geamuseerde klankie in sy stem. “Ek neem aan jy gebruik die naam, Breggie? Maklik genoeg om jou te roep, want ek twyfel sterk of daar iemand anders is wat as sulks geregistreer is.”
Die man se stem het ’n hipnotiese uitwerking op ’n mens, dink Breggie. Selfs as hy oor iets so tegnies soos ’n internetverbinding praat, klink dit of hy ’n gedig voordra. Hoe moet dit klink, wonder sy vlugtig, as hy die dag tere liefdeswoordjies in jou ore fluister? Sy skud haar skouers. Die dekselse man sal kondensmelk deur ’n mens se are laat vloei as jy nie versigtig is nie.
“As jy probleme het met die programmetjie, kan ek jou oor die telefoon deur die proses help.”
Breggie wil hom verseker dat hy háár niks daarvan kan vertel nie, maar sy laat hom praat sodat sy die kans het om haarself bymekaar te maak. Die herinnering is nie soet nie en die pyn is met wreedaardige felheid terug in haar bors.
Sy’t lank om Leon se ore gekerm om dieselfde programmatuur wat hy vir sy video-konferensies gebruik, op haar rekenaar te installeer. “Dan kan ons mekaar sien terwyl ons gesels al is jy duisende kilometers ver.”
Hy’t haar onbegrypend aangekyk. “Ek weet mos hoe jy lyk.”
“Ja, maar jy gaan lank weg wees. ’n Week, twee weke, hoe lank is dit hierdie keer?”
Dit was net voordat hy weer op een van sy gereelde sakereise sou vertrek, dié keer weer New York toe. Haar keel wou toetrek by die gedagte daaraan. Die Empire State-gebou, die winkels, die stadsligte, Central Park waar die gras groen groei, al daardie mooi meisies in Manhattan wat met hoëhakskoene in Fifth Avenue rondloop. Alles dinge waaraan Leon blootgestel sou word terwyl sy ewe kuis by die huis sit en wag.
Sulke tye was die horlosie nie haar maat nie. Bedags terwyl sy gewerk het, kon dit nog gaan. Dan was daar ander stemme om haar en het die eensaamheid nie met sy yskoue asem in haar nek geblaas nie. Maar saans het die stilte haar versmoor. Die toegetrekte gordyne, die netjiese kombuis, die lazyboy wat leeg teenoor haar staan en koggel het: Hier sit jy, jou arme drommel! Stoksielalleen op ’n Saterdagaand!
Naweke was die ergste. Die duiwel het soms op haar skouer geklim om haar geselskap te hou. “As hy rêrig vir jou omgegee het ... as hy net so intens na jou verlang het soos jy na hom, sou hy sy reëlings so getref het dat hy ten minste naweke by jou kon wees,” het hy met sy duiwelstem in haar oor gefluister. “Daar word nie oor naweke vergaderings gehou nie en Leon sit vir kwaadgeld rond. Of in Johannesburg, of in Parys, die een week in Europa, die volgende in Londen, Chicago, New York, you name it!”
Leon het die wêreld deurkruis, maar haar nooit saamgenooi op hierdie reise van hom nie. “Wat sal jy nou daar gaan maak, Breggie? Ek gaan om te werk. Jy sal jou morsdood verveel.”
Morsdood verveel in wêreldstede met alles wat daar aangebied word, met alles wat ek kan sien en ervaar? het sy gedink. Maar haar ingeboude ordentlikheid het haar daarvan weerhou om hom te smeek om haar saam te vat. Totdat sy ’n bonus by die firma verdien het en self begin planne maak het vir ’n oorsese vakansie. Toe kon hy nie langer ’n verskoning vind nie. “Ons gaan sommer Disneyland toe,” het hy besluit. “Dis die maklikste.”
Die maklikste? Miskien, ja. Maar dis nie wat sý wou doen nie. Sy het ’n poging aangewend om hom tot ander insigte te bring, en toe besluit dis nie die moeite werd nie. Sy sou gaan waar hy wou gaan en die beste van die saak maak.
Hulle sou as ’n paartjie allerhande avonture beleef en saans saam in die hotelkamer wees. Sy in die sexy nagklere wat sy spesiaal vir die okkasie gekoop het. Miskien, so het sy heimlik gehoop, sou dit Leon aanspoor om die jawoord te vra sodat sy hom voor die preekstoel kon kry. Daarna kon hulle ’n ware wittebrood beplan, waardig en wettig saam wees.
Maar die vakansie was ’n ramp. Alles om haar was van swak gehalte. Pure plastiek! het sy heimlik gedink. Selfs die Amerikaners in hul geblomde kortbroeke en duur sonbrille het haar verveel.
“Sien jy? Ek het jou mos gesê!” was Leon se reaksie toe hulle ’n week vroeër as wat hulle beplan het in Suid-Afrika land. “Dis hoekom ek jou nooit saamnooi op my oorsese besoeke nie.”
Sy’t nie weer gevra om saam te gaan nie.
Sy’t vrede probeer maak met sy afsydigheid, aanvaar dat sy hom met sy werk moes deel. Hy’t tog ’n vet tjek huis toe gebring en altyd met die nuutste model motor gery, met haar aan sy sy. En wanneer hy terug was, het hy weer in sy lazyboy neergesak. Sy’t niks gehad om oor te kla nie, baie om voor dankbaar te wees.
Sy wou net graag weet dat sy vir hom saak gemaak het. Maar sy kon netsowel vir die maan gewens het. Dit was laf van haar, het sy geredeneer. Leon is Leon, hy raak nie opgewonde oor die eerste lentebloeisels of oor klein katjies en tranerige flieks nie. Leon was so romanties soos ’n ou vadoek. Geen wonder hy kon nie opgewonde raak daaroor om met haar van aangesig tot aangesig op Skype te praat nie.
Maar die teleurstelling daaroor was bitter in haar bors.
Sy het nogtans die nodige program afgelaai in die hoop dat hy van plan sou verander. Dat hy eendag die begeerte sou uitspreek om haar te sien omdat hy haar mis. Sy sou haar behoorlik en bekoorlik uitvat, in haar Sondagsklere as dit nodig was. Of in deurskynende nagkabaaitjies as hy in die aand sou bel. Sy sou haar lippe tuit en haar hare koketterig agtertoe gooi en so ’n bietjie stuitig wees. Sy sou alles moontlik probeer om Leon huis toe te laat verlang.
“Miskien wil hy saans ná ’n lang dag sy das afhaal en in sy sokkies rondloop en wil hy nie hê jy moet hom so gehawend sien nie,” het Erik probeer troos.
Maar dit was ’n simpele troos. Sy het Leon tog op sy slegste gesien – met of sonder sy sokkies. Soggens as hy wakker word met sy hare penorent, die keer toe hy griep gehad het en soos ’n stoomenjin gesteun en gekreun het, die tye toe hy te lekker gekuier het en met ’n babelas wakker geword het wat hom na ’n boemelaar laat lyk – en ruik – het.
“Jy’s seker reg,” het sy gesê.
Nie omdat sy dit geglo het nie, maar omdat haar trots haar nie toegelaat het om te wys hoe afgehaal sy daaroor gevoel het nie.
En nou ... nou wil hierdie wildvreemde doktertjie hê sy moet van Skype gebruik maak omdat hý wil sien hoe sy lyk. Tipies man! Graham Condor wil natuurlik weet of sy mooi genoeg is en of hy maar eerder moet verbyhou.
“Is jy nog daar?” klink sy stem skielik dringend in haar oor op.
“Ek het Skype op my rekenaar,” verseker sy hom vinnig.
“Nou maar toe dan! Waarom mors ons nog tyd? Gee my jou besonderhede, dan skakel ek jou gou op die rekenaar.”
“Nou dadelik?”
“Ja. Hoekom nie?”
Omdat, sou sy vir hom kon sê, ek soos ’n skroplap lyk. Omdat ek nie wil hê iemand buiten my naaste bloedfamilie moet my so sien nie. Omdat ek ’n gogga-maak-vir-baba-bang-verskynsel is.
Maar nie een van hierdie besware sal vir hom sin maak nie. Dokter Graham Condor het heeltemal ’n skewe beeld van haar, hy sien haar as die supervrou wat deur die dekselse Erik aan hom voorgehou is. ’n Bekwame nommer wat liefdadigheidsorganisasies ondersteun en in ’n japtrap ’n funksie vir ’n politieke party kan reël wat ordelik en sonder voorvalle sal verloop. ’n Raakvatter!
Sy gluur haar broer weer aan, maar daar is niks wat hy aan haar penarie kan doen nie. Soos ’n lam ter slagting rammel sy haar besonderhede af. Toe sy die foon neergesit het, gryp sy na haar hare. “Dêmmit, Erik, kyk wat het jy nou gedoen! Die man wil sien hoe ek lyk.”
“Oe-hoe!” Hy maak sy oë groot.
“My hare ... ag, ek kan nie eens onthou wanneer ek laas by Romando was nie. En my gesig ... ek het nie ’n krieseltjie grimering aan my gesig nie!”
“Knoop oop jou bloes!” gee hy raad. “Gou!”
“Jy’s laf! Hoekom sal ek dit wil doen?”
“Moenie vir jou dom hou nie, Breggie. Die man sal gelukkig nie jou onderstel kan sien nie, ook nie jou beenhare wat so welig groei nie.” Hy kom nader,