Etienne Leroux

Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein!


Скачать книгу

die verkeerde stasie,” fluister dr. F. Laird vir die jongman langs haar. “Die regte stasie is ’n myl verder by die Royal Hotel.”

      “Oxford G. von Waltzleben,” sê die jongman trots. “Teks­skrywer.”

      Hulle bekyk mekaar terwyl lord Sudden sy toespraak hou en terwyl die Griek, Pompidous, die Cadillac inspekteer en tot die groot ontsteltenis van die swart chauffeur agter die stuur inklim en aan die vele instrumente op die paneelbord begin vroetel.

      “’n Tragikomiese situasie,” sê lord Sudden. “Wat sal ons benade­ring wees?” Hy keer hom in die rigting van Kimberley, die diamant­stad. “Sal dit die geloian wees, die spottende kritiese lag van die satiriese rede?” Hy wend hom in die rigting van Kuruman. “Of sal dit die spoudaion wees, die didaktiese en morele funksie van die komedie?”

      Lord Sudden swaai om met dramatiese handgebaar en hef sy arms op, onwillekeurig in die rigting van die verre Magersfontein, met die kruise, wat hy nie kan sien nie.

      “Sal dit ’n samestelling wees? ’n Samevoeging van die tragiese waarheid, met ’n glimlag vir die ironiese grap – ’n samevatting van die teenoorgesteldes …?”

      Hy wend hom tot die spoorlyn wat suid beweeg.

      “Of sal dit ’n alternatief van erns en luim wees, die teen­oor­gesteldes wat slegs beurtelings saamgebring kan word?”

      Hy kyk na Mejuffrouens Skoonheid wat nog steeds ’n elegante piramide teen die kennisgewingbord MAGERSFONTEIN vorm.

      “Ek laat die beslissing aan u oor,” sê lord Sudden, en hy stel lord Seldom onder luide toejuiging aan die woord. Lord Seldom kom mis­leidend skaam op die voorgrond. In voorkomste toon hy ’n oor­eenkoms met Valéry Giscard d’Estaing, Alec Douglas-Home, en, eienaardig genoeg, met genl. Wauchope.

      “Hy lyk na generaal Wauchope,” sê dr. F. Laird opgewonde vir Oxford G. von Waltzleben.

      “Aries,” sê Oxford. “Met ’n klappie weg van Keltiese wangbene. ’n Interessante skedel.”

      Lord Seldom kyk na Magersfontein in die verte. Die skipvormige reeks koppies troon oor die vlaktes en teen die ondergaande son word hulle meteens blou en sal enige oomblik skielik verdwyn. Dis tipies van Suid-Afrika. Lord Seldom kyk na die koppies en hy giggel selfbewus. Dis duidelik dat hy na woorde soek en hy beweeg sy hande in hierdie soektog. En dan word hy meteens kalm en ferm.

      “Miskien is ek meer ingestel op die ironie,” sê hy. “Miskien dink ek soos Muelcke dat die ironie die satire, die absurde en die komieklike kan saamvat, en ook die tragiese kan oorkruis. Miskien verskil ek hier van lord Sudden. Miskien dink ek dat die benadering eerder intellektueel as musikaal moet wees. Miskien dink ek dat Magers­fontein tot die epiese kunsvorm, die prosa, behoort, waar die ironie allesomvattend triomfeer oor die poëtiese lughartigheid van satire, komedie en harlekynspel. Miskien dink ek dat die tragikomiese spel van Magersfontein tot die groot terrein van die prosa behoort. Magersfontein is ’n roman in suiwer ironie. Magersfontein is ’n ro­man selfs in die hande van ’n statistikus soos Breytenbach en ’n romantikus soos Kruger. Magersfontein is ’n spel in ironie waar die absurde, en die satiriese, en die groteske, en die komedie, en die vulgêre, saamgevat is in die prosa van hierdie prosaïese landskap.”

      Lord Seldom aarsel en giggel weer.

      Hy kyk na die tablo van die skoonheidskoninginne wat hom spontaan toejuig toe hy die denkbeeldige rostrum verlaat.

      “’n Diep denker,” sê Le Grange vir iemand naaste aan hom. Dis Gert Garries.

      “Gewis,” sê Gert Garries, terwyl hy sy fiets met die bondeltjie in die rigting van lord Seldom stoot. “I have a problem,” sê Gert Gar­ries vir lord Seldom wat hom met ’n vinger op sy lippe tot stilte maan toe Amicus Achtung op die punt is om met sy toespraak te begin.

      Op bevel van die regisseur, Hans Winterbach, word die aktrises van die verskeie Provinsies by die skoonheidskoninginne gevoeg omdat hy impulsief die ondergrondse wrywing aangevoel het. Daar­benewens het hy ook, na aanleiding van die vorige toesprake, tot ver­dere insigte gekom. Dit sal die kamera wees wat op visuele wyse die woord oortref. In die beeld sal die geloian en die spoudaion saam­gevat word. Die oog sien waar die woord nie kan kom nie. Die ka­mera is die Derde Oog.

      Teen die naambord van Magersfontein wapper en wuif die starlets rondom die strak seksbeelde van die skoonheidskoninginne; die gegrimeerde gesigte van die ouer speelsters word persblou toe die son ondergaan. Die spoel van ’n rolprentkamera begin draai toe Amicus Achtung sy toespraak begin.

      Akteurs in die uniform van die Black Watch en in die veldgewaad van die Boeremagte sluit hulle by die tablo aan. Asook Le Grange die speed-cop in s´y uniform en die swart chauffeur in syne. Asook Gert Garries met sy Raleigh-fiets in die hoek van die alsiende oog van die kamera.

      “Pragtig!” sê Hans Winterbach.

      En toe begin Amicus Achtung met sy toespraak.

      5

      Die toespraak van Amicus Achtung

      (dogmaties van aard, soms geneig tot oorvereenvoudiging, méés­al ingestel op rasionele analise):

      “Miskien het die tyd nou aangebreek, lord Sudden, lord Seldom, geëerde hoogwaardigheidsbekleders, en lede van ons groep …” Hy kyk na die groot piramide van veelkleurige rolbesetting met kwalik be­dekte misnoeë. “Miskien het die tyd aangebreek dat ons helderheid moet hê en fenomene moet versamel, klassifiseer en evalueer …”

      Hy word onderbreek deur Le Grange wat met ’n dofslag van sy handskoene handeklap, en daarná deur ’n skril gejuig van die starlets. Kalm wag hy totdat die rumoer bedaar en die tablo tot rus kom, en toe gaan hy voort.

      “Op 11 Desember 1899 het die slag van Magersfontein plaasgevind toe ongeveer 23 000 manskappe direk en indirek betrokke was in ’n kop-aan-kop-konfrontasie tussen Brittanje en die twee Republieke van Suid-Afrika, bekend as die Boeremagte. Duisende is gewond en het gesneuwel. Dit het uitgeloop op ’n oorwinning vir die Boeremagte, maar dit was ’n swart dag vir die toekoms want in terme van oorlogstegniek was dit ’n vóórspel tot die Eerste Wêreld­oorlog. In hierdie laaste ridderlike oorlog is tegnieke ontwikkel wat Magersfontein nie ’n slagveld gemaak het nie, maar ’n slagting vir die toekoms waarin miljoene twaalf jaar daarna hulle lewens sou verloor; en nog miljoene hulle einde in gaskamers en radioaktiewe bestraling twee-en-twintig jaar daarná sou vind.”

      ’n Respekvolle stilte aan die kant van die lede van die tablo wat hulle hoofde deemoedig laat sak by wyse van gedenking van die miljoene dooies terwyl die kameras draai.

      “Maar hieroor later,” sê Amicus Achtung, “nadat ons besonderhede en implikasies in geslote konferensies ontrafel het.” En hy kyk in die rigting van dr. F. Laird wat, diep gevlei, ook haar hoof laat sak.

      “Maar,” sê Amicus Achtung, “ek voel, miskien téén die beleid van my owerhede,” en hy kyk na lords Sudden en Seldom en die hoogwaardigheidsbekleders, “dat ons die slagveld van Magersfontein nie as ’n abstraksie moet benader nie, maar moet konsentreer op die vier sleutelfigure wat met ’n sekere mate van absurditeit hulle noodlotsbestemming vervul het: lord Methuen en generaal Piet Cronjé; generaal-majoor Andy Wauchope, liefling van Skotland, Laird van Niddrie Marischal en Yetholm, en die Leeu van die Noorde, gene­raal De la Rey. Die twee pare vyande het oor en weer in mekaar hulle alter ego’s gevind; hulle onderskeie swakhede en genialiteit het ’n stewige piramide gevorm; die onbetroubaarheid van geskiedskrywing het die twee ou manne die wit narre gemaak en die twee jonger manne die swart narre in hierdie tragikomiese kosmiese konfrontasie waar bloed in die suiderland gevloei het om weer eens te bewys dat ‘Hieronymo’s mad againe’.”

      Luide applous van Le Grange.

      Amicus Achtung wag totdat die entoesiasme van sy aanhanger bedaar. Waar het hy hom vantevore gesien? Hierdie man in sy be­sondere uniform?

      En toe gaan hy voort.

      “Ons het hier ’n kwartet,” sê hy, “twee ou manne wat in wysheid die foute van