas op. “Regtig? Niemand kon nog ooit regtig sê nie. Iemand het gereken stone pines.”
“Nee, kissing pines, dit weet ek vir seker. Dit lyk mos of hulle vooroor buig na mekaar toe om te soen. Ouma Dais het altyd gesê as die norewind in die kissing pines praat, kom die reent binne die uur.”
Sy leun haar kop vertederd teen sy skouer en tog weerhou sy haar daarvan om hom dieper in te vra. Eerder vra sy: “Kan jy nog onthou hoe dit in die dertigs en veertigs hier rond gelyk het?”
Hy hou ingedagte sy wynglas teen die lig van die kerse.
“Constantia was een groot boerdery-area. Ontsettend vrugbare grond. Hope vrugte, vye, druiwe. Hier was van die beste hanepoot in die land. Suikersoet. En perde! Jy kan jou nie voorstel nie. Weet jy, die besigheidsentrum hier agter,” hy beduie, “Constantia Village, waar Pick ’n Pay is? Dit was alles perdestalle. Mister Jardien se perde was dit.”
“Perde?” vra sy geïnteresseerd.
“Daar het nog perdekarretjies voor die winkels gestaan soos in die Wild West-films. Toe ons begin vyftig hier weg is, was dit ’n paradys hier.”
“Die moskee hier agter in Myburghstraat was seker toe ook al hier.”
“Ja, ja, ja! Hier was ’n vooruitstrewende Moslemgemeenskap. My ouma-hulle was Kristene, maar al haar familie was Moslems en baie van hulle vriende ook. Van my héél kleintyd onthou ek die imam wat saans net ná sononder sy gebede van die minaret af geroep het. En met Ramadaan was dit altyd ’n hele gedoente met al die mense wat moes vas, en dan die feesvierings as die maan weer gesien kan word. Ouma Dais se hart was baie daarin, sy het volop Moslembloed in haar are gehad. Maar Oupa was ’n Kristen van Genadendal se Broederkerk en so het sy dit ook geword.”
“Jy onthou dit goed.”
“Miskien moet ek dit eenkeer die onderwerp van ‘’n Brief uit Suid-Afrika’ maak.”
“Dit behoort interessant vir die mense in Nederland te wees. Hulle ken mos Moslems.”
“Ja …” sê hy ingedagte.
Ná ’n rukkie vra sy: “Watter taal het die mense toe hier gepraat?”
“Ons het áltyd Afrikaans gepraat, ons was almal Afrikaans. Moslems, die lot.”
“Ja …” sug sy. “As mens die Apartheidswiel kon terugdraai, hè.”
Hy strengel haar vingers tussen syne. “Ek is spyt dat ek byna heeltemal kontak met my grootouers verloor het toe ons Holland toe is.”
In die tyd wat hulle mekaar ken kon hy hom nog nie so ver kry om haar te vertel hoekom dit die geval was nie. Hy het dit net meer as een maal genoem. “Ek het natuurlik in die Nederlandse koerante baie gelees van wat hier gebeur het, maar oor Dieprivier se mense het jy niks gehoor nie. Distrik Ses het veel publisiteit gekry. Maar my lewe was in elk geval op daardie tyd, in my twintigs en dertigs, met soveel ander … dinge verwikkel dat ek nie baie aandag daaraan gegee het nie.” Hy leun oor om hulle glasies weer uit die bottel Stein vol te maak.
Anne neem haar glas by hom. “Baie keer vra ek myself ook af hoekom het ék in al daardie jare nie ’n veel groter hel ge-raise oor wat hier aan die gang was nie. Maar in ’n sekere sin was mens so versuf deur die aanslae van jou eie persoonlike lewe, kinders grootmaak, vriendskappe kweek, ernstige probleme met jou huwelik, dat jy net nie nog energie daarvoor oorgehad het nie. Nie dat dit ’n wonderse verskoning is nie. Daar was net sóveel ander issues ook …”
“Ek hoor wat jy sê. Ek was daardie tyd nie so erg betrokke by die joernalistiek