Achtung kyk na sy onbekende aanhanger in die tablo wat rusteloos word in die donkerte.
“‘There rises the hidden laughter of children in the foliage.’”
Die uitbundigheid van Le Grange se applous en entoesiasme is aansteeklik. Selfs Gert Garries word uitgelate. Die skoonheidskoninginne en die aktrises van die onderskeie instansies, sowel as die akteurs, deel in die uitbundigheid.
Dit is tyd om huis toe te gaan, en Amicus Achtung besluit wyslik om sy toespraak op hierdie noot te beëindig.
Dis ’n groot gerusstelling vir hom dat die ensemble die dieper betekenis van die projek begryp.
6
Dis nou goed donker en die lede van die projek haas hulle na die motors en Kombi’s. Die kameramanne het alreeds hulle toerusting ingepak. Le Grange het sy koplampe aangeskakel, sowel as die oranje lig op die kap, en hy laat die sirene liggies loei om die komende vertrek aan te dui. Met ál die ligte van die voertuie in volle gloed, gee dit aan die optog ’n sekere vrolikheid wat herinner aan ’n karnaval of ’n sirkusoptog. Lord Sudden en lord Seldom is rustig op hulle sitplekke en hulle beskou Amicus Achtung wat onder een van die soekligte met Mr. Shipmaster, logistikus, konfereer. Mr. Shipmaster lig sy hand vir Le Grange en skreeu sodat almal kan hoor: “Voorwaarts na Matjiesfontein, die laaste rusplek van Andy Wauchope, en die tuiste van Logan, M.L.C., die Laird van die Skotse Middellande!” Lord Sudden en lord Seldom glimlag as Amicus Achtung in die Cadillac klim. Alles verloop vlot en hulle voel dat die projek nou tempo begin kry – ’n sekere vóórteken van sukses. Le Grange se sirene bereik ’n toonhoogte wat bydra tot die graad van hulle entoesiasme. Die ligte flikker, die masjiene van die motors word aangejaag, en dan verflou die sirene. Le Grange verskyn weer in die lig van die Cadillac en salueer flink in die rigting van die lig want hy het nog steeds nie presiese duidelikheid oor wie die werklike leier van hierdie staatsprojek is nie. ’n Rukkie later verskyn Mr. Shipmaster langs hom, en hulle bespreek iets met ’n besondere intensiteit. Dit duur te lank en dit noop Amicus Achtung, Hans Winterbach en lords Seldom en Sudden om hulle ook by die konferensie in die lig te voeg. Asook dr. F. Laird en Gert Garries.
“Die hotel is vierhonderd-en-vyftig myl hiervandaan,” herhaal Le Grange.
“Onmoontlik,” sê Mr. Shipmaster. “Volgens mý berekening is dit slegs een myl.”
“Met alle respekte,” sê Le Grange, “is die Matjiesfontein Hotel, bestuur deur gebroeders Rawdon, presies vierhonderd vyf-en-twintig myl hiervandaan.” Hy staan deftig, penregop, en beskeie – ’n ware toonbeeld van die Administrasie.
“Die Crown and Royal, Matjiesfontein, is volgens gegewens in ons onmiddellike omgewing,” sê Mr. Shipmaster. Hy het sy armsorgbrilletjie afgehaal, en meteens sonder die vergrootglas van die lense die diepe sorg van oumansoë ontbloot. Hy kyk na ’n stapel papiere wat hy weer versigtig bestudeer nadat hy sy bril opgesit het. “Dit is die hotel regoor die plek waar generaal Andrew Wauchope op die 12de Desember 1899 begrawe is.”
Lord Sudden voel dat hy beheer van die situasie moet neem.
“Ons soek,” sê lord Sudden, “na die hotel naby die graf van generaal Wauchope, nie waar nie?”
“Korrek,” sê Hans Winterbach.
“Ons verneem dat plekke bespreek is vir ál die lede van die projek in daardie hotel en dat ons vanaand besonderhede van die projek sal uitwerk.”
“Presies,” sê Hans Winterbach.
“Ek kan nie begryp wat die probleem eintlik is nie,” sê lord Sudden. Hy glimlag vir die omstanders en lig sy hand toe iemand soos dr. F. Laird ook iets wou sê. “Dit is doodeenvoudig.” Hy rig hom tot Le Grange. “Neem ons na die Crown and Royal Hotel!”
Le Grange herken die leier. Hy salueer flink, klim in sy motor, skakel die sirene aan, laat die kaplig mals rondomtalie draai, en lei die stoet tot by die Crown Hotel, digby Modderrivierstasie, waar die eienaar onverwags minstens vyftig gaste moet huisves.
7
Die sweet pêrel op Mr. Shipmaster se voorkop; hy beleef nou in lewende lywe die nagmerrie van alle logistici: dat deur ’n arkane heksery hy self ’n slagoffer word van die geskiedenis van die omgewing. Dikwels het hy al om kampvure spookstories op die gebied van logistiek gehoor – fantasmagoriese busse vol toeriste wat spookagtig verskyn en hersenskimmig afsprake eis by fantoomhotelle. Aantreklike en bekwame logistici het dikwels ’n relaas voorgedra hoe hulle, téén hulle sin, die rol moes speel van groot figure uit die verlede en hoe hulle op die gebied van logistiek deur ’n onsigbare dwang verplig is om onafwendbaar hulle voorgangers se foute tot in der ewigheid te herhaal. Dis die vloek van die geskiedenis dat die verlede nie kan sterf en hom losmaak van die hede nie. Hoe kan die mens ooit vry wees as daar geskiedenis is?
Mr. Shipmaster hoor die demoniese, primitiewe, onchristelike, Keltiese geluid van doedelsakke in die verte. Dit vloek teen sy intersektariese inslag waar daar geen plek is vir spoke en misterie nie. Genl. Wauchope is dood, begrawe en herbegrawe. Rus sy siel!
Omring deur sy vyftig voel hy soos lord Methuen en hy besluit om sy beslissing aan die geskiedenis oor te laat.
“Ek eis huisvesting vir die lede van my projek,” sê hy vir die bestuurder van die Crown Hotel. “Ek het dokumentêre bewys dat daar plek vir vyftig bespreek is by die Crown and Royal Hotel, Matjiesfontein,” sê hy vir die bestuurder. Met ’n ferm lig van sy hand lê hy swye op as die bestuurder van die hotel iets wil sê. “Ek het ook dokumentêre bewys dat u onderneem het om ons môre die graf van generaal Wauchope te wys.”
Hy stop Le Grange se tussenkoms. Hy dwing dr. F. Laird tot swye.
Die projekgangers word in die hotel gehuisves: in kamers, rondawels en so meer. Dis hulle eerste ondervinding van ’n plattelandse hotel en hulle vind die allure van hierdie deel van die wêreld onweerstaanbaar.
Mr. Shipmaster word spesiaal deur lord Sudden gelukgewens.
“A wonderful arrangement,” sê hy. “One can breathe the air of history.”
Hy slaan trots ’n muskiet dood.
Hv kyk na ’n termometer teen die muur.
“Hundred and eight in the shade,” sê hy. Hy sweet heerlik.
“This sensuous heat,” sê hy.
Hy aanvaar dit dat Mr. Shipmaster Engelssprekend is. Dis die genot van hierdie land dat almal Engels kan praat. In die stilte van sy kamer, terwyl hy was, besef Mr. Shipmaster die enormiteit van sy mistasting.
Die hotel se naam is nie die Crown and Royal nie. Dis bloot die Crown.
Hy sal later die bestuurder om verskoning vra.
8
Terwyl die hotel van projekgangers wriemel en vir die eerste keer in baie jare ál die ligte in elke beskikbare kamer van die Crown Hotel brand sodat dit ’n lig-oase in die donkerte van Modderrivier-dorpie vorm, staan Gert Garries op die stoep van die Kafee en Restaurant regoor die hotel, sy fiets teen die verandapaal, en hy is besig om ’n halwe witbrood en twintig sent se polonie met wyn af te spoel. Hy kyk na die hotel en dan kyk hy na die plek waar die ou stasie was voordat hulle dit jare gelede verskuif het. Hy sien ook die swart Cadillac en die swart chauffeur wat op die voorste sitplek onder die daklig besig is om die Rand Daily Mail te lees. Hy slenter soontoe.
“Hi!” sê die swart chauffeur.
“Hi!” sê Gert Garries.
“Anything I can do for you, man?” vra die swart chauffeur.
“I want to see Mr. Sudden,” sê Gert Garries. Die swart chauffeur vou sy koerant op. Hy bied Gert Garries ’n Lexington Filter-sigaret aan.
“What’s the trouble, my man?”
“It’s the corpse of my child, man,” sê Gert Garries.