het Julie geraak en Lehnberg was swanger. Sy het al hoe ongelukkiger geraak oor die situasie, al hoe meer van die Valiums gedrink wat Van der Linde voorsien het en vroeg in September sy vrou gebel om vir haar te vertel hulle het mekaar lief en bring die aande saam deur. Mevrou Van der Linde het die telefoon in haar oor neergesit. ’n Paar weke later het Lehnberg weer gebel en ’n afspraak gemaak om met haar te gaan gesels.
Die ontmoeting het nie afgeloop soos Lehnberg gehoop het nie. Mevrou Van der Linde het gesê dat sy nie omgee om tweede viool te speel nie, solank die meisie bereid is om dieselfde te doen. Sy sou nie skei nie.
Marthinus Charles Choegoe, ’n werklose drie-en-dertig-jarige man – en bruin – het in dié stadium aangekom by die ortopediese afdeling waar Lehnberg gewerk het. Daar moes vir hom ’n kunsledemaat gemaak word nadat hy ’n been in ’n motorongeluk verloor het. Hy is deur ander mense ervaar as verwaarloos en met ’n swak selfbeeld.
Lehnberg het vir Choegoe ’n brief gestuur na sy naaste kafee, Solly’s Trading Store. Sy het gevra dat hy haar by die werkwinkel moet kom sien, en bygevoeg:
Marthinus, if you are clever you can still earn good money.
By die werkwinkel het sy vir hom een rand gegee en hom gevra om haar dié aand sewe-uur by die Rondebosch-stadsaal te ontmoet. Daar het sy vir hom ’n bottel jenewer gegee en gesê sy wil hê hy moet ’n vrou vir haar doodmaak.
Volgens hom het hy geantwoord: “But, Miss Marlene, I can’t do a thing like that. It will send me to the gallows.”
“Were you ever involved in a court case, Marthinus?”
“Yes, I was charged with carrying a dangerous weapon.”
“Good, because that’s the sort of person I’m looking for. Someone who can handle a dangerous weapon.”
Choegoe het uiteindelik tot Lehnberg se versoek ingestem en ’n paar dae later na die adres in Boston gegaan – volgens hom met die idee om mevrou Van der Linde te waarsku dat haar lewe in gevaar is. By Gladstonestraat 66 gekom, het hy haar egter slegs vir kleingeld gevra.
Wat hy nie gekry het nie.
’n Week later het Lehnberg en Choegoe weer in Rondebosch ontmoet, waar hy erken het dat hy te bang was om die plan deur te voer. Lehnberg het gesê hulle sou sy prostese verbeter by die hospitaal indien hy die moord pleeg. Sy het ook vir hom ’n radio gegee wat sy by ’n medeloseerder gesteel het.
Choegoe is weer na Boston, maar het hierdie keer slegs verby die huis geloop en glad nie voordeur toe gegaan nie.
Kort daarna het Lehnberg weer vir hom ’n brief gestuur:
Use a knife if you have to, but make sure the job is done.
In ’n volgende boodskap het sy gevra dat hy haar by die werk moet bel. In dié gesprek het sy weer daarop aangedring dat hy die moord moes pleeg, en vir hom ’n motor belowe.
Asook dat sy na afloop van die moord met hom seks sou hê.
Dít sou later, toe hierdie private onderhandelings openbare kennis word, vir baie mense die skokkendste aspek van die gebeure wees. Wit meisie. Bruin man. In ’n land wat veel meer as die meeste ander deur sy grense bepaal word, sou sy só ver gaan, of so ’n belofte maak. In vergelyking met ontug is moord in die Suid-Afrika van die sewentigs ’n mak taboe – baie mense pleeg moord, wittes ook, maar elke ding het nog sy plek en elke persoon sy soort.
Maar só kon sy die saak beklink.
En toe verloop dinge vinniger.
Van der Linde het reeds skadebeheer toegepas deur sy vrou te verseker daar is niks tussen hom en die meisie nie; hy het ook vir Lehnberg ander werk gekry by Vigus Ortopediese Dienste. Die minnaars baklei al lank, maar hy wil haar nie verloor nie. Nou het sy ’n miskraam. Sy bedank by die nuwe werk en vertel vir Van der Linde dat sy Kaapstad gaan verlaat. Sy wil Johannesburg toe, na haar oom in Bryanston.
Op 24 Oktober laai sy Choegoe by sy huis in Retreat op en ry met hom na Boston. Hy is gewapen met ’n hamer. Sy laai hom naby Gladstonestraat 66 af, waar mevrou Van der Linde hom gewaar en herken van die vorige kere toe hy in die omgewing was. Sy bel die polisie, wat hom twee blokke daarvandaan oplaai. Hy word by die polisiekantoor geslaan en gewaarsku om uit die area weg te bly.
Lehnberg vra ’n paar dae later vir Rob Newman, ’n student in ingenieurswese wat in dieselfde losieshuis as sy woon, of sy sy Llama-pistool kan leen. Toe hy weier, vra sy of hy iemand vir haar sal doodmaak. Hy weier weer en Lehnberg maak dit af as ’n grappie.
Op 28 Oktober verdwyn Newman se pistool uit sy kamer. Hy rapporteer dit en sê dat hy Lehnberg verdink.
Maandag, 4 November.
Halfnege daardie reënerige oggend laai Lehnberg vir Choegoe in Retreat op. Haar motor is gepak, want sy is op pad Johannesburg toe, maar eers, sê sy, wil sy hê hy moet saam met haar na die Van der Lindes se huis gaan. Eers toe sy vir hom die Llama-pistool gee, besef hy dat sy nie bloot tot siens wil gaan sê nie.
Volgens Lehnberg se latere verklaring het sy by Gladstonestraat 66 uit die motor geklim, die voordeurklokkie gaan lui en toe na die motor teruggekeer terwyl Choegoe by die huis in is en die moord gepleeg het.
Volgens Choegoe se verklaring het hulle alles saam gedoen.
Sy verklaring word gesteun deur ’n buurvrou, Gloria Marais, wat twee keer binne tien of twaalf minute verby Lehnberg se wit Ford Anglia voor die huis gestap het en albei kere gesien het die motor is leeg.
Mevrou Van der Linde maak die deur oop, word bang en dreig om die polisie te bel. Sy probeer wegkom, maar Lehnberg pootjie haar en sy val en kap haar kop teen die deur. Terwyl sy op die vloer lê, slaan Lehnberg haar teen die kakebeen met die pistoolgreep. Lehnberg sê Choegoe aan om die half bewustelose vrou te begin wurg, en gee hom dan ’n skêr wat sy van ’n buffetkas af opgetel het.
Choegoe: “I remember stabbing her three times.”
Die vrou is sewe keer met die skêr gesteek.
Volgens Choegoe skiet Lehnberg hom daarna in die gesig met ’n groen kleurstof – van ’n Wepron-gaspistool wat die Van der Lindes met die oog op veiligheid agter ’n portret in die leefkamer gehou het – en sê hy durf nou nie polisie toe gaan nie omdat dit hom skuldig sal laat lyk, en sy sal alle betrokkenheid by die moord ontken. Toe vertrek sy na Johannesburg en kry by Beaufort-Wes twee verkeerskaartjies omdat sy te vinnig gery het.
Nadat Christiaan van der Linde sy vrou daardie oggend ’n paar keer nie per telefoon kon bereik nie, bel hy hul twintigjarige dogter, Zelda, wat by Tygerberg Hospitaal daar naby werk. Sy tref die huis gesluit aan, maar sien deur ’n venster haar ma op die vloer lê.
Die polisie vind later sowel die Llama- as die gaspistool in die bruin man se besit.
Choegoe: “It is very dangerous to just throw pistols away.”
8
Soos haar voorgangers, is die Suid-Afrikaanse meisie van die 1970’s grootgemaak om ander te koester. Sy moes ’n tuisteskepper word, met die kombuis as nukleus. Sy moes kon brei. Borduur. Naai. ’n Skêr was iets waarmee sy moes reg- en mooimaak. Elke jong vrou het dit geken, of sy naaldwerk gedoen het of nié: ’n hulpmiddel vir menige huishoudelike taak.
In Marlene Lehnberg se huis, soos in die meeste ouerhuise, is daar nie oor seks gepraat nie. Soos vele ander onderwerpe was dit nie oop vir bespreking nie en jong mense het daarvan gehoor by maats wat niks beter as hulleself ingelig was nie.
Omdat daar baie dinge was wat vroue nie toegelaat is om te doen nie, soos om ’n beduidende rol in die kerk te speel, het heelparty aanvaar dat hulle nie sou kon nie. ’n Meisie was beslis nie veronderstel om te vat wat sy wou hê nie. Nog minder kon sy ’n seksuele geskiedenis hê. ’n Vuil verlede sou teen haar tel, dit sou haar definieer. ’n Meisie is stil en op haar plek.
Seuns kon wel aandag opeis en indien ’n meisie aan ’n spesifieke ou aandag gegee het, kon sy op haar beurt by hom aandag kry. Die meisie het begin aantrek