voël. Hy haal sy seksorgaan deur ’n skeur in sy broek uit en pis op hierdie geskiedkundige grond terwyl hy wonder of Rebekka Daisy hom nie bedonder het nie. Rebekka wat met haar stert wikkel terwyl sy naai. Nog ’n dop vir liefde en dood en die hele lewe word vir Gert Garries nie meer so ’n ontsaglike probleem nie.
Hy werk op ’n plaas wat binne die Kaapprovinsie sowel as die Vrystaat val en waar die denkbeeldige grens deur ’n kennisgewing van die Paaiedepartement aangedui is. Hy ry al vir twee dae heen en weer omdat hy nie weet waar om ’n sertifikaat van die dokter te kry dat die kind dood is nie. Albei dokters aan weerskante van die denkbeeldige grens weier om ’n lykskouing te hou en die kind wettiglik dood te verklaar want Gert Garries was op staatsonkoste by albei gewees toe die kind nog siek was en gelewe het. Die kind kan nie begrawe word as daar nie ’n lykskouingsverslag en ’n bygaande geregtelike verlof is dat ’n verbrande baba ter aarde bestel mag word nie. Rebekka Daisy het gesê dat Gert Garries se kind deur ’n lampolielamp in haar struis verbrand is en Gert Garries is self nie seker op pad na watter dokter aan weerskante van watter grens die kind gesterf het op sy vele togte na die dokters nie. Albei dokters is ewe in die duister oor die regte prosedure as gevolg van die grense en die topografie. En Gert Garries is self nie seker of dit sy kind is wat aan hom toegeskryf is deur die hoer, Rebekka Daisy, nie.
Gert Garries vat nog ’n dop en die lewe word rooskleurig. Hy kyk na die bondeltjie en hy voel ’n sekere gehegtheid aan hierdie gesiglose monstertjie wat êrens ’n rusplek moet vind. Gert Garries besluit dat hy die begrafnisstoet sal volg en in die nag die kind in die kis van die wit geliefde sal sit en wie sal weet? Hy klim op sy fiets en trap die pedale drankvrolik in die rigting van die begrafnisstoet in die verte. Die wind waai deur die sweterige hare van Gert Garries in sy drank-besete deelname aan die optog na Magersfontein en Modderrivier.
Hy dink ook in die vlug van sy spoed op die afdraand daaraan dat sy baster tussen die opgegrawe grafte van die Black Watch, regs van die ou Modderrivierstasie, stilletjies begrawe kan word – dáár waar die room van Engeland begrawe en opgegrawe is en na die Garden of Remembrance in Kimberley geneem is, en dáár waar genl. Wauchope begrawe en toe herbegrawe was in Matjiesfontein. Daar is trane van drank en wind in sy oë as hy in die vlug van sy verbeelding sy kind sien as deel van hierdie spel van begrawings, opgrawings, herbegrawings, en so meer. Die begrafnis van die bondeltjie op sy bagasierak word ’n heerlike avontuur. Dis in ’n sekere sin ’n oorwinning oor Rebekka Daisy en Le Grange, die speed-cop. Dis Gert Garries se dag op sy Raleigh-fiets!
Storm! Storm! Sturmabteilung-op-die-Raleigh-fiets!
Die stoet beweeg voort teen ’n rasende vaart, begelei deur Le Grange, die speed-cop. En dan vind Le Grange dat hy die stoet verloor het. Hy kyk terug en hy sien dat hulle almal stilgehou het en besig is om na links te kyk: ’n bontspul in die verte wat roerloos en strak deur akasias en kameeldorings tuur. Hy maak ’n breë draai oor die teerpad en jaag terug, maar voordat hy hulle bereik, het hulle alreeds terug in die motors geklim en dit is alleen ’n behendige wederdraai van Le Grange die speed-cop wat sorg dat hy hulle nie tromp-op tref nie. Maar hierdie keer lei hy die stoet versigtig en hy hou die beeld van sy gevolg met ’n wakende oog in die tru-spieëltjie dop. Toe hulle voor ’n yslike kennisgewing MAGERSFONTEIN huiwer, antisipeer hy die kollektiewe behoefte, swaai van die pad af, klim uit, en met ’n wit handskoen wat tot sy elmboog reik, stop hy die hele stoet. Hy marsjeer vorentoe en salueer na links en regs, oorbluf en dronkgeslaan in sy soektog na die gesaghebber in hierdie belangrike chaos. Al wat hy sien, is ’n rare vergadering wat ’n spoorwegbrug beskou, asook die nuwe stasie, Modderrivier, opgetooi met rotstuine waarop die vygies vrolik die ondergaande son beloer. Hy gaan aan die sy van Amicus Achtung staan wat sê: “Dit is die pad na Magersfontein,” en toe salueer hy hom.
Hy salueer ook vyf beeldskone meisies wat in die vorm van ’n piramide (met behulp van stoeltjies) teen die groen kennisgewing van die Paaie-Administrasie, MAGERSFONTEIN, poseer. Hy is nét te laat om te keer toe die menigvuldige kameras flits en Gert Garries met sy fiets en die lyk van sy kind in die agtergrond in die foto’s verewig word.
Daar word ook ’n spesiale foto geneem van lady Jubilence, bekende kunskenner, gasvrou, en kultuurvrou van die Kaap, wat na die vóór-beeld van lady Randolph Churchill een van die motors in die optog gefinansier het.
Le Grange salueer haar, dan stel hy homself weer aan Amicus Achtung voor.
“Ek dink,” sê Amicus Achtung, “dat u Mr. Shipmaster moet spreek. Hy is in beheer van logistiek.”
Le Grange ontmoet Mr. Shipmaster wat oorstelp is deur al die logistiese probleme en ’n makker soek. Hy stel Le Grange aan al die L.U.K.’s en die hoogwaardigheidsbekleders voor, wat op hulle beurt Le Grange in sy netjiese uniform goedkeurend bekyk. Deur hulle spesiale vergunning word Le Grange déél van die verkenningstog: verkeersbeampte en gids en aldus ’n volwaardige lid van die projek.
Hy is nou finaal weg van Anna Adder, hy is déél van die projek, en dit verskaf hom groot plesier.
’n Vrou in ’n matrone-uniform heet hom gulhartig welkom.
“Ek is Florence Nightingale,” sê sy skalks, en Le Grange kyk geïnteresseerd na haar formidabele dye wat haar uniform laat rimpel terwyl sy heen en weer wieg.
4
Dit word nou sterk sononder – die naaste aan die Engelse twilight wat lord Sudden ken. Op die westelike horison speel die Afrikaanse son sy vulkaniese spel met stof en wolke en transformeer die gesigseinder tot ’n magtige skouspel van helrooi. Dit sal binnekort skielik donker word, maar dit kan nie van lord Sudden verwag word om bewus te wees van die kitsveranderings wat eie aan Afrika is nie. Lord Sudden is omring deur almal wat aan die projek deelneem, en hulle vorm ’n interessante tafereel want hulle is, op bevel van lord Sudden, met die toestemming van lord Seldom, geklee volgens die styl van die einde van die vorige eeu. Almal behoort hulle in die projek in te leef (lord Sudden). Elke lid van die projek was verplig om die boek van Rayne Kruger, Goodbye, Dolly Gray, te lees, en op grond daarvan is streng om die helfte die mans en vrouens Victoriaans Boers en Engels geklee. Een helfte van die mans in Skotse rokke van die puik regimente, met kakievoorskote; hangsnorre wat toevallig ooreenstem met die hedendaagse mode; die ander helfte van die mans geklee in pluiskeil en swaelstert, asook uniforms van die staatsartillerie, half-Duits, en in jagtersgewaad, elkeen met ’n pyp en ’n lang baard – wat ook ’n ontstellende ooreenkoms toon met Castro se Kubaanse rebelvoorkomste.
Die vrouens lyk min of meer eenders, behalwe dat die vrouens aan Boerekant kappies dra in plaas van bonnets. Die vrouens, bestaande uit die skoonheidskoninginne van die verskeie provinsies, aangevul deur aktrises van Sukovs, Truk, Naruk, Kruik (wat in aantreklikheid vergoed vir gebrek aan beeldskoonheid), suggereer seks met ’n flits van ’n enkel en emosie met uitpeulende boesems.
Terwyl televisiekameras rol en rolprentkameras versigtig ingestel word, leun Gert Garries met ’n hoek van vyf-en-veertig grade teen sy fiets. Die Cadillac het hom dronkgeslaan. In ’n gesprek met Le Grange het hy verneem dat dit ’n optog van Ministers en Adjunkte is en hy is van voorneme om minstens ’n Minister te spreek voordat hy aan die alternatief dink. Hy sien hoedat die swart chauffeur uit die Cadillac ’n koelsak te voorskyn haal en glasies met whisky en ys vul en aan die drie belangrike mense aanbied. Hy hoor die name: lord Seldom, lord Sudden en Amicus Achtung. Hy bewaar hierdie inligting vir verdere beplanning, en dan stoot hy sy fiets nader aan die swart chauffeur wat hom met kwalik bedekte meerderwaardigheid die saluut van Swart Afrika gee. “What’s in your bag, man?” vra die swart chauffeur. “It is the corpse of my child, man,” sê Gert Garries. “Cool, man, cool, man!” sê die swart chauffeur, en hy deel die orige whisky uit die koelsak saam met Gert Garries.
Lord Sudden, teen die agtergrond van die groen Provinsiale kennisgewing waarop die naam MAGERSFONTEIN aangedui is, is besig om die projekgangers toe te spreek. Dr. Wittenblank is aan sy sy. Hulle kyk bysiende in die rigting van Ritchie, met hulle rûe na Magersfontein.
“Regardez, Magersfontein!” sê lord Sudden.
“Jesus Christ!” fluister Marigold Rosemary hoorbaar.
“Regardez, Magersfontein!” herhaal lord