al swakker raak.
En dan die goue oomblik: as haar lewe syne word – dit vloei by haar uit en by hom in. Daar is geen ander sensasie wat naastenby daarmee vergelyk nie. Aan sy voete soos ’n pragtige dier, hy die jagter.
Maar dan kry hy dit skielik onder beheer, hy weet nie hoe nie. Hierdie keer. Hy kan by die hoek bly staan en kyk hoe sy verder en verder van hom af wegstap.
Verligting in hom, en frustrasie. Die prooi het ontsnap.
Nee, hy het haar laat gaan.
Hy sal nie weer nie.
• • •
Toe hy die volgende oggend wakker word, onthou hy niks nie.
Of byna niks. Net flertsies, indrukke van ’n meisie wat al verder wegstap en iemand – hy? – wat haar om ’n hoek staan en dophou.
Dis vaag, soos indrukke uit drome maar is.
Dit wás mos ’n droom.
5
Die belangrikste dinge in jou lewe gebeur dikwels op ander plekke.
Sy was sewentien en Christiaan Gerald van der Linde sewe-en-veertig. Die besonderhede is op verskeie plekke opgeteken vir dié wat meer feite soek, maar hier is vir eers al die inligting wat nodig is:
Marlene Lehnberg, later bekend as Die Skêrmoordenares maar nou nog ’n skaam meisie soos soveel ander, het ondanks goeie akademiese vordering die skool aan die einde van standerd agt verlaat. Sy was sestien.
Sy het dadelik by die Rooi Kruis Kinderhospitaal in Rondebosch begin werk, in die ortopediese afdeling. Al het sy geen vorige werkervaring gehad nie, was sy ’n vinnige leerder en welkom in dié omgewing waar die meeste personeellede mans was. Die hooftegnikus se van was Louw en die tweede-in-bevel was die senior ortopediese tegnikus, Van der Linde.
Dit was ’n staatsinstansie, waarskynlik nie wat ’n jong meisie in haar drome as die ideale werk sou beskou nie. Kunsledemate en stutte is daar vervaardig, spesifiek volgens ortopediese dokters se voorskrifte.
Die tweede-in-bevel had toe reeds jare se ervaring op dié terrein. Hy was die aktiewe “werker”, eerder as die hooftegnikus wat as konsultant vir die dokters opgetree het, en bekend as ’n perfeksionis. Outoritêr. Veeleisend ook.
Soos ’n pa?
Sy het hom “Van der Linde” genoem.
As aantreklik kon hy nie beskryf word nie. Sy donkerbruin hare was aan die yl raak. Sy lyf was aan die lang kant, hy was groterig gebou. Rooi kolle op sy gesig het mense laat vermoed hy het ’n drankprobleem, maar die oë agter sy bril met die goue randjies was helder en indringend. Meer as een keer nadat hy en ’n vroulike kollega vir middagete verdwyn het, het hulle teruggekeer met die reuk van drank op hulle asem.
Hy was ’n getroude man.
Lehnberg, nie net jonk nie maar ook aantreklik, was ontvangsdame. Sy het vir die pasiënte afsprake gemaak en gesorg dat die rekords bygewerk gehou word. Sy was vriendelik en die gemiddelde persoon wat so ’n instansie moes besoek, sou in daardie stadium ’n glimlag nodig gehad het. Sy het ook geweet hoe om ’n mini en platformskoene te dra.
Wanneer die werkdag verby was, het sy die trein terug vanaf Rondebosch-stasie na Plumstead geneem, of in elk geval aanvanklik. Sy het nog by haar ouers gewoon en haar naweekbedrywighede het hoofsaaklik met die kerk te make gehad, wat ’n groot rol in die gesin se lewe gespeel het. Sondagskool-onderwyseres. Sing in die koor. Dit was die enigste kere dat ’n meisie sonder beswaar van haar ouers se kant kon “uitgaan”. Haar pa was ’n Sewendedagadventis, haar ma van die Apostoliese Geloofsending. Sy moes nog by hulle inwoon omdat die werk haar minder as honderd rand per maand in die sak gebring het, wat selfs in daardie dae min geld was.
Lehnberg het danslesse geneem – skelm, omdat só ’n bedrywigheid nie in haar ouerhuis aangemoedig is nie. Sy het natuurlike grasie gehad en wou die dansery na ’n hoër vlak voer, maar in die omstandighede kon sy nie. Dit was een van die redes wat haar aangespoor het om tog maar uit haar ouerhuis te trek, en sy kry toe verblyf in ’n losieshuis, Stowel Lodge, oorkant die stasie waarvandaan sy elke dag ’n bussie werk toe geneem het.
Stowel Lodge was so goedkoop as wat ’n loseerder kon kry. Die inwoners was hoofsaaklik studente en jong werkers. Dit word vandag nog as ’n losieshuis bedryf – twaalf kamers, groterig, met ’n gemeenskaplike kombuis. Lehnberg het ’n kamer op die boonste verdieping gehad, teen dertig rand per maand twee rand goedkoper as een op die onderste vlak.
Sy het ’n modelkursus gevolg, wat foto’s sou oplewer wat na afloop van die hofsaak dekades lank in diverse publikasies sou opduik. Sy het ook – nog iets wat haar ouers nie sou toegelaat het nie – by die nabygeleë Hussar Grill werk gekry as kelnerin om haar salaris aan te vul.
’n Verdere vryheid was dat Van der Linde by haar in die losieshuis kon gaan kuier.
Gou het hy byna elke dag “laat gewerk”.
En op Wellington weet ’n kind in standerd drie nog nie daar is ’n wonderlike, wrede ding soos seks nie.
6
Erik wil in alles eerste kom. Dit moet vir hom baie sleg wees dat hy nie voor my gebore is nie.
Eerste in sy klas, vanselfsprekend. Al is dit net standerd een, het hy geleer asof hy regmaak vir die matriek-eindeksamen. En hy is goed met rugby en tennis, terwyl ek nie daarvan hou om agter ’n bal aan te hardloop nie. Atletiek ook. Dis vervelig om al sy prestasies op te noem.
As ek nie probeer nie, sal ek nie ’n verloorder wees nie.
Dis drie dae voor die skool sluit en Erik is haastig om by die huis te kom. My ma het ons nie kom haal nie. Sy moes gaan om haar hare te laat doen. Ons het ons rapporte gekry. As ek nie ’n broer gehad het wat die game sou weggee nie, het ek gesê ons kry dit eers die laaste dag. Dis diep kak, soos André sou sê, dat die goed altyd moet kom voor dit lang vakansie kan wees.
“Ma!” storm my simpel broer voor my by die voordeur in. “Ek het my rapport gekry!”
“Nou maar bring!” Ek het gehoop sy is nog by die haarsalon, maar hier is sy met haar donker hare hoog en rond om haar kop. “Mooi,” sê sy, “dis mooi,” terwyl sy kyk na die simbole en wat Erik se onderwysers bygeskryf het.
Eendag sal hy nog leer alles gaan nie oor leer nie. Of oor om vinnig te hardloop en ’n drie te druk nie.
“En joune, Samuel?” My ma se stem sê sy hoop vir die beste.
Ek dink nie dis slegte punte nie – vir iemand wat byna niks geleer het nie. Vir iemand wat net sy boeke oop gehad het as hy haar hoor aankom het nie.
Sy frons. “Net sestien uit dertig vir Geskiedenis?”
“Ja, Ma.” Ek dink dis heel orraait vir ’n vak waarvan ek niks hou nie. Vir wat moet ek goed doen daarin?
“En sewentien uit dertig vir Elementêre Natuurwetenskap?”
“Ja.” Ek gaan ook nie ’n wetenskaplike word nie.
(Wat gáán ek word?)
“Ek weet nie wat van jou gaan word nie.” Sy sug en sit die rapport op ’n rak neer, baie harder as wat sy Erik s’n neergesit het.
Dan loop sy uit. Vir ’n sekonde kan ek verstaan dat my pa haar slaan.
• • •
Laaste dag van skool! Al het dit soos ’n lang jaar gevoel, voel dit nou of dit baie vinnig verbygegaan het.
Volgende jaar in Augustus word ek twaalf. Daarna is dit hoërskool … en dan seker universiteit, of eers army. En dan moet ek begin werk. En trou. En kinders kry.
Ons stap huis toe, ek en Erik. Ek het dit nie so beplan nie, hy het my langs die pad ingehardloop. My ma het ons nie kom oplaai nie, want ons het nie geweet hoe laat die skool vandag uitkom nie.
“Pa