Hy spring weg in die rigting van haar slaapkamer. “Waar’s jou lipstiffie?”
Lipstiffie? Het sy ooit nog so iets wat nie al verdroog het nie?
“Who knows, Erik? Ek weet nie. Los dit, daar’s nie tyd daarvoor nie.” Sy gryp haar handsak wat op die tafel lê, krap daarin totdat sy haar parfuumbotteltjie raak vat en spuit mildelik daarvan agter haar ore en op haar polse. “Breggie!” raas Erik. “Die man kan jou nie ruik nie!”
“Maak nie saak nie,” sê sy toe sy na haar rekenaar stap. “Ek kan!”
Erik sal nie verstaan nie. As sy omgewe word van ’n volronde, vroulike geur, aktiveer dit iets in haar psige wat haar beter laat voel. Dit werk selfs daardie tye wanneer sy in ’n moddermoeras wil wegsak. Haar parfuumbotteltjie is feitlik leeg gespuit, en as sy veel langer in selfbejammering gaan versink, gaan daar nie ’n lekseltjie van die duur inhoud oorbly nie.
“My bril,” wonder sy hardop. “Moet ek my bril afhaal?”
“Kan jy daarsonder klaarkom?” Daar is ’n huiwering in Erik se stem.
“Jy ken die antwoord op daardie vraag, Erik: nie regtig nie.”
Maar toe die Skype-oproep deurkom, wag sy dokter Graham Condor sonder haar bril in. Alles aan hierdie onderonsie is skyn, ’n vooropgestelde toneeltjie wat niks met die werklikheid te doen het nie. Daarom kan hy maar glo dis hoe sy normaalweg lyk.
Sy skreef haar oë toe sy gesig op haar rekenaarskerm verskyn. Sy verwag half en half ’n Gandhi-figuur. Wel ... miskien nie heeltemal nie, die man leef immers in ’n wêreldstad waar voorkoms baie belangrik is as jy sukses wil behaal en waar jy nie met ’n doek om die lyf gaan wegkom nie. Nogtans verwag sy iemand wat op die oog af lyk of hy iewers in sy binneste ’n stuk wysheid ronddra wat by daardie diep, donker stem van hom sal pas. Hoewel ... die man het tot dusver nie juis met wonderlike wyshede vorendag gekom nie. Nee, hy kon beswaarlik sy binnepret oor haar simpele ou naam verberg, en die vrae wat hy gevra het, was bra oppervlakkig.
Maar die deksel van Pandora se boks is gelig en sy is vretend nuuskierig om te sien hoe die man met die heuningsoet stem lyk – iets wat sy nie met die blote oog behoorlik kan doen nie. Hy het natuurlik ’n voorsprong, is seker getrim tot by sy tone, terwyl al wat sy het, die geur van haar peperduur parfuum is.
“Ja, dis beter,” sê Graham na ’n oomblik se stilte waarin hy haar seker behoorlik bekyk het. “Aangename kennis, Breggie Bruwer.”
“Goeiemiddag, dokter,” stamel sy en voel-voel na haar bril.
“Nee wat, Breggie, ons sal mekaar op die naam moet noem, hoor. Vir so ’n mooi meisiekind met so ’n oulike naam wil ek nie juffrou sê nie. My naam is Graham, hoor.”
Mooi meisiekind? Dis ’n gevaarlike kombinasie daardie – ’n stem soos ’n melodie en ’n vleier op die koop toe.
Breggie gryp senuweeagtig na haar bril en plak dit op haar neus. Dis toe dokter Graham Condor se gesig behoorlik in fokus kom op die skerm dat sy haar lam skrik. Dis ’n mooi man, modelmooi soos wat hy hier ’n liniaallengte van haar oë af haar ondersoekend aankyk. Hy’t ’n dik nek en moet taamlik bonkig gebou wees, lei sy af. Maar dis sy krulkop, sy donker oë en sy gul mond wat haar na woorde laat soek.
Vir wat wíl ek nou ook ’n indruk maak? wonder sy vies. Wat op aarde maak dit saak wat hy van my dink? En tog is daar genoeg Evastrots in haar om te wens sy was beter voorbereid op hierdie virtuele ontmoeting.
“En daardie bril, Breggie?” vra hy en weer hoor sy die lag in sy stem.
Sy sug innerlik. Die man skop haar vandag op haar achilleshiel asof hy opleiding gekry het daarvoor. Eers haar naam waarvoor sy haar haar lewe lank al skaam, en nou natuurlik ... die bril! Die ewige, altyd teenwoordige ou bril! Die albatros om haar nek wat sy al van haar kinderdae af dra.
Reg aan die begin het sy nie ’n idee gehad wat nog alles vir haar sou voorlê nie. Daardie tyd was sy ’n dolgelukkige ou dogtertjie vir wie die son elke dag opgekom het en die toekoms gelag het. Destyds, toe sy skaars begin skoolgaan het en niemand anders in haar klas ’n bril gedra het nie, nie eens juffrou Nolte nie.
Juffrou was dierbaar en het soos ’n blomtuin geruik. Al dertig graadtwee-leerders het haar bewonder asof sy ’n engel uit die hemel was. Hulle sou appels aandra en flikflooi tot hulle flou val om haar te plesier. Om Juffrou se witbroodjie te wees, was ’n droom, ’n statussimbool!
En sy wat Breggie is, het dit nogal reggekry. Want sy was slim! Sy kon al die moeilike name op die boeke lees lank voordat die res van die klas dit kon baasraak, en Juffrou het haar graag gevra om die boeke uit te deel. Ja, sy moes haar neus feitlik teenaan die boek hou om die letters uit te maak, maar sy kon dit nogtans regkry.
Dit was juis dié takie wat Juffrou se aandag daarop gevestig het dat sy moontlik probleme met haar sig kon hê. Toe Juffrou vir haar ’n afspraak by die skooldokter reël, was sy nie bekommerd nie. O nee, sy was trots daarop. Dit het tog gewys hoe spesiaal sy is, dan nie?
En toe ... Ag, droewe dag! Toe moet sy vir die skooldokter die letters van die kaart aflees, eers met die een oog en toe met die ander. En toe ... maak sy net soveel foute soos arme ou Hendrik wat hakkel as hy lees en altyd nul uit tien vir sy speltoetse kry. O, die skande! Die verskriklike skande! Sy’t gehuil, sy onthou. Haar neus het geloop en Juffrou het vir haar ’n snesie uit haar handsak gehaal en haar probeer troos.
Daar was net een uitweg: as sy slim wou bly, moes sy ’n bril kry.
“Hierdie bril, Graham,” antwoord sy nou afgemete met spesiale klem op sy naam, “is mý bril.” Haar stem bewe toe sy sê: “Ek dra dit om beter te kan sien, my kind.”
Dis ’n ou grappie, ’n flou grappie wat sy dikwels maak wanneer iemand haar na die bril vra. Dan probeer sy effens uit die hoogte teen haar neus af praat soos met ’n kind wat die verhaal van Rooikappie ken en die verwysing sal verstaan. Sy wou uitdagend klink, maar soos gewoonlik kry sy dit nie heeltemal reg nie. “Ek dra darem nie altyd bril nie,” vra sy verskoning. “Net soms.”
“Om te lees?”
“Onder andere, ja.”
“En te bestuur?”
“Wel ... ja.”
Wat neuk die man so met haar bril? Ja, goed, hy ís ’n oogarts, hy sal seker daarin belangstel, maar sy is nie een van sy pasiënte nie.
“En as jy op die rekenaar werk?”
Breggie sluk. “Ja. Ek het ’n bril vir elke geleentheid. En nee, ek kan nie kontaklense dra nie – ek het probeer.”
Die plafon druk op haar kop. Al weer die ou-ou storie. Al weer haar bril wat haar pootjie. Die moedeloosheid vou soos ’n swaar mantel om haar. Nou goed, sy weet ’n mens kry nie ’n prikkelpop of ’n sekskat met ’n bril nie ... Sy verwag nie dat mans soos honde wat ver gehol het aan die hyg moet gaan die oomblik wat hulle haar sien nie, wil dit ook nie hê nie. Maar sy is keelvol daarvoor dat haar bril haar dadelik as sekskat diskwalifiseer en as Sondagskoolonderwyseres klassifiseer. Soms, net soms wil ’n vrou hê mans moet na jou kyk met dierlike drange in hul oë.
Sy’s mooi genoeg, sy weet. Sy sien dit as sy in die spieël kyk, selfs sonder haar bril. Sy’t ’n besonderse boskasie blonde hare, ’n bietjie te krullerig na haar smaak, maar nogtans mooi genoeg om soos die Lorelei van ouds mans taamlik mal te maak wanneer hul vingers daarin verstrengel raak. Oor haar oë het ’n medestudent, wat tot oor sy bakore verlief was, in haar eerste jaar op universiteit ’n liriese gedig geskryf. En as sy haar lippe inkleur, was daar in die verlede genoeg mans wat wou toustaan om daardie lippe te soen – op voorwaarde natuurlik dat sy haar bril by die huis los.
Verder is sy nog mooi gebou ook, of altans, sy was altyd. Lekker wulps en sexy genoeg. Dis maar net die afgelope ruk, vandat alle kos soos saagsels proe, dat sy so skraal is soos ’n anoreksiese besemstok. Maar dis tog die beeld wat die modebedryf aan mans voorhou as begeerlik: vroue wat lyk of hulle enige oomblik kan flou val van die honger. Alles dinge wat in haar guns tel dus, maar wat met een veeg