Gideon Joubert

Die groot gedagte


Скачать книгу

lewensgeskiedenis, en moontlik ’n geboorte en ’n dood.

Tien interessante feite oor die Melkweg
1. Dit is kromgetrek. Die Melkweg se skyf is nagenoeg 12 000 ligjare breed en die sentrale boggel se deursnee is ± 12 000 ligjare. Die Melkweg is skeefgetrek deur sy twee bure, die Groot en die Klein Magellaanse Wolke, wat met die Melkweg toutrek.
2. Die Melkweg het ’n stralekrans, ’n halo van donker materie wat meer as 90% van sy massa bevat. Dit kom daarop neer dat alles wat ons met die blote oog of teleskope kan waarneem, minder as 10% van die Melkweg is. Die halo kan nie waargeneem word nie, maar ons weet dit is daar deur van rekenaarsimulasies gebruik te maak, wat dit bereken op grond van die snelheid waarteen sterre in die skyf om die middelpunt slinger.
3. Dit het tussen 200 000 miljoen en 400 000 miljoen sterre. Op ’n helder nag kan ons net sowat 2 500 sterre met die blote oog of ’n teleskoop waarneem.*
4. Die Melkweg is stowwerig en vol gas. Ons kan net ± 6 000 ligjare ver in die sigbare spektrum in die Melkweg kyk. Ons Melkweg is ± 100 000 ligjare breed en tien tot vyftien persent van die “normale” materie is gas en stof. Die res is sterre. Met infrarooi-opspoorders kan deur die stof gesien word.
5. Die Melkweg is deur ander galaksies saamgestel. Oor biljoene jare het ons Melkweg ander galaksies “opgeëet”. Dit gebeur vandag nog. Die Canis Majoris-dwerggalaksie is die naaste aan die Melkweg en sy sterre dwaal voortdurend oor na die Melkweg.
6. Alle afbeeldings van die Melkweg is of voorstellings deur kunstenaars of foto’s van ander galaksies. Niemand, en geen aardse ruimtetuig, was nog buite die Melkweg nie, nie naastenby nie. Die verste wat ’n tuig gevorder het, was verby Pluto se baan om die son. As ons afbeeldings van die Melkweg sien, is dit hoe sterrekundiges of kunstenaars bereken dit van ’n groot afstand sal lyk.
7. Ons Melkweg het ’n swartkolk in sy hart. Die meeste galaksies het supermassiewe swartkolke in hul nawe. Die Melkweg is geen uitsondering nie. Die boggel in die middel van die Melkweg word Sagittarius A genoem. Dit bevat ’n swartkolk met die massa van 40 000 sonne. Hierdie swartkolk sal ongeveer Merkurius se baan om die son vul. Die swartkolk se aangroeiskyf het ’n massa van 4 miljoen sonne en sal die aarde se baan om die son vul.
8. Die Melkweg is amper so oud soos die heelal. Volgens berekening is die Melkweg nagenoeg 13,7 duisend miljoen jaar oud. Die boggel van die Melkweg het waarskynlik reeds 13,6 duisend miljoen jaar gelede ontstaan (die berekening kan tot 800 miljoen jare na beide kante uit wees). Die oudste sterre in die Melkweg is in bolvormige sterreswerms. Die ouderdom van die Melkweg word volgens die ouderdom van hierdie sterre bereken. Die skyf en boggel het tussen 10 000 miljoen en 12 000 miljoen jaar gelede ontstaan. Die boggel het waarskynlik voor die res van die galaksie ontstaan.
9. Die Melkweg is deel van die Virgo-supertros van galaksies, nagenoeg 150 miljoen ligjare groot. Supertrosse is groepe galaksies op ’n baie groot skaal. Tussen die galaksies in ’n supertros is groot ruimte-leegtes waarin bitter min materie voorkom. Ons galaksietros sluit die Melkweg in, benewens nagenoeg dertig ander galaksies, waarvan die naaste bure die Groot en die Klein Magellaanse Wolke is, en die Andromeda-spiraalgalaksie (M31). Laasgenoemde is twee keer so groot soos die Melkweg en dit bevat twee keer soveel sterre. Ons groep van dertig galaksies word die Plaaslike Groep genoem. Sou ’n mens van baie ver in die ruimte na ons supertros terugkyk, honderde miljoen ligjare ver, sal die Melkweg net ’n stippeltjie in ’n reuse-groep van galaksies wees, die Virgo-supertros, 150 miljoen ligjare in deursnee.
10. Die Melkweg beweeg teen ’n ongelooflike snelheid deur die ruimte. Die aarde beweeg om die son en die son beweeg om die Melkweg. Die Melkweg beweeg saam met die Plaaslike Groep teen ’n snelheid van ± 600 km/sek. verby die tafereel van die kosmiese mikrogolf-agtergrondstraling.

      * Die berekening van die aantal sterre wissel aansienlik van boek tot boek oor die sterrekunde, en van sterrewag tot sterrewag. Sterre kan nie met sekerheid getel word nie en die berekenings is grootliks skattings en afleidings. Daarom verskil die syfers ook in hierdie boek wanneer oor die Melkweg se sterre geskryf word. Dit kom uit verskillende bronne, waar die getalle wissel van 200 000 miljoen tot ’n miljoen miljoen sterre.

      (Inligting uit Google)

      4

      Heroute van die heelal

      . . . hier . . . staan ek verblind in

       U fel brand se lig . . .

      – N.P. van Wyk Louw: Die Profeet

      Golwe uit die heelal

      Soos deinings wat ver in die oseaan ontstaan het en aangerimpel kom om golf op golf op die strand te breek, só kom die elektromagnetiese deinings deur die ruimtes van die heelal, van ver en naby, uit alle rigtings op ons aangespoel.

      Party het minute gelede die energiebron verlaat, en ander het miljarde en miljarde jare gelede hul eindelose, lang-lang reis deur die donker dieptes van die heelal begin.

      Die meeste van die kosmiese golwe word deur die aarde se atmosfeer gestuit. Dit bereik ons nooit nie. Die minderheid dring daardeur en kom by ons uit.

      Al die elektromagnetiese golwe wat so aangespoel kom, is liggolwe, maar ons sien net ’n breukdeeltjie van die golwe as sigbare lig. Vir die oorgrote meerderheid van die golwe is ons stokblind. As dit net van ons sintuie afgehang het, sou ons nie geweet het hulle bestaan nie. Die onsigbare golwe kan met instrumente opgevang word, en ons gee hulle name soos radio-, infrarooi, ultraviolet-, X-straal- en gammagolwe.

      Almal is egter liggolwe. Nét die frekwensies en golflengtes verskil. Soos ’n radio ingestel is om golwe van ’n sekere golflengte op te vang, is ons oë ook ingestel om golwe van ’n bepaalde golflengte waar te neem. Die ander gaan by ons verby. Van die meeste weet ons nie eens nie.

      Infrarooi golwe voel ons darem as warmte. ’n Klein bietjie van die ultravioletstrale syfer ook deur die atmosfeer en brand ons velle rooi of bruin, en as ons te lank op die strand lê, vernietig hulle die selle van ons vel en laat dit afdop. Hulle bleik ook ons wasgoed.

      Op verskillende maniere word van hierdie golwe deur mensgemaakte toestelle opgewek en deur die mens gebruik. Gloeilampe stuur sigbare liggolwe uit, en ’n bietjie infrarooi, want die lampie word warm. Ons maak vuur of gebruik verwarmers om infrarooi golwe na ons uit te straal om ons en ons omgewing te verwarm. Ons gebruik dit ook om water te kook en kos gaar te maak.

      Dokters gebruik X-strale. Vliegtuie en skepe gebruik radar. Radiogolwe word gebruik om vir ons die nuus en TV-beelde uit te saai. Met mikrogolwe se energie kook ons kos in spesiale oonde. Daar is ook die minder bekende gammastrale wat op aarde deur radioaktiewe atoomkerne uitgestraal word.

      Almal is ligstrale. Al hierdie strale van verskillende golflengtes kom ook uit die buitenste ruimte op ons aangekring, maar sommige word deur die atmosfeer uitgefiltreer of weerkaats. Die enigste verskil tussen sigbare en onsigbare lig is die golflengte en frekwensie van die golwe.

      Vir ons hier op die aarde is die sigbare liggolwe natuurlik die belangrikste, want hiersonder sou ons niks kon gesien het nie. Vir sterrekundiges is alle kosmiese strale, sigbaar en onsigbaar, baie belangrik. Hulle het instrumente waarmee hulle onsigbare strale opvang, en dié verskaf waardevolle inligting oor hemelliggame wat nie deur sigbare strale oorgedra kan word nie.

      Kosmiese golwe is die boodskapdraers van die hemelruim.

      Belangrike boodskappers uit die ruimte

      Sonder liggolwe kan ons nie lewe nie en sou ons nie van die bestaan van die son en die sterre geweet het nie.

      Kosmiese liggolwe, sigbaar en onsigbaar, word veroorsaak deur ’n versteuring van die gekoppelde elektriese en magnetiese velde in die hemelruim. Soos ’n klippie in ’n dam die watervlak versteur en golwe vorm, só veroorsaak steurings in die hemelruim die elektromagnetiese golwe wat tot in die uithoeke van die heelal uitkring. Sommige van die steurings is die gevolg van ontsettende kragte wat baie ver woed.

      Alle elektromagnetiese golwe vibreer. Daar is ’n groot verskil tussen die geweldig vinnige trilling van gammastrale en die stadige deining van radiogolwe.

      As jy ’n sentimeter op ’n liniaal in ’n honderdmiljoen deeltjies probeer verdeel, kan jy jou voorstel hoe mikroskopies klein so ’n deeltjie moet wees. Een van hierdie deeltjies word ’n Ångström (Å) genoem, die meeteenheid van elektromagnetiese golflengtes (1 Å = 10-10 m). Die afstand