Dirna Ackermann

Haar beste bruidegom


Скачать книгу

in die sloot af dopgehou. Mettertyd het hy die mense begin herken: die man met sy silwergrys kop, die mooi blonde vrou, wat hy later uitgevind het nie so jonk was soos sy gelyk het nie, en die dogtertjie met haar helder laggie. Maar hy het op ’n afstand gebly. Vas van plan om die indringers in sy klein paradys te haat tot in lengte van dae.

      Die dag dat die trek aangekom het, het Oupa gaan help en Ouma eetgoed aangedra. Hy het die spul dikmond vanuit sy skuilplek gadegeslaan. Dit was eers die volgende dag dat die witblonde klein parmant sy lewe binnegehuppel het waar hy by die kombuistafel gesit het met die laaste stukkie van Ouma se suurlemoentert.

      Haar hare in ’n fonteintjie op haar kop, haar oë ’n soort blou wat hy jare later besef het lyk soos die waters om ’n tropiese eiland op ’n helder sonskyndag. Met haar hand om Oupa se dik voorvinger gevou, het sy hom oomblikke lank skuinsweg beloer en toe ewe ’n stoel nader gesleep. Oupa wou help met die opklimmery, maar is ferm ingelig sy is al groot, sy kan sélf.

      “My ma sê koek is on . . . on . . .” Sy het vir hom gefrons asof sy wou hê hy moet weet wat sy bedoel. “Koek is vet,” het sy toe plegtig aangekondig en die fonteintjie wat met die sukkelende opklimmery skuins gekantel het, uit sy rekkie gepluk sodat sy tussen die gordyn oor haar oë vir hom moes loer. “Kan ek ook kry?” wou sy weet en so half onder sy blad ingekruip.

      Om nooit weer uit te kruip nie.

      Hy het woordeloos gedwee die bordjie met sy laaste stukkie en die teelepel met ’n half gehapte happie na haar gestoot en is beloon met ’n glimlag en ’n soen skuins teen sy oogbank.

      En teen alle logika in en ’n mislukte huwelik later, behoort sy hart steeds aan haar.

      De Wet gooi die bossie onkruid met geweld van hom af weg en staan en bekyk die kolletjie groen wat wortels-omhoog daar lê ’n oomblik voor hy dit loop optel. Daar is nie juis veel sin daarin om die saadjies die wêreld vol te strooi nie.

      Hy stryk weer aan huis toe. Oor die grasperke wat die vloeiende lyne van die omringende beddings met hulle seisoenale en meerjarige struike volg en beklemtoon, om die huis na die agterdeur.

      As iemand hom net kan sê hoe om sy gevoel vir Annemé ook so met wortel en tak uit te roei. ’n Man moet seker die een of ander tyd die waarheid in die oë . . . Hy steek viervoet vas toe ’n gedagte hom so suutjies bekruip dat dit oomblikke is voor hy hoor wat hy dink.

      Sy ouers is dood in ’n motorongeluk toe hy ses was, en Oupa en Ouma het by die kinders ingetrek. Ouma se arms het getroos, maar Oupa se rotsvastheid het vir die verskimmeld verskrikte klein De Wet koers aangedui.

      Oupa het hom geleer ’n man gaan nie sommer lê nie. ’n Man staan op vir wat reg is en veg vir wat hy wil hê. Hy doen alles in sy vermoë om sy geliefdes te beskerm, en as dit nodig is, gebruik hy selfs sy vuiste. Die laaste stukkie raad is hy natuurlik ingefluister waar Ouma nie kon hoor nie.

      De Wet kry half huiwerig weer koers die trappies op na die oop agterdeur toe hoop ewe sku begin kop uitsteek. Gooi hy te maklik tou op?

      Eers was die ouderdomsverskil tussen hom en Annemé ’n onoorkomelike struikelblok, en hy gaan boender homself in ’n kataklismiese huwelik in. Teen die tyd dat hy weer sy selfrespek teruggehad het, was sy betrokke in haar eerste vaste verhouding. Hy het nog probeer asem skep oor die skielike beëindiging daarvan, toe verloof sy haar aan ’n ander man. Maar nou . . .

      Sy huishulp, Truia, is besig om die skottelgoedwasser uit te pak toe hy instap. “Nee dankie,” reageer hy met ’n glimlag op haar vraag of hy koffie wil hê, besef sy selfoon is in die studeerkamer en gee lang treë soontoe.

      Hoop het reeds plek gemaak vir ’n vaste voorneme. Hy hoef nie vir haar die regte man te soek nie, hy kan hom op ’n skinkbord vir haar aandra. Al wat nodig is, is ’n goeie strategie. Hy lê nie ’n tuin uit sonder om alles tot in die fynste detail te beplan nie, so hoe kan hy moed opgee sonder dat hy ooit werklik probeer het?

      ’n Aantekening in rooi op sy lessenaarkalender spring uit soos ’n flitsende reklamebord terwyl hy besig is om die selfoon te ontkoppel, en die plan doen hom vanself voor. Behalwe natuurlik vir Cameron White sal hy doen wat sy vra.

      2

      “Ma.” Die stoelpote kras oor die sandkleurige teëls toe Annemé ’n boogrugstoel langs die houttafel in die middel van die ruim kombuis uittrek. Sy bly staan met haar hande op die boonste kromming. Dalk kry sy haar boodskap oorgedra as sy bly staan en ferm lyk. Om te sit beklemtoon net haar gebrek aan lengte. “Ek het regtig nie vanoggend lus vir ’n gepiekel oor Abrie nie.”

      Sonlig kruip oor die wye vensterbank, oor die witgeverfde rottangstoel met sy blou kussings en streep oor die groen kruiebossies in ’n outydse blou-en-wit sopkom op die tafel. Die vertrek, in verskillende skakerings van wit, kry lewe.

      “Annemé, as jy net vir my en jou pa ’n verstaanbare rede kan gee waarom julle verlowing verbreek is, sal dit ook al help om hierdie gekrap tussen ons te verwyder. Regtig, ék dink hy was die perfekte man vir jou.”

      “Volgens wie se vereistes, Ma? Myne of julle s’n?”

      Haar ma se mond trek plat en die gevlegte silwer bolla in haar nek glip los toe sy heftig kop skud. Sy druk die haarband wat oor haar skouer afgly in haar satynkamerjas se sak en ontrafel die stringe. “Dis uiters onregverdig om jou mislukking voor ons deur te lê. Ons het aan die begin gesê julle moet langer wag. Dis onwys om ná ’n verhouding van ’n skamele twee maande verloof te raak.”

      “Ma en Pa het mekaar tién dáe geken, toe is julle getróúd.”

      “Ja, maar jou pa was al agt-en-veertig en ek twee-en-veertig. Ons het lewenswysheid aan ons kant gehad en absoluut gewéét ons is vir mekaar bedoel.”

      Dis waar, want ná amper vier-en-twintig jaar bestaan hulle steeds net vir mekaar. Hulle enigste kind, wat tien maande later met groot drama in die wêreld gekom en amper haar ma se lewe gekos het, staan op die kantlyn.

      “Wel, ek is jammer as ek julle ideale gekelder het, maar ek en Abrie was nié vir mekaar bedoel nie.” Waarom sy in die eerste plek toegestem het tot ’n verlowing, weet sy nie meer nie, maar sy staan steeds by haar feite. Daar was eenvoudig geen passie tussen hulle nie. Elk geval nie die soort wat saak maak nie.

      Toe beskuldig hy haar dat sy onvolwasse is, en boonop te blind om te sien hy is die regte man vir haar. Sy het glo ’n ferm hand nodig.

      Annemé blaas deur haar neus, steeds verontwaardig. Toe vertel sy hom daardie man moet nog gebore word, en as hy lus het vir so ’n vonklose verhouding, moet hy vir hom ’n troeteldier gaan soek. Die uiteengaan was nie juis mooi of vredevol nie.

      “Dis nie nodig dat ons baklei nie,” gooi haar ma wal terwyl sy koffiebekers uit die kas haal. “Jy is nog baie jonk, die regte man sal kom, my kind. Wag en kyk maar.” Sy bly staan met ’n teelepel in elke hand. “Gaan jy saam met my? Ek soek ’n baadjie of stola by my groen aand­rok. Dit is wel somer in Europa, maar dit kan koel wees saans wanneer ons uit die konsertsaal kom.”

      “Ek kan nie so lekker onthou nie, hoe lank bly julle dié keer weg?”

      “Daar is vier Europese hoofstede en daarna nog twee weke se uitvoerings in Londen. Jou pa gaan saam met die Londense Simfonieorkes optree en ek sal tien dae by die familie in die Meredistrik . . .” Annemé kry skielik ’n kwaai kyk. “Ek hét jou dit vertel!”

      “Dat julle weggaan, maar toe was julle nog nie seker hoe lank julle gaan weg wees nie. Is dit nie baie gevra van Pa nie? Dis ’n woeste skedule.”

      “Ek het ook so gedink, maar nou ja, dis sy besluit. Ons sal ses tot agt weke uit en tuis wees, maar wil jy nou van-oggend saamgaan of nie?”

      “Ongelukkig het ek reeds vir De Wet belowe ek sal by een van die betaalpunte help. Twee van sy meisies het griep.”

      “Ek het hom lanklaas gesien. Het julle weer stry gekry?”

      “Wéér? Wat bedoel Ma weer?”

      “Annemé, vandat jy en Abrie verloof geraak het, was jy en De Wet meer in mekaar se