haar balans te behou. Sy is halfpad ondertoe toe sy dit hoor.
Drie skote.
Hard en duidelik in die stil aand. En die dowwe weerklank daarvan van die hoë, ronde rots af.
Clara bly versteen staan. Sy sluk krampagtig, bly luister, want die stilte het eensklaps weer dik en dreigend geword. Haar gedagtes soek vervaard na ’n verklaring. Daar móét tog ’n doodgewone verklaring vir die skote wees … Wel, die Struwigs het dikwels skyfgeskiet, dit weet sy. Maar oom Jans Struwig se hande het al gebeef toe sy destyds hier weg is en sy onthou goed hoedat hy dit betreur het dat hy nie meer fyn kon korrel nie. Miskien was dit Barry wat geskiet het. Hy boer mos nou op Kruin en is glo ’n kranige skut.
Clara staan skeefkop en probeer die geringste geluidjie opvang, maar dis grafstil. Net die wind blaas ’n verdwaalde suggie deur die bome laer teen die hang en ’n paar verdroogde blare ritsel grond toe. Sy voel weer angstig, byna soos iemand wat wéét dat daar op hom gekorrel word, en haar skouers krimp ineen. Want iemand het geskiet. As dit nie die Struwigs was nie, moes dit seker die Minnaars gewees het. Janus boer nou alleen op Minnaarshoek sedert sy pa se dood, en Alfons kom glo gereeld huis toe.
Clara blaas die onrus in ’n sug uit. Dan was dit seker maar een van hulle. Sy draai terug en stap vinnig met die paadjie langs wat al hoe breër word namate die hang minder steil raak. Sy kom agter dat sy haar onderlip seer vasbyt. Dink aan lekker dinge wanneer jy bang is, was haar ma se raad toe sy klein was. Wel, sê nou net Barry Struwig of die Minnaars daag op vir vanaand se uitstalling. Sal dit nie lekker wees nie … Sy het wel ’n paar persoonlike uitnodigings gestuur, maar nie aan hulle nie. ’n Soort skuheid het haar daarvan weerhou. Dalk vrees dat hulle haar as kunstenares vreemd sou vind … Dalk reageer hulle tog, soos baie ander mense, op die uitnodiging in die koerantjie. Dié het nogal ’n beriggie ook geplaas en heel geesdriftig uitgewy oor Clara se kuns en haar jare in Italië.
’n Glimlaggie pluk aan Clara se stram mond. Miskien kom hulle tóg. ’n Mens het immers behoefte aan ou bekendes op so ’n aand. Die seuns van agter die berg was so onlosmaakbaar deel van haar wêreld, dat sy haar soms betrap dat sy na hulle verlang. Al het hulle haar meesal vertoorn. Sy wonder of sy toe ooit vir Alfons gesê het wat van sy raad geword het. Swart koffie by die liter het sy gedrink om van haar melkwit hare ontslae te raak. En ’n verskriklike galaanval gekry wat haar die waarheid in trane voor haar ma laat bely het. Tot haar verbasing het haar ma geproes van die lag.
“Ai, Clara! Dis sommer seuns se tergpraatjies, jong.”
“Nee, dis wáár,” het sy gehuil. “Anders sal die ou man in die salpetergrot vir Alfons in ’n slak verander!”
“Nog nooit,” het haar ma getroos. “Ou Sielas is ’n doodgoeie ou siel. Almal weet dat hy nie regtig kan toor nie, kindjie!”
“Is! Is, hy kán!” het sy ontsteld gesnik, gesien hoe Mamoesa se oë groot en wit om die kombuisdeur loer.
Maar Alfons het nooit in ’n slak verander nie. Net al hoe langer en breër geword. En hom al hoe minder aan die bleek dogtertjie gesteur.
Clara kom uitasem by die huis aan en tuur die nag in berg se kant toe voordat sy by die agterdeur ingaan. Maar die donkerte het alles ingesluk. Die pienk en wit van die kosmos en die geel van die herfs. En ook die klap van skote.
Sy skrik toe sy op die horlosie bo die yskas sien hoe laat dit is. Die gaste kan binne ’n halfuur begin opdaag. Sy sal moet spring. Sy wil haar juis mooi maak vir vanaand. Die hele kunstenaarskolonie wat hier in die berge woon, sal kom vir die geleentheid. Die dorpenaars ook. Mense sal wil sien of die wêreld ook dink dat ou Kas se kind talent het. Hulle koop nou wel van haar goedjies, het een tante haar nou die dag gesê, maar hoe moet mens nou weet of die goed iets wérd is?
Clara loer haastig by die sitkamer in. Haar oë vlieg oor die fraai gedekte tafels teen die muur waar kaas en wyn en vrugte smaakvol uitgestal is, die rakke teen die mure waar haar skeppingswerke staangemaak is, die vase vol kosmos wat sy oral neergesit het. Buite op die verligte stoep is daar ook nog van die groter potte en lang, ultramoderne vase. Sal die kunsblaaie ooit iets goeds kwytraak? Twyfel pak haar skielik beet en knaag ’n hol kol op haar maag.
Toe sy eindelik voor die spieël staan om haar hare te kam, het die twyfel en die vrees van vroeër weggesak, en is dit opwinding wat haar effens bewerig laat voel.
Die knalrooi syrok het sy in Rome se Via Veneto gekoop. Dit lééf aan haar lyf. Byna soos ’n vlam. En dit gee haar die wonderlike gevoel dat sy mooi is. Haar witblonde hare blaas sy droog en borsel dit tot dit syig om haar fyn besnede gesig hang. Haar oë kyk groot en baie blou terug na haar, die donker wimpers en wenkbroue treffend in kontras met haar hare. Vanaand het ek kleur, dink sy gelukkig. Ek wens, ek wéns net ’n Minnaar of ’n Struwig kan my nou sien … Want as dié uitstalling slaag, sal ek in my lewe nooit weer bleek wees of bleek voel nie. Clara Coetzer, die befaamde pottebakster, sal hier leef en werk en Kas Coetzer se vaal frustrasie sal uit dié huis wyk om nooit weer terug te kom nie.
’n Klein, byna pynlike suggie ontglip haar toe sy wegdraai van die spieël. Sy tik parfuum agter haar ore en aan haar polse. By al die genoeglikheid om terug te wees in ’n mooie tuiste waar hartseer en blydskap so vreemd vervleg was, bly daar tog die oerverlange om nie alleen te wees nie. Hoe goed het sy dit nie beveg in die stad en in die vreemde nie, soms selfs sonder dat sy dit geweet het. Want dáár was net nooit ’n man wat haar na hom kon laat verlang nie. Maar hier op die hoogland, waar die nagte vol sterre is, hier verlang sy na iemand. Soms skakel sy vroeg saans al die ligte af en sit op die stoeptrappies en kyk na die hemel. Dis soos ’n stad se liggies, net mooier. Vol van ’n ander soort misterie. Dan wens sy sy kan net haar kop teen ’n sterk skouer laat sak, en sag sê: “Sien jy dit ook? Die Suiderkruis … en die Sewegesternte … En kyk hoe laag hang party. Pluk vir my een, tóé!”
’n Naamlose weemoed wel meteens in Clara op, en sy pers haar lippe saam. Waarom wil ek romanse hê? wonder sy half kwaad. My lewe is vol genoeg …
Daar is ’n sagte geskuifel iewers buite en toe ’n kloppie aan die agterdeur.
“Kom solank in, Erna!” roep sy gang af. Erna is ’n nuwe vriendin, een van die dorpshospitaal se verpleegsters, en hulle het een middag in die biblioteek ontmoet. ’n Liewe, joviale mens wat dikwels kom kuier en beloof het om Clara vanaand met die onthaal te kom help.
Maar in die kombuis is daar niemand nie. Clara klik met haar tong. “Ek kom!” roep sy en stap agterdeur toe. Erna se hande is seker vol. Sy het beloof om nog ’n bordjie of wat soutgoedjies te bring.
Clara maak die agterdeur oop en die vrolike groet sterf op haar lippe.
In die deur staan ’n man. Sy een hand is krampagtig om die kosyn geslaan, asof hy daaraan vashou om nie om te val nie. Sy donker kop hang vooroor, losserig asof die nek dit nie meer kan stut nie.
Clara staar stom na die kroontjie waar die swart hare springerig orent staan. Dit voel of sy in gips gegiet is, en sal bars en splinter as sy sou beweeg. Sy sluk stadig, en toe merk sy die bloedrooi kol op die arm wat stil aan die man se sy hang, en sy trek haar asem so vinnig in dat dit pyn in haar bors.
Dis of die hyggeluid tot hom deurdring, want sy kop kom in ’n flou beweging orent, die swartbruin oë versonke in die aswit gesig.
“Sneeuwitjie …” sê hy toonloos, en sy lippe roer asof hy wil glimlag.
“Alfons!” sê Clara klankloos, en blaas die skrik saam met haar ingehoue asem uit. Dis nie ’n booswig nie. Dis net ’n Minnaar – Alfons nogal …
“Kom binne,” sê sy meganies, en steek haar hand na hom uit. Maar skok ruk weer in haar toe sy sien hoe die bloed stadig uit die mou van die beseerde arm op die vloer drup soos uit ’n kraan wat nie goed toegedraai is nie. “Kom tog in!” sê sy weer, dié slag skerp dringend.
Hy knik en laat los die kosyn, steier op sy bene, en sy gryp na hom. Hy slaan die gesonde arm om haar skouers. Sy kyk wild rond in die kombuis. Hiér kan sy hom nie help nie. Die mense is nou-nou hier.
“Kamer toe,” sê sy net, en begin stadig en wankelend met hom aanstap.
Daar