François Bloemhof

Moord in die beloofde land


Скачать книгу

bruin skool sit nie ver van ons huis af nie. Dis nie so groot soos ons skool nie. My pa gaan laai party Saterdae van die kinders in die bruin koshuis op om vir ’n rand in ons tuin te kom werk. Ek en Erik moenie met hulle speel nie, want hulle is hier om te werk, al weet hulle nie altyd wat om te doen nie en trek verkeerde goed uit en dan is my pa weer moerig. Ek dink nie hulle hou van ons nie, maar dalk is dit net oor ek skuldig voel dat hulle moet werk terwyl ek en Erik speel.

      Ek voel te maklik skuldig, sê André. “Dis net hotnots, Samuel.”

      Hy is al een wat my op my naam noem. Jaco noem my ook Bloed. Dalk wil André net hê daar moet een iemand minder wees wat hom Vleis noem. Ek noem hom ook op sy naam.

      Ek kan nooit verstaan hoekom my pa van die koshuiswerkers as “mannetjies” praat, terwyl die skoonmaker by sy spreekkamer ’n “boy” is en hy soveel ouer as hulle is nie.

      Ek lees van The exorcist en Jesus Christ superstar, wat flieks is wat oorsee wys. My ma sê die sensors het besluit ons kan dit nie sien nie. Dis hulle werk om te besluit wat sleg is vir mense.

      “Maar ek kan self besluit!”

      Sy lag. “Jy is tien jaar oud!”

      “Ja, maar …”

      “Jy kan nog nie self oor sulke goed besluit nie.”

      “Maar julle is baie ouer en julle mag dan ook nie.”

      “Maar ek wil dit nie sien nie.”

      “Maar as Ma wóú.”

      “Het jy al jou huiswerk gedoen?”

      Ek hou van monsters. Ek hou van stories oor die duiwel. Die dele met die goeie ouens is vervelig.

      My pa is in die dag by sy spreekkamer. Almal in die dorp kyk wat ons doen, het my ma al gesê. Ek en Erik moet ons gedra en ’n voorbeeld stel. Dan dink ek dieselfde hande waarmee my pa mense gesond maak, gebruik hy om …

      Ek het nog nooit gesien hoe hy haar slaan nie, maar hulle slaapkamer se deur sluit nie dig genoeg nie en ek het al gehoor.

      “Arnold Taylor! Boksgeveg!” het Erik ’n paar maande gelede geroep toe ons een aand weer die geluide hoor. Dis sy hero en hy mis nooit een van Arnold Taylor se fights op die radio nie. Ek het hom probeer stilmaak, toe roep hy net weer: “Boksgeveg! Boksgeveg!”

      Nou is hy ’n bietjie ouer en weet hy wat hy hoor. Wanneer dit gebeur, druk hy sy ore toe of hardloop uit.

      Maar gelukkig gebeur dit nie meer as een keer ’n maand nie. Selfs minder. En dis ook nie altyd so hard nie.

      My ma sal in elk geval nie weggaan nie, want sy is lief vir ons. Ek is nie bang dat sy sal weggaan nie.

      Maar ek ry nooit saam met my pa as hy iets in die dorp wil gaan haal nie. Erik doen dit graag. Ek praat ook nie met hom oor rugby, soos Erik maak nie. My pa lyk partykeer of hy sleg voel oor wat hy gedoen het, maar ek is ook nie seker nie en as hy sleg voel, vir wat doen hy dit dan?

      Ek ry net saam as ek die petrolmeter dopgehou het en dink hy wil die kar gaan volmaak. By een garage kry jy sulke badges van verskillende lande se vliegtuie. Elke keer as jy petrol ingooi, kry jy een, en ek en Erik het borde waarop dit geplak kan word. Jy kan nie kies watter badge nie, hulle gee vir jou een. Dis veronderstel om een-vir-my-en-een-vir-hom te wees, maar Erik het skielik meer van die goed as ek en ek dink my pa het vir hom ekstras gegee.

      Die paar keer wat ek al by die spreekkamer was, het ek soos die belangrikste ou op die dorp gevoel toe ek die mense in die wagkamer sien, en die ontvangsdame, en die verpleegster. Dit moet wees hoe my pa elke dag voel.

      Hoekom het hy dan nodig om …

      “Tie a yellow ribbon round the old oak tree,” sing ek terwyl ek dorp toe loop en wonder watter kleinplaatjie ek gaan koop met die geld wat ek gespaar het, want ek en Erik kry elke Saterdag net soveel soos die hotnotoutjies wat in die tuin werk, “if you still want me …”

      My pickup is stukkend. As jy die ronde ding – die turntable – oplig, sien jy daar is ’n bandjie wat gebreek het. Nou moet ek dit self draai as ek ’n plaat speel, en dis lekker om dit vinnig te laat gaan, dan raak die mense se stemme so snaaks!

      My pa speel dikwels gholf. Mense hou van hom. Dis nie net oor hulle respek vir hom moet hê omdat hy ’n dokter is nie. Hy maak grappies en as ek hom so saam met hulle sien lag, wonder ek:

      Ken ek jou?

      My pa is baie logies, jy kry die indruk hy dink altyd voordat hy iets sê. Sy name is Erik Daniël. Ek dink hy hou daarvan om mense gesond te maak, maar dat dit nie vir hom daaroor gaan dat hulle beter voel nie, dis net goed om hulle te kan verander. Hulle moet regkom omdat hy so sê. Ek dink partykeer hy’t my ma gekies omdat sy mooi is, nie oor iets wat hy gevoel het nie.

      Net soos ek by die skool niks doen om die onderwysers se aandag te trek nie, bly ek uit my pa se pad, al doen hy nooit iets aan my nie behalwe om af en toe goed te sê soos: “Wat sit jy weer net so rond?” of: “Het jy niks om te doen behalwe sit en vet word nie?”

      Ek is nie vet nie.

      Hy is maer.

      My ma sou met hom getrou het omdat sý iets gevoel het. Op die troufoto in die gang, waar hulle staan op gras wat so groen is dat dit my aan lekkergoed laat dink, lyk sy gelukkig. Toe was my pa seker vol beloftes. Hy sou iéts moes gesê het om haar te kry om met hom te trou.

      Aan die ontbyttafel sê my ma: “Julle moet opskud en klaar eet.”

      “Ma, daar’s nog baie tyd,” sê ek.

      “Julle gaan laat wees vir skool as julle so julle tyd vat.”

      “Ons was nog nooit laat nie.” Ek kyk na Erik vir ondersteuning. Hoekom moet ons elke oggend so jaag? Maar hy hou net aan met eet. Hy sê nooit iets wat hom in die moeilikheid kan laat beland nie.

      “Daar’s altyd ’n eerste keer, Samuel.”

      “Ma worry te veel.”

      “Dis nou genoeg. Eet jou kos en maak gou.”

      “Ma sê dan ander kere ons moenie so vinnig –”

      “Samuel! Eet nou of ek roep jou pa.”

      Ek weet sy sal nie. Sy praat dan saggies sodat hy nie moet hoor nie. Hy’t ’n paar minute gelede al van die tafel af opgestaan, maar die reuk van sy Old Spice hang nog in die lug.

      Ek wonder hoe my ma geslaap kry. Hoe sy langs hóm geslaap kry.

      Dis eers onlangs dat ek agtergekom het ons is anders. Ek het gedink dit is so in alle huise. Ek het iets vir André gesê van die blou kol op my ma se boarm, toe vra hy waarvan dit is, toe sê ek my pa het haar geneuk, toe lag André asof ek ’n moerse joke gemaak het. Toe lag ek ook maar.

      Ek wil nie eendag ’n dokter word nie; ek weet nie wát ek wil word nie. André gaan by sy pa in die slaghuis oorneem, sê hy, dis klaar besluit. Jaco gaan weer as hy klaar is met skool – of eers met die skool en dan met die army – in die viswinkel werk tot hy eendag by sý pa oorneem. Ek wil nie na vleis of vis ruik as ek saans by die huis kom nie, maar ek kan my glad nie indink om saans by ’n huis te kom nie.

      Ons sien my ma se familie min, hulle is in die Transvaal. Maar my pa se ma en suster is hier in die Kaapprovinsie en ons sien hulle nóóit nie. Ek het een keer daaroor uitgevra. Net een keer.

      “Hoekom sien ons nooit vir Ouma Lizzie-hulle nie?”

      Toe klap hy my dat ek val en my elmboog op ’n klip oopsny. ’n Dag later het hy vir my ’n comic gekoop en ek het geweet hy wil daarmee sê hy’s jammer.

      4

      Die drang is so intens. Om na die meisie te storm, haar te gryp en …

      Hy kan voel hoe dit sal wees. Sy hande om haar keel, die verrassing in haar lyf, hoe dit onwillekeurig ruk, die geluide wat deur haar saamgeperste stembande ontsnap, hoe sy probeer terugveg.