Etienne Leroux

Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein!


Скачать книгу

nekwerwels op gevoelige senu­wees gedruk het wat skietpyne tot in skedel en skelet veroorsaak het. ’n Derde amptenaar, Departement Inligting, ’n ywerige drinker, se pols het teen ’n chroomstoel gebots en geringe aartjies laat bars wat ondervelbloeding veroorsaak het.

      Suster Florence J. Fiskaal dartel met haar vietse gesette lyf van amptenaar tot amptenaar en deel meegevoel mee terwyl sy onbeholpe met duim en middelvinger gevoelige plekke verder treiter. Haar demoniese duim breek die vel op die pols van die drinker en ligrooi bloed vloei. Dettol en ’n hegpleister word orals aangewend.

      “Dankie, Suster,” kom dit van verskeie oorde.

      Suster Florence J. Fiskaal glimlag soos ’n Suster vir pasiënte in ’n Saal glimlag voordat sy die ligte doof en almal aan hulle eie nagtelike lyding laat.

      Suster Florence J. Fiskaal is ’n kraamverpleegster en eintlik nie ’n volwaardige Suster nie. Niemand het haar haar “papiere” gevra toe sy aansoek in verband met die projek gedoen het nie. Sy is nou deel van die projek; dis ’n sleutel-oomblik in haar lewe, en sy is sonder die las van verpleegeksamens verhef tot ’n soort Moeder-Owerste op die gebied van die verpleegkunde.

      Toe die Kombi die rustigheid van die gelykpad vind, sê een van die L.U.K.’s: “Hulde aan suster Florence Nightingale!”

      Dit vind groot byval. Dis die soort woordspel en grap wat op pro­vinsiale vlak waardeer word.

      “Hulde aan suster Florence Nightingale!”

      Suster Florence J. Fiskaal glimlag skaam.

      “My van is Fiskaal,” sê sy deemoedig.

      “Nightingale! Nightingale!” kom dit steeds van verskeie oorde.

      In hierdie Kombi word brandewyn en Coca-Cola gedrink.

      “Ons hulde aan ons bekwame bestuurder,” sê suster Fiskaal on­selfsugtig.

      Die woord “hulde” is nie onbekend aan die amptenare nie.

      ’n Senior amptenaar kom figuurlik op die been.

      “Hulde aan ons bestuurder,” sê hy afgemete. “Ons innige dank aan suster Nightingale.” Hy knik in haar rigting. “Maar ek dink dat ons kennis moet neem van die naam van die ware misdadiger. Die hippie in die motor voor ons. Die man met die lang hare.”

      “Tommy Togvader,” fluister iemand.

      “Tommy Togvader,” sê die senior amptenaar. “Ek dink ons moet offisieel kennis neem van die voorval.”

      “Tommy is nog jonk en onervare,” sê suster J. Fiskaal. Sy maak ’n beweging met haar hande. “Indien u my sal toelaat om my be­skeie opinie te lug.” Sy kyk met weemoedige oë wat blykbaar heelwat lyding gesien het na almal. “Tommy is nog jonk,” sê sy. Haar oë word blinkerig. “Tommy is nog ’n seun.” Sy wankel effens. Dis mis­kien die nadraai van die skok. Gewillige hande help haar na haar sitplek. ’n Coca-Cola-met-ietsie word haar aangebied.

      “’n Merkwaardige vrou,” sê die senior amptenaar.

      “’n Ruim hart.”

      “Florence J. Nightingale!” sê ’n ander amptenaar en hou sy glasie omhoog.

      “Florence J. Nightingale!” sê almal.

      Ten spyte van stywe nekke begin almal die rit geniet. Niemand kyk na die landskap wat Magersfontein bepaal nie.

      Die orige twee Kombi’s was minder onderhewig aan die skokeffekte van die insident op die pad. Die twee bestuurders het net liggies op die remme getrap en langsaam heen-en-weer geswaai voordat hulle weer koers gekry het. Dit het die ingesetenes nie die minste ontstel nie want hulle was in ’n hewige twisgesprek gewikkel oor die reëls van protokol. As akteurs en aktrises van plaaslike en buitelandse instansies, en toneelspelers en toneelspeelsters van Kruik, Sukovs, Truk en Naruk, almal betrokke in die projek, voel hulle hulle ge­samentlik veronreg dat die skoonheidskoninginne méér aandag kry, gesien die feit dat hulle in die voorste Kombi ry en so meer. Onder­ling is daar in fluistergesprekke ook onenigheid oor kwessies soos relatiewe meriete en status na aanleiding van die vraagstuk of buitelandse beroepsmense voorrang bó die plaaslike moet geniet. Die instansies het egter besluit dat die onderskeie beroepsmense in die projek op ’n vyftig-vyftig-basis sal deelneem. Hoofspelers sal ná die verkenningstog gekies word. Op die hoogste vlak is besluit dat daar geen sterre sal wees nie en dat hierdie projek ’n produk sal wees van die regisseurs gerugsteun deur die welwillende, dissipli­nerende teen­woordigheid van die twee semi-staatsinstansies. Die beginsel is op een van die eerste konferensies aanvaar en dit is allerweë as ’n deurbraak op die gebied van internasionale samewerking beskou, mét be­houd van die inisiatief en integriteit van die enkele kunstenaar, hetsy akteur of regisseur, in die totale opset: ’n poging om, téén die agtergrond van ’n tragikomiese gebeurtenis van die ve­r­­lede, oor ons tyd deur middel van ’n moderne kommunikasie­medium te besin.

      Terwyl die stoet Magersfontein nader, word in die twisgesprekke ook die reëls van Equity aangehaal.

      Die héél laaste motor in die stoet is ’n rooi Volkswagen van die kewer-soort, en dit word self bestuur deur Oxford G. von Waltz­leben – ma Engels, pa Afrikaans. Hy is ’n produk van die Universi­teite van Stellenbosch en Cambridge en hy is besig met ’n tesis oor die ontwortelde Chinese in die Oos-Kaapse hawestede. Hy is in die duister hoekom hy onder meer as teksskrywer aangestel is. Toe hy die kontrak geteken het, het hy in paragraaf 24(c) gesien dat onder sy vele verpligtinge teksskryf genoem word. ’n Kort gedig van hom, min of meer in die styl van e.e. cummings, het eenkeer in Contrast verskyn. ’n Tydjie gelede, een aand in die Conrad Hilton Hotel, het hy aan ’n vrolike, middeljarige gas met getinte wit hare genoem dat hy Peter Brook en Fellini ontmoet het. Dit was in die privaatkroeg Saddle Bags, en hulle was besig om ’n cocktail genaamd Horsepower te drink.

      Terwyl hy die kewer deur die droogte van die Noord-Kaap be­stuur en die oorbekende landskap en die hitte hom op die rand van vergetelheid bring, sien hy meteens hoe die twee Kombi’s voor hom heen en weer oor die pad swaai en weer ’n reguit koers bereik. Dit laat hom aan ’n strukturele skema vir ’n gedig dink, en dit klop met iets wat hy al lankal in gedagte het: die stryd tussen die romantiek en die klassisisme saamgevat in ’n neo-struktuur waarin die spel van die gebroke lyn en die reguit lyn ’n dieper geestelike inhoud kry – ’n gedig gebaseer op die kardiograaf wat die beweginge van die hart illustreer.

      Die meisie langs hom se naam is Marigold Rosemary en dis moei­lik om te besluit of sy gedurig onder die invloed van drank of hasjisj is. Hy vind ’n gesprek met haar besonder swaar want haar bydrae is beperk, alhoewel insiggewend: “Jesus Christ!” Daar is by hom ook nie sekerheid omtrent haar plek in die projek nie – sy is óf sy sekretaresse, óf sy sal een van die kleiner rolletjies speel. Mis­kien beide.

      Sy is ongeveer drie-en-twintig jaar oud, haar hare luier oor haar skouers en streel die tepeltjies van haar borste onder die deursigtige bloese, haar naeltjie is net bokant die kuitbroek blootgestel, en haar oë is soos ’n Jogi s’n blind in die verskiet gerig. Sy het gedurende die rit gedreig om selfmoord te pleeg en sy het dikwels soos ’n sterwende geroggel om haar toekomstige selfmoord realisties aan te dui.

      “Ons nader nou Magersfontein,” sê hy.

      “Jesus Christus!” sê sy.

      Agter in die Volkswagen sit ’n wasbleek oogarts – ’n zombie, lig­sku en nagblind omdat hy gedurig in die donker moet werk. Hy is nooit aan die res van die geselskap voorgestel nie en hy het tot dus­ver gedurende die rit nog geen bydrae gelewer om sy teenwoor­dig­heid te verklaar nie. Trouens, Oxford G. von Waltzleben en Mari­gold Rosemary het skoon van hom vergeet.

      Digby Magersfontein, sê hy meteens:

      “Ek is dr. Wittenblank, oogarts.”

      Die onverwagte stem veroorsaak amper ’n ongeluk. Oxford G. von Waltzleben is sigbaar ontsteld en hy het nie meer behoorlike be­heer oor die motor nie. Weens die direkte stuur het hy die Volks­wagen te vinnig na regs gepluk en buitekant die pad ’n miershoop misgeloop voordat hy weer die middel van die pad bereik het.