verseker Erik haar. “Lees gerus wat in jou aansoekbrief staan. Jy’s ’n vrou van edele inbors, Sussie!”
Breggie wil dood toe sy sien wat Erik alles onder haar naam kwytgeraak het. “As alles wat hier staan wáár moet wees, is ek ’n regte ou soetkoekie wat daarop floreer om goeie dade te doen. Vir die liefde van die saak omdat geld nie vir my belangrik is nie. ’n Leiersfiguur in die gemeenskap wat glimlaggies uitdeel asof dit stokkielekkers is.”
Dit terwyl sy deesdae eerder grom as glimlag!
“Erik, jou luis! Hoe op aarde gaan ek dit regkry om die beeld wat jy van my geskilder het vol te hou, selfs al is dit net oor die telefoon? Jy weet ek is nie so nie.”
“Nee, nie meer nie, maar jy was op ’n stadium. Jy was nie altyd so ’n ou bitterbek nie. Daar was ’n tyd toe jy ’n sonstraaltjie was wat ons almal opgebeur het.”
“Iemand wat in haar vrye tyd vrywillige verpleging doen? Wat jy waar kry? Ek sien hier ek het oumensies besoek, vir hulle blomme aangedra en hul hare versorg. Liewe hemel, jy’t my stralekrans omtrént gepoets. Geen wonder dit het die dokter verblind nie.”
“Wel, daar wás die keer toe tant Sarie in die hospitaal was en jy by haar gaan kuier het ...”
“Net omdat Ma my gevra het om te gaan. En ek het ook net daardie enkele keer haar hare vir haar gevleg.”
“En haar kunstande geborsel.”
“Ja, en my morsdood gegril daarvoor.”
“Ek hét miskien ’n bietjie aangedik,” erken hy.
“Aangedik? Ek sou eerder sê jy’t dik stukke gelieg! Hierdie dokter gaan van my verwag om sy pasiënte se glasoë blink te hou.”
“Al wat ek wou doen, was om jou liefdevolle geaardheid te beklemtoon, Breg,” verdedig hy. “Iets wat jy blykbaar intussen heeltemal verloor het.”
“Wel, ek het die lewe leer ken soos dit is. Verskoon my as ek sinies geraak het.”
Sy wip soos sy skrik toe die telefoon lui. “Kan dit al hy wees?”
Erik knik. “Gaan hoor ten minste net wat die man te sê het.”
Breggie weet self nie waarom sy dit doen nie, miskien omdat alles te skielik op haar afgekom het. Miskien omdat sy vir die eerste keer in weke, nee, maande, aan iets anders gedink het as die vernedering en die ontnugtering van die afgelope tyd. Miskien omdat sy diep binne-in haar, daar doer ver waar daar lanklaas ’n roering was, effens nuuskierig geraak het om meer te hoor van hierdie man wat oorkant die water sy sakke vol prop met ponde terwyl sy dienste hier in sy eie land so nodig is. Tipies! ’n Slaplap van ’n wegloop-dokter soos soveel ander wat hul tassies gepak en hul heil elders gaan soek het.
“Hiervoor gaan ek jou terugkry,” belowe sy oor haar skouer toe sy die gehoorstuk van die telefoon optel.
“Goeiemiddag.”
Daar’s ’n padda in haar keel en sy bloos asof die man haar kan sien hier waar sy in haar sakkerige romp en vuil sokkies staan. Sy sal regtig iets aan haar voorkoms moet doen, besef Breggie. Anders gaan Erik se voorspellings waar word.
“Middag. Praat ek nou met Breggie?”
Die man moes seker een of ander tyd spraaklesse geneem het, dink Breggie. Met ’n stem soos daardie – hy klink soos ’n predikant. Nee, nie ’n predikant nie, eerder ’n dramaturg, ’n ghoeroe van ’n aard, of ’n lewenstrateeg. Iemand wat die wêreld se wysheid in pag het en aan wie se voete jy wil sit en luister. Net luister en luister, selfs al lees hy vir jou vervelige statistiek voor.
Hoe sou iemand met so ’n ryk en donker sjokoladestem lyk? wonder sy vir ’n oomblik. Seker soos een of ander insek. ’n Hottentotsgot, dalk. ’n Skraal man met ’n lang nek en arms wat op sy knieë hang. Sy weet hoe die lewe is – die geluksgodin deel nie uit sonder om te vat nie. Noem dit karma, noem dit Murphy’s Law, noem dit kosmiese balans, sy sien dit elke dag van haar lewe.
Neem nou maar vir Erik met sy 20/20-visie. Kyk wat gaan op sy kop aan – niks! Of dan, baie min. Arme ou Erik gaan heeltemal bles wees teen die tyd dat hy vrouvat en kinders kry. Hier sit sy weer alewig met ’n bril op die neus, maar sy dra ’n haredos met haar saam wat twee of meer koppe kon bedek. Om ’n swaar, soet stem soos hierdie te beman, sou die dokter heel moontlik ook iets moes inboet.
Sy kug. “Dis reg. Dis Breggie Bruwer wat praat.”
“Breggie.” Die man rol haar naam in sy mond. “Is dit jou doopnaam?”
“As ek ’n muntstuk kon kry vir elke keer wat ek daardie vraag gevra word,” sug Breggie. “Ja! Dis my doopnaam.”
Sy hoor die man sag lag.
Ja, lag maar, dink sy. Jy en ’n horde ander mense. Vir my was dit nooit snaaks nie. Vir my was dit ’n stryd om elke keer vir die onderwysers by die skool te verduidelik dat dit is hoe ek tot die dag van my dood bekend sal staan. En ja, dis ook die naam wat op my grafsteen sal staan – vir die nageslag om oor te giggel.
O, sy hét al daaraan gedink om dit te verander, maar dit sou nie sin maak nie. Vir almal wat haar ken, sal sy steeds Breggie bly. Ou Breggie Bril, soos sy op skool bekend gestaan het. Geen amptelike stempel van die Departement van Binnelandse Sake sal iets daaraan kan verander nie. Haar naam, soos haar bril, is die doring in haar vlees waarmee sy lewenslank opgesaal sal sit en klaar.
“Breggie Bruwer,” laat die man weer hoor. “Daar’s ’n lekker klank aan. Breggie ... Breggie Bruwer.”
Sy het nie ’n idee wat om daarop te antwoord nie. “Dankie,” sê sy, vir ingeval dit as ’n kompliment bedoel is.
“Waarvandaan kom jou naam?”
Waddehel is dit met die man dat hy so ’n bohaai maak oor haar naam? Toegegee, dis ’n simpel naam, maar dis seker nie die ergste wat daar is nie. Wat van Kakebenia? Of Eufesia?
“Ek is na my ouma vernoem,” antwoord sy so kortaf as moontlik.
“Laat ek raai – Heibreght?”
“Nee. Erger. Gerbrecht.”
Hy lag! Hy lag sowaar! Asof die hele wêreld haar nie al genoeg bespot nie, lag hierdie wildvreemde man nog vir haar naam ook. Hoeveel vernedering kan ’n mens op een dag verwerk?
“Aan vaders- of moederskant?” vra hy. “Hierdie ouma Gerbrecht wie se naam jy geërf het?”
“Vaderskant,” antwoord sy koud.
“Aard jy na haar?”
Breggie draai haar om en gee Erik ’n kyk wat die laaste paar hare op sy kop kan skroei. Hy sit en verkneukel hom daar in die hoek in die deel van die gesprek wat hy kan volg.
“My ouma Gerbrecht was ’n nooi Van Helsdingen,” vertel sy met lus. “Een van daardie kaalvoet-oor-die-Drakensberge-tipe, jy weet? En ja, ek is veronderstel om na haar te aard.” Hopelik sal hy haar nou met meer respek behandel.
Natuurlik is sy nie so ’n reputasie waardig nie. Sy sal deesdae nie eens kaalvoet oor Tygerberg-heuwel kan kom nie. Sy’s nie ’n sterk vrou nie. Kyk hoe het sy die afgelope maande gevou! Sy beskik oor niks wat van haar ouma ’n nooi Van Helsdingen gemaak het nie.
“Nou maar dan is jy presies waarna ek soek,” laat hoor dokter Condor, oënskynlik in sy skik.
“Miskien ... as jy my beter leer ken ...” stamel Breggie.
“Dis die plan, ja. Om mee te begin, verkies ek dat ons mekaar in die oë kyk terwyl ons gesels. Selfs al is dit in die kuberruimte. Het jy Skype op jou rekenaar?”
“Skype?” Die woord is genoeg om haar nekhare te laat rys.
“Ja. Of enige ander program wat sal toelaat dat ons mekaar kan sien terwyl ons praat. Ek gebruik Skype, met goeie resultate, en ek stel voor jy skakel ook daarby in.
“As jou rekenaar ’n ingeboude kamera het, behoort