Fyella terwyl sy opstaan en haar glasie in die hoek van die kamer gooi. “Gelukkig het hierdie berig nie die huis van Wauchope bereik nie,” sê Fyella vir Oxford G. von Waltzleben. “Sien jou môre.”
Sy skuur styf by Marigold Rosemary verby, vás teen Pompidous wat haar onmiddellik omhels en toe sy Kretensiese oë op Oxford G. von Waltzleben rig.
“You wanna fight to death?” vra hy terwyl hy spiere bult, self ook kaal-bolyf weens die hitte. Hy stort rooiwyn oor sy eie kop en sidder van plesier as die wyn rooi strepe op sy torso laat. Hy lig Fyella op sy skouer en dra haar na sy slaapkamer.
Marigold Rosemary gaan langs Oxford G. von Waltzleben op die bed sit en bars onmiddellik in trane uit. Na ’n rukkie droog sy haar trane af.
“Het jy geweet dat Pompidous ’n dubbele ry tande het?” vra sy terwyl sy haarself begin ontklee. Sy lyk pateties fyn en klein nadat sy haar ontkleedans uitgevoer het. “Mr. Shipmaster het nie ’n kamer vir my bespreek nie,” sê sy.
’n Rukkie later sê sy, styfgewoel teen Oxford, “Ek is hopeloos verlore. Help my.”
“Hoe kan ek?” vra Oxford G. von Waltzleben.
“Jesus Christ!” sê Marigold Rosemary.
Sy het op ’n ekumeniese sentrum sensitiwiteitsopleiding ontvang waar dagga verskyn en wyn gevloei het by wyse van terapie. Te midde van studente, onderwysers, huisvroue, maatskaplike werkers, verpleegsters, sakemanne, arbeiders, swart, bruin en wit, asook geestelikes, het sy deur middel van traumatiese ondervinding via orgieë en orgasmes die self in haar sieletjie probeer vind. Tussen die wrakke wat oorgebly het vir professionele psigiaters het sy nog steeds probeer uitstyg deur ’n deelname aan aktivisme in al sy vorme, sowel as aan terrorisme, en revolusie af en toe. Sy het selfs scientology probeer en ál daardie dinge waarvoor Juliana Doepels geveg het. In ’n stadium het sy geestelik aan Manson en sy familie behoort en haar hart gegee vir Evel Knievel wat met sy doodswens op sy motorfiets oor die Grand Canyon wou spring. Sy was selfs ’n tweede Marilyn Monroe wat in haar bedjie alleen gewag het dat presidente haar van ondergang sou red. Maar daar is niks. Alles word vernietig tot niks. Daar is geen teken van die hergeboorte nie. Dis ’n inflasiespiraal. Daar is geen helde meer nie – hetsy van regs of van links. Wie is die held in hierdie chaos; wie sal haar bevry op sy vurige ros?
Sy woel stywer teen die man langs haar.
Haar volgende stap is miskien die satankultus. Tensy, tensy …
“Jesus Christ!” sê Marigold Rosemary.
Sy spoeg op die maag van Oxford G. von Waltzleben om hom tot seksuele drif aan te wakker.
Sy ontvang seks en bereik ’n orgasme wat haar nogtans onbevredig laat. Maar, styfgewoel in die arms van “haar minnaar”, raak sy tog aan die slaap terwyl sy van ’n kasteel droom waarin Victoriaanse vrouens met waaiers in hulle hande deur ’n blou waas sweef. Sy droom ook van ’n Griekse godin wat wasbleek in water dryf. En dan droom sy van ’n enorme konstruksie wat kantel en val: ’n ontsaglike toring, hemelhoog, wat steier en oor die heelal val.
Sy word met ’n gil wakker.
“Wheeeewwww!”
Die hoogwaardigheidsbekleders bereik ’n stadium dat hulle bed toe moet gaan, maar die enigste belofte wat hulle aan die wagtende skoonhede toon, is ’n knypie in die donker gang. Selfs in hulle beskonkenheid dink hulle aan hulle politieke loopbaan en hulle bespied mekaar noukeurig. Dis slegs Sy Edele Loopgrave, wat in elk geval met die komende verkiesing nie die minste kans op ’n setel het nie, wat ’n ou geliefde feeks van die toneelwêreld na sy kamer toe neem. Maar almal weet dat hy privaat-prostaat-moeilikheid het en hulle vergewe hom die dilly-dally wat sy slaaploosheid vanaand miskien draagliker sal maak.
Die akteurs en aktrises van Engeland en Suid-Afrika, sowel as die skoonheidskoninginne, paar lesbies, homoseksueel, en heteroseksueel af – soos hulle dit ál die jare gedoen het as deel van die nagtaak met vele toere.
Mr. Shipmaster is vroeg kamer toe. Hy het sy deur gesluit en hy is doof vir die sagte geklop wat seksuele avontuur beloof. Hy het ’n brief wat hy oor en oor lees, en hy kan nie besluit of dit ’n produk van ’n wrede spotvoël is nie. President Amin bied hom ’n pos aan as logistikus in die leër van Uganda. Die posstempel lyk outentiek; dis aan hom deur die swart chauffeur van lord Sudden en lord Seldom oorhandig. “For your gallant endeavour against apartheid and your ceaseless fight against the Jews of Israel and white colonialism,” lees hy. Hy haal sy armsorgbrilletjie af en kyk na homself in die spieël. Daar is geheimsinnige dieptes in daardie donker oë wat in ’n lastige waterigheid dobber. Hy keer terug na sy bed en lees die brief oor en oor. Maar daar is iets wat hom hinder. Daar is ook ’n tweede brief wat hy op sy kopkussing gevind het. ’n Enkele bladsy. “Please be a logistician for our Satan’s Cult – Rosemary.” Hy plaas sy hand teen sy hoof. Waar het hy die naam Rosemary gehoor?
Maar wat hom die meeste hinder, is die kwessie van die Jode. Van sy beste vriende is Jode. Apartheid is maklik om te veroordeel. Hy het ook goed geselekteerde swart vriende. Hy raak swaar aan die slaap ten spyte van ’n dubbeldosis slaappille wat hy by ’n apteek gekoop het en niks meer is as versterkte aspirine nie.
Suster J. Fiskaal word op haar aandrang deur Le Grange aan lord Seldom voorgestel in eie naam met bynaam nagtegaal.
Lord Seldom is nie in die bui nie. Hy is ook effens hardhorig.
“Pleased to meet you, Sister Finch,” sê hy.
Toe sy in trane, weens moegheid, uitbars, is dit Le Grange wat haar troos en kombuis toe neem vir koffie.
Dr. Wittenblank lei lord Sudden deur die doolhof van gange in die Crown Hotel, bysiende op soek na lord Seldom se kamer. Lord Sudden is keurig uitgevat in groen pajamas met ’n paisley-ontwerp; ’n ligte kamerjassie oor sy skouers gedrapeer. Die hotel word ’n Kafka-kasteel en die twee blindes beweeg van gang tot gang – skuur teen mure, struikel dikwels oor ’n gevalle projekganger, verras ’n ster in ’n bikini op pad na die badkamer, dryf ’n skoonheidskoningin met ’n gesmoorde kreet in die arms van ’n Skotse Hooglander. Dr. Wittenblank klop aan ’n deur, maak dit oop en word flink deur Le Grange gesalueer. In die donkerte sien hy die skim van ’n verpleegster wat met ’n sluier bedek hom spookagtig met opgehewe arms tegemoet kom. Hy deins in ’n onsigbare waas terug. En toe klop hy aan die volgende deur, maak dit oop, en gewaar lord Seldom in ’n atletiekbroek, dartelend soos ’n nimf, besig om ’n atletiekbal teen die muur te kaats en dit teen sy midderif te vang. Hygend, en met gespanne maagspiere, kyk hy swetend na sy besoekers. “Ally-oop!” skreeu hy en die bal tref dr. Wittenblank reg op die voorkop. Toe dr. Wittenblank bewusteloos neersak, haal lord Sudden en lord Seldom sy bril af en sit hom in een van die enkelbeddens.
Toe speel lord Sudden en lord Seldom muurbal met die atletiekbal teen die muur waaragter Mr. Shipmaster op sy bed nagmerriedrome droom dat hy deur Idi Amin telkens met ’n kanon gefusilleer word vir elke fout wat hy op die gebied van logistiek begaan. Lord Sudden kry die enorme bal maklik in sy gesigsveld en hy is ’n formidabele opponent vir lord Seldom. Na ’n halfuur stort albei swetend in duie. Hulle gaan langs mekaar op die orige enkelbedjie lê: moeg, maar fiks. Lord Sudden wys vir lord Seldom die temperatuurmeter teen die muur: 109 grade Fahrenheit!
Hulle raak soos ware atlete rustig aan die slaap. Die gees van maj. Andy Wauchope sweef oor hulle.
11
Op Sondag, 10 Desember 1899 het genl.-maj. Andrew Wauchope aan die hoof van sy Skotse infanterie in slagorde by wyse van demonstrasie in die rigting van Magersfontein beweeg. Maar daar was ’n doodse stilte aan die kant van die Boere. Wauchope op sy geliefkoosde merrie, versorg deur sy stalkneg, Jobson, het eers aan die linkerkant, en toe aan die regterkant van sy regiment gery. Sy militêre voorgevoel het die dood in die stilte aangevoel. Toe hy deur lord Methuen teruggeroep is omdat daar geen reaksie van Boerekant was nie, was daar volgens oorlewering die bleekheid van die komende dood op sy gesig. Die hewige bombardement daarna met skeepskanonne en alle beskikbare artillerie op die koppie Magersfontein, wat geduur het vanaf twee-uur nm. tot skemer, sou alles vernietig.