Haar beste bruidegom
Dirna Ackermann
Melodie
1
“Nee.”
“Hoekom nie?”
Donker wenkbroue word ’n donker lyn bokant sy amper swart oë. “Néé!”
“Ag, komaan, De Wet.” Haar blik dwaal oor sy so bekende – en meestal baie geliefde – gesig onder die breë skerm van sy sonverbleikte pet. Die logo daarop belowe nog net vaagweg: Plante praat nie teë nie. Hy het die ding al so lank sy kan nie eens meer onthou wat dit oorspronklik geadverteer het nie. “Ek sal op my knieë pleit as dit nodig is.”
“Annemé.” Hy sit terug op sy hurke waar hy die laaste steen in die geplaveide paadjie om die nuwe koidamme in sy plek gelê het. Biseps vorm rond en ferm toe hy sy T-hemp se mou oor sy beswete voorkop sleep voor hy sy voorarms op sy bobene laat rus. Sterk bruingebrande hande bengel oor ewe bruingebrande knieë onder die soom van sy kniebroek wat opgeskuif het. “Watter deel van néé verstaan jy nie?” Spiere speel ’n soepel spel toe hy opstaan en ’n paar treë verder langs die nuwe bedding teen die skuinste agter die damme gaan hurk.
Binne dae het hy ’n onooglike bergplek omskep in iets wat oor ’n paar maande, wanneer die plante wasdom bereik, nog ’n sieraad in die kwekery se vrolik fleurige kroon gaan wees. Nog ’n hoekie wat sal getuig van die baas van 4Seisoene se vaardigheid as gesogte landskapargitek.
“Maar hóékom nie?” Sy haat die smeektoon in haar stem, want hy sal dit net afmaak as ’n gekerm, en dan is daar geen kans dat hy na haar sal luister nie. “Dis ’n uitstekende plan, en jy kan nie stry nie.”
“Jy weet . . .” Hy vee die ryk, klam grond om die saailinge in die nuwe bedding liefderik glad. “Ek vermoed dit al lankal, maar nou wéét ek.”
“Wat?” Hy kan so teer met haar wees soos wat hy daardie saailinge behandel, maar ook net so ontoegeeflik soos die staalbak van die kruiwa waarin die oorblywende vrag stene rus.
“Jý . . .” hy mik skrefiesoog van onder die rand van sy pet in teen die son agter haar, vee eers weer oor sy klam gesig en laat ’n stofstreep oor sy wang. ’n Klammerige kluit val van sy vingers en land teen sy bors voor dit grond toe tuimel en ’n sanderige blerts word. “Jy, Annemé Zeelie, het soms planne wat mens laat dink jy is van lotjie getik!”
Sy gee hom dieselfde skrefiesoogkyk. “En jy, De Wet Dekker, soek vir nonsies wat eerder kon gebly het. Maar probeer soos jy wil, ek gaan nie vanoggend met jou baklei nie. Jy sê nee, maar gee my net ’n rede hoekom nie?” Koppiger as ’n donkie, hierdie man wanneer hy die dag lus het. “Ek dink dis ’n absoluut wonderlike oplossing vir my probleem.”
Hy kom met een vloeiende beweging orent en sy gespierde liggaam troon bo haar uit. Hy klits die grond van sy hande af voor hy die graaf en hark wat langs die akker lê, optel en haar begunstig met ’n kyk wat boekdele spreek. Sy weet, want sy ken hom en sy kyke, maar vanoggend praat hulle ’n taal waarvan sy g’n snars verstaan nie. “En dit is?”
“Komaan, Daai . . .”
“De Wet, poppielap, De Wet.” Daardie onleesbare kyk loop van haar kop tot by haar duur hoëhaksandale en weer terug. “Jy vergeet blykbaar ek het daardie seuntjie lankal agtergelaat.”
“Oukei, oukei,” hensop sy. “Ek belowe ek sal jou nie weer so noem nie as jy belowe jy noem my nie weer poppielap nie. Ek is amper drie-en-twintig, nie meer drie nie.”
“Wanneer jy jou begin gedra soos die volwassene waarop jy jou so beroem, sal ek dit alte graag doen. Maar dan weer, ek het nou so gereken: as ‘poppielap’ goed genoeg was vir Oupa, is dit goed genoeg vir my.”
Party dae wens sy sy kan hom sommer onder die grond van een van sy beddings inspit. “Dieselfde geld vir Daai. As hy jou so kon noem, hoekom kan ek nie?”
“Omdat my eerste naam De Wet is.”
“En jou tweede is Daniël.” Hoekom hou die man hom so dig? “Jy wéét hoe trots hy was dat jy sy naam dra. So waarom kan ek jou nie ook so noem nie? Of verkies jy dat ek jou Drie-D noem soos die outjie in graad sewe wat jy toe ’n blouoog gegee het?”
Hy gee geen aanduiding dat hy gehoor het nie, vat net die twee tuinimplemente in een hand en stoot die ander se vingers deur sy kort kuif. Dit laat hom met ’n skepping wat lyk asof vaardige stileervingers baie geld daarvoor kan vra. “Kom jy, kabouterkind, of bly jy? Ek het werk,” vra hy van sy groot hoogte af en gebruik oupa Danie se ander naam vir haar. Sy sê steeds dankie dat dit plek gemaak het vir die ietwat – ook maar net-net – meer aanvaarbare “poppielap”.
Sy wil hom nie net in sy eie bedding inspit nie, soms wens sy sy kan hom soos Gulliver op Lilliput teen die grond vaspen met toue – maar bo-oor ’n miernes. En dan ’n hele bottel heuning oor hom uitgooi. Hoekom moet sy altyd aan die kortste ent trek net omdat sy, letterlik, kleiner en jonger is?
Maar meestal is sy vir hom só lief.
Hy is haar allerbeste pel. Haar vertroueling. Haar ouboet. Hy ken al haar geheime. Vandat sy op die ouderdom van vier op sy skoot geklim en hom vertel het sy is so bly sy en haar pa en ma bly nou in die huis op die berg, en sal hy asseblief haar boetie wees, tot die besef dat sy dom was om aan Abrie verloof te raak. Alles.
Hy weet van haar eerste liefde. Van haar eerste soen, tot van die eerste ou teen wie sy net vir haar paaltjies moes keer. ’n Ou wat – so moes sy toe agterna hoor – een oggend met ’n blou oog by die werk aangekom het.
Elke vreugde of traan wat haar al ooit te beurt geval het, het sy met De Wet gedeel. By hom kan sy haarself wees, nie haar geredigeerde self wat sy so baie vir ander probeer voorhou nie. Soos om met ’n yslike glimlag by die werk te sit terwyl sy die mure kaalhande wil uitklim, maar ook nie die vryheid – of is dit vrymoedigheid? – het om te loop nie.
Sy struikel toe haar sandaal se dun hak in ’n gleufie in die klippaadjie vashaak.
“Pasop!” Sterk arms keer dat haar neusvelle in die slag bly. “Hoeveel keer het ek al vir jou gesê daardie goed gaan jou nog ’n gebreekte nek besorg?”
“Halló?” Hande teen die harde spiere onder sy hemp, druk sy haarself regop en stoot hom ergerlik weg, voel die grinterigheid van grond teen sy hemp. “Indien jy dalk nog nie gesien het nie, ek makeer lengte, en die enigste manier waarop ek myself kan laat geld, is om langer te lyk.”
Hy lag. “Glo my, jy het nie lengte nodig om jouself te laat geld nie, maar kom terug na die punt toe, Annemé. Wat is jou probleem?”
“Watter probleem?” Annemé stof vieserig die grondlagie van haar vingerpunte af. Die man het haar skoon deurmekaar gepraat.
De Wet sug die sug van een wat baie geduld aan die dag moet lê. “Kom ons begin voor. Jy het hier aangekom met die warkop-idee dat ek vir jou ’n man moet soek, toe sê ek jy is van lotjie getik, toe sê jy . . .”
“Orraait! Ek kry die prentjie.” Die gedagte het haar vroegoggend so uit die bloute bespring, en sy het amper uit die bed geval van opgewondenheid. Hier was die oplossing vir haar begeerte om nóú ’n man te hê teenoor haar skynbaar ingebore swakte om altyd die verkeerde mans te kies. Sy was só haastig vir hom om ook in haar opgewondenheid te deel en nou dié reaksie. “Ek mag blond wees, maar ek is nie dom nie.”
“Ek het nog nooit gesê, óf gedink, jy is dom nie, Annemé.” Hy skud sy kop asof hy radeloos is. “Praat terwyl ons loop. Anders as sekere mense wat ’n salaris kry, het ek ’n besigheid om aan die gang te hou.”
Hulle loop om die hoek van 4Seisoene se hoofgebou, en soos elke keer dat sy hier kom, verstom sy haar oor die Eden wat hy hier geskep het.
Ry op ry plantbeddings onder die skadunet vorm ’n fees vir die oog. Son, skaduwee en kleur in ’n simfonie wat so bevredig dat sy ’n sketsboek wil vat en die res van die dag hier sit om al die wisselende buie van die toneel voor haar vas te vang. En dan die wêreld wat sy vasgevang het, te bevolk met wesens wie se stories sy in volkleur wil vertel.
Amper sug sy van frustrasie en sommer verdriet ook. Om dag vir dag agter ’n lessenaar te moet sit en sensasieberigte wat deurgaan as nuus te moet redigeer en korrigeer terwyl haar