Etienne Leroux

Klassiek reeks: Magersfontein, O Magersfontein!


Скачать книгу

swart chauffeur wil iets van Magersfontein weet.

      “Dit was ’n witmensoorlog,” sê Gert Garries. “Ek het fôkol daar­mee te doen.”

      “Good man! Good man!” sê die swart chauffeur. Hulle drink in stilte.

      “You gotta home, man?” vra die swart chauffeur. “You can share my quarters, man.”

      “I have the corpse of my child, man,” sê Gert Garries.

      “Good man! Good man!” sê die swart chauffeur. “Is it a weed or does it have soul?”

      Gert Garries kyk na die maan wat bokant die heuwels skyn. Hier­die Johannesburgse kaffer is ook ’n diep denker. Dis die klas van diep denker waarvan Gert Garries hou.

      “Onkruid vergaan,” sê Gert Garries, “maar deug bly staan.”

      “Sharp, man, sharp, man!” sê die swart chauffeur. “How much for the corpse of your child, man?”

      Hy haal vyftig eenrandnote uit en sprei hulle soos ’n waaier op die sitplek langs hom.

      “Done, man!” sê Gert Garries, terwyl hy die note versamel. “Cheers, man!” en hy sluk die whisky met één teug weg. Die maan ontplof, maar Gert Garries behou sy ewewig.

      ’n Rukkie daarna vra hy: “Where are you going to keep the corpse of my child, man?”

      “In the boot of the Cad, man,” sê die swart chauffeur.

      Hy kyk met bewondering na Gert Garries wat sy fiets van die verandapaal gaan haal, dit tot by die Cadillac stoot, die bondeltjie losgespe, en dit versigtig in die bagasiebak sit.

      “Real cool, man! Real cool, man!” sê die swart chauffeur terwyl hy versigtig rondkyk want hy is nie onbewus van die polisiekantoor om die hoek nie.

      “Real cool, man!” sê hy. “Do you want to share my quarters?”

      Gert Garries verklaar homself nie onwillig nie en hy neem intrek saam met die swart chauffeur in die bediendekwartiere van die hotel nadat hy sy fiets se wiel met ’n slot gegrendel het.

      In die nagure sluip ’n donker figuur na die Cadillac. Bewende swart hande maak die bagasiebak oop, skeur die lyksgewaad van vuil linne met obsessionele angs. ’n Bloedstollende gil skeur die nag in.

      Die kap van die bagasiebak beweeg op en af terwyl ’n verlate brandende flits ’n meter van die geskiedkundige grond belig.

      9

      Die Crown Hotel se ligte vermeerder namate die belangrikheid van die projekgaste besef word. Die bestuurder het op vingergeregte be­sluit en het van die beste geblikte disse van die plaaslike fabriek uitgehaal. In die kelders word Roodeberg, Nederburg, Simonsberg, Alto Rouge, Vlakkenberg, Jonge Gezellen, Kwakkenberg, Salmons­berg en Koningsberg ontdek. Almal proe en beruik die rooiwyn van die handelaars met groot entoesiasme, behalwe vir die paar barbare wat witwyn drink sonder om te besef dat dit nie meer in die mode is nie. ’n Geesdriftige L.U.K., ná sy soveelste glasie, rig hom tot die Lords en vra hulle entoesiastiese bevestiging dat die Suid-Afrikaanse rooiwyne van die beste in die wêreld is terwyl hy ’n warm rosé weg­sluk. Dis slegs die tussenkoms van Amicus Achtung wat verhoed dat lord Seldom ’n soortgelyke wrang ervaring beleef.

      Die L.U.K.’s het hulle ampshalwe om die twee Lords geskaar en hulle is ywerig besig om Suid-Afrika te verkoop. Met syfers en ge­gewens van die Inligtingskantoor het hulle alreeds die naakte waar­heid ontbloot en onbewus die Suid-Afrikaanse dilemma aangedui onder die indruk dat hulle ’n oplossing bied. Maar hulle entoesias­me is aandoenlik en dit is hulle gasvryheid en naïwiteit wat die Lords beïndruk.

      “Tragikomies voor die komende ramp,” sê lord Seldom vir lord Sudden, sotto voce, tersyde.

      “Maar hulle moet nie onderskat word nie,” sê lord Sudden vir lord Seldom. “Dis die les van Magersfontein.”

      “Die blanke mos maiorum moet in die projek in stand gehou word,” sê lord Seldom.

      “Die mores novi moet baie versigtig aangedui en geassimileer en getransformeer word sonder om hulle soort deugsaamheid op te offer.”

      “Net soos by die Romeine.”

      Die twee Lords is dit roerend eens vir die eerste keer. Miskien slegs tydelik.

      Hulle kyk op en sien Le Grange in sy aanduniform vóór hulle, in diep saluut. ’n Man van amper twee meter, in swart, met spierwit handskoene, protea-embleem op sy pet. Le Grange haal sy pet af, klap dit stewig in die holte van sy arm, groet almal met die hand. Hy word ’n warm rosé deur ’n L.U.K. aangebied en sluk dit met één teug weg.

      “Uitstekende Afrikaanse wyn,” sê Le Grange vir lord Sudden.

      Die L.U.K.’s gloei van trots.

      “Basies demokraties,” sê lord Sudden vir lord Seldom.

      “‘The Boer system appeared positively laughable’,” haal lord Sudden uit Dolly Gray aan.

      Le Grange gesels met die Lords oor rugby en krieket en hulle vind ’n gemeenskaplike terrein waar Le Grange hulle meerdere is op die gebied van gegewens. ’n Losse vriendskapsband word heg ge­smee. Namate die samekoms oproerig word en almal die tyd terdeë geniet, vind elkeen in sy hoekie van kommunikasie ’n universum.

      Dis dr. Wittenblank wat lord Sudden daaraan herinner dat die swart chauffeur nie in hulle midde is nie. Lord Sudden kyk bysiende na ’n venster.

      ’n Bloedstollende gil skeur die naglug.

      Die Lord is bysiende, maar nie doof nie.

      “What was that?” vra hy.

      Niemand weet nie.

      “Volgens legende hoor mens dikwels ook die geluid van doedelsakke,” sê Amicus Achtung na ’n doodse stilte.

      Dis Afrika! Dis Afrika!

      ’n Doodshand vat almal vas, en dan ontspan hulle meteens. Die platteland van die Noordwes-Kaap het besoekers geleer om saam met sy spoke te leef en het sy spoke met die verloop van tyd on­skadelik gemaak. Wie kan hom vandag werklik ’n duisend dooie en gewonde Skotte op hierdie vlaktes voorstel? Mens hoor deesdae doedelsakke slegs by die verjaarsdagherdenkingsfeeste van Bobby Burns en ten tyde van internasionale volksfeeste op eie bodem, met doedelsakspelers wat hulle aksent verloor het. Die beste danseres van die Skotse reel in die Noordweste is ’n Engelssprekende Suid-Afrikaanse meisie met die naam Magrietjie MacDonald. Die sekretaresse van die Nasionale Party heet Mary Stuart, née Nigel. Die Skotte het net so onskots geword as wat die Boere onfrans geword het. Nee, daar is geen spoke van die Boere en die Skotte uit die Swart­land van Skotland meer oor op Modderrivier nie.

      Maar lord Sudden is nie tevrede nie.

      “Ek kan dit hoor,” sê hy. “‘Sound the pibroch and cry the slogan!’”

      “Luister!” sê hy. Die projekgangers bly stil. “Luister!”

      As selfs die glasies stil word op sy bevel, hoor almal in die hotel ’n skril weeklag wat weer eens die naglug skeur: “Whee­eee­eewwwwwwww!”

      “Ons is op geskiedkundige grond,” sê lord Sudden.

      10

      Dit raak laatnag, maar die entoesiasme van die projekgangers vir die projek kan nie gedemp word nie. Selfs Mr. Shipmaster moet er­ken dat hy selde in sy loopbaan sulke toegewydes teengekom het. Amicus Achtung word telkens deur die hoogwaardigheidsbekleders gelukgewens, en alhoewel hy die “dirty Fascist pigs” haat, streel dit tog die skim van die ydelheid wat hy lankal afgesweer het. “Jesus Christ” – Marigold Rosemary noem die naam van haar Skepper oor en oor namate sy hoër en hoër vlieg met behulp van die chemie van haar aptekersvriende wat hulle vir eie orgasmes pil vir pil aan die “frigid bitch” betaal het. “Jesus Christ” is die besweringsnaam as sy voel dat sy op L.S.D. hel toe gly.

      Hierdie projekgangers is ’n leër